Maandag, Maart 05, 2018

begrawe hom, maar laat geen spore, maak geen hoop



Na al die jare kry ek nogsteeds rillings oor hierdie laaste toneel van Periandros van Korinthe: waarin Periandros moordenaars reel om die moordernaars van die moordenaars wat hy gehuur het om homself daardie nag te vermoor - te vermoor.

Die grootste selfvernietiging in Afrikaans.



Drie grysgeklede sluipmoordenaars binne.

Daar is hier in Korinthe iemand wat my pla
'n mens so laag dat ek hom nouliks kan verdra,
my grootste vyand wat ek op die ganse aarde het,
van ongeregtigheid en baie sondes so besmet
hy moet verdwyn, vernietig word dat niemand hom ooit kry,
dat niemand hom van klip of grond kan onderskei.

Vanaand as dit sterk donker is en seemis landwaarts dryf,
gaan wag agter die strandwal duskant die Olyf
vir die ou man met mantel aan, 'n fakkel in die hand.

Slaat hom dood, maak hom genadeloos van kant
sodat sy dun bloed vinnig in die golwe loop.
Begrawe hom, maar laat geen spore, maak geen hoop
begrawe hom sodat die branders sonder rus
breek oor sy bene in Korinthe met sy klipperige kus.

Speel maar vinnig klaar! Dan moet julle drie verdwyn
langs die voetpaadjie waar Arioon ry op die dolfyn.
Dé, vat die vuilgoed vir die vuilste van vuilwerk!

Hy gooi geld op die vloer hulle pik dit op, soos aasvoëls hulle buit. Af.

Ja. Arioon. die mens is oor die algemeen beperk.
Jy moes my dus maar weer verlaat, suiwer gaan swerf
en vir jou suiwerheid 'n bietjie buitelandse roem verwerf
so baie bieg hoe jy jou stryd teen God besleg,
teken eerder elke ding van God volkome in sy eie reg.

Ses swartgeklede sluipmoordenaars binne.

My ses swart kraaie waarvan byna niemand weet,
wanneer die aasvoëls klaar is, kan die kraaie vreet,
maar julle wag hier in die kelder tot die afspraak
vanaand wanneer die kwartmaan die Akrokorinthos sal raak,
dan fladder julle tot waar Arioon se spuitfontein
ry waters oopsproei uit die bronsrug van die dolfyn

Net daar sal julle drie sien loop. Hul het gemoor!
Slaat dood! Begrawe hulle, laat geen enkel spoor.
Stap dan met die bergpad by die knoetsie om
tot julle van die anderkant die hawe binnekom.

Dé vat die vuilgoed vir die vuilste van vuilwerk!

Hy gooi geld op die vloer. Hulle pik dit op. Af.

Moreoggend wanneer die eerstes in die hof dit vroeg opmerk
sal die vreugde uit 'n duisend kele oor Korinthe daal.
die strate vol klink met tamboere en simbaal.

Hy slaan op simbaal. Leier van leer en paar soldate binne.

Hierdie pand van God en vader, hierdie kis, die dodekis.
neem dit as smeekoffer dat dit ewig in Olumpos rus,
waar die priesters teen vernietiging dit moet beveilig
in die tempeltjie van Hera. Die huwelik is heilig.

Soldate dra kis uit. Periandros roep die leier terug.

Net 'n oomblik. Vannag wanneer die visklok lui,
moet jy 'n vyftien blitssoldate dadelik bedui
om met die bergpad aan te jaag tot hul miskien
die ses sluipmoordenaars by die bergknoetsie sien.

Slaat dood die kraaie wat hul geld ontvang vir moor,
begrawe hulle langs die pad en laat geen spoor!
Laat alles netjies wees soos 'n soldaat se werk.

Leier af


So kom die nag dan stil en byna ongemerk.
Waar sou my mantel wees? So 'n nag is groot en koud
veral as jy moet buite loop en jy word oud.

Trek mantel aan.

Waar is my fakkeltjie?

Steek fakkel aan die brand.

Toe nou liggie, jy moet brand,
'n ou man nog 'n entjie oor die groot en donker land
lei na die see die see wat ewig sonder rus
sal breek en breek, en reinig aan die klipperige kus.

Stap stadig uit met mantel en fakkel


More vroeg, nog vóór die duisende atlete na die park
toe loop, my seun, sal daar geoffer wees: die wildevark.


--DJ Opperman

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking