Maandag, Mei 18, 2015

Come and See

40 jaar het verloop tussen die Tweede Wereldoorlog en Elem Klimov se beroemde fliek - Come and See - oor die inval van die Sowjet Unie deur die gesamentlike magte van Duitsland, Finland, Italië, Hongareie, Romenië en Slowakië.

Nog 30 jaar het verbygegaan sedert Klimov se fliek tot 2015, die 70ste herdenking van die oorlog.

In hierdie jare het Come and See se reputasie gegroei tot waarskynlik die hoogsaangskrewe oorlogsfilm van alle tye.

Dit vertel die storie van die mees brutale oorlogsfront in die geskiedenis sonder om enige oorlog te wys.

Daar is geen armdrukkery in hierdie fliek nie - alhoewel dit van die Sowjet oogpunt gemaak is, word nie 'n enkele Duitse soldaat gedood nie.

Oorlog is nie mag teen mag nie - dis die opvreet van swakkelinge, die leeu wat die bababok verskeur.

Dit volg 'n seuntjie -Flyora (Aleksei Kravchenko) - wat 'n geweer uit die sand grawe en daarmee sy droom kan verwesenlik: om by die Sowjet Partisans aan te sluit tydens die oorlog.

In die chaotiese dae wat volg sluit Flyora aan maar verloor vinnig kontak met die Sowjet magte en dwaal alleen met sy geweer opsoek na vriend of vyand.

Dis 'n banale normaliteit wat hom irriteer - die wereld is besig om te verander maar hy kan geen bydrae maak nie.

Wanneer die vyand uiteindelik verskyn is dit met koue rillings. Hy sien hulle in totale stilte teen skemer met valskerms uit vliegtuie tuimel en stadig sak na die aarde. Een soldaat hak in 'n boomtak vas en hang hulpeloos 'n honderd meter voor Flyora - maar die seun is so geskok hy kan nie beweeg nie. Uiteindelik hardloop hy weg sonder om 'n skoot te skiet.

Die grusaamheid van oorlog (in hierdie fliek) is ossilasie tussen normaliteit en horror. Die een volg die ander so seker soos die dag die nag. Dit is wreder as een lang horrorshow, omdat normaliteit weer hoop bring, hoop wat vernietig kan word.

Wanneer die Duitse magte uiteindelik die dorpie omsingel steek Flyora sy geweer in 'n hooimied weg.

Die hele dorp word uitgewis, maar Flyora oorleef die slagting.

En dan kom normaliteit weer: die Duitsers is weg en Flyora staan alleen met sy geweer (waarmee hy nog nie een skoot geskiet het nie).

In die beroemde finale toneel sien hy 'n portret van Hitler in die modder - en skiet 'n reeks skote van frustrasie daarin.

Tussen elke skoot is 'n montage - in agterstevoor kronologie, van die hede na die verlede - wat die oorlog, die konsentrasiekampe wys, en voor dit die opkoms van Nazi Duitsland, en voor dit Hitler as 'n jong politikus, WW1, Hitler die kunstenaar en uitendelik die baba Hitler op sy ma se skoot.

Flyora skiet na elke beeld, maar kan dit nie oor sy hart kry om na die baba te skiet nie. Hy slinger die geweer oor sy skouer en loop weg.


Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking