Wys tans plasings met die etiket afrikaans. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket afrikaans. Wys alle plasings

Saterdag, Julie 14, 2018

'n paw-paw vir my darling

Persona: twee kante van dieselfde siel,
suave Marcel van Heerden en zef Deon Lotz.
Groot flieks - maak nie saak of dit Duck Soup of Ten Days That Shook The World is nie - seil selde ontbloot oor die water vir bewondering.

Vir die grootste deel is dit amper-iets: die donker buitelyn van moontlikhede onderwater wat krag bymekaarmaak en dan - uit die bloute - een of twee keer, soos 'n walvis opskiet, jou asem wegslaan, en weer verdwyn.

Koos Roets het 'n fliek gemaak van Jeanne Goosen se storie - 'n paw-paw vir my darling. Ek het nog nie die boek gelees nie, net die fliek gesien.

Dit gaan oor die doen en late van twee arm-blanke gesinne langs mekaar in Danville, Pretoria - die Beeslaers en die Bonthuise. Dit skets die pyn van hul bestaan - pyn deur die oog van onvervulbare drome.

Hierdie drome is soms mikroskopies klein, maar net-net buite bereik. In een van die beste tonele huil Deidre Wolhuter by haar man Deon Lotz "oor die sifdeur wat nooit weer heel sal wees nie". 'n Klein seer oog - maar 'n metafoor van ongedeelde en eensaam pyn - wat vir my belangrik is is vir jou onbelangrik.

Soms is die drome mikroskopies klein, maar soms teleskopies groot - soos die dogter wat briewe skryf vir Charlize Theron en haar ma dreig dat sy gaan weg loop na Hollywood.

In hierdie gesukkel kom Marcel van Heerden, 'n dappere con-man wat ou vrouens vry, 'n man met twee plase in die Bosveld, geheime agent vir die regering, vriend van Pik Botha en George Bush, wat almal se probleme gaan oplos maar nie vir sy eie drank kan betaal nie.

Die vonke uit hierdie fliek kom deur die massering, om die beurt, van suave en zef, hoop en wanhoop, vandag se werklikheid en more se moontlikhede - en moet sê ek was beindruk.

Die titel verwys na 'n toneel waarin Deon Lotz vir sy vervreemde vrou 'n paw-paw aan bied - "die beste medisyne vir hardlywigheid".

Salf vir die wond wat nie kan genees nie, maar 'n gebaar van menslikheid en liefde wat die lewe draaglik maak. Hunky dory.

Sondag, April 15, 2018

Die Dieper Reg

Sal ons Afrikaners ooit in die hemel kom, na al die sondes van apartheid? As jy ooit hieroor wroeg is jy in goeie geselskap - Afrikaners het 'n lang tradisie daarvan.

Niemand minder as NP van Wyk Louw het 'n hele drama, oratorio, koorspel, heilige gebed affêre, soos net hý kon, hieroor geskryf.

Hy het dit Die Dieper Reg genoem - sy "spel van die oordeel oor 'n volk". Dit word vandag onthou vir die frase: O wye en droewe land...

Louw het dit in die 30s geskryf vir die eeufees vieringe van die Groot Trek, so geen groot spanning om te raai wie wen nie. Die Louw van die 30s was... ehem... 'n ander mens as Mnr Liberale Nasionalisme van die 60s.

Nogtans, dis 'n tydsvak en 'n proses om by die antwoord uit te kom, 'n nominale drama waarin die "Voortrekkers" in een groep in die hemel opdaag en daar deur die Here verhoor word - in "die Saal van Ewige Geregtigheid". 

'n Hofsaak sal nie 'n hofsaak wees sonder 'n aanklaer nie, en so gedaan - die Voortrekkers word aangekla deur "'n magtige en hooghartige Gees wat koninklik in sy eie reg staan", 'n karakter wat eenvoudig die Aanklaer genoem word.

Wat is die aanklag? Grondhonger ( mooi woord )

in opstand het hul uitgegaan
die bande en die wet verbreek
en dwaas hul in verderf gestort
om grond te roof en ryk te word

In hul verdediging maak die Voortrekkers baie van hul leiding en smarte en dapperheid, waarop die Aanklaer opmerk

Die dapperheid is niks as drif
wat selfs die diere het.
Die liggaamspyn ken ook die dier
en kinders baar en sterf...

Ons hoor 'n lang en dor verhaal
van nietige en needrige dinge,
'n swak en skaars nog mensetaal ( praat nog kombuis Nederlands U hoogheid )  
wat nooit deur die sewe heilige kringe 
van God se heerlikheid kan dring;
die Reg is ver bo pyn en drif

Die basiese argument van die Aanklaer is dat leiding en smart nie rede genoeg is om hul daad te heilig nie, daar moet 'n dieper geregtigheid wees.

Louw se toneel aanwysings vir die sprekers is om van die heebie jeebies te kry - dit wys hy neem alles ernstig op: tree vorentoe... heftig en vinnig... smekend... juigend... fors en somber... stil, religieus... diepe ontsag... ekstaties 

Voordat hulle hel toe gaan kry die Voortrekkers darem een van sy grootste gedigte in

KOOR (Klaagsang) (Begin langsaam en versnel totdat die laaste stansas kragtig opklink)

O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal nooit 'n hoë blydskap kom
deur jou stil droefenis?
Jy ken die pyn en eensaam lye
van onbewuste enkelinge,
die verre sterwe op die veld,

die klein begrafnis
eenvoudige mense wat getrou
en enkeld bitter dinge doen,
en enkeld val soos korrels saad;
stil daad, klein trou, klein trouloosheid
van dié wat om 'n ander diens
soos knegte jou verlaat.

(Ligverandering: helderder)

Sal nooit 'n magtige skoonheid kom
oor jou soos die haelwit somerwolk
wat uitbloei oor jou donker berge,
en nooit in jou 'n daad geskied
wat opklink oor die aarde en
die jare in hul onmag terge;
'n grootsheid van so suiwer glans,
dat mense in 'n verre land
wat van jou naam die melding hoor
met wilde en helder oog sal staar
soos vroeë vaarders in die nag
verslae gesien het kim bo kim
die nuwe, blom-groot sterre styg
op uit jou see se wit gevaar?


Die Here vererg hom op 'n stadium vir die Aanklaer se koggeling

Waar is jul mag?
Want net die magtige volke kan
geweldig oor die aarde gaan
soos die wind in sy prag
en sy gestaltes vorm soos klei.

met 'n vat so

Voor God is alle volke klein,
en net die wil se waarde bly

en daarna lyk dinge beter vir die Voortrekkers

Hul sal nie sterf, hul lewe het
in daardie land so ingetrek
en ingeweek dat hul sal bly
so lank sy kranse bo die see
se lang skuimkringe uit sal staan,
afsonderlik en trots en vry

Maar nou ja, dit was die 1930s

Maandag, Maart 05, 2018

begrawe hom, maar laat geen spore, maak geen hoop



Na al die jare kry ek nogsteeds rillings oor hierdie laaste toneel van Periandros van Korinthe: waarin Periandros moordenaars reel om die moordernaars van die moordenaars wat hy gehuur het om homself daardie nag te vermoor - te vermoor.

Die grootste selfvernietiging in Afrikaans.



Drie grysgeklede sluipmoordenaars binne.

Daar is hier in Korinthe iemand wat my pla
'n mens so laag dat ek hom nouliks kan verdra,
my grootste vyand wat ek op die ganse aarde het,
van ongeregtigheid en baie sondes so besmet
hy moet verdwyn, vernietig word dat niemand hom ooit kry,
dat niemand hom van klip of grond kan onderskei.

Vanaand as dit sterk donker is en seemis landwaarts dryf,
gaan wag agter die strandwal duskant die Olyf
vir die ou man met mantel aan, 'n fakkel in die hand.

Slaat hom dood, maak hom genadeloos van kant
sodat sy dun bloed vinnig in die golwe loop.
Begrawe hom, maar laat geen spore, maak geen hoop
begrawe hom sodat die branders sonder rus
breek oor sy bene in Korinthe met sy klipperige kus.

Speel maar vinnig klaar! Dan moet julle drie verdwyn
langs die voetpaadjie waar Arioon ry op die dolfyn.
Dé, vat die vuilgoed vir die vuilste van vuilwerk!

Hy gooi geld op die vloer hulle pik dit op, soos aasvoëls hulle buit. Af.

Ja. Arioon. die mens is oor die algemeen beperk.
Jy moes my dus maar weer verlaat, suiwer gaan swerf
en vir jou suiwerheid 'n bietjie buitelandse roem verwerf
so baie bieg hoe jy jou stryd teen God besleg,
teken eerder elke ding van God volkome in sy eie reg.

Ses swartgeklede sluipmoordenaars binne.

My ses swart kraaie waarvan byna niemand weet,
wanneer die aasvoëls klaar is, kan die kraaie vreet,
maar julle wag hier in die kelder tot die afspraak
vanaand wanneer die kwartmaan die Akrokorinthos sal raak,
dan fladder julle tot waar Arioon se spuitfontein
ry waters oopsproei uit die bronsrug van die dolfyn

Net daar sal julle drie sien loop. Hul het gemoor!
Slaat dood! Begrawe hulle, laat geen enkel spoor.
Stap dan met die bergpad by die knoetsie om
tot julle van die anderkant die hawe binnekom.

Dé vat die vuilgoed vir die vuilste van vuilwerk!

Hy gooi geld op die vloer. Hulle pik dit op. Af.

Moreoggend wanneer die eerstes in die hof dit vroeg opmerk
sal die vreugde uit 'n duisend kele oor Korinthe daal.
die strate vol klink met tamboere en simbaal.

Hy slaan op simbaal. Leier van leer en paar soldate binne.

Hierdie pand van God en vader, hierdie kis, die dodekis.
neem dit as smeekoffer dat dit ewig in Olumpos rus,
waar die priesters teen vernietiging dit moet beveilig
in die tempeltjie van Hera. Die huwelik is heilig.

Soldate dra kis uit. Periandros roep die leier terug.

Net 'n oomblik. Vannag wanneer die visklok lui,
moet jy 'n vyftien blitssoldate dadelik bedui
om met die bergpad aan te jaag tot hul miskien
die ses sluipmoordenaars by die bergknoetsie sien.

Slaat dood die kraaie wat hul geld ontvang vir moor,
begrawe hulle langs die pad en laat geen spoor!
Laat alles netjies wees soos 'n soldaat se werk.

Leier af


So kom die nag dan stil en byna ongemerk.
Waar sou my mantel wees? So 'n nag is groot en koud
veral as jy moet buite loop en jy word oud.

Trek mantel aan.

Waar is my fakkeltjie?

Steek fakkel aan die brand.

Toe nou liggie, jy moet brand,
'n ou man nog 'n entjie oor die groot en donker land
lei na die see die see wat ewig sonder rus
sal breek en breek, en reinig aan die klipperige kus.

Stap stadig uit met mantel en fakkel


More vroeg, nog vóór die duisende atlete na die park
toe loop, my seun, sal daar geoffer wees: die wildevark.


--DJ Opperman

Donderdag, Januarie 11, 2018

geen verbeeldingryke ommekeer van seisoene en menings nie



Die land het teveel
aan ryk boere met Ford
en Fordson te veel halfgeleerde sportiewe studente
studeer aan te veel universiteite met te veel sosiale personeel
te veel is die somerdae en te kort
is die winters dun is die herfs vals die lente.

Die land het te veel binneland te veel olifant en leeu
en te min watervoëls te min mere en koue poel
met swane niks steur
die voetbalson nie as hulle vleis braai sneeu
dit nooit geen mis spoel
soos melk teen die ruite nie geen sprokies gebeur

in woude nie. Daar is te veel koerante
en koerantsterre soos hoere en moordenaars
te veel onmonargale koninginne en trompoppies
te veel annalante joollieste te veel sonnante
mercedese te veel minnaars
en ministers met hulle adjunkte en ander snoppies.

Daar is te min skilderye en boeke
en te min koue en kaggelvuur maande aanmekaar
skyn die son daar is geen verbeeldingryke ommekeer
van seisoene en menings nie geen donker hoeke
teen storms nie te min storms te ver uitmekaar
lê hemel en aarde met tussenin te veel mooi weer.


--TT Cloete

Woensdag, Januarie 10, 2018

tot die skemer my opslurp



Begelei my, my metgesel,
tot by die ysterspoor
waar die nagtrein
met nuwemaan
weldra verby sal gaan.

Vertoef ’n rukkie daar
tot die skemer my opslurp
en die mure soos skimme
verdof en verdwyn het
by die oorval van die nag.


-Hendrik Januarie



Maandag, Januarie 08, 2018

vir die drif en die drang en soms droewige klank

Dirk Opperman en Breyten Breytenbach is uit twee verskillende geslagte en wêreldaanskouings. Breyten het die winter voel kom van die begin af, hy was aan die sterf vandat hy twintig was, ongemaklik met alle vorms van mag deel - die bekyker met sy kuns en sy eerlikheid.  "So eensaam soos 'n penis".

Opperman was gemaklik met gemak en oop vir alles wat hom gekielie het. 'n Binnestaander, "rymer van die Republiek". Hy was van Wyk Louw se groot gelyke, maar ook bly oor die koms van die Sestigers en nuwe vars lug.

Die twee het hul onderskeie lewenstraumas op dieselfde oomblik-in-tyd gehad. Breyten sy verhoor en tronkstraf in 1975/6 en Opperman sy beswyming in dieselfde tyd, feitlik die hele jaar gehospitaliseer deur drank en depressie.

Breyten het 'n nege jaar vonnis gekry en Opperman 'n tweede lewenskans. Sy ongelooflike familie het hom versorg terug na gesondheid om nog een keer - soos Simson in die Bybel - 'n ongelooflike kragtoer uit te voer, na 'n dekade se stilte.

Dit was die digbundel Komas uit 'n Bamboesstok, wat hy aan Breyten in die tronk gepos het. Daarmee het die twee mekaar gevind. Breyten het hierdie pragtige gedig geskryf

... kennis geneem van die nood
die nood om dood om oog om land om
om die dood hierdie wyn en brood
des levens in die skoot van die blss. te lê...

Langs mekaar gestaan was Breyten, in sy sel, die vry een: Opperman het kort na Komas breinskade opgedoen en vir die res van sy lewe in 'n koma gelê. Hy het gesterf drie jaar na Breyten se vrylating. Breyten, ten spyte van sy doodsangs en sy rebellie, het homself mooi opgepas - en is nogsteeds met ons.




VIR DIRK OPPERMAN, DIE 28STE OKTOBER 1979 - Breyten Breytenbach

enkel dae gelede jou boek in ontvangs geneem
(dank sy die owerhede)
en sommer intraps oorspoel deur die lewenskrag
uit die pragdom van catavina en konsertina,
die jukskeie se klap en soetigheid uit skede,
Herr von der Vogelweide, hoe jy die sin progeen
laat knetter en knot soos 'n ketter opgeskort,
jy die pole merk, ewenaars verwerk,
strome plotselings versterk, óór vul-k-ane swerk
waar kole rif -

dit op staande oog besnuffel, bevoel die gewig
gewrig en geweeg vanaf die om-slag van jou drifdigte gesig
al tussen-in tjoekie-tjoek van gedog tot gedig
beweeg tot in die vok-aal se innigste gestig
en verstom (!) plek-plek oor hoe uit die kabaal
van rommel en ramme
pluimprikkelend 'n gewisse heiliging straal-

(soms, ene muis, slegs oor geproe, geslyp
geintegreer, en was dan selfs in dié krokodillehuis
weer tuis, momenteel
     dronk van die vreugdedis
soos 'n maan in die tronk
hom aan water vergryp)

wat voor een rym en ritme
(wat rede en ruimte en roede is)!

si, certo, l'amore fa passare il tempo
il tempo fa passare l'amore

of iets dergeliks, maar jou is dit beskore
om die vore van die tyd te bevrug
met moersaad al hoe weser en syn-deurdronke:
ja, begeester deur jou prolegomena van knaat en peester
ai, sou ek ook vonk wil vang by die Oude Meester
en 'n eie Megumi-no-Sono ontdek

maar ook kennis geneem van die nood
die nood om dood om oog om land om
om die dood hierdie wyn en brood
des levens in die skoot van die blss. te lê...

daarom, beda doodverblinder,
vir al die wondere geskut in jou mou
('n taschenspieler se sekrete pywurms ontvou!)
vir die drif en die drang en soms droewige klank
met alle ontsag heel veel seer bedank,

en sterk staan, ou buffel, damstáán die dem pyn
karnuffel met jou kierietjies stééds die kluitwo(o)rd fyn!


Sondag, Januarie 07, 2018

‘n brokkie van die ewigheid dryf los



as twee mekaar naak omhels
verander als:
liefde word vleis en bloed.
drome, eetbare vrugte, soet,
gedagtes werklike wyn en brood
op ‘n gedekte tafel, fyn
proebaar op die tong, slukbaar:
die rasendste honger verstil.

spoke word mense,
die hemel sprei ‘n sagte skadukombers oor hulle
en die sterre buig af en fluister ‘n deuntjie.
‘n brokkie van die ewigheid dryf los:
die absolute in die kontigente.
die gebroke kring,
twee helftes van ‘n sinkende boot,
verenig en raak weer vlot
met die blydskap van lied en word
aan boord,
van die verlostes uit nood.

die harde ysterstad
met sy betonhoed,
robotoë en asfaltbroek,
begin ekstaties dans
en al die sterwendes op weg na die graf,
gooi hul kiste van hul skouers af
en lag verbly
en selfs die geharde misdadigers, dood
en sy handlanger tyd,
staan voor dié heilige geheim
eenkant
swyend opsy,
hoed in die hand



-SJ Pretorius

Sondag, Augustus 27, 2017

Dit of dood

Die ex-libris stempel wat Eugene Marais vir sy boeke versameling ontwerp het. Met die woorde "dit of dood" in die hoek. Wat op aarde wou hy sê?


Saterdag, Januarie 21, 2017

Die Kandidaat

Cobus Rossouw en die pasgestorwe Hendrik Verwoerd
Die verskyning van Die Kandidaat in 1968 was 'n gebeurtenis in Afrikaanse flieks vergelykbaar met die eerste vertoning van Citizen Kane in Hollywood in 1941.

Beide was eerste flieks deur jong kunstenaars (Jans Rautenbach en Orson Welles) met teater agtergrond maar weinig ervaring van wat 'n film behoort te wees. Beide het die konvensionele flieks van die dag in die stof gelaat met nuwe tegnieke en 'n hele industrie ongemaklik laat voel oor die eendersheid-van-aanslag wat dit belig het.

Clark Gable het blykbaar gesê nadat hy Citizen Kane gesien het

After this I have to go back to making those A-list movies again.

Die regisseur Dirk de Villiers het vertel watter indruk die eerste toneel van Die Kandidaat op hom gemaak het: die jong Roelf Jacobs wat stap deur 'n gang vol moderne kuns in 'n raadsaal in waar ou Afrikaanse gesagsfigure vir hom wag - die lewendiges en die dooies.

Is dit dan soos 'n Franse fliek hierdie? het ek gedink. Op daardie oomblik het ek besef hier is 'n kunstenaar; voor dit het ek gedink Jans Rautenbach is maar net nog 'n kriminoloog wat probeer flieks maak  ;)

Jans Rautenbach was 31 jaar oud. Vyf jaar tevore was hy, inderdaad, die hoof van Witbank gevangenis. Hoe het hierdie ongelooflike transformasie gebeur?

Die Kandidaat gaan oor 'n stigting wat Afrikaner belange bevorder. In die fliek word dit die "Stigting Adriaan Delport" genoem, vandag se gelyke is die Dagbreek Trust.

Alles speel af oor twee dae waarin die stigting 'n nuwe direkteur moet aanstel. Daar is net een kandidaat en meer as die helfte van die speeltyd gebeur in net een vertrek: die raadsaal waarin die bestuur die onderhoud voer en beraadslaag oor die aanstelling.

Eers na 30 min verlaat die fliek hierdie vertrek en 'n tweede storie begin: die kandidaat se dagwerk is hoof van 'n verbeteringskool vir seuns, en hier loop dinge vinnig skeef terwyl hy besig is met sy onderhoudvoering.

Dit was die eerste keer dat 'n nuwe groep karakter-akteurs op doek verskyn het: Cobus Rossouw as 'n aggressiewe sestiger skrywer, Hermien Domisse as 'n volksmoeder en die jong Regardt van den Bergh (saam met sy pa Gert in hul enigste fliek saam) as 'n probleemkind in die verbeteringskool.

Die twee milieus - die raadsaal en die verbeteringskool - is die haves en die have-nots van Afrikanerdom circa 1960s; die beginpunt en die eindpunt; die arm verlede en die ryk toekoms. Twee verskillende wêrelde, klanke en visuele teksture.

Roelf Jacobs, die kandidaat, probeer (soos Jans Rautenbach) die sprong van die een wêreld na die ander maak. Die fliek is gemaak in die jaar na die moord van Hendrik Verwoerd, en 'n groot beeldhouwerk van hom (saam met ander Afrikanerleiers) staan in die raadsaal, stille toeskouers tot die gesprek van die lewendes.

Regardt vd Bergh se eerste rol as 'n
probleemkind
Die debat in die raadsaal gaan grootliks oor wat die ideale Afrikanerleier se eienskappe behoort te wees. Politiek, kerk, sedes en taal (ek sidder wat Dr Verwoerd sou gedink het).

Twee jaar tevore het Emil Nofal en Jans Rautenbach 'n nuwe filmmaatskappy begin en saam twee flieks gemaak (met Nofal as regisseur)  - King Hendrik en Wild Season. Beide was, volgens die resep van die dag, Engelse flieks met die minimum 40% Afrikaanse dialoog om vir die groter regeringsubsidie te kwalifiseer.

King Hendrik het 'n toekenning van die nuwe Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang, maar Dr Verwoerd se sluipmoord het 'n sterk Afrikaner-intellektuele teenreaksie veroorsaak en dieselfde Akademie het geweier om Wild Season te bekroon omdat dit "onvoldoende Afrikaanse inhoud" gehad het.

Hierdie verwerping was 'n storm in 'n teekoppie maar het vir Rautenbach 'n idee gegee: 'n 100% Afrikaanse fliek vir die Akademie oor die Akademie, met Afrikaner gewroeg maar 'n onweerstaanbare in-jou-gesig kwaliteit, onmoontlik om te ignoreer. Basta die ou Afrikaanse pastorale klein-dorpie fliek, hierdie sou 'n moderne, toekomsgerigte werk met visie wees.

Dit was die Die Kandidaat.

As die premies vir 'n kommersiële fliek in die hande van 'n eerstekeer regisseur kan ek dit kwalik sien, maar die Gode, die storms en die wilskrag het gewoed en hierdie onwaarskynlike fliek is gemaak.

Dit was 'n enorme sukses: 'n lokettreffer, 'n mediasensasie en het - soos Citizen Kane - dadelik beweeg na die top van Afrikaanse beste-ooit lysies.

En dit het - les bes - 'n erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.

Die 60s het die 70s geword, en die 80s, en met die volheid van tyd het Die Kandidaat in die verte verdwyn. Ek self het dit deur die jare vermy - die debatte oor die ideale Afrikaner, gevoer in die verlig/verkramp paradigma van daardie tyd; wat die res van Suid-Afrika se bevolking as 'n oorweging uitsluit - is 'n doodgebore baba.

Dit is eers nou, met die her-kyk daarvan, dat ek besef dat al die water wat onderdeur die brug gevloei het - die septer wat uit die Afrikaners se hande geworstel is - Die Kandidaat bevry het om weer die Die Kandidaat te wees.

Sonder al daardie onregverdige mag kan ons nou weer eerlik debatteer (sonder 'n groot olifant in die raadsaal): bestaan daar nog so iets soos 'n Afrikaner, soos Afrikaners en wat probeer hulle bereik?

En vir Jans Rautenbach was Die Kandidaat - in triomf en later in stilte - sy geliefste film

want dit was my eerste. Want daarna was daar nie meer 'n eerste nie...




Dinsdag, Desember 13, 2016

Hoe sal die ouvrou ouer as oud

Hoe sal die ouvrou ouer as oud
hoe sal die stoof swarter as koud
hoe sal die hande sonder die hout
sonder die suiker sonder die sout
sonder die meel as die meel het drade
sonder die eiers as die eiers is vrot
sonder die skottel as die skottel het gate
hoe die koek bak geler as goud
wie die skuld hê waar die fout?

Sedert my kinderdae het hierdie woorde 'n magiese uitwerking op my gehad. Ek het nie geweet of omgegee waaroor dit gaan nie. Dit was die mag van poësie wanneer die wind opsteek en die seile bol: bestemming onbekend. Is daar enige woorde meer fantasties musikaal in Afrikaans?

Roep die pou die pou se vure
roep die iris en die helder ure
roep die gans wat raaisels praat
orakel hy dan het ons raad
en is die koekoek 'n hen-koekoek
bak Hera weer besweringskoek.

In 1974 is Sheila Cussons horribaal vermink in 'n gasontploffing in haar kombuis. Sy was twee jaar lank in die hospitaal, het ses vingers en 'n been verloor en moes veloorplantings oor haar gesig en lyf kry.

In die jare tevore was sy die geheime minnaar van NP van Wyk Louw, wat haar "kind" genoem het. Sy het die woorde my voete loop na Wellington maar ek gaan Worcester toe geskryf; en Louw het bygesit ...lê, lê in die wingerd kind

Toe roep my ma om my te stuur
net voor sy wegwring in 'n baksteen
soek jy die grot klim jy die seemuur
en kyk daar raak totdat jy raaksien
- en sit voor hulle neer die skottel en die beker -:
die ouvrou en die eenoog-kind, die gans en die koekoek:
die wysheid en die insig, die raaisel en die wekker -
dan as daar vuur is wys hulle jou hoe bak die gode koek

( wegwring in 'n baksteen - wat 'n beeld! Doodgaan ) Voor hierdie oomblik was Cussons op 'n Ingrid Jonker trajek - 'n muse wat die manne inspireer. Sy was beeldskoon, maar 'n oomblik het alles weggevat. Desnieteenstaande het sy opgestaan - soek jy die grot klim jy die seemuur - en van vooraf die bestanddele vir haar mojo gesoek, om te offer aan die gode.

Toe met sewe oë
kyk hulle my snaaks aan
waar ek meteens beteuterd
in die seekombuisgrot staan:
ek lees die waarheid in hulle blik
en voel my aardig koud:
wat anders is die suiker en meel
die eiers en die melk - vergeet nie die sout! -
as net jouself en jou menslikheid:
en is jy met vuur vertroud?

In later jare het Cussons gepraat van haar verminking as die begin van haar eie innerlike bevryding as kunstenaar. Uiteindelik kon sy die dinge verwoord wat tot daardie oomblik ontken was; die bestanddele aan haar binnekant vind, nie daar buite in die wereld nie.

Sy was reeds 50 jaar oud maar die grootste deel van haar oeuvre as digter sou nog voorlê.

Maar goedig is die gode, my dom bestanddele
was in die toorkombuis teen die omtoorvuur bestand
en met die bykom vind ek hulle het in my ingevlug:
ouvrou, kind, gans, koekoek, net effens aangebrand....

O neutvars kind met die voorskootklere
met die warm wang en die sywurmhare:
ek is nou met die sikloopkind wonderlik behep
en weet dis eintlik sy wat sin maak van die resep

Cussons 2, met die warm wang en die sywurmhare, het hierdie katarsis gehad, 'n "sikloopkind" geword - 'n klein eenoog monster. En uiteindelik, binne daardie sikloopkind, herenig met die siel van haar jeug.


***

Kombuis van Hera

I
Hoe sal die ouvrou ouer as oud
hoe sal die stoof swarter as koud
hoe sal die hande sonder die hout
sonder die suiker sonder die sout
sonder die meel as die meel het drade
sonder die eiers as die eiers is vrot
sonder die skottel as die skottel het gate
hoe die koek bak geler as goud
wie die skuld hê waar die fout?

Roep die pou die pou se vure
roep die iris en die helder ure
roep die gans wat raaisels praat
orakel hy dan het ons raad
en is die koekoek 'n hen-koekoek
bak Hera weer besweringskoek.

II
Toe roep my ma om my te stuur
net voor sy wegwring in 'n baksteen
soek jy die grot klim jy die seemuur
en kyk daar raak totdat jy raaksien
- en sit voor hulle neer die skottel en die beker -:
die ouvrou en die eenoog-kind, die gans en die koekoek:
die wysheid en die insig, die raaisel en die wekker -
dan as daar vuur is wys hulle jou hoe bak die gode koek

Toe met sewe oë
kyk hulle my snaaks aan
waar ek meteens beteuterd
in die seekombuisgrot staan:
ek lees die waarheid in hulle blik
en voel my aardig koud:
wat anders is die suiker en meel
die eiers en die melk - vergeet nie die sout! -
as net jouself en jou menslikheid:
en is jy met vuur vertroud?


Maar goedig is die gode, my dom bestanddele
was in die toorkombuis teen die omtoorvuur bestand
en met die bykom vind ek hulle het in my ingevlug:
ouvrou, kind, gans, koekoek, net effens aangebrand....

O neutvars kind met die voorskootklere
met die warm wang en die sywurmhare:
ek is nou met die sikloopkind wonderlik behep
en weet dis eintlik sy wat sin maak van die resep

Maandag, November 14, 2016

Jannie Totsiens

Waarom het Afrikaners in 1970 nie die betekenis van Jannie Totsiens verstaan nie?

Dis 'n vraag wat aan Jans Rautenbach gestel is.

Sy antwoord was "Afrikaners verstaan vandag nog nie die betekenis van Jannie Totsiens nie".

Die antwoord is eintlik akademies, want Afrikaners het dit nog nooit gesien nie, wat nog dit verstaan - nie in 1970 of in 2016 nie. Dis 'n legendariese fliek, maar ek sal verbaas wees as daar as vyfhonderd mense vandag nog lewe wat Jannie Totsiens – een van die grootste Afrikaanse flieks wat ooit gemaak is - gesien het.

Die basiese storie is 'n fantasie: iewers êrens is 'n inrigting vir sielsiekes. Almal in die inrigting, die versorgers en die versorgdes, is Afrikaans. Daar is 'n string onwerklike karakters: 'n Afrikaanse Hitler (Don Leonard), 'n heks met voorspellings en Bybelverse (Hermien Dommisse) en 'n jong nimf wat met poppe speel en oë uitsteek (Katinka Heyns). Een karakter is 'n eenarm man, weggegooi deur sy ouers, wat 'n selfportret met sy mond verf: van homself met twee gewone arms saam met sy ma en pa.

Die fliek begin met die woorde

Daar's 'n vreemdeling in ons midde.

en wys dan hoedat almal se koppe terselfdertyd draai na dieselfde ingang. Na wat voel soos 'n ewigheid van afwagting stap Jannie (Kobus Rossouw) by die deur in, 'n nuwe inname in hierdie wêreld. Wat hom skort bly 'n raaisel, hy is skynbaar stom en praat nie.

Hul reaksie teenoor hom is suspisie wat fassinasie word; 'n liefdesdriehoek, ‘n drang vir sy aandag; tragedie en uiteindelik 'n komplot om hom te vermoor.

Sensories is dit ongetwyfeld een van die rykste flieks in Afrikaans - die visie van Jans Rautenbach op sy kruin saam met die kuns van 'n jong Wendy Malan en Hans Potgieter teenoor 'n klankbaan van ou Afrikaanse volksliedjies:

...bobbejaan klim die berg om die boere te vererg...


...met 'n mooi ryperd, 'n blinkvosperd met 'n spliternuwe saal...

So wat op aarde beteken dit alles?

Dis 'n fliek van vermoëns - 'n kunstenaar verbete om te wys wat hy in sy taal kan vermag - maar 'n verhaal van onvermoëns. 

Jannie Totsiens het gevolg op die hakke van twee groot landmerke in Afrikaanse flieks: Die Kandidaat (1968) en Katrina (1969). Jans het later van Jannie Totsiens gepraat as die derde van 'n trilogie oor Afrikaanse introspeksie.

In hierdie konteks was dit 'n metafoor vir 'n afgeslote gemeenskap (die Afrikaners) wat 'n kranksinnige klankbord vir mekaar geword het, en die intellektuele onder hulle wat stom gebly het.

Maar Jannie Totsiens was in sekere opsigte anders as sy die twee voorlopers. Die fliek het 'n universele gevoel en bruis van arrogansie, van die gevoel dat die kat weg is en die muis baas is. Vir een maal op aarde is daar geen kommersiële oorwegings nie. 

En daar is 'n baie private Jannie Totsiens.

Jans se oudste broer was 'n erg gestremde kind - fisies en verstandelik - met die naam Uysie, wat gesterf het terwyl Jans nog 'n kind was. Na sy dood het dit Jans se taak geword om een maal 'n week - op Woensdae - na Uysie se graf te stap met 'n emmer, vars blomme en 'n waslap om sy broer se graf skoon te maak.

Hierdie weeklikse stap van etlike kilometers sou 'n enorme invloed op sy vorming hê. 

Ek het 'n palm stok opgetel. Daardie stok was my motor, of my vliegtuig, of my skip. In die gang van my reis met my stok het ek mense ontmoet en heldedade verrig; ek het kinders gered wat in die moeilikheid was; ek het wêrelde ontdek waar goud en juwele opgestapel was; ek was 'n seerower op die oseaan; met my palm stok het ek vooruit gevlug en niemand kon my vang nie.

By die begraafplaas het ek die stok gebêre en Uysie se graf skoongemaak en water ingegooi en tussen die ander grafte deurgedwaal. Daar was pragtige grafstene met marmer kopstukke, engele wat staan, afgekapte boomstompe wat simbool was van 'n lewe wat vroeg geëindig het. Daar was ornate grafte wat kluise en huise was. Hierdie grafte het vir my stede geword, en strate en dorpe waarin ek mense besoek het en ontvang is.

Later het ek besef dat hierdie wêreld eie aan myself was. Ek het nooit vir die ander kinders daarvan vertel nie. Ek het gedink hulle sou dink dat ek mal of kinderagtig was.

Jans het hierdie droomgeboorte van hom bo alles gekoester en lewenslank sy lang motor reise tussen Johannesburg en die Klein Karoo met sy palm stok vergelyk.

Wat het dit alles met Jannie Totsiens te doen?

Jannie Totsiens, die geheime Jannie Totsiens, was die droomwêreld van Uysie se begraafplaas wat uiteindelik, soos 'n teaterstel van onder opgereis het vir die wêreld om te sien. 

Maak nie saak of die ander kinders dink dat ek mal of kinderagtig was nie.
Ek noem dit 'n storie van onvermoë, omdat dit wys dat droomwerelde vergestalt kan word, maar ook dat dit moet eindig. Die "Totsiens" van Jannie Totsiens is daardie erkenning. 

Ons lewe tussen ons drome en ons werklikheid.

*

My pa is verlede week oorlede. Hy was tagtig jaar oud maar nog vol planne vir sy volgende fliek. Ek het deur sy laaste notas gekyk en op een plek het hy geskryf

Ek is weer kind wat die winterwasem op die treinkompartement se ruit wegvee om te kyk na die kou van 'n vroegoggend wat verbyvliet.

'n Ouman met slepende bene skietende pyne verstopte are verkalkte verstand.

Kan jy ooit iets sê wat nog nooit gesê is nie?


Jans Rautenbach, 1936 - 2016




Donderdag, November 03, 2016

Jans Rautenbach, 1936 - 2016

Ek het hierdie stuk oorspronklik in 2006 geplaas toe Martin Botha se boek Jans Rautenbach - Dromer, Baanbreker, Auteur verskyn het. 

Daarna weer in Oktober 2015, toe Abraham in teaters begin draai het. Dit was sy eerste fliek in 30 jaar, en sy laaste.

En vir 'n derde en laaste keer in November 2016, een dag na my pa se dood.


Wat is 'n bydrae?

Iets wat belangrik in sy tyd was? Iets wat die loop van gebeure verander het? Iets wat die toekoms voorspel het?

***

Die eerste herinnering van my lewe is 'n oomblik van opkyk en 'n harde slag teen die kop. Ek was 'n paar jaar oud, aan't speel op 'n leë koppie in die Klein Karoo, toe ek deur 'n spanner uit die lug getref is.

Dit was op hierdie kaal heuwel aan die voet van die Swartberge waar my pa en ma - na elke soort sukses as jong Joburgers - besluit het om 'n huis te bou.

Jans was besig met die eerste konstruksie in die veld: 'n toilet met mure en 'n deur en 'n watertenk bo-op, toe hy die spanner ingedagte afgegooi het. Die gevolg was 'n klomp bloed op my gesig en klere, Jans half histeries met my in sy arms, gejaag na my ma - wat na alles afgewas was net 'n klein skrapie kon vind.

Maar danksy al die drama was dit by daardie oomblik, daardie plek, waar my bewussyn begin.

Met die eerste tree van 'n droom: om 'n klipkasteel in die berg te bou waar daar toe niks was.

Van ons lewe voor dit kan ek niks onthou nie.

Ek weet dat Jans gery het van Johannesburg na die Kaap, opsoek na die regte plek om "Pappa Lap" te skiet. Diep in die nag het hy op Beaufort-Wes gestop vir brandstof en 'n koppie koffie. Daar, met die motor-naglig en 'n padkaart het hy 'n lang reguit-suid pad gesien met 'n onduidelike eindpunt.

Hy het besluit om hierdie pad te probeer.

Na 'n lang nagrit het die pad teen son-op deur die Swartberge gekronkel by Meiringspoort.

Meiringspoort is 'n geologiese wonder, 'n dramatiese diep skeur deur die berg wat met sonop 'n fantastiese oranje-rooi lig en skaduspel word. Aan die einde van hierdie poort het 'n magiese klein dorpie teen die heuwel gelê - asof dit daar verskyn het net vir hom - soos Brigadoon wat vir een dag elke eenhonderd jaar uit die mis verskyn.

Die dorp se naam was "De Rust".

"Pappa Lap" is op De Rust geskiet en kort daarna is 'n plaas gekoop, 'n ent daarvandaan, 'n leë plaas met heuwel en 'n wonderlike uitsig oor die reuse Klein Karoo vallei. Die plaas is "Oulap" gedoop.

Jans het na afloop van "Pappa Lap" teruggekeer na die stad, en vir die grootste deel van sy flieklewe gependel tussen die werk in Johannesburg en die gesin in die Klein Karoo, waar Oulap stadig besig was om vorm aan te neem, danksy my ma.


Sy werk was uiteindelik soos daardie nag op Beaufort Wes - 'n keuse vir 'n onsekere bestemming, 'n bestemming wat vandag nog onbekend is, want die reisiger reis nog en pad vorentoe bly 'n raaisel.

Maar sy lewe lank is Jans gedryf deur net een sekerheid, een ingebore leidraad: sy instink vir wat goed en swak is, dit wat tweederangs is, wat nooit die eindpunt werd is nie.

Maar die pad self was altyd onduidelik, 'n moeras van teenoorgestelde impulse: die stad en die plaas, alleenwees en deelwees, Afrikaans en Engels, Verwoerd en Mandela, die wereld hier en die wereld daar, kuns en vermaak, geloof en twyfel.


As kind het ek hom aan die etenstafel hoor praat oor hoe groot kunstenaars hulleself "losmaak" van hul wereld.

Die wereld waaruit hy gebore was was op die kruin van triomf, vol antwoorde, vol sukses.

Afrikaners het pas hulle land "teruggeneem" en was nou gereed vir 'n plek in die son. Hierdie instap in die son was die "saak" - Afrikaans tot sy volle reg - in die regering, in die sakewereld, in die media, op universiteite.

'n Klein gemeenskap met een doel is 'n sterk gedierte: hul waardeer mekaar, elke nuwe prestasie in die uitbou van Afrikaans is raakgesien en bespreek en bejubel.

Dit was hierdie gehoor met wie hy kon praat, maar van wie hy hom moes "losmaak", al was hulle waarskynlik die enigstes wat omgegee het.

Daar is 'n ou cliche oor Afrikaanse: die digkuns is briljant, die prosa goed, die drama so-so.

Van die flieks is nie eers gepraat nie. Wat bestaan het was nie gereken nie. Die woordeskat, die paradigma, die visie, die persoonlikheid vir 'n Afrikaanse kunsfilm het nie bestaan nie.

Die sestigers van Afrikaanse letterkunde het op 'n binne/buite manier die gemeenskap begin pols oor die wysheid van hul gekose rigting: apartheid.

Maar min mense kon werklik ten volle "los wees", die prys was baie hoog en die wereld daarbuite was groot en onvriendelik. En buitendien, daar was baie goeie trou vir mekaar en soveel wat nog saam vermag moes word.

Die medium van rolprente vereis soveel deursetting omdat daar soveel uitlekgate is: soveel plekke waar die visie kan smelt, versmoor, verdun, soveel mense wat die materiaal met hul vuil vingers hanteer, soveel tyd wat verbygaan, soveel kokke, soveel ponde vleis.

Dit vereis iemand met besondere selfgeloof om eerstens 'n visie te hê en dit dan te behou en beskerm van die eerste tot die laaste dag.

Daarom is die auteur iets anders as 'n skrywer: iemand met 'n visie, 'n oog, 'n oor, 'n wil en 'n dik vel. 'n Kunstenaar maar ook 'n barbaar - geslote vir die verkeerde argumente en onwelkome feite, die auteur moet homself laat geld oor die koppe almal, of alles is tot niet.

Vir al hierdie redes is dit vir my nie verbasend dat die Afrikaanse rolprentbedryf uiteindelik net een Jans Rautenbach opgelewer het nie. Alles inaggenome was die kanse nooit groot nie.

"Die Kandidaat" en "Jannie Totsiens" word vandag beskou as sosiale protes, maar dit was iets veel belangriker: 'n nuwe houding teenoor die gehoor, 'n nuwe verwagting.

Die werklike "boodskap" was: Kyk, dit is moonlik. Ons kan dit doen, in Suid-Afrika, in Afrikaans, onsself, in ons eie leeftyd, vir die eerste keer. Kuns kan geskep word, alles is moontlik, glo dit, maak jou oë en jou kop oop.

Dit was die inneem van 'n regmatige plek in die wereld, die instap vanuit die koue na die son.

Was Jans werklik so diep verbind tot die Afrikaners?

Verseker.

Die Jans Rautenbach van "Die Kandidaat" tot "Broer Matie" was geanker in die ideaal van 'n suksesvolle, ryp Afrikaner volk - oopkop, voorspoedig, vindingryk en verdraagsaam.

"Ek en die Boere... Ek en die Boere gaan mekaar nog begrawe", het hy gesê.

En wat van die res van Suid-Afrika?

Baie min blankes kon enigsens die Suid-Afrika van 1994 visualiseer, behalwe in hul nagmerries, nog minder die Suid Afrika van 2005.

Daar was 'n vae vrees oor die toekoms, 'n stadige verlies aan selfvertroue oor die politieke rigting, maar geen duidelike alternatief nie.

Jans se vroeë flieks het die mees algemene letterkundige protespunte na die rolprentmedium geneem - Wit en Bruin Afrikaners, try for white, liefde oor die kleurgrens - en op 'n liberaal-nasionalistiese manier hanteer.

Maar daar was baie beperkings aan sy politieke betoog, dit was kritiek-uit-liefde, van sy tydgenote het verder gegaan en meer gesê.

In later jare het hy op 'n dwase manier vir die ou regering in diens getree: "Die Sestig Jaar van John Vorster" en "White Roots in Africa" en daarmee baie goeie trou ongedaan gemaak.

Die jong Jans het gehou daarvan om te sê, in die middel van 'n politieke gestry

"Ek het meer vir hierdie land gedoen as wat sus en so ooit sal weet..."

Hierdie woorde het verdwyn deur die jare, uit selfvertroue het baie foute gekom, en met wysheid nederigheid.

Nee, politiek is nie Jans se bydrae nie.

Jans het nie die wereld verander of voorspel nie.

Wat is sy bydrae?

Sy bydrae is 'n jong Katinka wat haar houtperd dra deur die veld, oproep na haar ridder ...want jy het gesê as ek jou wil hê, dan moet ek jou kom haal... op 'n mooi ryperd, 'n blink vos perd, met 'n splinternuwe saal...

Sy bydrae is 'n misgebore, vergete seun in 'n gestig, verwerp deur sy ouers, wat 'n gesin verf, gelukkig en heel en gesond.

Sy bydrae is 'n brandende huis en 'n gebreekte hart daarbinne...

Regardt wat dobbel deur die nag, sy lot onder drie bekers ...kyk nogeens goed mijn kind, op die vlakte daar ver... kom 'n man op zijn paard...

Kimberley en Katrina, in trane in die donkerte onder strobe lights, wit en swart... terwyl die band sing "Don't you feel like crying..."

Adam wat groet: "We will ring the bells for you, Katrina..."

Die groot deure van Raadsaal wat oopgaan.

Regardt en Zoli wat lag in 'n lugballon ...'n sprokiesparadys, waar jou wildste drome bestaan, vat my saam...

Gordon en Katinka - pa en dogter wat verleë kyk hoe die ryk kêrel die geld deur sy vingers vleg...

Die lied van die ongewenste vreemdeling...

Vat haar weg
van haar ma af
van haar pa af
van haar broer af
uit haar land uit...

Sy bydrae is sy kuns.

[15 Oct 2006]

Maandag, September 26, 2016

As ons twee eers getroud is

Ek het As ons twee eers getroud is hierdie jaar op Radioteater geluister en dit bly myns-insiens - meer as 60 jaar later - een van die beste komedies in Afrikaans. Dit was 'n stapel van ons vroeë teater en verfilm met Frederik Burgers in die 1960s.

Die storie gaan oor die prim-en-proper van der Merwe gesin - ma, pa, Oupa en twee kinders - Afrikaanse stadsjapies van die 1950s. Magriet en Karel - pa en ma - is 25 jaar tevore in 'n oomblik van passie in 'n Las Vegas-erige seremonie getrou is deur 'n "predikant" wat moontlik nie so heeltemal 100% was nie.

Dit was jare terug, maar die hele herinnering knaag aan Magriet. Vir hul 25ste huweliksherdenking vra sy net een geskenk van haar man: sy wil uiteindelik haar huwelikssertifikaat in haar hande vashou, die sertifikaat wat sy nog nooit gesien het nie.

Karel is seker hulle het een "iewers in die huis", maar stem uiteindelik in om 'n nuwe kopie van die Departement van Binnelandse Sake te bestel vir haar gemoedsrus.

Maar dan, op die dag van die groot herdenking, kry hulle 'n brief van die Departement dat daar geen rekord van hul troue is nie...

Die skok van hierdie nuus is die tsunami wat al die komedie maak.

Die vrees dat haar gaste gaan uitvind hulle lewe in sonde. Magriet dwing Karel om 'n tweede keer te trou voordat die gaste opdaag. Wanneer Karel dink sy is absurd dreig sy om van hom te "skei" - iets nog moeiliker om te verduidelik. Dan is daar Oupa en die kinders, almal met hul kinkels. Hoe gered voor die mense kom?

Die titel verwys na 'n pak liefdesbriewe van Karel aan sy vrou, wat hy as 'n jong kêrel vir haar geskryf en sy bewaar het. Elke brief begin met: As ons twee eers getroud is...

Dinsdag, Julie 05, 2016

kanna hy kô hystoe

Daar is 'n sekere soort boekskryf wat in werklikheid die wegkerf van hout is, totdat jy kom by die essensie van dinge. Die boek self is die afval op die vloer. Die titel is die essensiële eindpunt daarvan - die pêrel in die oester - 'n hard-gewonne idee, tema, 'n metafoor, 'n visie van dinge.

Dit staan op die voorblad asof alles daarmee begin het, maar kristalliseer stadig, drup drup, in die skryf totdat die regte paar woorde skielik na mekaar verskyn.

In projekbestuur sê ons "die einde is die begin", bedoelende dat vordering eers gemaak kan word wanneer almal die eind-doel duidelik genoeg verstaan. Gewoonlik is 'n groot deel van die aanvanklike rondvallery om die eind-doel vas te vang, en daarna kan die werk begin.

Die kreatiewe proses is ook so - jare se perkolering totdat die sleutel draai, en daarna die werk om dit te realiseer.

Dink aan Fear and Loathing in Las Vegas

Wat sou hierdie boek gewees het sonder daardie twee woorde?

kanna hy kô hystoe is vier sulke woorde. Dis maklik om dit te hoor en te dink - dis nie so besonders nie. Maar dit is.

kanna is die beste Afrikaanse drama wat ek ken, en die krag daarvan lê in die eenvoud van die konsep: 'n ma wat verlang na haar seun.

Die ma is Makiet wat droom oor die dag dat haar liefling seun weer sal terugkom huistoe. Met die tragedie van haar dogter Kitty se moord hoop sy dat Kanna sal kom vir die begrafnis.

Die twee kante van hierdie situasie bevat soveel: Makiet se verlange is die bewaring van hoop - dat iets goeds nog sal gebeur in hierdie lewe. Sy is soos Don Quixote - blind vir die pyn om haar solank hierdie hoop sal bestaan.

Aan die ander kant is daar Kanna se weersin om met hierdie verlede gekonfronteer te word, met soveel slegte herinnerings en skuldgevoelens. Hy het ontsnap uit hierdie wêreld en sy vrees om nie terug te keer nie hou hom aan die gang, net soos haar droom dat hy sal.

Ek het hom swaar grootgemaak, dink Makiet.

Die ironie is in die laaste tonele, wanneer Kanna "gehaal word" op die stasie vir sy ma se begrafnis, omdat die hele woonbuurt so verander het dat hy niks meer daarvan sal herken nie. Die verlede is nie in huise in strate nie, maar tussen mense.

***

Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies –
o Allahoegste Gies
lat hierie woorde na onse harte gaan! –
yt die twiere boek van Mosas
yt die Exoras
yt die viere hoefstuk die ee’ste en die twiere verse –
o God
maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse! –

toe antwoord Mosas en hy sê: ma’ wat
as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat
as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?

ma’ die Here sê vi’ hom: djy sal djou mense lei
wat’s in djou hand?
en Mosas sê: ‘n staf

nou vrinne
dit was al wat hy gahad het
hierie man van God
’n staf
’n dooie stok
en boenop het hy nog gahakkel ok

ma’ die Here het toe lank moet hom gapraat
oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat
het die Egiptenaar
en Mosas het sy groote kop lat hang
en toe
toe skielak was daai selfde kierie in sy hand ’n slang!

nou vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gavra wat’s in my hand
en vrinne
in my hand was my kitaar

kô, lat ons sing

Dinsdag, Maart 29, 2016

Sink

Stadig maar seker dryf Afrikaanse flieks weg van bekende waters. Drifting too far from shore, soos die ou folk song sê. Hierdie proses van wegdryf is vreesaanjaend, dit gaan altyd 'n mengsel van vryvoel en verlange wees, met donker water onder.

Sink is die nuutste voorbeeld hiervan, dis die mees pynlike Afrikaanse fliek wat ek nog ooit gesien het, maar is dit nie waarvoor ons gewag het nie?

'n Fliek wat ons seermaak; wat afspeel in die stad, vandag, met swartmense en witmense teen mekaar, sonder grappies en musiek.

Dit gaan oor die verdrinking van 'n swart Mosambiekse huishulp se dogtertjie in die swembad van 'n ryk wit paartjie wat veronderstel was om haar op te pas op daardie oomblik, terwyl haar ma haar visa gaan verleng.

Maar hierdie toneel verskyn eers heel aan die einde. Die fliek laat dit aan die verbeelding oor en begin direk daarna, waar die wit paartjie 'n skikking met hul huishulp probeer bereik om haar uit hul lewens te kry.

Maar Rachel - die huishulp - besluit om aan te bly en vir hulle te bly werk, en die twee kry dit nie oor hulle hart om haar in die pad te steek nie.

Waarom doen sy dit?

Deel daarvan is dat sy nie regtig opsies het nie. Maar ook...

Mary Shelley se boek Frankenstein gaan oor 'n mal dokter wat 'n monster skep en dan probeer om van hom ontslae te raak. Nadat die dokter weier om vir hom 'n vroue metgesel te maak begin hy 'n streep moorde van almal rondom (maar nie) sy skepper nie. In die laaste toneel - na die dokter se dood - vra iemand vir die monster waarom hy dit gedoen het.

Omdat hy dit durf waag het om gelukkig te wees, antwoord die monster.

Rachel, die huishulp, is hierdie paartjie se Frankenstein - die lewende herinnering dat jy nie vir geluk mag hoop nie...

Maar Michelle, die wit vrou, is swanger. Hoe oorkom jy hierdie situasie?

Daar is 'n oomblik waarin die fliek lyk asof dit versoening gaan bring, maar versoening kom nooit nie.

Anel Alexander, wat Michelle speel, was die ster van een van Afrikaans se top popcorn flieks van alle tye: Semi-soetSink gee nuwe betekenis aan die woorde Semi-soet. Dis ons eie Do The Right Thing - 'n fliek wat sy naarheid deursien tot die bitter einde.


Maandag, Maart 07, 2016

Hammie

Ek onthou in een van die Nuwe Stemme bundels (#3 as ek reg onthou) skryf Antjie Krog in die voorwoord dat bykans die helfde van al die nuwe gedigte deur onbekende skrywers wat oorweeg was handel oor óf God óf die digter se ma.

Hammie is 100% Ronelda Kamfer se ma en 0% God. Dit het my onwillekeurig laat wonder of die twee (ma en god) dalk op een of ander manier verbind is, dat daar iets van dieselfde straf en seen in haar ma vir haar was. Soos ek skryf dink en ek nog daaroor. Daar is beslis niks godsdienstig in die gedigte in - geen sweempie van eendag-sien-ons-mekaar-weer-nie.

Maar nogtans voel dit vir my asof haar ma op 'n manier die vergestalting geword het van alles wat mooi en menslik en bo-menslik was uit haar kinderdae.

die vrou wat haar siek
leave gehou het
vir wanneer iemand 
anders in die huis siek raak


my ma is die spook wat langs die strand stap 
my ma is water 
sy was eers brood

Die res van haar herinneringe is goor en grys met 'n bitter smaak.

Herinneringe as gedigte plae my gewoonlik. Hoe eerliker dit is hoe meer koeëlbestand word dit. Die waarheid maak dit onkritiseerbaar, maar ook op 'n manier onaanraakbaar koud. Ek dink Ronelda Kamfer gebruik dit en van die gedigte is in so 'n veilig-jammer trant: vier daarvan begin met die woorde toe ek klein was...

Digters moet dig en fantaseer en mistieke goeters saam in die pot druk. Dis wat ek die meeste geniet.

Een van die bestes is die kinders se besoek aan haar ma se graf

Ethan en Seymour het die twee langste stokke opgetel 
en besluit om van graf tot graf te gaan 
en die demon vampires terug te slaan onder die grond 

toe ons by my ma se graf kom het Ethan vir Seymour 
aan die hand gevat en gesê this is ma she is frozen 
in the tombstone she is not a demon vampire

Die sublime en die ridiculous. Kamfer, die stil een wat wakker lewe, vertel hoe haar ma, 'n huishulp vir wit mense, gekla het oor die toestand van haar kamer

oor my kamer so vuil was 
jy kan ook net vuil maak en nie ’n fok 
skoonmaak nie 

ek dink daai was haar way om vir my te sê 
ek moet iets anders met my lewe doen

En het sy nie. Kamfer, geanker in emosie, is 'n indrukwekkende digter. Die eerste twee reels van die bundel is

ek het bloed op my hande 
van al die vredes wat ek bewaar 

Min woorde wat raakvat - wat 'n gawe!

om te rou is om te vervel 
en ek wil nog ’n rukkie 
in die dooie dop sit 

daar is baie sulke stukkies juwele oral, frases van insig en deurdringing.

om dronk te wees
was my denial en erkenning
om dronk te wees 
was my plastic gun teen die kop

of

die dood is die ding wat wegraak 
die ding wat jy van vergeet het 
en eendag skielik onthou

As ek een gedig sou kies wat my diep geroer het is dit hierdie een

Nag II 

ek droom net van my ma 
wanneer ek happy is 
in my droom kom sy altyd 
terug van iewers af 
terug van dood wees 
ek vertel haar dan van alles 
wat gebeur het terwyl sy dood was 
hoe ek haar kis uitgekies het 
hoe my ouma nou 
kwaad is vir my en hoe haar klere nog 
in haar kas hang 
dan skud sy net haar kop 
en drink haar tee 
en sê 
dis okay 
my kind 
ek is nou by die huis

Donderdag, Desember 17, 2015

Siener in die Suburbs

My een en enigste oomblik as akteur was in 'n skoolproduksie van Die Nag van Legio. Ek het Dogoman gespeel - die demoon wat moordenaars van malmense maak - en self die drama gekies omdat dit myns insiens die beste van alle dramas was. Shakespeare gaan slaap.

Teen die tyd dat ons klaar was was ek bitterlik ontnugter. Nie so maklik om die Duiwel te wees nie. Te veel druk. Die "heiligheid van die gehoor" was 'n beter opsie, en Siener in die Suburbs was eintlik die beste, natuurlik. :-)

Ek het Siener onlangs weer op die radio gehoor, na baie baie jare. Aan die begin het ek geluister hoofsaaklik uit nuuskierig vir hoe die 50-jaar oue Afrikaanse zef nou sou voel (ek's mos 'n tang broer).

Maar my skanse het vinnig gesak. Siener is 'n drama in die beste tradisie van die garage-band met vier instrumente en 'n goeie song.

Baskitaar, dromme, kitaar en Buddy Holly = Not Fade Away.

So het dit nood, wreedheid, drome, lot en 'n goeie storie - wat meer het 'n mens nodig?

Die idee is dat almal in die klein armblanke huisie glo in Tjokkie se vermoeë om "te sien".  Soos Siener van Rensburg kom episodes van kriptiese visioenere insig oor Tjokkie, waarin hy "sien" en "praat in tale".

Die groep arm mense saam met hom suig elke woord op en analiseer dit vir die moontlike munt wat daaruit geslaan kan word.

Sy skoonpa Giel is 'n kompulsiewe dobbelaar en gebruik Tjokkie om die perde te speel. Hierdie selfde Giel het (per implikasie) verhoudings met beide Tjokkie se ma en suster in dieselfde huis.

Jakes (Marius Weyers se groot rol) het Tjokkie se suster Tiemie swanger maar soek sekerheid oor of hy werklik die pa van haar kind is.

Sterk, eenvoudige karakters wat goed kontrasteer en aanvul.

Die storie speel af rondom so 'n "sien" episode. Daaruit kry Giel 'n voorspelling vir 'n perd waarop hy kan wen en Jake 'n voorspelling dat Tiemie se ongebore baba NIE SYNE IS NIE.

En daarna 'n klimaks wanneer almal om die radio wag om te hoor of Giel (wat al sy geld gewed het op Tjokkie se voorspelling) se perd gaan wen. Wat ook al die uitkoms, iemand gaan baie seerkry.

Wanneer Giel sy fortuin wen neem Jakes dit as bevestiging van Tiemie se ontrouheid en gaan op 'n bloedaardige wraakspul. Die een man se droom, die ander man se nagmerrie.

Die ironie is dat, ten spyte van al die sienery, Jakes blind bly vir die feit is dat dit sy eie tjommie - goeie Oom Giel wat hier langs hom staan - wat Tiemie onder sy oë molesteer het.

Terwyl hy die arme meisie vermink en vermoor om uit te vind wie die regte pa is, kry oom Giel sy tassie, lig sy hoed, en sluip by die huis uit om sy groot wengeld te gaan haal.

Not fade away.

Woensdag, November 18, 2015

Radioteater

Radio het geboorte aan my verbeelding gegee. As kind, voor boeke, flieks, televisie en musiek het ek radio geluister. Elke aand het ons die "twintig oor sewe" storie saam geluister, maar vir my was die hoogtepunt die een aand 'n week van Radioteater direk na die vervolgverhaal - 'n laaaaaaang storie, 'n "storie in jou mond" - soos my seuntjie gevra het toe hy klein was.

Na al die jare onthou ek nogsteeds die enorme impak wat Pendoring Edms Bpk, Germanicus, die rebellie van lafras verwey en Periandros van Korinthe op my gemaak het.

Winde het gewaai en alles het verander, maar Radioteater bestaan nogsteeds.

In hierdie week van paniek oor Afrikaans en Stellenbosch en al daai dinge, herinner ek myself dat ons dit moet ondersteun wat reeds bestaan. Veral as dit gratis is, soos Radioteater. Wie weet vir hoe lank dit daar sal wees?

Radioteater is deesdae as potgooie beskikbaar ( op die oomblik hier ) en kan maklik vanaf 'n selfoon geluister word, in die motor of terwyl ek stap. Ek wil almal aanmoedig om dit te doen, veral mense wat nie sommer in harde teater kom nie.

Mense van my geslag wonder seker of die medium nog die vermoeë het om te betower, soos in daardie jare toe daar niks anders was nie. Jonger mense sal nie eers weet waarvan ek praat nie.

Die formaat is basies 60 of 90 min lange Afrikaanse dramas - dikwels verwerkings van dramas, boeke en kortverhale, maar baie keer oorspronklike werk ook. 'n Paar stemkunstenaars, byklanke en dialoog wat so bietjie gedraai word om te help - Wie loop daar!

[ As 'n jong man het Orson Welles die "To be or not to be" toespraak uit Hamlet gesny vir sy radio produksie. Irrelevant tot die storie, het hy gesê. :) ] 

In die ou dae was "hoorbeelde" 'n groot ding - die ou manne het daarvoor geskryf omdat so vry was: jy kon van een oomblik spring van antieke Rome na Egipte, van die verlede na die toekoms.

Ek onthou nog die begin van NP van Wyk Louw se Dias: jy hoor die see, 'n boot en 'n man wat sê:

Hoe gly ons mas se punt met die sterre langs...

En vandag?

Ek is nogal verbaas oor die nuwe materiaal - 'n goeie halfdosyn van die werke waarna ek onlangs geluister het handel oor verkragting of kindermolestering. Soms, soos in Martie Swanepoel se Sonate, in grafiese detail. Maar dan, op die oomblik wys Dis ek, Anna in flieks en dis 'n reuse sukses.

Daar is nog gereeld verwerkings van "klassieke tekste". Ek het veral gehou van die dramatiserings van Andre Brink se Lobola vir die Lewe en Bartho Smit se Putsonderwater. [ Gister se verbanne materiaal is vandag se klassieke tekste ].

Daar is ook verwerkings uit internasionale letterkunde, vertaal in Afrikaans: Ibsen se Die vrou uit die see, Calvino se Baron op die Bome en Riana Scheepers se verwerking van die Sherezade legende: 'n Lang lang nag.

Ek is 'n dagdromer, en vir my is dit nogsteeds 'n plesier om na te luister. Ek doen dit nie, soos in my kinderdae, in die aand om die tafel nie, maar wanneer ek stap of in die motor. Ek kan sien hoedat vreemdelinge rondom my my verstom aankyk wanneer ek skielik hardop in die straat saamleef met dit waarna ek luister... ( screw them )

Verlede week was daar 'n langer-as-gewoonlike produksie: Van die Vlees, geskryf deur Karien Polley. Dit is 'n mengsel van drama & horror & heksery in die ou Hollandse Kaap. Dit was een van die bestes wat ek nog na geluister het - 'n bitter pil, nie vir die met 'n swak gestel nie.

Lang storie kort: gaan luister en ondersteun ons Afrikaanse kunstenaars. Dit kos niks.

Al wat doodgaan wanneer 'n taal sterf is die betekenis wat mense daarin wou skep.

Christoff Blaauw se spookstorie: Nagrit na Keetmanshoop

Donderdag, November 12, 2015

Die Blou van Onthou

Laat ek dit regkry: Colette word gebore rondom die 1930s, haar dogter is Nandi en die se dogter is Tina. Tussen die drie vrouens strek hulle storie tot vandag.

Ek het dit verskriklik geniet.

Dis regtig net hulle drie. Die mans wat in die boek verskyn praat omtrent tien sinne in totaal - lovers of te not.

Die politiek-van-die-dag, hetsy die Afrikaner optrek van 1938, 1961 se Republiek of 1994 se Nuwe Suid-Afrika, word alles genoem, maar as deel van die tapyt waaroor hierdie karakters loop.

'n Groot deel van die boek het 'n verbasende fatalistiese gevoel.

Colette van binne, gevolg deur Colette van buite (wanneer haar dogter die verteller word), gevolg deur Colette - poof! weg.

Dieselfde met Nandi, die probleemdogter (sonder onderdom, en uiteindelik, wanneer sy op sterwe is, sonder geslag) wat haar baba (Tina) weggee vir aanneming. Wat van haar word is die groot raaisel, wat Marita van der Vyfer slim wegsteek.

Die hele boek het net een liefdesoomblik, 'n dirty-month-in-Portugal wat eindig in 'n liefdesbrief waaraan die skrywer seker vir 'n maand lank geskaaf het.

Dan uiteindelik, nadat die lewe al sy vermorsing uitgewoed het, na al die in-die-pad mans afgesterf is, verander die toon in 'n liriese borreling van afwagting vir die geluk wat vir Colette, as Ouma, bestem is.

Dis alles baie lig, lig-swaar en lig-fantasie - maar wat kan ek sê - dis baie lekker, soos om met toe oë in 'n warmwater bad te lê en net die gevoel te geniet.

My gunsteling oomblik is wanneer Colette "deur die poskaart stap" - wanneer sy op die boot klim wat haar na Engeland neem, vir die eerste keer buite Suid-Afrika, weg van haar ouers.

Donderdag, Oktober 15, 2015

Abraham

To think how eager we are in building our houses,
To think others shall be just as eager, and we quite indifferent.
--Walt Whitman

Na 'n lang afwesigheid is Jans Rautenbach uiteindelik terug in teaters met 'n nuwe fliek: Abraham.

Dit neem die vorm van 'n eerste-persoon herroeping van 'n insident in die vroeë 1980s. ( Hannes Muller speel Jans Rautenbach en Franci Swanepoel sy vrou Almeri.)

Almeri bedryf 'n plaas in die Klein Karoo aan die voet van die Swartberge, saam met hul vier kinders, in die Vlakteplaas gemeenskap. Haar man Jans - bekende filmmaker - is gebaseer in Johannesburg en kom en gaan met lang afwesighede.

Dis 'n plaas maar ook 'n ontvlugting, 'n asemskep, 'n tweede lewe, 'n oase waar Jans 'n kunsversameling opbou, oor baie jare bymekaargemaak uit die uithoeke van Suid-Afrika.

Op hierdie plaas word 'n plaaswerker in diens geneem met die naam Abraham Soetland. Abraham ( vertolk deur DJ Mouton ) word meegevoer deur die kuns wat hy sien en instinktief begin hy self skep met net wat hy het: hande, sement en draad.

Die plaas se naam is Oulap - na aanleiding van 'n oulap se rooi maak mooi - dit kos min geld om mooi te maak. Ongeletterde, armsalige Abraham is die oulap-se-rooi: verbete om die wereld met sy sente mooier agter te laat as wat hy dit gevind het.

Maar die kunskoors het tragiese gevolge - soos in die legende van die meisie wat rooi skoene vind wat haar in 'n ballerina verander, maar dan ontdek dat sy nie kan ophou dans nie.

Abraham dra die verwagting van 'n belydenis, 'n regstelling, maar wat dit bely is onverwags en baie braaf en persoonlik.

Dit speel af in die apartheidsera in een van die ongelykste armste plattelandse gemeenskappe, vrot van die uitbuiting. Abraham wys inderwaarheid hierdie ryk en arm, maar die ontmoetingspunt tussen hulle is vals. Die "Baas" en "Mies" van die apartheidsera word nou "Oubie" en "Mevrou" genoem.

As politieke fliek is dit dieselfde balans-daad van Jans se ou flieks - iets van die goed en sleg van alle kante. Net soos dit staan is dit natuurlike strate verby die Never-Neverland van gewone Afrikaanse flieks, maar Abraham is nogsteeds nie die fliek wat die politieke verlede vierkantig in die oë kyk nie.

Maar dit wys iets anders, diepers en persoonlik. Iets wat deur al die lae van sensuur en selfsensuur sonder enige verandering op die doek is. En dit is: dat skepping selfsugtig is, 'n wrede daad van uitsluiting, ontkenning en verwoesting.

En die draer van hierdie selfsug is nie net Jans nie, maar ook Abraham.

Abraham is 'n slagoffer maar ook 'n toedienner. Hy verwaarloos sy familie sonder enige skroom, jaag die Welsynsbeampte weg uit sy huis en in een van die definieerende oomblikke van die fliek ignoreer hy die terugroep van sy dogtertjie. Selfs die dood dra selfsug.

In alles hiervan herken Jans elemente van homself - en dit is die ware belydenis van die fliek . 'n Mens kan nie alles wees nie.

En die verlossing?

Hier is nog 'n storie.

Op Oudshoorn is daar 'n Kunstefees. Van heinde en verre kom kunstenaars en feesgangers. Op Oudshoorn self woon 'n paar mense wat, soos Abraham, ook 'n plek aan die tafel wou hê. Hulle het hulleself die Kambro Diggers genoem, en keer op keer voor leë sale gespeel. [ Ek het een van hul vertonings gesien en was verstom, soveel rou talent wat in die wind weggewaai het ].

Uiteindelik het Almeri hulle hoor sing in die eetsaal van die Holiday Inn en vir Jans gesê "Eendag moet jy hierdie mense in 'n fliek gebruik".

Die sewe Kambro Diggers het almal rolle in Abraham, almal vir die eerste keer in hul lewe, gelei deur die formidabele Chantel Phillipus ( wat Abraham se vrou Katie speel ). Sy is sekerlik so talentvol 'n aktrise as wat Suid-Afrika nog opgelewer het.

Dit is Chantel wat die klimaks van hierdie fliek dra - die inploffing van drome.

Dit is die Kambro Diggers wat al die musiek op die klankbaan sing - geskryf deur Riku Latti.

In hul sewe geeste leef die spook van Abraham, Katie, die verlore kind en al die stom siele.