Saterdag, Julie 14, 2018

'n paw-paw vir my darling

Persona: twee kante van dieselfde siel,
suave Marcel van Heerden en zef Deon Lotz.
Groot flieks - maak nie saak of dit Duck Soup of Ten Days That Shook The World is nie - seil selde ontbloot oor die water vir bewondering.

Vir die grootste deel is dit amper-iets: die donker buitelyn van moontlikhede onderwater wat krag bymekaarmaak en dan - uit die bloute - een of twee keer, soos 'n walvis opskiet, jou asem wegslaan, en weer verdwyn.

Koos Roets het 'n fliek gemaak van Jeanne Goosen se storie - 'n paw-paw vir my darling. Ek het nog nie die boek gelees nie, net die fliek gesien.

Dit gaan oor die doen en late van twee arm-blanke gesinne langs mekaar in Danville, Pretoria - die Beeslaers en die Bonthuise. Dit skets die pyn van hul bestaan - pyn deur die oog van onvervulbare drome.

Hierdie drome is soms mikroskopies klein, maar net-net buite bereik. In een van die beste tonele huil Deidre Wolhuter by haar man Deon Lotz "oor die sifdeur wat nooit weer heel sal wees nie". 'n Klein seer oog - maar 'n metafoor van ongedeelde en eensaam pyn - wat vir my belangrik is is vir jou onbelangrik.

Soms is die drome mikroskopies klein, maar soms teleskopies groot - soos die dogter wat briewe skryf vir Charlize Theron en haar ma dreig dat sy gaan weg loop na Hollywood.

In hierdie gesukkel kom Marcel van Heerden, 'n dappere con-man wat ou vrouens vry, 'n man met twee plase in die Bosveld, geheime agent vir die regering, vriend van Pik Botha en George Bush, wat almal se probleme gaan oplos maar nie vir sy eie drank kan betaal nie.

Die vonke uit hierdie fliek kom deur die massering, om die beurt, van suave en zef, hoop en wanhoop, vandag se werklikheid en more se moontlikhede - en moet sĂȘ ek was beindruk.

Die titel verwys na 'n toneel waarin Deon Lotz vir sy vervreemde vrou 'n paw-paw aan bied - "die beste medisyne vir hardlywigheid".

Salf vir die wond wat nie kan genees nie, maar 'n gebaar van menslikheid en liefde wat die lewe draaglik maak. Hunky dory.

1 opmerking :

  1. Hi Gert, kan mens nie jou blog volg nie? Ek het nou deur alles gekyk, maar ek sien nie 'n "subscribe" blokkie of iets nie? Mis ek hom dalk? Dankie, Ivan

    AntwoordVee uit