Vrydag, Desember 24, 2004

Sy Kom Met Die Sekelmaan

Hettie Smit het haar one and only roman in 1937 gepubliseer - en ek eet my hoed op as daar al ‘n beter een in Afrikaans was.

Dis die dagboek en briewe van Maria Theron en haar verterende liefde vir Johan. Hulle "hou kerk" saam, lees vir mekaar voor, skryf gedigte en dan skielik - uit die bloute - is alles oor, Johan wil niks verder weet nie.

Vir lank probeer Maria verstaan wat gebeur het, tot sy uiteindelik in haar dagboek skryf:

"Ek het haar netnou in die spieël gesien: die dom, afhanklike, outydse meisiekind wat met haar piepstemmetjie en bewerige handjies ons helder vriendskap kom vertroebel het - en my uit die werk hou met haar veertienjarige hardop droom dwarsdeur die dag."

Van daai oomblik af is al die dagboekinskrywings in een van twee stemme: Maria - wat haar lewe probeer regruk en aanbeweeg, en Marie - wat in hopelose rou en pyn bly en elke keer terugkom "met die sekelmaan".

Twee stemme binne dieselfde mens.

Geen happy einde hier nie. Net dieselfde groot verlies en die stryd tussen hierdie twee vrouens wat skryf en skinder oor mekaar, sonder uitkoms, jare al na die calamity.

Hettie Smit se dagboek is soos Helen Martins se Uilhuis - "This is my world". Dit maak sin en saak vir net een mens, daars net een seer en een salf en niks anders op aarde maak saak nie.

Deur die loop van tyd word die inskrywings meer en meer onwerklik: drome en herinnerings en bereik uiteindelik die gehalte van digkuns. Maria word oud en Marie word 'n kind wat "popspeel".

Die laaste inskrywing v die boek is:

"Dankie, my niggie: dis dan die poskantoor daardie, oorkant die kerk gebou. Ek sal hom kry, dankie. Dis baie vriendelik van jou om so ver met 'n vreemde ou oom saam te stap. Goeiendag, my kind. Maar wat is die naam, as ek mag vra? Theron? En werk my dogter ook hier by die winkels? O, nie? En wat se werk doen jy as ek mag vra?"
"Ek droom sommer Oom; en ek het lief, Oom".
"Ja, droom en liefhê het ek gesê Oom. Partymaal hou ek skool, Oom. Vyf uur op 'n dag. Maar as die vyf uur verby is, dan het ek lief, en droom maar sommer. Ja, Oom. Ja-nee, dit was glad nie moeite nie. Middag Oom".

4 opmerkings :

  1. Hi Gert,

    My ouma het "Sy kom met die sekelmaan" vir my gegee toe ek 15 geword het en vir die afgelope 11 jaar lees ek dit manies wanner my eie Marie kop uitsteek. Jy verwys hier na 'n ander boek, Helen Martins se Uilhuis, kan jy dalk vir my meer inligting oor hierdie boek gee? Waar sal ek dit kan kry?

    AntwoordVee uit
  2. Die Uilhuis is 'n plek, nie 'n boek nie.

    https://en.wikipedia.org/wiki/The_Owl_House

    AntwoordVee uit
  3. Waar kom die naam vandaan, "Sy kom met die sekelmaan"?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dit verwys na die maandstonde en die gepaardgaande verandering van persoonlikheid - Maria vs Marie

      Vee uit