Donderdag, November 03, 2016

Jans Rautenbach, 1936 - 2016

Wat is 'n bydrae?

Iets wat belangrik in sy tyd was? Iets wat die loop van gebeure verander het? Iets wat die toekoms voorspel het?

***

Die eerste herinnering van my lewe is 'n oomblik van opkyk en 'n harde slag teen die kop. Ek was 'n paar jaar oud, aan't speel op 'n leë koppie in die Klein Karoo, toe ek deur 'n spanner uit die lug getref is.

Dit was op hierdie kaal heuwel aan die voet van die Swartberge waar my pa en ma - na elke soort sukses as jong Joburgers - besluit het om 'n huis te bou.

Jans was besig met die eerste konstruksie in die veld: 'n toilet met mure en 'n deur en 'n watertenk bo-op, toe hy die spanner ingedagte afgegooi het. Die gevolg was 'n klomp bloed op my gesig en klere, Jans half histeries met my in sy arms, gejaag na my ma - wat na alles afgewas was net 'n klein skrapie kon vind.

Maar danksy al die drama was dit by daardie oomblik, daardie plek, waar my bewussyn begin.

Met die eerste tree van 'n droom: om 'n klipkasteel in die berg te bou waar daar toe niks was.

Van ons lewe voor dit kan ek niks onthou nie.

Ek weet dat Jans gery het van Johannesburg na die Kaap, opsoek na die regte plek om "Pappa Lap" te skiet. Diep in die nag het hy op Beaufort-Wes gestop vir brandstof en 'n koppie koffie. Daar, met die motor-naglig en 'n padkaart het hy 'n lang reguit-suid pad gesien met 'n onduidelike eindpunt.

Hy het besluit om hierdie pad te probeer.

Na 'n lang nagrit het die pad teen son-op deur die Swartberge gekronkel by Meiringspoort.

Meiringspoort is 'n geologiese wonder, 'n dramatiese diep skeur deur die berg wat met sonop 'n fantastiese oranje-rooi lig en skaduspel word. Aan die einde van hierdie poort het 'n magiese klein dorpie teen die heuwel gelê - asof dit daar verskyn het net vir hom - soos Brigadoon wat vir een dag elke eenhonderd jaar uit die mis verskyn.

Die dorp se naam was "De Rust".

"Pappa Lap" is op De Rust geskiet en kort daarna is 'n plaas gekoop, 'n ent daarvandaan, 'n leë plaas met heuwel en 'n wonderlike uitsig oor die reuse Klein Karoo vallei. Die plaas is "Oulap" gedoop.

Jans het na afloop van "Pappa Lap" teruggekeer na die stad, en vir die grootste deel van sy flieklewe gependel tussen die werk in Johannesburg en die gesin in die Klein Karoo, waar Oulap stadig besig was om vorm aan te neem, danksy my ma.


Sy werk was uiteindelik soos daardie nag op Beaufort Wes - 'n keuse vir 'n onsekere bestemming, 'n bestemming wat vandag nog onbekend is, want die reisiger reis nog en pad vorentoe bly 'n raaisel.

Maar sy lewe lank is Jans gedryf deur net een sekerheid, een ingebore leidraad: sy instink vir wat goed en swak is, dit wat tweederangs is, wat nooit die eindpunt werd is nie.

Maar die pad self was altyd onduidelik, 'n moeras van teenoorgestelde impulse: die stad en die plaas, alleenwees en deelwees, Afrikaans en Engels, Verwoerd en Mandela, die wereld hier en die wereld daar, kuns en vermaak, geloof en twyfel.


As kind het ek hom aan die etenstafel hoor praat oor hoe groot kunstenaars hulleself "losmaak" van hul wereld.

Die wereld waaruit hy gebore was was op die kruin van triomf, vol antwoorde, vol sukses.

Afrikaners het pas hulle land "teruggeneem" en was nou gereed vir 'n plek in die son. Hierdie instap in die son was die "saak" - Afrikaans tot sy volle reg - in die regering, in die sakewereld, in die media, op universiteite.

'n Klein gemeenskap met een doel is 'n sterk gedierte: hul waardeer mekaar, elke nuwe prestasie in die uitbou van Afrikaans is raakgesien en bespreek en bejubel.

Dit was hierdie gehoor met wie hy kon praat, maar van wie hy hom moes "losmaak", al was hulle waarskynlik die enigstes wat omgegee het.

Daar is 'n ou cliche oor Afrikaanse: die digkuns is briljant, die prosa goed, die drama so-so.

Van die flieks is nie eers gepraat nie. Wat bestaan het was nie gereken nie. Die woordeskat, die paradigma, die visie, die persoonlikheid vir 'n Afrikaanse kunsfilm het nie bestaan nie.

Die sestigers van Afrikaanse letterkunde het op 'n binne/buite manier die gemeenskap begin pols oor die wysheid van hul gekose rigting: apartheid.

Maar min mense kon werklik ten volle "los wees", die prys was baie hoog en die wereld daarbuite was groot en onvriendelik. En buitendien, daar was baie goeie trou vir mekaar en soveel wat nog saam vermag moes word.

Die medium van rolprente vereis soveel deursetting omdat daar soveel uitlekgate is: soveel plekke waar die visie kan smelt, versmoor, verdun, soveel mense wat die materiaal met hul vuil vingers hanteer, soveel tyd wat verbygaan, soveel kokke, soveel ponde vleis.

Dit vereis iemand met besondere selfgeloof om eerstens 'n visie te hê en dit dan te behou en beskerm van die eerste tot die laaste dag.

Daarom is die auteur iets anders as 'n skrywer: iemand met 'n visie, 'n oog, 'n oor, 'n wil en 'n dik vel. 'n Kunstenaar maar ook 'n barbaar - geslote vir die verkeerde argumente en onwelkome feite, die auteur moet homself laat geld oor die koppe almal, of alles is tot niet.

Vir al hierdie redes is dit vir my nie verbasend dat die Afrikaanse rolprentbedryf uiteindelik net een Jans Rautenbach opgelewer het nie. Alles inaggenome was die kanse nooit groot nie.

"Die Kandidaat" en "Jannie Totsiens" word vandag beskou as sosiale protes, maar dit was iets veel belangriker: 'n nuwe houding teenoor die gehoor, 'n nuwe verwagting.

Die werklike "boodskap" was: Kyk, dit is moonlik. Ons kan dit doen, in Suid-Afrika, in Afrikaans, onsself, in ons eie leeftyd, vir die eerste keer. Kuns kan geskep word, alles is moontlik, glo dit, maak jou oë en jou kop oop.

Dit was die inneem van 'n regmatige plek in die wereld, die instap vanuit die koue na die son.

Was Jans werklik so diep verbind tot die Afrikaners?

Verseker.

Die Jans Rautenbach van "Die Kandidaat" tot "Broer Matie" was geanker in die ideaal van 'n suksesvolle, ryp Afrikaner volk - oopkop, voorspoedig, vindingryk en verdraagsaam.

"Ek en die Boere... Ek en die Boere gaan mekaar nog begrawe", het hy gesê.

En wat van die res van Suid-Afrika?

Baie min blankes kon enigsens die Suid-Afrika van 1994 visualiseer, behalwe in hul nagmerries, nog minder die Suid Afrika van 2005.

Daar was 'n vae vrees oor die toekoms, 'n stadige verlies aan selfvertroue oor die politieke rigting, maar geen duidelike alternatief nie.

Jans se vroeë flieks het die mees algemene letterkundige protespunte na die rolprentmedium geneem - Wit en Bruin Afrikaners, try for white, liefde oor die kleurgrens - en op 'n liberaal-nasionalistiese manier hanteer.

Maar daar was baie beperkings aan sy politieke betoog, dit was kritiek-uit-liefde, van sy tydgenote het verder gegaan en meer gesê.

In later jare het hy op 'n dwase manier vir die ou regering in diens getree: "Die Sestig Jaar van John Vorster" en "White Roots in Africa" en daarmee baie goeie trou ongedaan gemaak.

Die jong Jans het gehou daarvan om te sê, in die middel van 'n politieke gestry

"Ek het meer vir hierdie land gedoen as wat sus en so ooit sal weet..."

Hierdie woorde het verdwyn deur die jare, uit selfvertroue het baie foute gekom, en met wysheid nederigheid.

Nee, politiek is nie Jans se bydrae nie.

Jans het nie die wereld verander of voorspel nie.

Wat is sy bydrae?

Sy bydrae is 'n jong Katinka wat haar houtperd dra deur die veld, oproep na haar ridder ...want jy het gesê as ek jou wil hê, dan moet ek jou kom haal... op 'n mooi ryperd, 'n blink vos perd, met 'n splinternuwe saal...

Sy bydrae is 'n misgebore, vergete seun in 'n gestig, verwerp deur sy ouers, wat 'n gesin verf, gelukkig en heel en gesond.

Sy bydrae is 'n brandende huis en 'n gebreekte hart daarbinne...

Regardt wat dobbel deur die nag, sy lot onder drie bekers ...kyk nogeens goed mijn kind, op die vlakte daar ver... kom 'n man op zijn paard...

Kimberley en Katrina, in trane in die donkerte onder strobe lights, wit en swart... terwyl die band sing "Don't you feel like crying..."

Adam wat groet: "We will ring the bells for you, Katrina..."

Die groot deure van Raadsaal wat oopgaan.

Regardt en Zoli wat lag in 'n lugballon ...'n sprokiesparadys, waar jou wildste drome bestaan, vat my saam...

Gordon en Katinka - pa en dogter wat verleë kyk hoe die ryk kêrel die geld deur sy vingers vleg...

Die lied van die ongewenste vreemdeling...

Vat haar weg
van haar ma af
van haar pa af
van haar broer af
uit haar land uit...

Sy bydrae is sy kuns.

[15 Oct 2006]

4 opmerkings :

  1. Gert ou seun, dit bly nog die mees eerlike en ware diepte kommentaar op my loopbaan wat ooit gepen is. Jans

    AntwoordVee uit
  2. My innige meegevoel Gert. Dit was 'n voorreg om hom destyds te ontmoet en om saam met julle op Oulap te kuier. Zelda

    AntwoordVee uit
  3. Mnr Rautenbach, u vader was werklik uit 'n ander wereld, u behoort baie trots op uself te wees. Ek plaas hier 'n skakel na 'n absolute wonderlike vertelling van Jans Rautenbach oor sy ontmoeting met Mandela in 2001 tydens die opening van die KKNK via RSG potgooi vir u ander lesers - dis 'n MOET-hoor gesprek: http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20161108_RSG_KUNS_Jans_Rautenbach.mp3

    AntwoordVee uit