Dinsdag, Desember 31, 2013

Jacob's Ladder

Daar is 'n storie in die Bybel van Jacob, op vlug van sy broer Esau, wat aan die slaap raak en droom van 'n reuse leer tussen die hemel en die aarde, met Engele wat daarteen op en af klim.

In 1990 was daar 'n fliek met dieselfde naam, waarin 'n poskantoor klerk (Tim Robbins), terugflitse kry oor 'n insident waarin hy as Vietnam soldaat geskiet word.
Die terugflitse verskyn so 5-6 keer - eers hy & en sy makkers - daarna die skermutseling en die oomblik waarin hy geskiet word - daarna hoedat die gewonde Jacob ontdek en gehelp word - hoe hy na die militere hospitaal in 'n helikopter vervoer word, ens.
Maar asof hierdie terugflitse nie genoeg is nie, word Jacob ook in die kom en gang van sy lewe deur monsters in New York geteister - vreemde, vieslike monsters - maar ook skielike transformasies in die mense by wie hy veilig voel en vir wie hy lief is: sy getroue meisie (Elizabeth Pena) verander in 'n oogwink in 'n heks-agtige monster, en dan weer terug.

Sy vriende glo eenvoudig dat Jacob besig is om gek te word, koors kry en homself al hierdie dinge verbeel.

Maar hoe verklaar hy hierdie helle-bestaan? En waar sal sy hulp vandaan kom?

Sy kiropraktisyn (Danny Aiello) probeer hom help. In een toneel vertel hy van 'n ou mystic wat hel gesien het.

Eckhart saw Hell too. He said: The only thing that burns in Hell is the part of you that won't let go of life, your memories, your attachments. They burn them all away. But they're not punishing you, he said. They're freeing your soul. So, if you're frightened of dying and... and you're holding on, you'll see devils tearing your life away. But if you've made your peace, then the devils are really angels, freeing you from the earth.

Die groot verrassing is in die fliek se laaste oomblik: in sy finale terugflits word Jacob ge-opereer in die Vietnam tent-hospitaal - maar sterf.

Dit beteken dat daar geen terugflitse was nie. 

Die hele fliek is vooruit-flitse: na die onmoontlike lewe wat nooit sal wees nie. Die lewe wat Jacob desperaat homself probeer toewens in sy laaste paar minute, maar nooit mag he nie.

Dis waarom monsters dit heeltyd van hom wegskeur.

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking