Maandag, Mei 11, 2015

Albert Speer se staptog om die wêreld

Albert Speer was 'n regte mens: 'n argitek in Duitsland in die 30s, later Bougeneraal en uiteindelik Minister van Wapenproduksie tydens die 2de Wereldoorlog.

In argitektuur het hy een van Hitler se groot passies gedeel - die twee mans was groot, intense vriende. Later het hy sy verhouding met Hitler so opgesom: as Hitler 'n vriend kon hê sou ek daardie vriend gewees het.

Met die begin van WW2 het Speer die Minister van Oorlogproduksie geword, en ten spyte van die feit dat Duitsland 'n groot hoeveelheid slawe vir wapenvervaardiging gebruik het - ook in kampe soos Auschwitz (wat Speer besoek het) - het hy tot die einde volgehou dat hy niks van die Holocaust geweet het nie.

Met die einde van die oorlog was hy die enigste hooggeplaaste Nazi wat onmiddelik berou getoon het. Hy het Hitler en die Nazi ideologie afgesweer en erken het dat hy homself toegelaat het om weg te kyk.

By die Nuremberg verhoor is sy lewe gespaar maar hy het 20 jaar tronkstraf gekry. In aanhouding is hy deur die ander Nazis - gelei deur Donitz, Hitler se opvolger - verwerp.

Terselfdertyd het niemand Speer se apologie aanvaar nie. Die algemene gevoel was dat hy, ten spyte van sy berou, nie eerlik was oor sy eie skuld en wat hy geweet het oor die Holocaust nie.

In hierdie eensaam jare - met niemand se respek nie - het Speer begin om Spandau tronk se tuin te bewerk en een dag die idee gekry om rondom die wereld te stap - in sy verbeelding - terwyl hy dieselfde klein paadjie om en om deur die tronk se tuin stap.

Hy het die tuinpad gemeet en 'n roete beplan - aanvanklik van Berlyn na Heidelberg, die dorp waar hy as kind grootgeword het. Maar daarna het hy aanhou stap ooswaarts deur Oos-Europa, Siberie, deur die Bering Strait na Amerika en Mexico.

Speer het reisboeke en joernale uit die biblioteek bestel en snags gelees oor die plek in die wêreld waar hy op daardie oomblik homself in sy verbeelding bevind het.

Ironies genoeg was Speer tot sy dood toe in groot aanvraag by historici en joernaliste, na aanleiding van sy intieme kennis van Hitler.

Na sy vrylating het Gitta Sereny, wat die boek His Battle With Truth geskryf het, hom oor 'n lang periode kruisondervra oor die waarheid - en wat hy regtig geweet het.

Sy kon nooit 'n bekentenis kry nie.

Haar slotsom was: Speer het alles geweet, maar gedurende daardie tronkjare het hy homself oortuig - regtig oortuig - dat hy niks geweet het nie.

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking