Dinsdag, Desember 13, 2016

Hoe sal die ouvrou ouer as oud

Hoe sal die ouvrou ouer as oud
hoe sal die stoof swarter as koud
hoe sal die hande sonder die hout
sonder die suiker sonder die sout
sonder die meel as die meel het drade
sonder die eiers as die eiers is vrot
sonder die skottel as die skottel het gate
hoe die koek bak geler as goud
wie die skuld hê waar die fout?

Sedert my kinderdae het hierdie woorde 'n magiese uitwerking op my gehad. Ek het nie geweet of omgegee waaroor dit gaan nie. Dit was die mag van poësie wanneer die wind opsteek en die seile bol: bestemming onbekend. Is daar enige woorde meer fantasties musikaal in Afrikaans?

Roep die pou die pou se vure
roep die iris en die helder ure
roep die gans wat raaisels praat
orakel hy dan het ons raad
en is die koekoek 'n hen-koekoek
bak Hera weer besweringskoek.

In 1974 is Sheila Cussons horribaal vermink in 'n gasontploffing in haar kombuis. Sy was twee jaar lank in die hospitaal, het ses vingers en 'n been verloor en moes veloorplantings oor haar gesig en lyf kry.

In die jare tevore was sy die geheime minnaar van NP van Wyk Louw, wat haar "kind" genoem het. Sy het die woorde my voete loop na Wellington maar ek gaan Worcester toe geskryf; en Louw het bygesit ...lê, lê in die wingerd kind

Toe roep my ma om my te stuur
net voor sy wegwring in 'n baksteen
soek jy die grot klim jy die seemuur
en kyk daar raak totdat jy raaksien
- en sit voor hulle neer die skottel en die beker -:
die ouvrou en die eenoog-kind, die gans en die koekoek:
die wysheid en die insig, die raaisel en die wekker -
dan as daar vuur is wys hulle jou hoe bak die gode koek

( wegwring in 'n baksteen - wat 'n beeld! Doodgaan ) Voor hierdie oomblik was Cussons op 'n Ingrid Jonker trajek - 'n muse wat die manne inspireer. Sy was beeldskoon, maar 'n oomblik het alles weggevat. Desnieteenstaande het sy opgestaan - soek jy die grot klim jy die seemuur - en van vooraf die bestanddele vir haar mojo gesoek, om te offer aan die gode.

Toe met sewe oë
kyk hulle my snaaks aan
waar ek meteens beteuterd
in die seekombuisgrot staan:
ek lees die waarheid in hulle blik
en voel my aardig koud:
wat anders is die suiker en meel
die eiers en die melk - vergeet nie die sout! -
as net jouself en jou menslikheid:
en is jy met vuur vertroud?

In later jare het Cussons gepraat van haar verminking as die begin van haar eie innerlike bevryding as kunstenaar. Uiteindelik kon sy die dinge verwoord wat tot daardie oomblik ontken was; die bestanddele aan haar binnekant vind, nie daar buite in die wereld nie.

Sy was reeds 50 jaar oud maar die grootste deel van haar oeuvre as digter sou nog voorlê.

Maar goedig is die gode, my dom bestanddele
was in die toorkombuis teen die omtoorvuur bestand
en met die bykom vind ek hulle het in my ingevlug:
ouvrou, kind, gans, koekoek, net effens aangebrand....

O neutvars kind met die voorskootklere
met die warm wang en die sywurmhare:
ek is nou met die sikloopkind wonderlik behep
en weet dis eintlik sy wat sin maak van die resep

Cussons 2, met die warm wang en die sywurmhare, het hierdie katarsis gehad, 'n "sikloopkind" geword - 'n klein eenoog monster. En uiteindelik, binne daardie sikloopkind, herenig met die siel van haar jeug.


***

Kombuis van Hera

I
Hoe sal die ouvrou ouer as oud
hoe sal die stoof swarter as koud
hoe sal die hande sonder die hout
sonder die suiker sonder die sout
sonder die meel as die meel het drade
sonder die eiers as die eiers is vrot
sonder die skottel as die skottel het gate
hoe die koek bak geler as goud
wie die skuld hê waar die fout?

Roep die pou die pou se vure
roep die iris en die helder ure
roep die gans wat raaisels praat
orakel hy dan het ons raad
en is die koekoek 'n hen-koekoek
bak Hera weer besweringskoek.

II
Toe roep my ma om my te stuur
net voor sy wegwring in 'n baksteen
soek jy die grot klim jy die seemuur
en kyk daar raak totdat jy raaksien
- en sit voor hulle neer die skottel en die beker -:
die ouvrou en die eenoog-kind, die gans en die koekoek:
die wysheid en die insig, die raaisel en die wekker -
dan as daar vuur is wys hulle jou hoe bak die gode koek

Toe met sewe oë
kyk hulle my snaaks aan
waar ek meteens beteuterd
in die seekombuisgrot staan:
ek lees die waarheid in hulle blik
en voel my aardig koud:
wat anders is die suiker en meel
die eiers en die melk - vergeet nie die sout! -
as net jouself en jou menslikheid:
en is jy met vuur vertroud?


Maar goedig is die gode, my dom bestanddele
was in die toorkombuis teen die omtoorvuur bestand
en met die bykom vind ek hulle het in my ingevlug:
ouvrou, kind, gans, koekoek, net effens aangebrand....

O neutvars kind met die voorskootklere
met die warm wang en die sywurmhare:
ek is nou met die sikloopkind wonderlik behep
en weet dis eintlik sy wat sin maak van die resep

1 opmerking :

  1. Mooi gestel, Mnr Rautenbach, Derrida sou baie daarvan gehou het: "Dit was die mag van poësie wanneer die wind opsteek en die seile bol: bestemming onbekend." Die blog as geheel ook baie geniet - mal oor die woorde van Cussons waarmee u afsluit: "ek is nou met die sikloopkind wonderlik behep / en weet dis eintlik sy wat sin maak van die resep".

    AntwoordVee uit