Daar is 'n ou Russiese legende van 'n staatsamptenaar wat een spesifieke soldaat op 'n lys van bevorderings deur die Tsar nie kan opspoor nie. Die Tsar moes 'n spelfout gemaak het, maar eerder as stry open die amptenaar 'n dossier in die soldaat se naam: Luitenant Kije.
In die jare wat kom, wanneer die Tsar navraag doen, skep een na die ander amptenaar nog ' n episode in Luitenant Kije se lewe en hy kry verskeie verdere avonture en bevorderings.
Wanneer die Tsar uiteindelik vir Kije oorplaas na sy persoonlike staf en vra om hom te ontmoet, rapporteer hulle (met spyt) dat Kije op die veldslag gesterf het, en hy kry 'n groot staatsbegrafnis.
[In die Clinton era was daar 'n Hollywood weergawe van die storie - die Dustin Hoffman movie Wag the Dog]
In 1970 het Chris Barnard 'n radio hoorspel vir die SAUK geskryf oor 'n armsalige staatsamptenaar - Lafras Verwey - wat, terwyl hy fietsry werk toe, 'n simfonie in sy kop komponeer.
Die musiek in sy kop, wat deur die radio gevloei het, was Prokofiev se Luitenant Kije suite. Veral die Luitenant Kije troumars, 'n eenvoudige fluit-deuntjie, word dwarsdeur die storie as temalied gebruik, met wonderlike effek.
Lafras is 'n hopelose dromer en verloorder - hy word genadeloos gespot by die werk en sluit uiteindelik aan by 'n groep ondergrondse rebelle, vir wie hy plofstof en wapens smokkel vir 'n rewolusie wat kom..
die rebellie van lafras verwey is 'n baie spesiale boek in my lewe. Ek het dit geluister oor die radio as kind en dit het 'n ongelooflike impak op my gehad. Lafras insuleer hom teen die wereld se wreedheid met sy simfonie, sy musiek en sy droom van die beter wereld wat kom, na die rewolusie.
Later, as koshuiskind ver van die huis af, het my gedagtes teruggegaan daarna en dit was die eerste boek in my lewe wat ek gaan koop het.
Nog later, toe ek n klerk in Pretoria se akteskantoor was in die laat 80s/90s het ek presies soos Lafras gevoel.
Lafras ontmoet vir Petra - 'n reeds swanger meisie - en in die klimaks van die storie neem hy haar na die hospitaal, op sy fiets, vir haar bevalling.
Wanneer hy terugkom by die huis wag die polisie, en 'n siege volg waar hy homself toesluit in sy kamer en weier om oor te gee.
In die radio drama - terwyl hierdie siege aan die gang is - hoor ons Lafras en Petra praat, jare later, oor daardie dag, die dag toe die wereld verander het, die dag toe hy uitgehou het teen die polisie tot die laaste oomblik, totdat sy kamerade hom kom red het.
Die dag toe ek besef het dat ek jou liefhet, Petra.
Die polisie bestorm uiteindelik Lafras se woonstel
KONSTABEL - Hy is dood.
SERSANT - Ja.
KONSTABEL - Snaakse klein mannetjie gewees... hoekom moes ons hom kom oplaai?
SERSANT - Hy't verdowingsmiddels gesmokkel. Maar ek glo nie hy't dit geweet nie.
KONSTABEL - Nie?
SERSANT - Nee. Ek glo nie hy't dit geweet nie.
KONSTABEL - Hy't gehuil, die arme drommel. Kan sersant sien?
SERSANT - Ek sien, gaan sĂȘ vir die ander die oorlog is verby.
Etikette
- afrikaans
- amerika
- antiek
- boeke
- breytenbach
- comics
- Dostoyevsky
- drama
- engelse
- Eugene Marais
- filosofie
- flieks
- gedigte
- geskiedenis
- godsdiens
- grieke
- HG Wells
- horror
- Jans Rautenbach
- Karen Blixen
- kuns
- musiek
- Nietzsche
- opera
- Opperman
- politiek
- russe
- scifi
- Scorsese
- Shakespeare
- Tarkovsky
- Tolstoy
- van Wyk Louw
- Wagner
Vrydag, November 09, 2012
Teken in op:
Plaas opmerkings
(
Atom
)
Ekt so rukkie terug die radio drama vir die eerste keer gehoor en WOW, dankie vir jou verduideliking oor luitenant kije, baie goed!!
AntwoordVee uit