Woensdag, November 18, 2015

Radioteater

Radio het geboorte aan my verbeelding gegee. As kind, voor boeke, flieks, televisie en musiek het ek radio geluister. Elke aand het ons die "twintig oor sewe" storie saam geluister, maar vir my was die hoogtepunt die een aand 'n week van Radioteater direk na die vervolgverhaal - 'n laaaaaaang storie, 'n "storie in jou mond" - soos my seuntjie gevra het toe hy klein was.

Na al die jare onthou ek nogsteeds die enorme impak wat Pendoring Edms Bpk, Germanicus, die rebellie van lafras verwey en Periandros van Korinthe op my gemaak het.

Winde het gewaai en alles het verander, maar Radioteater bestaan nogsteeds.

In hierdie week van paniek oor Afrikaans en Stellenbosch en al daai dinge, herinner ek myself dat ons dit moet ondersteun wat reeds bestaan. Veral as dit gratis is, soos Radioteater. Wie weet vir hoe lank dit daar sal wees?

Radioteater is deesdae as potgooie beskikbaar ( op die oomblik hier ) en kan maklik vanaf 'n selfoon geluister word, in die motor of terwyl ek stap. Ek wil almal aanmoedig om dit te doen, veral mense wat nie sommer in harde teater kom nie.

Mense van my geslag wonder seker of die medium nog die vermoeë het om te betower, soos in daardie jare toe daar niks anders was nie. Jonger mense sal nie eers weet waarvan ek praat nie.

Die formaat is basies 60 of 90 min lange Afrikaanse dramas - dikwels verwerkings van dramas, boeke en kortverhale, maar baie keer oorspronklike werk ook. 'n Paar stemkunstenaars, byklanke en dialoog wat so bietjie gedraai word om te help - Wie loop daar!

[ As 'n jong man het Orson Welles die "To be or not to be" toespraak uit Hamlet gesny vir sy radio produksie. Irrelevant tot die storie, het hy gesê. :) ] 

In die ou dae was "hoorbeelde" 'n groot ding - die ou manne het daarvoor geskryf omdat so vry was: jy kon van een oomblik spring van antieke Rome na Egipte, van die verlede na die toekoms.

Ek onthou nog die begin van NP van Wyk Louw se Dias: jy hoor die see, 'n boot en 'n man wat sê:

Hoe gly ons mas se punt met die sterre langs...

En vandag?

Ek is nogal verbaas oor die nuwe materiaal - 'n goeie halfdosyn van die werke waarna ek onlangs geluister het handel oor verkragting of kindermolestering. Soms, soos in Martie Swanepoel se Sonate, in grafiese detail. Maar dan, op die oomblik wys Dis ek, Anna in flieks en dis 'n reuse sukses.

Daar is nog gereeld verwerkings van "klassieke tekste". Ek het veral gehou van die dramatiserings van Andre Brink se Lobola vir die Lewe en Bartho Smit se Putsonderwater. [ Gister se verbanne materiaal is vandag se klassieke tekste ].

Daar is ook verwerkings uit internasionale letterkunde, vertaal in Afrikaans: Ibsen se Die vrou uit die see, Calvino se Baron op die Bome en Riana Scheepers se verwerking van die Sherezade legende: 'n Lang lang nag.

Ek is 'n dagdromer, en vir my is dit nogsteeds 'n plesier om na te luister. Ek doen dit nie, soos in my kinderdae, in die aand om die tafel nie, maar wanneer ek stap of in die motor. Ek kan sien hoedat vreemdelinge rondom my my verstom aankyk wanneer ek skielik hardop in die straat saamleef met dit waarna ek luister... ( screw them )

Verlede week was daar 'n langer-as-gewoonlike produksie: Van die Vlees, geskryf deur Karien Polley. Dit is 'n mengsel van drama & horror & heksery in die ou Hollandse Kaap. Dit was een van die bestes wat ek nog na geluister het - 'n bitter pil, nie vir die met 'n swak gestel nie.

Lang storie kort: gaan luister en ondersteun ons Afrikaanse kunstenaars. Dit kos niks.

Al wat doodgaan wanneer 'n taal sterf is die betekenis wat mense daarin wou skep.

Christoff Blaauw se spookstorie: Nagrit na Keetmanshoop

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking