Donderdag, Maart 24, 2016

God is waar Liefde is

o om te kan trou in die kerk op jou dorp
waar die harte oopblom en die wyn vloei

Dis die enigste twee reëls uit Breyten Breytenbach se Toneelstuk wat ek kan onthou. Dit het my vir 'n oomblik wakker gemaak, soos geraas in die nag, uit 'n onverstaanbare droom. Wat was dit?!

Breyten was reeds in sy klaagliedere fase, maar hierdie stukkie was vir my skitterend. Dit hunker na die heiligheid van gemeenskap, 'n gemeenskap wat saam dra aan hul sondes, wat saam sin maak uit onsinnigheid.

Gemeenskap is 'n ding en 'n daad.

Een van die mooiste oomblikke in Shakespeare, in Love's Labour's Lost, is wanneer die ou vrou vir die ou man sê

I beseech your society

die gelukkige ou man fluister vir die gehoor, wanneer hy agter haar afstap

And thank you too; for society, saith the text, is the happiness of life

Toe ek 'n kind was, in die gemeenskap in die kerk op my dorp, het die dominee eendag 'n storie vertel wat my hare laat rys het.

'n Skoenmaker - Martin - word in die nag wakker gemaak deur die stem van Christus.

"Ek gaan jou moreoggend in persoon kom sien", waarsku Christus hom.

Die verskrikte Martin sit vir die hele dag wat volg net sy beste voet voor. Buite in die sneeu gee hy sop vir 'n boemelaar, help 'n vrou met haar baba en enige iets wat beweeg. Wie weet - dalk is een van hierdie mense "Christus" en hy wil kwalik uitgevang word dat hy nie van hulp was nie.

Maar Christus daag nooit op nie.

Uiteindelik sluit hy sy winkel en gaan slaap maar. Hy droom weer hy hoor die stem, en vra dadelik.

"Waarom het jy gesê jy sal kom, en dit nooit gedoen nie?". Christus antwoord: "Toe jy daardie boemelaar gehelp het, en daardie vrou, was ek by jou".

Hierdie fragment het so 'n indruk op my gemaak dat ek in die volgende week dit in die skooltjie se biblioteek gaan soek het. Die dominee het gesê dat kom van 'n ou skrywer genaamd Tolstoy, maar al wat die skool gehad het was Tolkien.

Die dominee moet sy feite regkry, het ek gedink.

Baie baie jare later het ek die storie uiteindelik weer raakgeloop.

Tolstoy, altyd op-die-man-af, het dit eenvoudig genoem: God is waar Liefde is.

1 opmerking :

  1. Mooi - veral die deeltjie oor die opsoek van die oorspronklike storie in die skoolbibliotekie.

    AntwoordVee uit