Maandag, November 14, 2016

Jannie Totsiens

Waarom het Afrikaners in 1970 nie die betekenis van Jannie Totsiens verstaan nie?

Dis 'n vraag wat aan Jans Rautenbach gestel is.

Sy antwoord was "Afrikaners verstaan vandag nog nie die betekenis van Jannie Totsiens nie".

Die antwoord is eintlik akademies, want Afrikaners het dit nog nooit gesien nie, wat nog dit verstaan - nie in 1970 of in 2016 nie. Dis 'n legendariese fliek, maar ek sal verbaas wees as daar as vyfhonderd mense vandag nog lewe wat Jannie Totsiens – een van die grootste Afrikaanse flieks wat ooit gemaak is - gesien het.

Die basiese storie is 'n fantasie: iewers êrens is 'n inrigting vir sielsiekes. Almal in die inrigting, die versorgers en die versorgdes, is Afrikaans. Daar is 'n string onwerklike karakters: 'n Afrikaanse Hitler (Don Leonard), 'n heks met voorspellings en Bybelverse (Hermien Dommisse) en 'n jong nimf wat met poppe speel en oë uitsteek (Katinka Heyns). Een karakter is 'n armlose man, weggegooi deur sy ouers, wat 'n selfportret met sy tone verf: van homself met twee gewone arms saam met sy ma en pa.

Die fliek begin met die woorde

Daar's 'n vreemdeling in ons midde.

en wys dan hoedat almal se koppe terselfdertyd draai na dieselfde ingang. Na wat voel soos 'n ewigheid van afwagting stap Jannie (Kobus Rossouw) by die deur in, 'n nuwe inname in hierdie wêreld. Wat hom skort bly 'n raaisel, hy is skynbaar stom en praat nie.

Hul reaksie teenoor hom is suspisie wat fassinasie word; 'n liefdesdriehoek, ‘n drang vir sy aandag; tragedie en uiteindelik 'n komplot om hom te vermoor.

Sensories is dit ongetwyfeld een van die rykste flieks in Afrikaans - die visie van Jans Rautenbach op sy kruin saam met die kuns van 'n jong Wendy Malan en Hans Potgieter teenoor 'n klankbaan van ou Afrikaanse volksliedjies:

...bobbejaan klim die berg om die boere te vererg...


...met 'n mooi ryperd, 'n blinkvosperd met 'n spliternuwe saal...

So wat op aarde beteken dit alles?

Dis 'n fliek van vermoëns - 'n kunstenaar verbete om te wys wat hy in sy taal kan vermag - maar 'n verhaal van onvermoëns. 

Jannie Totsiens het gevolg op die hakke van twee groot landmerke in Afrikaanse flieks: Die Kandidaat (1968) en Katrina (1969). Jans het later van Jannie Totsiens gepraat as die derde van 'n trilogie oor Afrikaanse introspeksie.

In hierdie konteks was dit 'n metafoor vir 'n afgeslote gemeenskap (die Afrikaners) wat 'n kranksinnige klankbord vir mekaar geword het, en die intellektuele onder hulle wat stom gebly het.

Maar Jannie Totsiens was in sekere opsigte anders as sy die twee voorlopers. Die fliek het 'n universele gevoel en bruis van arrogansie, van die gevoel dat die kat weg is en die muis baas is. Vir een maal op aarde is daar geen kommersiële oorwegings nie. 

En daar is 'n baie private Jannie Totsiens.

Jans se oudste broer was 'n erg gestremde kind - fisies en verstandelik - met die naam Uysie, wat gesterf het terwyl Jans nog 'n kind was. Na sy dood het dit Jans se taak geword om een maal 'n week - op Woensdae - na Uysie se graf te stap met 'n emmer, vars blomme en 'n waslap om sy broer se graf skoon te maak.

Hierdie weeklikse stap van etlike kilometers sou 'n enorme invloed op sy vorming hê. 

Ek het 'n palm stok opgetel. Daardie stok was my motor, of my vliegtuig, of my skip. In die gang van my reis met my stok het ek mense ontmoet en heldedade verrig; ek het kinders gered wat in die moeilikheid was; ek het wêrelde ontdek waar goud en juwele opgestapel was; ek was 'n seerower op die oseaan; met my palm stok het ek vooruit gevlug en niemand kon my vang nie.

By die begraafplaas het ek die stok gebêre en Uysie se graf skoongemaak en water ingegooi en tussen die ander grafte deurgedwaal. Daar was pragtige grafstene met marmer kopstukke, engele wat staan, afgekapte boomstompe wat simbool was van 'n lewe wat vroeg geëindig het. Daar was ornate grafte wat kluise en huise was. Hierdie grafte het vir my stede geword, en strate en dorpe waarin ek mense besoek het en ontvang is.

Later het ek besef dat hierdie wêreld eie aan myself was. Ek het nooit vir die ander kinders daarvan vertel nie. Ek het gedink hulle sou dink dat ek mal of kinderagtig was.

Jans het hierdie droomgeboorte van hom bo alles gekoester en lewenslank sy lang motor reise tussen Johannesburg en die Klein Karoo met sy palm stok vergelyk.

Wat het dit alles met Jannie Totsiens te doen?

Jannie Totsiens, die geheime Jannie Totsiens, was die droomwêreld van Uysie se begraafplaas wat uiteindelik, soos 'n teaterstel van onder opgereis het vir die wêreld om te sien. 

Maak nie saak of die ander kinders dink dat ek mal of kinderagtig was nie.
Ek noem dit 'n storie van onvermoë, omdat dit wys dat droomwerelde vergestalt kan word, maar ook dat dit moet eindig. Die "Totsiens" van Jannie Totsiens is daardie erkenning. 

Ons lewe tussen ons drome en ons werklikheid.

*

My pa is verlede week oorlede. Hy was tagtig jaar oud maar nog vol planne vir sy volgende fliek. Ek het deur sy laaste notas gekyk en op een plek het hy geskryf

Ek is weer kind wat die winterwasem op die treinkompartement se ruit wegvee om te kyk na die kou van 'n vroegoggend wat verbyvliet.

'n Ouman met slepende bene skietende pyne verstopte are verkalkte verstand.

Kan jy ooit iets sê wat nog nooit gesê is nie?


Jans Rautenbach, 1936 - 2016 


1 opmerking :

  1. Skakel na Kinema, A Journal for Film and Audiovisual Media se skrywe oor Jans Rautenbach:
    http://www.kinema.uwaterloo.ca/article.php?id=590&feature

    AntwoordVee uit