Sondag, Januarie 07, 2018

‘n brokkie van die ewigheid dryf los



as twee mekaar naak omhels
verander als:
liefde word vleis en bloed.
drome, eetbare vrugte, soet,
gedagtes werklike wyn en brood
op ‘n gedekte tafel, fyn
proebaar op die tong, slukbaar:
die rasendste honger verstil.

spoke word mense,
die hemel sprei ‘n sagte skadukombers oor hulle
en die sterre buig af en fluister ‘n deuntjie.
‘n brokkie van die ewigheid dryf los:
die absolute in die kontigente.
die gebroke kring,
twee helftes van ‘n sinkende boot,
verenig en raak weer vlot
met die blydskap van lied en word
aan boord,
van die verlostes uit nood.

die harde ysterstad
met sy betonhoed,
robotoë en asfaltbroek,
begin ekstaties dans
en al die sterwendes op weg na die graf,
gooi hul kiste van hul skouers af
en lag verbly
en selfs die geharde misdadigers, dood
en sy handlanger tyd,
staan voor dié heilige geheim
eenkant
swyend opsy,
hoed in die hand



-SJ Pretorius

6 opmerkings :

  1. Dis heerlike om te sien my pa (SJ Pretorius) se gedigte word nog gelees! Dankie!

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dit is ongetwyfeld een van my gunsteling gedigte in Afrikaans. Laurinda Hofmeyr het dit getoonset.

      Vee uit
  2. Laat my dink aan 'n sekere momente Breytenbach se Woordwerk (wat my ma by die lokale ASVV se tweedehandse snuisteryeverkoping opgepik het) en wat ek met groot genot lees - sien http://joanhambidge.blogspot.com/2013/03/breyten-breytenbach-woordwerk-1999.html

    AntwoordVee uit
  3. Laat my vir een of ander rede dink aan Rimbaud: "True life is absent; we are not in the world." Die ware lewe is die ewigheid ... nie-bestaan ... ?? Uit Borges se "A Defense of Basilides the False" (via Bloom se "The Western Canon") @ https://gwern.net/doc/borges/1932-borges-adefenseofbasilidesthefalse.pdf

    AntwoordVee uit