Dinsdag, Januarie 21, 2014

Stalker

Ek het verlede week 'n amazing 70s-era Soviet movie gesien - "Stalker".

Die idee daarvan is as volg: iewers op aarde is daar 'n plek wat in die fliek die "Zone" genoem word. Dit word deur troepe bewaak en die publiek mag glad nie daarin gaan nie. Binne die Zone is 'n plek waar jy 'n wens kan maak en dit sal waar word.

Die fliek gaan oor drie mense wat deur-tonnel en binne die zone kom, opsoek na die "Kamer" - die plek waar wense waar word.

Een van hulle (die Stalker, of Sluiper) sê dat hy al vele kere by die kamer was en hy dien as gids vir die ander twee.

Die ander twee karakters word Professor en Skrywer genoem.

Die hele ding is dubbelsinnig, of trippel-sinnig.

Professor en Skrywer maak asof hulle nie werklik in die Kamer glo nie, maar wat maak hulle dan daar?

Miskien is hulle doel om die hele ding te ontmasker, of Kamer (as dit bestaan) vir altyd te vernietig?

Miskien is die Kamer 'n versinsel - iets wat die Sluiper uitgedink het - maar hoekom?

Miskien is dit 'n afgelee plek waarheen hy slagoffers neem om hulle te vermoor en te besteel.

Iewers aan die begin vra hulle die Sluiper hoe die pad terug na buite werk.

"Daar is geen pad terug nie", sê hy.

Die hele ding het 'n "Heart of Darkness" gevoel. 'n Reis na die binne.

Daar is 'n oomblik wanneer Professor praat oor 'n vorige man wat in die kamer was - hulle verwys deurgaans na hom as "Ystervark".

Ystervark het selfmoord gepleeg een week nadat hy in die Kamer was, maar hoekom?

Omdat die Kamer nie enige wens laat waar word nie, net jou diepste wens.

Maar voordat jy hierdie wens kan maak, moet jy weet wat dit is, en om om te weet wat dit is, moet jy eerlik kan wees met jouself en wat jy regtig wil hê.

En dan moet jy besluit: wil jy regtig hê dat jou wens waar moet word?

Dis inderdaad 'n reis in die donker in.

Maar die fliek is 'n wonderlike metafoor van iets heeltemal anders.

Die hele landskap van die Zone is vol misterie en moontlikheid - omdat dit swanger met verwagting is. Dit is die mens se drome en wense wat dit lewendig maak.

Op een stadium vra Skrywer vir die Sluiper of hy al ooit self 'n wens in die Kamer gemaak het.

"Nee, ek is gelukkig soos ek is", antwoord die Sluiper.

Dis 'n baie onwaarskynlike antwoord - die Sluiper is 'n brand-arm sot en die fliek wys hoedat hy sukkel en stry met sy vrou en babatjie.

Maar uiteindelik, wanneer hulle voor die Kamer staan, besef die Professor wat hy bedoel.

Om 'n nietige wurm te wees wat nogtans vir ander mense die pad na hulle vervulling kan wys - is die ultimate rush.

Daar is geen wens groter as dit nie - dit is soos om God self te wees.

Dit is wat kunstenaars doen, wat predikante en mystics en sielkundiges doen

Die laaste, pragtige aspek van hierdie fliek is die stadige finale, waar die drie mense weer terugkeer na die "werklikheid".

Stadig sypel die misterie uit die Zone uit - en al wat oorbly is gras.

1 opmerking :