Wys tans plasings met die etiket opera. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket opera. Wys alle plasings

Vrydag, Desember 09, 2016

Lady Macbeth of Mtsensk

Ek het onlangs Nikolai Leskov se stories gelees. Die 19de eeuse Russiese skrywers is bekend vir hul super-swaar emosionele realisme.

En dan was daar Leskov - die teenoorgestelde. Hoeveel so?

Wel, sy langste storie - The Enchanted Wanderer - bevat 'n monnik so heilig dat sondaars sterf wanneer hulle na hom kyk [die Here moet hom woestyn toe stuur omdat hy die volk uitroei ]; 'n boemelaar wat vodka bedel en die glas daarmee saam eet en 'n man wat alkolisme uit jou uit kan "magnetiseer". Die held is, soos Hector in die Iliad, 'n "temmer van perde", maar word deurgaans aangespreek as "my almost half esteemed and most greatly insignificant Ivan Severyanich"

Dit was ou Leskov: alles verbeelding. Die groot drome van klein mense.

Hy het 'n reeks stories geskryf wat klassieke Russiese sprokies geword het. Baie daarvan is verfilm, beide in die Sowjet era en vandag.

Een van my gunstelinge is die storie Lefty - 'n ongeletterde, half-blinde vakman van Tula (Lefty) wat deur die Tsar gevra word om Koningin Victoria se wetenskaplikes op hul plek te sit deur met iets grootser voorendag te kom as die Britte se mikroskopiese opwen staalvlooi.


'n Monument ter era van Leskov se storie
Lefty and the steel flea
Maar sy beroemdste storie is Lady Macbeth of Mtsensk.  Dit het legendaries geword omdat dit so vreesloos pervers was vir die era.

Goethe het volgens oorlewering gekla - "terwyl hulle nog my boek lees wil hulle al die teaterstuk sien". Lady Macbeth of Mtsensk was een van daardie: die storie het onmiddelik 'n lewe van sy eie aangeneem en is honderde kere verwerk, onder meer in Shostakovich se opera en Andrzej Wajda se fliek en baie ander (daar is hierdie jaar - 2016 - 'n nuwe Kanadese fliek daarvan uitgereik).

Dit gaan oor 'n gewone goeie huisvrou wat na vyf jaar in haar huwelik skielik uithak, 'n minnaar neem en sonder om te blik of te bloos met almal wat in haar pad staan wegdoen.

In een van die beste oomblikke in die hele Russiese letterkunde kom haar man terug van sy reise om haar te konfronteer oor die stories wat hy hoor oor haar ontrouheid. Met sweep in die hand dreig hy om die waarheid uit haar uit te slaan, maar tot sy verstomming is sy totaal vreesloos en draai die tafels op hom: dis hy wat op die mat eindig, nie sy nie.

Leskov se kuns was om beskaafde norme by die venster uit te gooi en te sien wat gebeur.

'n 2006 produksie van
Shostakovich se opera weergawe.
Maak nie saak watter sieklike goed Katerina Ismailova, die heldin, aanvang nie (in een toneel raas sy met 'n seuntjie om stil te word voordat sy hom versmoor ), mens kan nie help om aan haar kant te bly nie.

Sy doen net wat in haar hart is, sy is klaar vir altyd om haarself vir ander af te sloof, al is dit duidelik dat sy haarself vernietig - damn the torpedos.  99 myl per uur af in 'n doodloopstraat.

Leskov se storie het die eerste keer in Dostoyevsky se letterkundige tydskrif verskyn in 1965, min of meer dieselfde tyd as die reusagtige Crime and Punishment. Sy storie is omtrent 1/10de die lengte van Dostoyevsky s'n, maar dit het dieselfde tema: wat is krimineel en wat is gewete?

Maar Katerina Ismailova gaan nog verder as Raskolnikov - lank nadat daar niks meer is vir haar om te beskerm of te baat nie bly sy vasgeketting aan haar hart, tot die bitter einde. 

Vrydag, Maart 21, 2014

Jenůfa

Die Tjeggiese komponis Leos Janacek het laat in sy lewe een van die mooiste en grootste operas in die wereld geskryf: Jenůfa.

Dit is brutaal en terselfdertyd diep menslik, ongetwyfeld een van die beste dramas in die hele repertoire.

Die drie bedrywe van die opera is in drie seisoene - herfs, winter en lente - en bestaan uit geronde mense, elkeen met goed en kwaad.

Dit gaan oor 'n meisie Jenufa wat verlief is op 'n playboy (Steva) - en reeds swanger met sy baba.

In die eerste bedryf daag hy dronk saam met sy makkers op en maak 'n bespotting van haar pleidooie - maar sy bly lojaal aan hom ten spyt.

Jenufa se ma, Kostelnika, jaag vir Steva weg en verbied hulle huwelik vir een jaar - waarin hy moet bewys dat hy sober kan bly.

Dit is slegte nuus vir haar dogter; Steva het geen erns om so 'n onderneming te maak nie, en hy neem koue afskeid van die angstige Jenufa.

Hierdie hele toneel word met veragting bekyk deur Laca - dis 'n ou wat heimlik verlief is op Jenufa en nie kan glo dat sy haarself gooi aan die voete van sulke skuim nie.

Die opera begin met Laca wat 'n stomp mes inhandig om geslyp te word. Alles gebeur met die klank van die slypsteen daar ver en nou het Laca sy mes weer in sy hand.

In 'n oomblik alleen met Jenufa probeer hy haar uitlok om te erken dat Steva haar gaan dump. Hulle stry, sy klap na hom en in die loop van hulle onderonsie swaai hy sy mes en sny 'n lelike wond deur haar wang.

Was dit opsetlik? Hy sê natuurlik dadelik so en vra tot in onteinde omverskoning - en hy bedoel dit.

Maar was dit? In sy hart weet Laca dat iemand so vol van homself soos Steva nooit 'n bruid met 'n fisiese gebrek sal neem nie. Het hy haar met opset geskend? Wou hy haar doodmaak?

Die sny deur haar gesig dra Jenufa tot die einde.

En soos Laca voorspel het is dit die einde van haar en Steva.

Selfs wanneer haar ma hom konfronteer met die feit dat haar dogter geboorte aan sy kind gegee het, bied Steva aan om die kind in die geheim te onderhou - maar hy is klaar met Jenufa (en haar verkrampte ma) en reeds verloof aan 'n nuwe meisie.

Einde van Steva.

Intussen voel Laca nog sleg oor die wond wat hy Jenufa aangedoen het en bied aan om met haar te trou. Maar hy kry koue voete wanneer hy hoor van haar baba - en dat dit die afstootlike Steva se kind is wat hy moet grootmaak.

In 'n oomblik van desperasie sê die arme Kostelnika, Jenufa se ma, vir hom dat die kind sopas gesterf het (wat besiel haar!).

Ironies genoeg vind Laca hoop en 'n roeping in hierdie nuus: hy kan homself redeem deur Jenufa te help deur die dood van haar kind.

Die twee van hulle bring die nuus van die kind se dood aan die geskokte Jenufa - wat daar niks van weet nie. Heeltemal verbyster en gedisorienteer, aanvaar sy Laca se huweliksaanbod en sy onderskraging.

Maar die kind lewe nog.

In een van die mees ongelooflike tonele in die opera besluit Kostelnika om dit deur te sien - en sy verdrink die baba in 'n oomblik van paniek sodat haar dogter en Laca kan trou.

Maar, soos in een van Euripides se Griekse tragedies, word die lyk van die kind ontdek en alles ontrafel totaal.

Die opera eindig met 'n eenvoudige oomblik tussen Laca en Jenufa (nogsteeds met die geskende gesig), alleen, waar sy hom bedank vir alles wat hy vir haar gedoen het en hom dan wegstuur - sy gaan nie saam met hom lewe nie.

Liefde, moeite, en dank - maar geen vergifnis.

Donderdag, Mei 23, 2013

Der Fliegende Holländer

Dis 200 jaar sedert Wagner se geboorte hierdie week. Dit was a long time ago in a galaxy far far away - die naaste konneksie aan Wagner in ons tyd en plek is Der Fliegende Hollander.

Dit was Wagner se 4de opera, maar hy het in later jare die 3 operas voor hierdie een onteien, en sy slaafse volgelinge het sy voorbeeld gevolg. So vir alle praktiese doeleindes is dit sy eerste in die moderne repertoire.

Die legende van die Vlieende Hollander is welbekend - dit kom van die "Kaap van Storms" af, ons eie Kaapstad - waar die bedonderde Hollander God gevloek en daarna nooit kon ophou vaar om die wereld nie.

Later is 'n legende bygelas van 'n meisie se liefde wat die Hollander van sy pyn kan red deur haar lot saam met hom in te gooi.

Om so iets moontlik te maak moet die Hollander - van der Decken - een maal 'n jaar die kans kry om vir een nag aan land te gaan en iemand te vind wat vrywillig, gewillig is om saam met hom op die skip te klim.

Maar wat is die kanse?

Meer nog - wat is die kanse dat in die klein Noorweegse dorpie waar hy hierdie jaar land, daar 'n meisie woon wat van kindsbeen al droom & nagmerries het oor 'n donker skip en 'n wrede man daarop - destiny or what!

Daar is een toneel in Der Fliegende Hollander waar 'n dronk groep matrose begin dans op die kaai en dan skielik, deur die mis, die reuse spookskip sien en die spoke hoor terugsing van hulle skip af. Die verskrikte matrose begin in ritme saam in 'n sirkel spring om hierdie spookgeluid uit te dreun met hul eie lied en voete.

Steuermann! Laß die Wacht!, noem hulle hierdie dans-macabre.

Ek het Hollander as kind gesien (in die dae toe koshuiskinders 'n gratis kaartjie en 'n aand uit kon kry).

Dit was nie my eerste opera nie, maar dit was hierdie oomblik waar ek vir die eerste keer opera verstaan het - die droom van die gesamskunstwerk: Hoe alles kan saamwerk om iets groter te skep: die drama, die musiek, die beligting, die mis, die dans, die woorde, die donkerte, die onderdrukking en uitbarsting  - en waarom so 'n kunsvorm bestaan in eie reg.

Happy Birthday Mr Wagner, in watter plek jou siel ook al ge-eindig het.

Vrydag, Julie 15, 2005

Tristan en Isolde

Richard Wagner is 'n aangeleerde smaak - heavy en pynlik - maar alleen as dramaturg een van die bestes ooit, om nie eers van sy musiek te praat nie. Wagner het die fokus en die inspirasie gehad om die mees komplekse verhale na sy eenvoudige 3-act formaat te grind.

Tristan is die perfekte uiting van sy lewensobsessies met dood en seks - Tristan wat staar na die see aan die einde, opsoek na die boot wat Isolde moet bring, en dan sê

"Om te lewe is om te smag en te sterf".


Wagner het in essensie vier uur lange seks geskryf wat kulmineer in die one-and-only werklike musiekale orgasme: die beroemde Liebestod.

Sy vriend en later vyand Nietzsche, het in sy laaste werk, Ecce Homo, geskryf

"But to this day I am still looking for a work to equal Tristan in dangerous fascination, that gruesome yet sweet quality of infinity; I seek among all the arts in vain. All the strangenesses of Leonardo da Vinci lose their charm with the first note of Tristan."

***

Dis die oorlog tussen Ierland en Engeland, Tristan se epiese geveg met Morold, Isolde se verloofde. Die twee mans vermoor mekaar, Morold sterf en Tristan gee homself aan die noodlot oor: erg gewond en bloeiend, val hy oor die kaai in 'n bootjie, laat homself ter see en pass uit.

Sy bootjie dryf op die water en spoel uit teen die kus van Ierland waar Isolde, die groot geneser, hom verpleeg totdat sy opmerk dat sy swaard 'n splinter mis, dieselfde splinter wat sy uit haar geliefde sy lyk getrek het. Sy besluit om hom te vermoor, maar wanneer sy met 'n mes oor Tristan staan, gaan sy oë oop en die oomblik tussen hulle verander alles.

In die volgende dae groeie 'n stille liefde tussen hulle - beide stel hulself met false name voor; nie een van die twee gee enige erkenning aan hul gevoel van liefde nie.

Tristan keer terug na Engeland, waar sy oom - Koning Mark - aankondig dat die oorlog verby is en vrede gevier sal word deur sy troue aan ...... die Lady Isolde van Ierland ... en Tristan moet haar vir hom gaan haal.

Eers wanneer Tristan en Isolde mekaar die tweede keer sien besef elkeen wie die ander een in werklikheid is, maar hierdie keer (nog erger) stel hulle hulself aan mekaar voor asof hulle vreemdelinge is, en praat nooit oor hul eerste ontmoeting nie.

Op die boot terug na Engeland, oppad na haar huwelik met Koning Mark, besluit Isolde, in uiterstes van self-haat en woede - om beide haarself en Tristan se lewe te neem. Sy vra haar diensmeisie om vir hul gif aan te maak, nooi Tristan na haar cabin om die vrede te vier deur 'n glasie te klink.

En dan .... nadat hulle sluk, word die twee verslae verlief, die diensmeisie het vir hulle liefdesap, eerder as gif gegee.

Isolde trou met Koning Mark, maar sy het 'n torrid affair met Tristan elke nag onder die oop sterre ... die Liebesnachte ... totdat hulle verraai word en Tristan vir sy lewe moet vlug.

Maar Tristan, alleen op 'n eiland, kwyn, die wonde in sy liggaam begin weer pols, dieselfde wonde van Morold breek oop en bloei weer, sonder Isolde se versorging weet Tristan dat hy sal sterf. Hy skryf brief na brief aan Isolde en smeek haar om te kom, hy staar oor die see vir dae aaneen.

En dan kom sy uiteindelik, en kort op haar hakke Koning Mark se soldate.

Die laaste ontmoeting tussen die twee is te laat om sy lewe te red, maar dit herenig hulle vir een oomblik, Tristan sterf aan sy wonde en dan Isolde "van binne", terwyl sy die Liebestod sing.

Woensdag, Mei 11, 2005

Der Ring des Nibelungen

Richard Wagner het twintig jaar lank aan 'n dramatisering van die Duitse saga "Die Nibelungenlied" gewerk.

Eers die libretto, wat hy "Gotterdammerung" (Godeskemering) genoem het. Met die voltooing van die teks het hy besluit dat Gotterdammerung 'n inleidende werk nodig het, en begin werk aan "Siegfried", wat vinnig 'n volle lengte opera geword het. Al wat gekort het, het hy gevoel, is 'n inleiding vir "Siegfried", en so is die "Walkure" gebore, en uiteindelik "Das Rheingold" (die inleiding van die Walkure).

Die hele teks saam was uiteindelik "drie operas met 'n vooraand" wat hy "Der Ring des Nibelungen" genoem het. Wagner het die libretto in agterstevoor volgorde geskryf en toe aan die musiek begin werk. In die middel van "Siegfried" het hy eers 'n breek gevat en musiekwereld vir altyd verander met "Tristan und Isolde" en "Die Meistersinger von Nurnberg". Daarna is die Ring voltooi, die artistieke taak van 'n leeftyd.

Das Rheingold, Die Walkure, Siegfried en Gotterdammerung.

Die Ring was altyd veronderstel om 'n groot storie te wees: Koning Ludwig van Bavaria het 'n spesiale teater daarvoor laat bou - die Festspielhaus in die dorpie Bayreuth, waar die volle Ring vir die eerste keer in 1876 op die planke was. Dis geweldig lank: tipese opvoerings is gemiddeld 14-16 uur, oor vier dae. By Bayreuth word elke bedryf [al die Wagner operas het 3 bedrywe] met 'n een uur pouse onderbreek waartydens die gehoor vir 'n stap in die woud of vir ete kan gaan.

Die oorkoepelende storie gaan oor die val van die wereld van Gode (vandaar Godeskemering) en die koms van 'n nuwe era (van mense).

Die hele calamity word veroorsaak deur die tarting van 'n lelike dwergie deur drie meerminne in die Rynrivier. Hulle spot en por hom aan om die goud uit die bodem van die rivier te probeer steel (Das Rheingold) maar skrik hulle dood wanneer hy dit uiteindelik regkry. Die Goud se vloek is dat die draer altyd ongelukkig sal wees, maar die dwergie sien elkgeval geen kans vir geluk vir homself nie.

Van daardie oomblik begin die Rynrivier se watervlak styg, 'n proses wat net kan eindig met die terugkeer van die Goud.

Maar die Gode steel die Goud by die klein dwergie om twee reuse te betaal vir die bou van hul groot kasteel - Valhalla.

Een reus vermoor die ander en verander in 'n draak wat vir die res van sy lewe net sy Goud bewaar.

Uiteindelik word die baba Siegfried gebore uit 'n bitter, gedoemde, broer/suster passie (Siegmund/Sieglinde). Sieglinde word deur Brunnhilde, 'n Walkure (meisie op 'n vlieënde perd wat dooie helde na Valhalla neem) beskerm totdat sy geboorte aan die baba kan gee, maar as straf word sy in 'n sirkel van vuur vasgevang.

Die baba Siegfried word op sy beurt ontdek en grootgemaak deur die oorspronklike dwergie Mime, die een wat die Ryngoud gesteel het. Hy sien in Siegfried die kans om sy Goud terug te kry. Siegfried maak inderdaad die draak dood, maar wanneer die dooie dier se bloed op sy lippe kom bereik hy skielik 'n dieper insig, die woudvoëls se fluite word stemme wat hom waarsku dat Mime hom wil vergiftig. Hy vermoor sy aangenome pa, en bevry Brunnhilde uit haar vuurtoring, ten spyte van die Gode se beste poging om te keer.

Nou het ons die "Siegfried idyll" - die kort oomblik van geluk en liefde tussen Siegfried en Brunnhilde.

Maar Siegfried is rusteloos, moet reis en word uiteindelik ge-trick om Brunnhilde te verraai: onder die invloed van towerdrank ontvoer hy haar as bruid vir 'n local koning (hy herken haar nie meer nie).

En dan, voor 'n groep jagters, vertel Siegfried sy lewensverhaal. Wanneer hy vertel hoedat hy die draak vermoor het, bied Hagen (die bad-guy wat hom ge-drug het) vir hom 'n drankie aan. Dit bring sy geheue weer terug - hy onthou die woudvoëls, hoedat hy Brunnhilde gered het, die Siegfried idyll - maar voordat hy ten volle begryp wat aangaan, skreeu Hagen "VERRAAD!" en steek Siegfried dood.

Die hele ding eindig met die uitbranding van Siegfried se liggaam deur die Brunnhilde en die hele gemeenskap, terwyl die Rynrivier, ongesiens, sy walle begin oorstroom en 'n vloed begin wat die hele beskawing vernietig.

Vrydag, Januarie 07, 2005

Thaïs

Daar is 'n bekende konsertstukkie met harp & viool, van so 10min, wat baie keer op ligte klassieke musiek CD's voorkom. Dit word genoem die "Thaïs meditasie", uit die opera van Massenet. Hier's waaroor dit gaan:

Jare terug, in die 4de eeu AD, in Egipte, was daar 'n monnik wat besluit het dat hy (met die hulp van God) die wereld se voorste courtesan sal konfronteer en bekeer van haar sondes. Haar naam was Thaïs en syne Athanaël. Hy verlaat sy klooster en na 'n lang geteister slaag uiteindelik in sy doel: hy bekeer haar.

Na haar bekering besluit hy dat sy nooit weer veilig in die stad kan wees nie, die enigste manier om haar vir altyd te red is om haar na 'n nonnery te neem, ver in die woestyn. So lei hy haar op 'n reis na die klooster - die ergste moontlike orde vir vroue - waarna sy nooit in haar lewe weer 'n man sal sien nie.

By die hek van die klooster vra hy vir haar "Is jy gereed?".

Sy sê "Ek is gereed", en stap in.

En dan, wanneer die deure vir altyd agter haar toemaak, besef hy vir die eerste keer dat hy haar liefhet.