Monday, September 15, 2014

In die skadu van vergete voorvaders

Die huwelikstoneel uit 
Skadu van Vergete Voorvaders
Sergei Parajanov was 'n Sowjet filmmaker uit die middel van die vorige eeu - een van die laaste geniale malmense van die medium.

Hy word vandag onthou vir die flieks wat hy in die rand-kultuur tale van die Sowjet Unie gemaak het: Sayat Nova (Armenia), Fort Surami (Georgia), Ashik Kerib (Azeri) en Skadu van Vergete Voorvaders (Ukraine).

Van hierdie flieks is Sayat Nova (Liedkoning), ook bekend as Die Kleur van Granaat, die mees bekende en radikale, in werklikheid een van die mees radikale flieks wat ooit gemaak is.

Sofiko Chiaureli speel die sewe
hoofrolle in Sayat Nova
Dit bevat geen dialoog of storie nie, maar feitlik ook geen beweging nie.

Die hele fliek is 'n reeks gechoreografeerde beelde waarin die akteurs stilstaan of klein bewegings maak.

Dieselfde aktrise - Sofiko Chiaureli - speel die sewe hoofrolle, manlik en vroulik, jonk en oud - van Christus tot die Duiwel - in verskillende kostuums, grimerings en vermommings.

Absurde rituele geinspireer deur Ortodokse Geloof - simbole van Christus, opoffering, geboorte, liefde en dood.

Toe dit verskyn het in 1968 het gehore in beide die Ooste en die Weste gedink, a la Marlon Brando, "it makes as much sense as a rat fucking a grapefruit".

Maar terselfdertyd het dit mense na hul asem laat snak, aangeraak deur iets waar maar onverstaanbaar.

Soos 2001: A Space Odyssey, wat in dieselfde jaar verskyn het, laat Parajanov mens die misterie van lewe voel, die kleinheid en die grootsheid van een lewende oomblik deur donkerte omhul. 

Ons lewe in die skadu van ons vergete voorvaders - hul absurde stryd teen die dood, hul poging om sin te maak, om skoonheid te skep, om hulp op te tower - hul vriendskappe en vyande omring ons lewe.

En soos Frankenstein uit dooie lyke gestik is, so is die verlede ryp materiaal vir 'n wese wat kan opstaan en generasies oral in die wereld inspireer.

Kort na die maak van Sayat Nova is Parajanov tronk toe, waar hy vir vyf jaar klein pop figure sit en maak het.

Na jare van rehabilitasie het die stof gaan lê - en Parajanov het weer begin met sy crazy flieks, asof niks gebeur het nie.

Ten spyte van sy doelbewus kriptiese beelde - en verdwaasde gehore - is hierdie flieks is vandag 'n groot bron van inspirasie vir die kulture van Armenia, Georgia, Ukraine en Azerbijan, so verskillend as wat hulle is.

En hyself - soos al die dromers deur die jare -  is vandag die skadu van ons vergete voorvaders, wat oor oor ons hang.

Thursday, September 04, 2014

Kopenhagen seisoen (Karen Blixen)

Na afloop van die jaarlikse "Kopenhagen Seisoen" van sosiale geleendhede en partytjies, reel Ib 'n geheime oomblik vir afskeid aan Adelaide.

In haar hart hoop Adelaide dat hy haar gaan vra om saam met hom te gaan.

Sy sien dat hy wil, maar dit nie gaan doen nie,

"You" she said slowly, "and I"

Ib was to keep these words in his mind all his life. But they had, there, a mysterious quality to him: they evaded definition, when looked at straightly they changed and vanished. As, in Aunt Nathalie’s room, he heard them for this first time, they were a verdict, the placing of her and him with the unbridgeable distance between them. At a later time, when he thought them over, there was, surprisingly, in the word of “You,” a note of compassion and in the word of “I” a plaintive note, like the lament of a child. In Jutland, when in rainy spring nights the complaint of the curlew is heard, first from one side and then from another, the peasants will tell you that this is the dialogue of two dead lovers who long ago have forfeited their happiness and are now wailingly reproaching each other with their loss. There were hours in which Adelaide sang to Ib in the voice of the curlew. In the end, at that moment in which he was to thank her for having existed, the words took on the ring of a magic spell, uniting her and him for eternity.

Saturday, August 02, 2014

18-44

Teen die mid 1960s het Etienne Leroux sy groot deurbraak vir Afrikaans - die Silberstein boeke  - sover geneem as wat hy kon.

Hy het nuwe inspirasie nodig gehad - en dit het gekom in die vorm van entoesiastiese brief van 'n tiener-meisie.

Rondom hierdie brief het hy die boek 18-44 gebou - die korrespondensie tussen 'n meisie van 18 en 'n "knolskrywer" van 44.

Dit is een van Leroux se eenvoudigste, roerende en mees geloofbare romans. Die storie, insoverre daar een is, is een gestolde oomblik in 'n park in Oranjezicht.

Die skrywer "Mnr X", vlug weg uit sy "huisie by die see" en sy bitter vrou en ontmoet sy geheime skelmpie  - wat hy deurgaans "sy Rus" noem (sy is uit Rusland) - in die park.

Daar vertel hy haar van sy korrespondensie met "Juf X" - die tienermeisie.

Die eerste brief ontvou op hierdie manier - hy vertel die Rus van die ontdekking en oopmaak van die brief in sy huis terwyl sy vrou aan die tafel gesit het.

Dit word 'n skitterende viervlakkige passasie, waar ons in een slag die brief en al drie karakters (hyself, sy vrou en sy mistress) se reaksie daarop ervaar.

Mnr. Y, mag ek vir u skryf en sal u vir my terugskryf? 

Ek is 18 jaar oud, ek is 'n kunsstudent, ek is nog 'n redelike maagd en verveeld, toe dink ek dit sal interessant wees om vir 'n skrywer te skryf, hy behoort interessante briewe terug te skryf.

Ek het 'n behoefte om by 'n onpersoonlike redelik gedistingeerde persoon te bieg.

My vriendin C sê ek lyk of ek baie vrugbaar gaan wees. Ek herinner haar aan 'n ryk stuk grond met poele water. Ek wys vir haar 'n tekening van blink glansende lukwarte, grotes en kleintjies, en C sê dis nés jy dis nés jy dis baie vrugbaar.

Werp dit enige lig op u, pennemaatjie?

Is u baie besig, mnr. Y? Skryf u nou? Hoe lyk u vrou?

Moenie vir my iets naars skryf nie soos: kry vir jou liewer 'n ander vriend om mee te korrespondeer. 

'n Brief van u sal my verruk. Dit sal my vervelige dae draaglik maak. En ek stik in die stof van my dae.

{Hartjie} om my 'n bietjie nader aan u te bring.

X

PS: Ek het gisteraand my eie oupa veraai. Ek het vir 'n meisie gesê dis my grootjie.

Nou ja - hierdie brief is onweerstaanbaar en 'n hele reeks volg waarin die skrywer die agtergrond tot die drie vrouens in sy lewe gee.

Op hierdie oomblik, iets oor hoe Etienne Leroux skryf.

Die ou Griekse Homeriese liedere, die Iliad en die Odyssey het 'n tegniek gebruik om hoofkarakers te noem by naam+ikoniese-einskap, alles in een.

So bv praat Homerus deurgaans van "the swift-footed Achilles" of "Hector, the tamer of horses" - nie Hector of Achilles nie. En dit gaan so aan tot heel aan die einde van die storie.

Daar is baie navorsing gedoen oor hoekom hulle dit gedoen het - proffies spekuleer dat dit die vinnigste manier is vir 'n gehoor wat luister na die voordrag van 'n epos (hulle het dit nie gelees nie en gekom en gegaan), om die drade van 'n storie op te tel en sin te maak van die horde karakters - elkeen het sy "backstory" sommer in sy naam.

Terselfdertyd het dit die voordraer mikro-sekondes gegee om die volgende lyne in sy kop gereed te kry.

Etienne Leroux het dieselfde gedoen in sy boeke, maar vir 'n ander rede.

Hy praat deurgaans van   

My vriend die homoseksuele argitek
My teringmaer tante
My dowe manies-depressiewe vrou

Ek dink hy het gehou daarvan dat sy boeke ge-pre-interpreteer is. Hy wou nie veel tyd spandeer om die karakters te "skep" of te ontwikkel in hulle rolle nie. Die naam sê alles en benadruk die rolverdeling.

Leroux werk hard om sy situasie in die Oranjezicht parkie op te stel - hy en sy Rus besig om te gesels oor Juf X se briewe, en dan skielik daag haar man op en betrap hulle.

{Freeze frame.}

Hierdie oomblik hang in die lig, soos 'n foto, vir die res van die boek.

Nou begin hy die basiese gegewe te melk vir alles wat hy kan deur literere vergelykings en paralelle tussen die vier vrouens te soek. (Die vier is Sy teringmaer tante, Sy dowe manies-depressiewe vrou, Sy Rus en Juf X) op allerande maniere - vier vrese, vier verkragtings, vier planete, ens.

Dis 'n bietjie arbitrer en vervelig en dis gewoonlik hier waar Leroux begin om te contrive in sy boeke. 

Een hoofstuk se naam  is "Vrees in soveel vorme", waarin hy hierdie aspek uitkarring - wat elke karaker se inherente vrees is - en natuurlik dat almal dieselfde vrese deel.

[Ek moet sê daar is soms pragtige stukkies Afrikaans ook:  Daar was vrees in die handvol grond wat op die kis van my teringmaer tante geklap het.]

Leroux het 'n drang om alles in argetipes en antieke literere vergelykings te stel: so-en-so is net soos sus-en-so, sowel as Wagner se operas - veral die Ring en Parsifal.

Maar dan, wanneer die storie "ontvries" en die Rus se man en sy trawante hom opdonner, vloei die boek na 'n pragtige, tragiese einde.

Iewers in die storie verduidelik Mnr Y sy Russiese minnaares (44 jaar oud, soos hy), vir die 18 jarige Mej Y: 

Julle altwee stel eise: sy omdat elke jaar vir haar betekenis moet hê; jy omdat jy as nimf met 'n drang van vuur ongeduldig wag op die inisiasie

Ek besef nou hoe reg hy was: ek het hierdie boek gelees toe ek 18 was, en nou weer op 44.

En Etienne Leroux is in sy graf.

Monday, July 28, 2014

Bergman

Toe ek 'n kind was was daar 'n horror fliek met die lyn "It knows what scares you most..."

It is Ingmar Bergman.

Soos 'n wafferse B-movie horror regisseur het Bergman 'n loopbaan gemaak deur sy gehoor se neuse in hul grootste vrese te vryf:

Die vrees vir 'n eensame dood, sonder liefde en ondersteuning (The Silence, Cries and Whispers)

Die vrees vir 'n eensame lewe, sonder liefde en ondersteuning (Scenes from a Marriage) 

Die onvermoee om te kommunikeer wanneer alles daarvan afhang (Wild Strawberries, Persona)

In sy beste era in die 50s, 60s en 70s is sy flieks heeltemal los van die gewone verhoudingskakbytery wat so 'n stapel van drama en televisie geword het.

Bergman het 'n groot vis gehad om te braai - eers sy vrees oor "God se Stilte" en die onmoontlike implikasies van lewe sonder Hom.

Daarna, na Winter Light, die besluit om-op-te-hou-worry-en-jou-nagmerries-te-omhels.

Een van die flieks se naam is Through a Glass Darkly, uit die Bybel.

For now we see through a glass, darkly;
but then face to face: now I know in part;
but then shall I know even as also I am known.

Iewers, deur 'n donker glas, het Bergman gesoek vir ons redding.

Sy flieks was kort en kragtig - selde meer as 90 min - met dieselfde akteurs oor en oor en feitlik geen belangstelling in beeldskepping, inkleding, stelle of landskap nie.


Al wat saak gemaak het was die mense.

Smiles of a Summer Night (1955)

Bergman se groot deurbraak was 'n eenvoudige sekskomedie so slick soos enige iets uit Hollywood

Die fliek eindig met die ironiese liefdesverklaring Until yawns do we part

In retrospek het hy waarskynlik geweet hy kan hierdie soort fliek in sy slaap en vir altyd maak - en besluit om 'n radikale skuif na dooderns te maak.


The Seventh Seal (1957)



Lag is tussen mense, vir mense, saam met mense en oor mense.

Erns is in jouself, in alleenheid, in eensaamheid.

Dit was my eerste gedagte nadat ek hierna gekyk het.

Die storie gaan op die oog af oor 'n ridder wat probeer om "God uit die donkerte te lok, sy gesig te sien en met hom te praat" terwyl hy elke dag 'n skuif op die skaakbord teen DOOD moet doen.

Maar ek dink die soeke om in God te glo is op een of ander manier dieselfde ding (of 'n metafoor vir) die drang om in jou eie waarde te glo, jou eie vrese te erken, en genoeg eer daaraan te gee voordat jy sterf.

Die twee sekwense wat ek sal onthou is
  • Die nar wat sterf-speel in die woud en wanneer sy gehoor verdwyn die werklike dood in die oë kyk en dan ewe onskuldig vra "is daar nie uitsonderings vir akteurs nie?"
  • Die sekwens waneer die held, Blok, in die heks se oë kyk om die duiwel te sien "wat hom na God kan lei". Wanneer hy sê "ek sien niks", vra sy "staan hy agter jou?"

Wild Strawberries (1957)



Die ou wat die hoofrol hier speel is Victor Sjostrom - self 'n groot reggiseur uit die silent era. Hy het die Lillian Gish fliek The Wind gemaak.

Wild Strawberries is een van Bergman se beste flieks, en bevat van die beste tonele in die hele canon van film.

Dit is 'n ou professor wat sy seun se vervreemde vrou terugneem na hom.

Op 'n manier word hy verstrengel in hulle bakleiery en sy neem hom kwalik vir sy seun se gedrag.

Die einde, wanneer al drie saam is en hy probeer om met sy seun te praat - is een van grootste oomblikke in enige film.

The Magician (1958)

Lekker storie. 

'n Towenaar en sy entourage vind 'n sterwende man in 'n woud en gebruik sy lyk in die volgende dorp tydens 'n show voor 'n groep kenners wat hom probeer ontmasker.

Dit het 'n Bresson tipe einde - waar die bad-guys eindig deur 'n goeie daad doen wat die hele storie op sy kop draai.


The Virgin Spring (1960)

Op sy dag wat hierdie fliek berug, omdat dit een van die mees eksplisiete verkragtingstonele tot hede gehad het.
Die drie verkragters vind later skuiling in haar ouers se huis (sonder om te besef waar hulle is) en probeer om haar rok aan haar ma te verkoop.

Die geskokte ma kyk na die rok van haar dooie dogter en sê uiteindelik 
I must ask my husband what a fitting price would be for such a valuable garment.

Jy kan jouself die wraak wat volg voorstel.

Hierdie fliek - terloops - is die basis van die Last house on the Left horror reeks.


Winter Light (1962)

In sy vorige fliek (Through a Glass, Darkly) het Bergman geeindig met die idee dat God Liefde is.
In hierdie fliek vind hy 'n pragtige metafoor daarvoor.

Die dorp se dominee het 'n krises van geloof - sy onvermoee om een van sy gemeentelede te troos met God se bestaan lei direk tot die man se selfmoord.

Maar in die dorp is 'n weduwee smoorverlief op die dominee en weier om op te gee op hom, al verwerp hy haar.

In die laaste toneel van hierdie fliek moet die dominee besluit om die aandpreek te lewer, al het nie 'n enkele mens daarvoor opgedaag nie. (Behalwe jy-weet-wie, en soos die koster sê - sy tel nie.)

Maar dit is haar teenwoordigheid in die kerk op daardie oomblik, haar liefde vir hom, haar weiering om op te hou glo in hom, wat die diens laat gebeur..


The Silence (1963)

Ek dink dit was in hierdie fliek waar Bergman besef het dat hy groot kuns kan maak deur 'n groot onderwerp in die gesig te kyk (die eensaamheid van dood).

'n Vrou en haar seuntjie gaan besoek haar sterwende suster - dis basies al.

Vir 'n uur lank rond en bond - maar dan skielik die bitter bitter einde: om te sterf, alleen, sonder simpatie en liefde.

Dit het my laat dink aan die Dood van Ivan Illych.


Persona (1966)

Briljante fliek met 'n horde interpretasies.

'n Bekende aktrise het 'n senuweeineenstorting en word in 'n privaat woning deur 'n verpleegster opgepas.

Sy praat glad nie, maar is bereid om na die verpleegster se stories te luister. En haar stories raak al hoe meer persoonlik en die twee vrouens beweeg nader aan mekaar en dan skielik weg van mekaar.

Dit verander stadig van drama na horror. Een hele toneel in die klimaks word herhaal: die eerste keer met die kamera op die een vrou se gesig en daarna op die ander.

Wat skitterend deurkom hier is die intense drang om deur te dring tot iemand - al moet jy seermaak of seerkry daarvoor.

Hour of the Wolf (1968)

Hierdie was 'n eksperiment van soorte in horror vir Bergman. 'n Kunstenaar en sy vrou gaan woon op 'n eiland langs 'n kasteel vol dodgy karakters.
Dit werk nie heeltemal nie.

Die mees uitstaande sekwens is 'n toneel waar die kunstenaar agtervolg word deur 'n seuntjie (of so glo hy) - hulle speel kat en muis met mekaar totdat hy skielik die kind vang, vermoor en verdrink.

Dit het my baie laat dink aan die latere horror fliek Don't Look Now.


Cries and Whispers (1972)

Die eerste skok is om hierdie groep akrises vir die eerste keer in kleur te sien. Dit voel so weird - en kleur in oormaat - die hele ding is geskiet in bloedstollende rooi.

As 'n konsep is dit baie soortgelyk aan "The Silence", weereens 'n suster wat sterf met hierdie keer twee koue susters wat hulpeloos rondstaan.

Instede van 'n seuntjie is daar 'n diensmeisie wat alles waarneem en die fliek 'n pragtige voltooiing gee wanneer sy in die laaste toneel uit die oorlede suster se dagboek lees.

Dis 'n meer manipulerende fliek as Silence en laat 'n mens besef dat dood die anker is wat onsinnige bakleiery tragies maak.

Scenes from a Marriage (1973)

Scenes from a Marriage was Bergman se eerste televisiereeks (van baie). Hulle sê dat die Sweedse egskeidingsyfer in 1973 verdubbel het nadat dit vertoon is. Ek kan glo dat dieselfde vandag so gebeur, as dit weer sou wys.

Tot en met hierdie oomblik het Bergman grootliks moddergooiery en derms uitryg vermy. Hier gebeur dit uiteindelik (hoe kan dit anders) na 'n lang opbou, in een intense uitbarsting wat jou hare laat rys.

Baie effektief gedoen, maar jy kan aanvoel dat Bergman besef dat dit-alleen opsig self geen groot prestasie is nie.

Hy probeer by 'n groter waarheid uitkom:  Julle ontmoet, gaan uit, het seks, trek in, trou, kry kinders, skuif na die woonbuurt, baklei, cheat, skei en jy sien die kinders oor naweke. 

Dis 'n patroon so oud soos die berge.

Maar dit alles saam is 'n groter huwelik: 'n dieper verbintenis tussen twee mense wat sewe sakke sout saam geeet het.

Behalwe vir die eerste toneel is die hele ding net dieselfde twee mense vir vyf ure lank.

Daar is 'n paar skitterende tonele - een waarin Liv Ullmann haar skoolfoto uithaal maar haarself nie daarop kan vind nie - sy kan nie onthou wie sy was nie.

Autumn Sonata (1978)

Die twee beroemde Bergmans (Ingmar en Ingrid) saam in hulle enigste fliek. Bergman en Liv Ullmann is ma en dogter en hulle het dit uit met mekaar in een enorme lang toneel.

Maar dit is al. 

Autumn Sonata is die soort derm uitrygery wat Bergman vir jare vermy het: dis te maklik en te min. 

Verder laat dit 'n onaangename smaak in die mond - 'n paraplegiese, epileptiese suster word in die storie ingesleep om Ingrid Bergman se karakter te beskaam, maar Mnr Bergman het duidelik net so min werklike belangstelling in haar as sy leading lady.

Friday, June 27, 2014

Raka

Raka is die bekendste en belangrikste stuk letterkunde wat ooit in Afrikaans geskryf is. Generasies van professore het dit ontleed, na die hemele geprys en kinders in skoolbanke daardeur gesit.

Dit is 'n lang epiese gedig - op die oog af 'n eenvoudige storie van 'n monster-aap wat 'n swart gemeenskap verwoes, iewers in nondescript Afrika.

Die raaisel natuurlik is wat om daarvan te maak.

Louw was versigtig om nie Raka en die stam as net agressor / slagoffer uit te beeld nie - Raka is dom en sterk, maar dit is nooit duidelik dat hy skoor soek nie - dis eerder sy koms wat vir die stam 'n selfbeeld krises veroorsaak.

Dis die feit van sy bestaan wat vir hulle 'n bedreiging is.

No longer at ease in the old dispensation - soos TS Eliot se gedig oor die reis van die drie wyse manne se terugkeer nadat hulle die baba Jesus gesien het.

Verder is daar die beroemde seks-hoek: die vroue smag na hom; die kinders geniet hom; die mans verag hom.

Min gepraat, want elkeen was ontrus 
Oor die mooi dier en die vreemde lus
Wat sy diep in haar hart maar sterk voel 

Dis geskryf vroeg tydens die 2de wereldoorlog.

Een algemene interpretasie is dat Raka Hitler is - maar ek twyfel hieraan.

NP van Wyk Louw (soos Hitler) was 'n deurdrenkte Nietzschiaan - wilskrag en skepping was die groot roeping - "meester moraliteit" (teenoor die arme massas se navolging van godsdiens se "slawe moraliteit".)

Die Louw broers was in die 30s bewonderaars van Nazisme as 'n voorbeeld van Triumph des Willens. [Jare later sou Dick Cheney sê we're an Empire now, and when we act we create our own reality]

In sekere opsigte is dit meer waarskynlik dat Louw aan Amerika of die Sowjet Unie as Raka gedink het, wat dreig om die groot Europese kultuur (wat vir Louw so belangrik was) onder-te-ploeg.

Raka is die koms van hamburgers, Coke en Televisie.

Maar wat van nader aan die huis: Raka is die witmens, wat letterlik kom om Swart Kultuur in Afrika te vernietig. Dis 'n heel geldige interpretasie, maar nee wat, so liberaal was Louw nie.

Andersom? Ons witmense in Afrika is die eensaam stam wat oordonder word deur Swart Afrika wat opstaan?

Raka moet sterf omdat hy onnosel is

Ken hy die vuurgeheim? Het hy die vaal
Drade van katoen leer spin en weef
En in die kleurpot week? Het hy leer leef
Onder die wette wat ons oudstes sing?
Die snel dier moet dood, of hy
Sal heers oor ons, en groot en lang pyn bring

Louw skep een karakter in Raka, wat duidelik diep uit sy hart kom: Koki.

Koki is 'n jong prins - praat nie veel nie, maar hy sien en besef dat ten spyte van al die gepraat die stam te bang is vir Raka - niemand gaan iets aan hom doen nie.

Hy werk homself in 'n trans in (hoog en eensaam, natuurlik) en onderneem om in stilte, en man-alleen, vir Raka dood te maak.

Die roerendste deel van Raka (vir my) is die 2de dag nadat Koki uit die kraal verdwyn het.

en eers toe die middag wolke weer
Soos sneeuberge half-pad hoog teen die lug
Gestaan het - die uur van die verste vlug
van die mens se vrees vir die bose nag
Het dertig man uitgegaan soos vir die jag.
met skilde en asgaaie en warm kole in 'n kruik
om die vyand te verskrik met die rook en die ruik
van die groot grasbrande en digby mekaar
langs die wal van die bree water af het die skaar
na Koki gesoek. 

Teen die skemering laat
as die vrees vir die nag weer luid slaat
                                                                    't hulle hom gekry
in die verskeurde papkuil en die poel waar hy
half in die modder getrap, op die skag
van sy stukkende spies gelê 't, en die krag
en die woede van die swart dier kon hulle sien
aan die liggaam en die spore en die pap riet
en die skild wat geskeur was en diep ingetrap
in die koue klei... 

Die tragedie van Raka is in hierdie edele dood, 'n mislukte poging van Koki om sy stam te red van hierdie monster.

Raka neem vernietigende wraak op die hele stam, maar dit eindig met 'n half hoopvolle noot, dat Raka sy woede uitgewerk het en voortaan met die stam sal saamleef.

Maar wat is hoopvol hiervan? Miskien was dit presies hierdie "aap-mens" lewe uitkoms wat Koki gevrees het.

Kort voor Raka het van Wyk Louw sy bekende Gedagtes, liedere, en gebede van 'n soldaat geskryf

Miskien ook sal ons sterwe, 
En iewers ruggelings stort....

Daai gedig, wat eindig met die troos

Dat ons nie kon gebuig word
Soos hul geweld dit wou
En dat ons hoog kon lewe
Net aan ons bloed getrou

Ek dink Raka is 'n variasie op dieselfde idee, op baie groter skaal.

Watchmen, beskermers van kultuur en geskiedenis, wat die stryd voortsit, vir geen duidelike rede en voordeel nie.

Dit is Louw se eie klein stukkie Wagner: Raka is die onweerstaanbare Siegfried; Koki is die half-blind Wotan wie se dogter reeds aan Siegfried verlore is; verbete om 'n nuwe era van sterk/dom mense te keer - al sal hy sterf in die proses.

Godeskemering.

Saturday, May 10, 2014

Joernaal van Jorik

Uit die 2de Wereldoorlog het twee bekende Afrikaanse politieke fantasie-raaisels in digkuns gekom.

Van Wyk Louw se beroemde Raka en DJ Opperman se Joernaal van Jorik.

Albei is profeties en tog baie bedeesd oor wat hulle probeer voorspel.

Joernaal van Jorik is die storie van 'n Soviet spioen (Jorik) wat na Kaapstad gestuur word as 'n diep-ondergrondse agent, waar hy ver van alle hulp op sy eie aangaan.

Toe ek dit die eerste keer gelees het in die 80s was ek aangegryp deur die begin en die einde: die wegreis uit 'n bekende wereld die donkerte in.

Die teks is vandag 2014 - 1949 = 65 jaar oud en ek het gewonder hoe relevant dit nog is.

My reaksie was min of meer die dieselfde vandag as toe. Die lekkerste deel daarvan is die vertrek uit die Soviet Unie met 'n duikboot

Waar warrelwinde uit naghemels maal
en waaireëns oor die see uitsak, verlig
die magnesiumdraad van 'n weerligstraal
'n duikboot wat soos die aarde verdig
uit die baaierd beweeg. 

Dis die eerste woorde, en die hele begin is soos die lansering van 'n vuurpyl na die maan. Jorik is intens bewus van sy weerloosheid onder water.

Sy gebed

Gee U genade, laat ons vaar in U naam
En geen rif of magnetiese myn
Ons ruk uit die waters, soos 'n miskraam 
Op die bodem verfrommel tot slym...

Later herhaal Jorik hierdie woorde deur die loop van sy loopbaan in Suid-Afrika: sy lewe is onderwater, totaal vervreemd van sy omgewing, soos 'n vis-uit-water... mag geen rif of magnetiese myn...

Hy roei uit die duikboot met 'n bootjie na Suid Afrika

Later, toe hoor hy dit eers: soos 'n bees
wat in pyn lê en bulk, roep die mishoring
afgebroke, eentonig en hees
oor die waters, die stad met sy torings

en dakke en langs die lampe van 'n straat
langs die busse en motors het hy klein,
soos enige man met koffer en kaart,
tussen die mis en die mense verdwyn.

Jorik word deel van die Afrikaner stryd (gloeiende Afrikaner propaganda)

Hy was met ons die nag by Bloedrivier
toe lang sweepstokke met lanterns swaai,
Hy was ons eerste lig oor die visier
toe die kruitdamp oor Amajuba waai

[Hy is God, by the way]

Maar dit word 1948 en die Nasionale Party is aan bewind. Die onderdruktes het met staal en stoom 'n Republiek gedroom.

Watter stryd nou?

Wys op die naderende storm
Tussen die kruis, die Hamer en die Sekel,
En hoe ons Swartes die voorhoede vorm

Maar Jorik "verkoop uit" en word hy 'n doellose politieke joernalis wat wag vir iemand om hom te kom haal.

Gee elke dag 'n mooi nooi en 'n moord
En stoot die sirkulasiesyfers op

Hy wonder soms of hy werklik 'n vaderland gehad het,

Dit klink so alles na 'n jeugverhaal
Mens vergeet in die kryg die doel en verband

Maar sy verlede haal hom uiteindelik in, soos dit sal. Hy sien in die mis twee vae-bekende mense.

Toe flits daar meteens 'n glas-nikkel-spuit
in Dabor se hand, en met 'n geknyp
voel Jorik die lang skerp naald in sy huid,
en dit duisel... dit duisel... en gryp

maar die stad en die wereld kantel in mis.
En drie manne die stap gejas en gehaak,
soos enige drie as een duiselig is
en die reis nog ver voor die donker sak.

Die mishoring word stiller. 'n Klokboei klink
oor die see, skommel en lui; en later
met skommel en lui, stamp teen 'n rots... bars... sink
Dan net die mis en die water... die water

Friday, April 04, 2014

Andrei Rublev

Andrei Rublev was ‘n obskure middeleeuse monnik en ikoon-skilder wat gelewe het iewers tussen 1360 – 1430. Obskuur tot Andrei Tarkovsky se 1966 fliek Andrei Rublev.

Die fliek is verbasend in baie opsigte, maar veral in die unieke hantering van kuns en die kunstenaar. Tarkovsky is verbete om die melk van inspirasie te pers uit die mees onwaarskynlike blik olie – en hy kry dit reg.

Anders as in ‘n gewone fliek oor ‘n kunstenaar, weier Tarkovsky op perverse manier om enige kuns te wys in die loop van die fliek se 3 ure. Die verfilming is telkens uit ‘n frustrerende hoek wat niks wys nie.

Die eerste blik van enige kuns is in die middle van die fliek - wanneer Rublev se klooster deur Moslem-invallers geplunder word - en hulle met fassinasie kyk na die brandende frescoes en ikone.

Daarna onderneem heilige Andrei ‘n gelofte-van-stilte-en-geen-verdere-verwery - hy glo die hele inval was ‘n straf van God vir sy waan (en seks wat hy met ‘n plaaslike meisie gehad het) - en vir die res van die fliek hoor ons nie weer sy stem nie.

En dan kom die fliek se wonderlike laaste "klok" hoofstuk.

Dit vertel ‘n heeltemal ander storie van ‘n Siberiese Prins wat ‘n afvaardiging stuur na ‘n klokmeester – met ‘n kommissie vir die grootste klok in die staat – ‘n klok wat vir kilometers ver van sy paleis gehoor kan word.

Die afvaardiging vind net die klokmeester se seun Boriska (die hele gesin is oorlede in die groot pes), maar die seun oortuig die groep mans dat hy al sy pa se klok-maak geheime ken, en die klok vir die prins kan maak.

Die skeptiese groep mans neem die seun terug na die prins, en hulle skeptisisme vererger met die loop van tyd wanneer die seun nie aan die gang kan kom nie – elke keer met verskonings: hulle het nie die regte klei in die grond nie, hy benodig nog silwer uit die prins se kombuis.

Verskeie kere word Boriska gewaarsku dat hulle sy gatvelle gaan afslag as hy hulle vir die gek hou – maar hy hou vol dat daar “net een manier is” waarop die klok se brons gemaak kan word.

Na maande begin die proses om die klok te giet, met groot onkoste en te midde van ontsettende spanning. Die Prins nooi sy internasionale diplomate vir die oprigting-van en eerste-lui van die klok.

Boriska (Nikolai Burlyayev) voor die eerste slag van die klok
En uiteindelik, wanneer die klok se eerste slag slaan is Boriska nerens te sien nie – die swerwende Andrei Rublev vind hom in trane, waar hy wegkruip agter ‘n muur – en erken dat sy pa hom niks geleer het nie.

Dit is hierdie dapper oomblik – die besef dat kuns nie geleer word nie; dat dit ‘n half-bluf is, vol modder en twyfel tot die laaste oomblik en groot risiko dra, soos om te leun oor ‘n afgrond – wat Rublev se hart raak.

Hy praat vir die eerste keer weer en onderneem om weer te begin skilder, in eer van Boriska se klok.

En dan verander die fliek van swart-en-wit na kleur, en wys vir die eerste keer Rublev se kuns.




Friday, March 21, 2014

Jenůfa

Die Tjeggiese komponis Leos Janacek het laat in sy lewe een van die mooiste en grootste operas in die wereld geskryf: Jenůfa.

Dit is brutaal en terselfdertyd diep menslik, ongetwyfeld een van die beste dramas in die hele repertoire.

Die drie bedrywe van die opera is in drie seisoene - herfs, winter en lente - en bestaan uit geronde mense, elkeen met goed en kwaad.

Dit gaan oor 'n meisie Jenufa wat verlief is op 'n playboy (Steva) - en reeds swanger met sy baba.

In die eerste bedryf daag hy dronk saam met sy makkers op en maak 'n bespotting van haar pleidooie - maar sy bly lojaal aan hom ten spyt.

Jenufa se ma, Kostelnika, jaag vir Steva weg en verbied hulle huwelik vir een jaar - waarin hy moet bewys dat hy sober kan bly.

Dit is slegte nuus vir haar dogter; Steva het geen erns om so 'n onderneming te maak nie, en hy neem koue afskeid van die angstige Jenufa.

Hierdie hele toneel word met veragting bekyk deur Laca - dis 'n ou wat heimlik verlief is op Jenufa en nie kan glo dat sy haarself gooi aan die voete van sulke skuim nie.

Die opera begin met Laca wat 'n stomp mes inhandig om geslyp te word. Alles gebeur met die klank van die slypsteen daar ver en nou het Laca sy mes weer in sy hand.

In 'n oomblik alleen met Jenufa probeer hy haar uitlok om te erken dat Steva haar gaan dump. Hulle stry, sy klap na hom en in die loop van hulle onderonsie swaai hy sy mes en sny 'n lelike wond deur haar wang.

Was dit opsetlik? Hy sê natuurlik dadelik so en vra tot in onteinde omverskoning - en hy bedoel dit.

Maar was dit? In sy hart weet Laca dat iemand so vol van homself soos Steva nooit 'n bruid met 'n fisiese gebrek sal neem nie. Het hy haar met opset geskend? Wou hy haar doodmaak?

Die sny deur haar gesig dra Jenufa tot die einde.

En soos Laca voorspel het is dit die einde van haar en Steva.

Selfs wanneer haar ma hom konfronteer met die feit dat haar dogter geboorte aan sy kind gegee het, bied Steva aan om die kind in die geheim te onderhou - maar hy is klaar met Jenufa (en haar verkrampte ma) en reeds verloof aan 'n nuwe meisie.

Einde van Steva.

Intussen voel Laca nog sleg oor die wond wat hy Jenufa aangedoen het en bied aan om met haar te trou. Maar hy kry koue voete wanneer hy hoor van haar baba - en dat dit die afstootlike Steva se kind is wat hy moet grootmaak.

In 'n oomblik van desperasie sê die arme Kostelnika, Jenufa se ma, vir hom dat die kind sopas gesterf het (wat besiel haar!).

Ironies genoeg vind Laca hoop en 'n roeping in hierdie nuus: hy kan homself redeem deur Jenufa te help deur die dood van haar kind.

Die twee van hulle bring die nuus van die kind se dood aan die geskokte Jenufa - wat daar niks van weet nie. Heeltemal verbyster en gedisorienteer, aanvaar sy Laca se huweliksaanbod en sy onderskraging.

Maar die kind lewe nog.

In een van die mees ongelooflike tonele in die opera besluit Kostelnika om dit deur te sien - en sy verdrink die baba in 'n oomblik van paniek sodat haar dogter en Laca kan trou.

Maar, soos in een van Euripides se Griekse tragedies, word die lyk van die kind ontdek en alles ontrafel totaal.

Die opera eindig met 'n eenvoudige oomblik tussen Laca en Jenufa (nogsteeds met die geskende gesig), alleen, waar sy hom bedank vir alles wat hy vir haar gedoen het en hom dan wegstuur - sy gaan nie saam met hom lewe nie.

Liefde, moeite, en dank - maar geen vergifnis.

Friday, March 14, 2014

Underground

Yugoslavia was die enigste Europese land wat die juk van die Nazis afgeskud het sonder die hulp van óf Amerika óf die Sowjet Unie. Danksy hiervoor was Maarskalk Tito uit die staanspoor die enigste werklik onafhanklike kommunistiese leier wat sy man teen Stalin kon staan.

Vir Yugoslavia was die Koue Oorlog 'n jol: Tito het aan altwee kante van die draad gespeel, die "Non-Aligned Movement" met Indië begin en hulp ontvang deur die Westerse Marshall plan sowel as die Oos-blok COMECON.

Die ekonomie het vinnig gegroei en teen die middel 60s het Yugoslavia sy grense ten volle oopgestel vir besoekers en sy eie bevolking toegelaat om wêreld wyd te rys.

Dit alles en vryheid, gelykheid en broederskap.

Soos Nelson Mandela het Tito wêreldwye respek afgedwing - celebrities het tougestaan om saam met hom op fotos poseer; staatsleiers om eer aan hom te toon.

In Junie 1972 het hy die "Order of Lenin" in Moscow gekry en drie maande later "Most Honourable Order of the Bath" van Koningin Elizabeth II. So het dit gegaan.

Maar met sy heengaan het alles verander.

Yugoslavia was nooit 'n demokrasie nie: Tito was die "goeie diktator" wat almal wou hê. Maar sonder hom het spanning tussen Yugoslavia se nasies vinnig oorgekook en die land het in die 90s disintegreer in 'n spasma van bloedvergieting waarin meer as 150,000 mense gesterf het.

Die droom van Yugoslavia se reënboognasie het 'n nagmerrie geword - Europa se afgryse en skaamte.

Vandag bestaan daar nie meer 'n Yugoslavia nie - in sy plek staan Slovenia, Croatia, Serbia, Montenegro, Bosnia & Herzigovina, Kosovo en Macedonia.

In 1995, op die hoogtepunt van die bloedvergieting, het die Yugoslav filmmaker Emir Kusturica die fliek "Underground" gemaak. [Meer as 20 jaar nadat die land verdwyn het noem Kusturica homself nogsteeds, hardkoppig, 'n "Yugoslaaf"]

Dit is 'n lang surrealistiese verhaal van twee vriende deur die verloop van Yugoslavia se geskiedenis, van WW2 tot die einde - swart, bitter komedie.

Die bekendste lyn daarin is

'n Oorlog is nie 'n oorlog totdat 'n broer 'n broer vermoor nie.

In die heel laaste toneel, draai die laaste karakter na die kamera en sê vir die gehoor:

Hier bou ons nuwe huise met rooi dakke 
en skoorstene waar ooievaars sal nes. 
Met wyd oop deure vir liewe gaste. 

Ons sal die grond bedank vir ons voeding 
en die son vir ons verhitting.
en die velde van groen gras 
wat aan ons land herinner.

Met pyn, hartseer en vreugde, 
sal ons ons land onthou,
wanneer ons vir ons kinders stories vertel
wat soos sprokies begin:

Eendag, lank lank gelede, was daar 'n land ...

Saturday, February 22, 2014

Wat is 'n bydrae?

Op ouderdom 79 het Jans Rautenbach - Afrikaans se groot regisseur -  sopas verfilming voltooi van sy eerste fliek in 30 jaar: Abraham.

Dit word later vanjaar vrygestel en gaan ongetwyfeld 'n sensasie wees - weereens, soos met Jannie Totsiens, 'n baken van wat in Afrikaans vermag kan word.

Verder sal ek niks vertel nie.

Vir die wat nie weet waarvan ek praat nie - 'n paar jaar terug het ek hierdie voorwoord geskryf vir Martin Botha se boek oor Jans Rautenbach, my pa.



Wat is 'n bydrae?

Iets wat belangrik in sy tyd was? Iets wat die loop van gebeure verander het? Iets wat die toekoms voorspel het?

***

Die eerste herinnering van my lewe is 'n oomblik van opkyk en 'n harde slag teen die kop. Ek was 'n paar jaar oud, aan't speel op 'n leë koppie in die Klein Karoo, toe ek deur 'n spanner uit die lug getref is.

Dit was op hierdie kaal heuwel aan die voet van die Swartberge waar my pa en ma - na elke soort sukses as jong Joburgers - besluit het om 'n huis te bou.

Jans was besig met die eerste konstruksie in die veld: 'n toilet met mure en 'n deur en 'n watertenk bo-op, toe hy die spanner ingedagte afgegooi het. Die gevolg was 'n klomp bloed op my gesig en klere, Jans half histeries met my in sy arms, gejaag na my ma - wat na alles afgewas was net 'n klein skrapie kon vind.

Maar danksy al die drama was dit by daardie oomblik, daardie plek, waar my bewussyn begin.

Met die eerste tree van 'n droom: om 'n klipkasteel in die berg te bou waar daar toe niks was.

Van ons lewe voor dit kan ek niks onthou nie.

Ek weet dat Jans gery het van Johannesburg na die Kaap, opsoek na die regte plek om "Pappa Lap" te skiet. Diep in die nag het hy op Beaufort-Wes gestop vir brandstof en 'n koppie koffie. Daar, met die motor-naglig en 'n padkaart het hy 'n lang reguit-suid pad gesien met 'n onduidelike eindpunt.

Hy het besluit om hierdie pad te probeer.

Na 'n lang nagrit het die pad teen son-op deur die Swartberge gekronkel by Meiringspoort.

Meiringspoort is 'n geologiese wonder, 'n dramatiese diep skeur deur die berg wat met sonop 'n fantastiese oranje-rooi lig en skaduspel word. Aan die einde van hierdie poort het 'n magiese klein dorpie teen die heuwel gelê - asof dit daar verskyn het net vir hom - soos Brigadoon wat vir een dag elke eenhonderd jaar uit die mis verskyn.

Die dorp se naam was "De Rust".

"Pappa Lap" is op De Rust geskiet en kort daarna is 'n plaas gekoop, 'n ent daarvandaan, 'n leë plaas met heuwel en 'n wonderlike uitsig oor die reuse Klein Karoo vallei. Die plaas is "Oulap" gedoop.

Jans het na afloop van "Pappa Lap" teruggekeer na die stad, en vir die grootste deel van sy flieklewe gependel tussen die werk in Johannesburg en die gesin in die Klein Karoo, waar Oulap stadig besig was om vorm aan te neem, danksy my ma.


Sy werk was uiteindelik soos daardie nag op Beaufort Wes - 'n keuse vir 'n onsekere bestemming, 'n bestemming wat vandag nog onbekend is, want die reisiger reis nog en pad vorentoe bly 'n raaisel.

Maar sy lewe lank is Jans gedryf deur net een sekerheid, een ingebore leidraad: sy instink vir wat goed en swak is, dit wat tweederangs is, wat nooit die eindpunt werd is nie.

Maar die pad self was altyd onduidelik, 'n moeras van teenoorgestelde impulse: die stad en die plaas, alleenwees en deelwees, Afrikaans en Engels, Verwoerd en Mandela, die wereld hier en die wereld daar, kuns en vermaak, geloof en twyfel.


As kind het ek hom aan die etenstafel hoor praat oor hoe groot kunstenaars hulleself "losmaak" van hul wereld.

Die wereld waaruit hy gebore was was op die kruin van triomf, vol antwoorde, vol sukses.

Afrikaners het pas hulle land "teruggeneem" en was nou gereed vir 'n plek in die son. Hierdie instap in die son was die "saak" - Afrikaans tot sy volle reg - in die regering, in die sakewereld, in die media, op universiteite.

'n Klein gemeenskap met een doel is 'n sterk gedierte: hul waardeer mekaar, elke nuwe prestasie in die uitbou van Afrikaans is raakgesien en bespreek en bejubel.

Dit was hierdie gehoor met wie hy kon praat, maar van wie hy hom moes "losmaak", al was hulle waarskynlik die enigstes wat omgegee het.

Daar is 'n ou cliche oor Afrikaanse: die digkuns is briljant, die prosa goed, die drama so-so.

Van die flieks is nie eers gepraat nie. Wat bestaan het was nie gereken nie. Die woordeskat, die paradigma, die visie, die persoonlikheid vir 'n Afrikaanse kunsfilm het nie bestaan nie.

Die sestigers van Afrikaanse letterkunde het op 'n binne/buite manier die gemeenskap begin pols oor die wysheid van hul gekose rigting: apartheid.

Maar min mense kon werklik ten volle "los wees", die prys was baie hoog en die wereld daarbuite was groot en onvriendelik. En buitendien, daar was baie goeie trou vir mekaar en soveel wat nog saam vermag moes word.

Die medium van rolprente vereis soveel deursetting omdat daar soveel uitlekgate is: soveel plekke waar die visie kan smelt, versmoor, verdun, soveel mense wat die materiaal met hul vuil vingers hanteer, soveel tyd wat verbygaan, soveel kokke, soveel ponde vleis.

Dit vereis iemand met besondere selfgeloof om eerstens 'n visie te hê en dit dan te behou en beskerm van die eerste tot die laaste dag.

Daarom is die auteur iets anders as 'n skrywer: iemand met 'n visie, 'n oog, 'n oor, 'n wil en 'n dik vel. 'n Kunstenaar maar ook 'n barbaar - geslote vir die verkeerde argumente en onwelkome feite, die auteur moet homself laat geld oor die koppe almal, of alles is tot niet.

Vir al hierdie redes is dit vir my nie verbasend dat die Afrikaanse rolprentbedryf uiteindelik net een Jans Rautenbach opgelewer het nie. Alles inaggenome was die kanse nooit groot nie.

"Die Kandidaat" en "Jannie Totsiens" word vandag beskou as sosiale protes, maar dit was iets veel belangriker: 'n nuwe houding teenoor die gehoor, 'n nuwe verwagting.

Die werklike "boodskap" was: Kyk, dit is moonlik. Ons kan dit doen, in Suid-Afrika, in Afrikaans, onsself, in ons eie leeftyd, vir die eerste keer. Kuns kan geskep word, alles is moontlik, glo dit, maak jou oë en jou kop oop.

Dit was die inneem van 'n regmatige plek in die wereld, die instap vanuit die koue na die son.

Was Jans werklik so diep verbind tot die Afrikaners?

Verseker.

Die Jans Rautenbach van "Die Kandidaat" tot "Broer Matie" was geanker in die ideaal van 'n suksesvolle, ryp Afrikaner volk - oopkop, voorspoedig, vindingryk en verdraagsaam.

"Ek en die Boere... Ek en die Boere gaan mekaar nog begrawe", het hy gesê.

En wat van die res van Suid-Afrika?

Baie min blankes kon enigsens die Suid-Afrika van 1994 visualiseer, behalwe in hul nagmerries, nog minder die Suid Afrika van 2005.

Daar was 'n vae vrees oor die toekoms, 'n stadige verlies aan selfvertroue oor die politieke rigting, maar geen duidelike alternatief nie.

Jans se vroeë flieks het die mees algemene letterkundige protespunte na die rolprentmedium geneem - Wit en Bruin Afrikaners, try for white, liefde oor die kleurgrens - en op 'n liberaal-nasionalistiese manier hanteer.

Maar daar was baie beperkings aan sy politieke betoog, dit was kritiek-uit-liefde, van sy tydgenote het verder gegaan en meer gesê.

In later jare het hy op 'n dwase manier vir die ou regering in diens getree: "Die Sestig Jaar van John Vorster" en "White Roots in Africa" en daarmee baie goeie trou ongedaan gemaak.

Die jong Jans het gehou daarvan om te sê, in die middel van 'n politieke gestry

"Ek het meer vir hierdie land gedoen as wat sus en so ooit sal weet..."

Hierdie woorde het verdwyn deur die jare, uit selfvertroue het baie foute gekom, en met wysheid nederigheid.

Nee, politiek is nie Jans se bydrae nie.

Jans het nie die wereld verander of voorspel nie.

Wat is sy bydrae?

Sy bydrae is 'n jong Katinka wat haar houtperd dra deur die veld, oproep na haar ridder ...want jy het gesê as ek jou wil hê, dan moet ek jou kom haal... op 'n mooi ryperd, 'n blink vos perd, met 'n splinternuwe saal...

Sy bydrae is 'n misgebore, vergete seun in 'n gestig, verwerp deur sy ouers, wat 'n gesin verf, gelukkig en heel en gesond.

Sy bydrae is 'n brandende huis en 'n gebreekte hart daarbinne...

Regardt wat dobbel deur die nag, sy lot onder drie bekers ...kyk nogeens goed mijn kind, op die vlakte daar ver... kom 'n man op zijn paard...

Kimberley en Katrina, in trane in die donkerte onder strobe lights, wit en swart... terwyl die band sing "Don't you feel like crying..."

Adam wat groet: "We will ring the bells for you, Katrina..."

Die groot deure van Raadsaal wat oopgaan.

Regardt en Zoli wat lag in 'n lugballon ...'n sprokiesparadys, waar jou wildste drome bestaan, vat my saam...

Gordon en Katinka - pa en dogter wat verleë kyk hoe die ryk kêrel die geld deur sy vingers vleg...

Die lied van die ongewenste vreemdeling...

Vat haar weg
van haar ma af
van haar pa af
van haar broer af
uit haar land uit...?

Sy bydrae is sy kuns.

[15 Oct 2006]