Saterdag, April 04, 2015

Die kinders se musiek

Ek luister geweldig baie musiek, maar alles goed uit die gloriedae van my jong lewe - die - 1980s en vroeër. Ek onthou Born in the USA, die Joshua Tree en Brothers in Arms. En daarna het die wereld blank geword. Was daar nog musiek? Ek weet vaagweg van "hip hop" en dat Celine Dion 'n song oor die Titanic gesing het.

Die hele 1990s het gekom en gegaan - kommunisme het geval maar waaroor het die popstars gesing - ek kan nie onthou nie. Die eerste dekade van die 2000s is verby - what was that all about?

Ons is nou halfpad deur die tweede dekade van die 21s en nogsteeds luister ek na Van Morrison, die Rolling Stones en Tom Waits. Pateties.

Intussen het die Internet, broadband en torrents gekom en musiek (ten minste vir die oomblik) baie goedkoper en meer toeganklik gemaak.

Ons lewe in 'n goue oomblik van vrye toegang - tot boeke, idees, musiek en flieks. Hierdie oomblik sal waarskynlik verbygaan, maar wat om te maak daarvan terwyl ons dit het?

Wanneer ek musiek op die Internet soek is dit gewoonlik Afrikaans of die kunstenaars uit my jong dae waaroor ek meer wil weet - Ramones, John Fogerty, Emmylou Harris - sulke goed.

Maar wat van die afgelope vyf en twintig jaar- 'n hele generasie. Waarop mis ek uit?

By kickass.to is die mees populêre torrent, onder die musiek, gewoonlik die Billboard Top Hits van die week waarin ons is - die popsongs van die oomblik. Ek slaan dit geen ag nie, tot hierdie week.

As skoolkind in Pretoria het ek eenkeer in 'n musiekwinkel gestaan en 'n ou Oom en Tannie het ingeloop en vir die winkelassistent vir "'n mooi stukkie musiek gevra - maar NIE die kinders se dromslanery nie!". Ek is nou daardie ou Oom - wat die Internet elke dag vir 'n nuwe mooi stukkie musiek vra, maar netnie die kinders se dromslanery nie.

Maar toe dog ek - what the hell, hoekom verbreed ek nie my horison so bietie nie.

Ek het die Billboard Hits vir die Paasweek begin download, maar toe ek besef dis 100 songs het ek getwyfel - 100 psuedo wannabe hit songs op my nugter maag is te veel - en ek het dit gestop. Wat beter sal wees, het ek gedink, is die top 100 hits van verlede jaar - 2014. Dis darem al 'n meer uitgedunde lys waarin meer van die room na die top geskep is (so hoop ek).

Ek het besluit om glad nie na die kunstenaars te kyk nie, net te luister sonder vooroordeel en songs te kies wat kandidate vir my twee goue playlists - "hard" en "sag" - kan wees.

Dis my gesofistikeerde musiek klassifikasie stelsel - "hard" is rockerige danserige raserigie songs en "sag" is ballades en folk en sulke goed.

Hierdie twee lyste kom al oor meer as 'n dekade aan en reis van een selfoon na die volgende saam met my, die grootste deel van my energie in opgraderings gaan om die migrasie van my twee kosbare musieklyse te beplan.

So, met die Top 100 songs van 2014 het ek gaan stap - die antisipasie van iets nuuts, van iets leer oor die wereld waarin ek lewe maar my oë voor toemaak.

Soos in die ou dae van die treffersparade het ek van onder begin luister - nommer 100 op na nommer 1, heel laaste. Na omtrent 15 songs was daar nog niks wat vir my lekker was nie. Worry: is my standaarde te hoog of het ek doof geword vir die nuwe wereld? Ek het besluit om van hierdie punt aan engie iets te kies wat enigsens 'n tweede luister verdien, al hou ek nie daarvan nie.

Nog 10 songs verder het ek besluit om 'n tweede keer na die hele lys te luister, duidelik moet my oor groei in hierdie ding in. Song na song het belowend begin en te flou uitgedraai. Die raaisel vir my was hoedat hierdie goed die top verkopers kon wees. Popsongs (soos ek hulle onthou) is veronderstel om 'n onmiddellike haak te hê wat jou aandag gryp - ek het met volle aandag geluister maar niks het my gegryp nie.

Miskien oordoen ek dit, het ek gedink. Iemand het gesê dat poësie toevallig gehoor moet word, miskien is dieselfde waar van die hits. 'n Dag later het ek in 'n winkel gestaan en een van die songs in die agtergrond herken. Iets van 'n reggae groep wat sing "I'm gonna marry you anyway". Ek het onthou hoedat ek dit die vorige aand in my oorfone afgemaak het, maar nou in die daglig, so tussen die hustle en bustle deur het dit nie so sleg geklink nie.

Ek moet alles beslis 'n tweede kans gee en nie so ernstig wees nie - ek was nou oortuig daarvan. Maar dan wat: 'n derde en vierde keer? Die lewe is te kort om aan een jaar so hits te wei - twee keer or bust.

Die twee aand het dinge beter geword, maar nogsteeds het niks uitgespring na my nie.

Daar was verskillende soort goed - wat ek neem aan "hip hop" is klink meestal na 'n orgie van seks, geld en macho. Een van die laaste albums waarna ek in die ou dae geluister het was Public Enemy se 1990 album "Fear of a Black Planet". Op daardie stadium het dit gevoel soos die begin van groot nuwe dinge - rap was 'n nuwe politieke musiek. 'n Paar jaar later het Chuck D bitter gesê dat hip hop "the black man's CNN" moes, wees, maar uiteindelik "the black man's Cartoon Network" geword het.

Maar aan die ander kant van die skaal het ek ook gesukkel. Die Disney song "Let it go" was een van die grootse hits - maar 'n jaar gelede het hulle 'n (baie beter) song "Let it grow" gehad. Kom aan ouens!

Om nie te praat van die heel grootste hit van die jaar nie - 'n song genaamd "Happy". Wat is daarin om na te luister!?

Ek dink ek verstaan nou ook beter tot watter mate musiek geskep word vir musiekvideos, vir partytjies, vir flieks en Televisie klankbane en vir jongmense om mee te gaan jol op Saterdagaande - nie vir die eensaam klank in die donkerte nie.

Elkgeval, ek troos my daarin dat ek 'n kind van my tyd is en dat die beste musiek van hierdie era waarskynlik nie in die Billboard Hits is nie, maar iewers daar onder.

Na al die bloedsweet en angs oor hierdie onbenullige lys - hier is die paar songs wat ek saam met my gaan neem.

Ek het nie 'n idee wie meeste van hierdie mense is nie.

John Legend - Love In The Future - All Of Me
A Great Big World - Is There Anybody Out There? - Say Something
One Direction - Midnight Memories - Story Of My Life
Beyoncé - Beyoncé - Drunk In Love
Enrique Iglesias - Sex And Love - Bailando
Miley Cyrus - Bangerz - Wrecking Ball
Katy Perry - Prism - Roar
Jason Derulo - Talk Dirty - Trumpets
Florida Georgia Line - Anything Goes - Dirt
OneRepublic - Native - Love Runs Out
Sara Bareilles - The Blessed Unrest - Brave
Macklemore & Ryan Lewis - The Heist - White Walls
Lee Brice - I Don't Dance - I Don't Dance

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking