Dinsdag, Februarie 04, 2014

Die Optog na Kursk




Kursk Root Icon
Kurskaya Korennaya
Iewers in die 1300s het iemand 'n klein hout-ikoon van Moeder Maria en Kind in 'n woud naby Kursk, in Rusland, opgetel. Die Russe het dit die "Kursk Wortel Ikoon" genoem, omdat dit tussen die boom wortels gevind is.

Ek weet nie of hierdie storie waar is of nie; maar die Ortodokse Kerk het dit as 'n wonderwerk verklaar.

'n Klooster is op daardie plek gebou - en dit het gegroei tot een van die grootste en rykste kerke in Rusland.

Vir honderde jare het 'n seremonie bestaan waar 'n skare mense hierdie klein 30cm x 40cm houtblok na Kursk gedra het.

In die 19de eeu het die groot Russiese skilder Ilya Repin hierdie optog vasgevang in sekerlik een van die grootste meesterwerke in die skilderkuns.

Dit is 'n ongelooflike karakter studie, maar ook 'n studie van pyn-in-beweging, van geloof, sinneloosheid; van mag en magteloosheid; suiwerheid en korrupsie; en van hoop ten spyte van alles.

Die skare beweeg stadig oor droeƫ grond verby 'n kaal heuwel in die agtergrond - met geen plantegroei, net kaal gestroopte boomstompe oral.

Die stofomslag van Gogol se
beroemde, onvoltooide storie
Ek wonder altyd wat hierdie dooie landskap beteken - die ikoon is immers in 'n woud tussen boomwortels gevind. Wat het daarvan geword?

Anders as derduisende gewyde skilderwerk, voel hierdie soos 'n reis deur leegheid - 'n droomwereld wat 'n woestyn geword het; 'n geweldadige ritueel.

Is daar redding aan die einde hiervan?

Dit is die vraag in die kunswerk, in die intense erns van almal wat deelneem.

Dis moeilik om te glo, en aan te hou glo.

Die Optop na Kursk in die 21ste eeu - groter as ooit

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking