Sondag, April 15, 2018

Die Dieper Reg

Sal ons Afrikaners ooit in die hemel kom, na al die sondes van apartheid? As jy ooit hieroor wroeg is jy in goeie geselskap - Afrikaners het 'n lang tradisie daarvan.

Niemand minder as NP van Wyk Louw het 'n hele drama, oratorio, koorspel, heilige gebed affêre, soos net hý kon, hieroor geskryf.

Hy het dit Die Dieper Reg genoem - sy "spel van die oordeel oor 'n volk". Dit word vandag onthou vir die frase: O wye en droewe land...

Louw het dit in die 30s geskryf vir die eeufees vieringe van die Groot Trek, so geen groot spanning om te raai wie wen nie. Die Louw van die 30s was... ehem... 'n ander mens as Mnr Liberale Nasionalisme van die 60s.

Nogtans, dis 'n tydsvak en 'n proses om by die antwoord uit te kom, 'n nominale drama waarin die "Voortrekkers" in een groep in die hemel opdaag en daar deur die Here verhoor word - in "die Saal van Ewige Geregtigheid". 

'n Hofsaak sal nie 'n hofsaak wees sonder 'n aanklaer nie, en so gedaan - die Voortrekkers word aangekla deur "'n magtige en hooghartige Gees wat koninklik in sy eie reg staan", 'n karakter wat eenvoudig die Aanklaer genoem word.

Wat is die aanklag? Grondhonger ( mooi woord )

in opstand het hul uitgegaan
die bande en die wet verbreek
en dwaas hul in verderf gestort
om grond te roof en ryk te word

In hul verdediging maak die Voortrekkers baie van hul leiding en smarte en dapperheid, waarop die Aanklaer opmerk

Die dapperheid is niks as drif
wat selfs die diere het.
Die liggaamspyn ken ook die dier
en kinders baar en sterf...

Ons hoor 'n lang en dor verhaal
van nietige en needrige dinge,
'n swak en skaars nog mensetaal ( praat nog kombuis Nederlands U hoogheid )  
wat nooit deur die sewe heilige kringe 
van God se heerlikheid kan dring;
die Reg is ver bo pyn en drif

Die basiese argument van die Aanklaer is dat leiding en smart nie rede genoeg is om hul daad te heilig nie, daar moet 'n dieper geregtigheid wees.

Louw se toneel aanwysings vir die sprekers is om van die heebie jeebies te kry - dit wys hy neem alles ernstig op: tree vorentoe... heftig en vinnig... smekend... juigend... fors en somber... stil, religieus... diepe ontsag... ekstaties 

Voordat hulle hel toe gaan kry die Voortrekkers darem een van sy grootste gedigte in

KOOR (Klaagsang) (Begin langsaam en versnel totdat die laaste stansas kragtig opklink)

O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal nooit 'n hoë blydskap kom
deur jou stil droefenis?
Jy ken die pyn en eensaam lye
van onbewuste enkelinge,
die verre sterwe op die veld,

die klein begrafnis
eenvoudige mense wat getrou
en enkeld bitter dinge doen,
en enkeld val soos korrels saad;
stil daad, klein trou, klein trouloosheid
van dié wat om 'n ander diens
soos knegte jou verlaat.

(Ligverandering: helderder)

Sal nooit 'n magtige skoonheid kom
oor jou soos die haelwit somerwolk
wat uitbloei oor jou donker berge,
en nooit in jou 'n daad geskied
wat opklink oor die aarde en
die jare in hul onmag terge;
'n grootsheid van so suiwer glans,
dat mense in 'n verre land
wat van jou naam die melding hoor
met wilde en helder oog sal staar
soos vroeë vaarders in die nag
verslae gesien het kim bo kim
die nuwe, blom-groot sterre styg
op uit jou see se wit gevaar?


Die Here vererg hom op 'n stadium vir die Aanklaer se koggeling

Waar is jul mag?
Want net die magtige volke kan
geweldig oor die aarde gaan
soos die wind in sy prag
en sy gestaltes vorm soos klei.

met 'n vat so

Voor God is alle volke klein,
en net die wil se waarde bly

en daarna lyk dinge beter vir die Voortrekkers

Hul sal nie sterf, hul lewe het
in daardie land so ingetrek
en ingeweek dat hul sal bly
so lank sy kranse bo die see
se lang skuimkringe uit sal staan,
afsonderlik en trots en vry

Maar nou ja, dit was die 1930s

1 opmerking :

  1. Dit lyk my elke generasie erf die oordeel wat oor sy voorganger gespreek is:
    Die generasie van die 30s het hierdie oordeel ontvang sodat hulle kinders die hemel van die 60s, 70s en 80s kon uitleef, hulle (julle!) weer, het die oordeel ontvang wat vandag se generasie (ons!) moet uitleef. So om jou vraag te antwoord:

    "Sal ons Afrikaners ooit in die hemel kom, na al die sondes van apartheid?"
    Nee natuurlik nie, kan jy nie sien dat ons reeds in the hel is vir wat julle gedoen het nie?


    En daarin lê die betekenis van 'n volk: die een dra die ander se las, maai wat die ander gesaai het. En leer hopenlik daaruit.

    AntwoordVee uit