Donderdag, Junie 04, 2015

Metamorfose

Franz Kafka het 'n storie geskryf oor 'n man wat in sy bed wakker word en vind dat hy verander het in 'n "monsteragtige ongedierte". Die ongedierte word in die algemeen gesien as 'n miskruier van omtrent 1 meter lank.

Die ongelukkige man se naam is Gregor Samsa en op daardie oomblik woon hy saam met sy pa, ma en suster.

Kafka het sy belangrikste boeke - Die Kasteel en Die Hofsaak - in die middel van die skryf skielik gelos, soos iemand wat wakker skrik en sê waaroor was ek besig om te skryf? Beide boeke is nooit voltooi nie.

Ek dink baie van sy nadoodse sukses is te danke aan die mengsel van seks en hopeloosheid daarin.

Hy plaas 'n held in die middel van 'n nagmerrie wat dan moontlik deur 'n sexy, simpatieke meisie gehelp gaan word - maar dit gebeur nooit.

Die Metamorfose is anders as daardie twee. Dis kort en kragtig, deurdroom-in-een-skoot en gaan nie oor hoop en die vernietiging van hoop nie.

Die storie is een van die mees geanaliseerde verhale in letterkunde. Die transformasie word gesien as 'n simbool van skuld, van swak selfbeeld, en 'n horde ander goed.

Gregor was die broodwinner in die huis; sy "toestand" veroorsaak 'n krises waarin sy pa en suster elk 'n werk moet neem. Hulle erken die ongedierte as Gregor, alhoewel die dier nie kan praat nie en daar geen aspek van sy persoonlikheid oorbly nie.

Sy suster voer hom en maak die kamer skoon en verwyder uiteindelik al die meubels om almal se lewe te vergemaklik. Hulle stel reels waarbinne Gregor moet bly: hy mag nie uit sy kamer uit nie, sodat hulle nogsteeds 'n lewe kan behou, mense ontvang en nie in vrees hoef te lewe nie.

In al hierdie opsigte is Gregor se transformasie dieselfde as iemand wat met 'n skielike ernstige siekte, of 'n beroerte getref is - en deur sy familie versorg moet word.

Die kritiese oorgang in die storie is wanneer die familie uiteindelik die dier dissosieer van hulle kind en broer.

As dit werklik "Gregor" was sou hy die huis verlaat het (deur sy kamervenster) en vir hulle uiteindelik vrede gee, dink sy suster.

Daarna weier sy om haar broer se naam in die teenwoordigheid van daardie kriatuur te noem.

Vir een of ander rede, ten spyte van die uiteindelik haat wat hulle vir hom koester, maak hulle hom nooit dood nie.

Halfpad deur die storie glip Gregor uit sy kamer en word deur sy pa in die kombuis betrap. In instinktiewe afgryse gryp die ou man na 'n bak vol appels en gooi die gedierte daarmee - die wond wat die appels maak bly op Gregor en sweer uiteindelik tot 'n dodelike wond.

Somtyds wonder ek of die storie simbolies is van die dood van 'n geliefde - die gedierte is die spook van die mens wat agter bly in die huis, en nogsteeds soveel emosionele energie verg.

Vladimir Nabokov het 'n bekende reeks lesings oor letterkunde as Cornell professor gedoen - onder andere Metamorfose.

Hy het al die biologiese gegewe oor Gregor in die storie analiseer en tot die gevolgtrekking gekom dat hy 'n kakkerlak was.

Die diep ironie van die storie, volgens hom - was dat Gregor onder sy vieslike buitekant vlerke gehad het, maar dit nooit ontdek het nie.

Sy transformasie was 'n gawe en 'n bevryding waarvan hy nooit geweet het nie.

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking