Dinsdag, Desember 01, 2015

Eldar Ryazanov

Eldar Ryazanov is gister oorlede, op ouderdom 88. Ryazanov is heeltemal onbekend in die Weste, maar in Rusland is hy waarskynlik die mees geliefde filmmaker van almal. Soos Garry Marshall in die Weste (Pretty WomanOverboard, Runaway Bride), was Ryazanov se genre romantiese komedie, maar altyd met daai tikkie hartseer wat so deel van die Russiese siel is.

In die 1960s tot 1980s het hy 'n reeks enorme suksesvolle flieks gemaak. Hier is drie van my gunstelinge.

Ironie van Lot

1975 se Ironie van Lot - is Rusland se It's a Wonderful Life. Dit word tot vandag toe elke jaar op oujaarsaand op TV gewys en word gereken dat feitlik elke Rus dit al gesien het.

Ironie van Lot
Die storie gaan oor 'n groep vriende wat 'n op oujaarsdag 'n ram party vir hul vriend op die lughawe hou, voordat hy vlieg om te gaan trou en 'n nuwe lewe begin. Maar hulle almal word so dronk dat die verkeerde man op die vliegtuig klim en na Leningrad vlieg.

Die fliek spot met die feit dat Sowjet-era woonstelle identies was, so ook die straatname en adresse in verskillende stede.

Wanneer die held - Zhenya - uiteindelik opsober is hy op die lughawe op Leningrad en neem hy 'n taxi terug huistoe (onbewus daarvan dat hy in die verkeerde stad is). Daar loop hy in 'n woonstel in wat net soos sy eie lyk, maar aan 'n wildvreemde vrou - Nadya - behoort.

Dit is 'n wonderlike fliek, selfs na al die jare.

Garage

'n Ander een is Garage - letterlik Rusland se Night at the Museum. Die hele fliek speel af deur een nag in 'n groot natuur-historiese museum, waar die werkers na-ure ontmoet om te stem wie die twee mense gaan wees wat hul parkeerplekke moet verloor wanneer 'n nuwe konstruksie langs die museum opgaan.

Garage
Na die stemmery vind hulle dat iemand die hele plek gesluit het en niemand huistoe kan gaan nie.

Die reaksies verander van ongeloof na woede na dreigemente na pleit en uiteindelik, in desperasie, tot 'n her-stemming en dan tot kompromie.

Dis 'n fantastiese karakterstudie, met Ryazanov se gewone groep akteurs.

Treinstasie.

Ironie van Lot speel af as een dag in een woonstel. Garage is een nag in 'n museum. Treinstasie is een nag en een dag op... 'n treinstasie.

'n Treinreisiger weier om 'n kelnerin te betaal vir die ete op die treinstasie ( dis oneetbaar en hy het nie daaraan geraak nie, sĂȘ hy ). Die rusie sneeubal vinnig, sy roep die stasie meester en deur 'n reeks ongelukkige verpas hy sy trein en verloor hy sy identifikasie en beursie.

Treinstasie
Die arme man sit moedeloos op die stasie en wag vir die kondukteur wat met sy dokumente vort is. Uiteindelik, spyt oor hoe dinge hande uitgeruk het, besluit die kelnerin om, as 'n vredesgebaar, saam met hom te wag.

Die fliek het 'n interessante begin en einde - waar 'n bandiet in die middel van winter uit 'n tronk in Siberie vrygelaat word vir die naweek om sy vrou te sien, op voorwaarde dat hy weer teen Maandagoggend 8am terug is. Hoe pas dit alles inmekaar?

Ek weet daar is min kans dat mense ooit hierdie goed sal kyk, maar vir my het Ryazanov se flieks baie plesier gegee, so hier is maar 'n laaste dankie - en totsiens.

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking