Maandag, Mei 09, 2005

Botterbal

Tydens die Frans-Pruissiese oorlog van 1870 verlaat drie ryk sakemanne (met hul eggenote) 'n dorpie in Frankryk onder toestemming van die Duitse besettingsleer.

Hulle is op die oog af oppad na die stad Dieppe, om hul dorpie se voorrade te herstel. In die geheim beplan al drie dieselfde ding: om van Dieppe te boot na Engeland te vlug.

Die passasiers in die koetsrit bring hulle vir die eerste keer in kontak met hul mede landgenote uit ander klasse, insluitende 'n ou, oorgewig, afgetrede courtesan/prostituut met die wrede bynaam - Boule de suif - Botterbal.

Die enigste gemeenskaplike gesprek is die oorlog en die gehate Duitsers.

Wanneer hulle die eerste aand oornag in die volgende dorp word Botterbal deur die plaaslike Duitse offisier ontbied. Sy weier aanvanklik, maar bedink haarself wanneer sy die vrees op die ander passasiers se gesigte sien.

Binnekort is sy in trane terug maar wil niks vertel nie. Almal lei af dat sy haar dienste aan die Duitser geweier het, troos en simpatiseer intens en wonder van vooraf tot watter dieptes die veragtende Duitsers sal daal.

Dit alles verander met een slag wanneer die groep die volgende oggend deur die hotelier inkennis gestel word dat hulle verdere reis uitgestel word tot tyd en wyl Me Botterbal heroorweeg.

In die dae wat kom, en met elke verdere weiering deur Botterbal, vergroot die kloof tussen haar en die ander passasiers.

Uiteindelik begin die ryk vroue onderling hul mans te waarsku dat die Duitser se geduld sal opraak en hy moontlik sy plesier by een van hulle sal soek.

Die mans nader die Duitser en bied aan dat hy Botterbal alleen agterhou en hulle laat gaan. Sy antwoord is eenvoudig: nee, julle almal bly.

Hierna sweer die reisigers 'n komplot om 'n verandering in Botterbal te insinueer. Hulle gesels saans oor die vroue Saints wie se sondes deur God vergewe is wanneer hul dade vir die regte doel gedoen het. Selflose vroue wat hulself opgeoffer het vir andere.

Botterbal luister in stilte, sy praat niks meer nie.

Teen hierdie tyd kan niemand haar meer uitstaan nie: die hoer wat haarself "airs" gee en almal in gevaar stel.

Die volgende dag, wanneer die groep vir 'n stap deur die dorp gaan, stap een van die mans saam met haar heel agter en konfronteer haar uiteindelik direk: sy stel lewens in gevaar deur "net aan haarself" te dink, hoe lank gaan sy hiermee voortgaan? Totdat iemand gesterf het?

Botterbal knik haar kop maar sê niks.

Die volgende oggend staan hulle koets en perde ingespan, tot almal se intense verligting.

Die reis kan voortgaan, almal klim in, Botterbal heel laaste. Die passassiers hanteer haar soos iemand wat groot onreg aan hulle gedoen het; hul gesels nie meer met haar nie (wat is daar om te sê), sien haar nie meer raak nie.

Halfpad deur die oggend begin sy saggies te huil. Die een man fluister vir sy vrou: "Botterbal huil". Sy vrou antwoord: "Sy huil oor haar skande".

[9 Mei 2005]

1 opmerking :

  1. 'n Hartroerende opsomming - die voorbladillustrasie wat u gekies het tesame met enersyds "die hoer wat haarself "airs" gee" en andersyds die slot van ""Sy huil oor haar skande."" Hiperboliese ironie, ongelooflike klipchristene die blerrie passasiers. Hoe laag die mens sal daal om sy eie bas te red - solank as wat hy van die vet van die aarde kan vreet is alles hunky-dory, maar o wee laat dinge net rerig-rerig raak. De Maupassant bly maar 'n meester as dit kom by die raaksien en uitskryf van die dilemmas.

    AntwoordVee uit