Dinsdag, Julie 14, 2015

L.A. Story

So there I was jabbering at her about my new job as a serious newsman - about anything at all - but all I could think was wonderful, wonderful, wonderful, wonderful, wonderful, and most wonderful and yet again, wonderful.

Dit was 'n oomblik in die fliek L.A. Story - wonderlik gedoen deur Steve Martin - terwyl hy saam met Victoria Tennant in die laatnag strate slenter.

Ek het hoendervleis gekry destyds, en hierdie oomblik nooit vergeet nie.

Ons lewe in 'n wereld met 8 biljoen mense wat geluk soek, elke dag. En almal ken die teorie daarvan: dis hier iewers om jou (nie daar ver nie); jy sal dit vind wanneer jy dit nie verwag nie.

Maar geluk is so moeilik en so vlietend dat ons 'n woord het vir net een oomblik daarvan: vreugde.

En tog is vreugde bo die vuurmaakplek van meeste kunstenaars. Al oorvloei flieks met "vreugdevolle situasies" - omhelsings en glimlagte - die elektriese gevoel van vreugde aan die binnekant is selde daar.

Steve Martin het 'n lewenslange obsessie hiermee, van sy eerste dae as Meneer "Happy Feet", tot vandag. Die oomblikke in sy beste flieks - Roxanne, Leap of Faith, Grand Canyon, A Simple Twist of Fate, Shopgirl en L.A. Story is nooit komedie of tragedie nie - dis 'n strewe na vreugde.

En vreugde die-neig-mos-om-te-woon-net-waar-dit-wil, soos Koos du Plessis gesing het. Tussen hartseer en kranksinnigheid.

L.A. Story is 'n totale absurditeit - die storie van 'n man wat die sin van die lewe in 'n pratende advertensiebord vind (volgens die bord is dit Manfred Mann se song Do wah diddy, diddy, dum diddy do).

Maar al die rolskaats en nonsens is 'n heilige seremonie: die oproep van die Vreugdesgod.

Meestal werk dit nie, maar soms, soos hier - werk dit. Dank vader vir sulke kunstenaars.

Ek het jare later Shakespeare se drama As You Like It gekyk - en daar, soos die heelal onderstebo gedraai en tyd agteruit gerol - was Steve Martin se woorde

O wonderful, wonderful, and most wonderful
Wonderful! and yet again wonderful, and after that,
Out of all hooping!

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking