Wys tans plasings met die etiket filosofie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket filosofie. Wys alle plasings

Donderdag, Oktober 05, 2017

Die blindheid van Sokrates

Die standaard storie is soos volg:

Chaerophon het vir die orakel van Delphi gevra of daar iemand op aarde met meer wysheid as Sokrates is - die orakel sê nee - Sokrates hoor die nuus en is verstom (want hy weet hoe min hy weet) - maar hy besef in tyd dat die orakel reg was - keer na keer, wanneer hy krap aan die oortuigings van ander mense, val hul stories uitmekaar.

Hierdie gekrappery is gedagte-eksperimente, die "Sokratiese metode".

Sokrates vra: wat is "kennis" of "liefde" of "regverdigheid" of wat ook al. Wanneer jy antwoord zoom hy in op voorbeelde wat jou definisie weerspreek en vra verdere vrae wat jou forseer om die definisie te verander, of te kwalifiseer, totdat jy moed op gee.

Die Sokratiese metode was die "soeke na waarheid". Die idee was om mense deur hierdie irritasies bewus te maak van hul eie onopgeloste geloofstrukture.

Hierdie dialoeë van Sokrates is na sy dood deur Plato neergeskryf, dit is die hoeksteen van westerse filosofie. Vandag se dekonstruksie is Sokrates-na-die-maal - dieselfde gekrappery aan stom en stilstaande teikens - idees, ideologieë, kunswerke, letterkunde - om die interne kontradiksies daarvan uit te lig.

In Plato se boeke kom Sokrates as ongelooflik intuïtief voor - meer vir wat hy vermy as vir wat hy doen. Natuurwetenskap het nie bestaan nie, maar Sokrates besef duidelik (2500 jaar gelede) dat hy nie hierdie metode kan gebruik vir bv "wat is die son" nie, en hy val nooit in daardie slaggaat nie. Hy bly by vrae rondom etiek en metafisika.

Hy besef ook dat sy metode net werk wanneer jy jou slagoffer kan beskaam - maw hom kan kry om sy definisie terug te trek omdat hy nie met 'n onverwagte implikasie daarvan geassosieer wil wees nie. Jy kan hom nie oortuig nie - hy moet homself oortuig.

Tot vandag toe word die venster van politieke debatte deur hierdie Sokratiese tegniek bepaal - politici bly by standpunte waarvan al die implikasies duidelik en veilig vir hulself is.

Sokrates het geleef in, en was 'n celebrity in die stad van Athene. In 399BC het die mense van Athene hom ter dood veroordeel vir godslastering en korrupsie van die jeug.

Danksy Plato is sy gesprekke vasgevang vir altyd. Niemand kan sê waar Sokrates eindig en Plato begin nie, maar tussen die twee van hulle het hulle die boek geskryf.

Dis die standaard storie.

Die lewe en dood van Sokrates en sy "soeke na waarheid" bevat vir my een van die diepste ironieë oor kennis and all that jazz.

Hy is gebore in die wêreld se eerste funksionerende demokrasie (Athene) maar volgens alle aanduidings het hy dit verag.

Plato se langste boek - die Republiek - begin met "wat is regverdigheid" en brei dan uit na die staat en wie moet regeer - wat is die "natuurlike staat" van mense. Lang storie kort, dis basies fascisme, met 'n heersersklas wat Plato "Guardians" noem, 'n staat waarin geen families en geen kuns toegelaat word nie. Wie regeer? Nie die massas of diktators nie, maar die filosoof-koning.

Dis moeilik om te glo dat al hierdie dinkwerk hierby eindig (maar waar).

Die boek speel af tydens die Sparta-Athene oorlog, en Sokrates & sy groep ryk jong bewonderaars is beslis aan die Spartane se kant.

Sparta het Athene vir 'n paar maande verslaan, maar nadat demokrasie herstel is is Sokrates aangekla en verhoor. Nugter alleen weet hoe ernstig die burgers van Athene oor hierdie hofsaak was. Uit 'n groep van 500 toeskouers is hy met 'n klein meerderheid skuldig bevind en die kans gegun om sy eie straf te kies.

Met absolute verwaandheid het hy voorgestel dat die "stad se straf" sal wees om hom vir die res van sy lewe van maaltye te voorsien, vir dienste gedoen. Dit was hierdie minagting wat tot sy doodstraf gelei het.

En dan, ten spyte van dit alles is Sokrates geleentheid gegun om te ontsnap, maar hy het hardkoppig geweier en in 'n traak-my-nie-agtige fuck-em-if-they-can't-take-a-joke houding sy laaste dag spandeer, en sy beker gif gedrink.

Wat ek bedoel met die blindheid van Sokrates is dit: terwyl hy gedink en gedebatteer het, was die groot antwoord, die groot waarheid, reg voor sy oë al die tyd. Dit was reeds gevind, is deur niemand gedink nie, dit het anoniem ontstaan deur 'n massa mense, waarvan nie een slim of wys was nie - en deur baie jare.

Demokrasie.

Die verdraagsaamheid wat sy mede-burgers teenoor hom getoon het, lewenslank en tot met sy verhoor. Ten spyte van sy lae opinie van hulle.

Reg voor sy oë, maar onmoontlik om te erken - want baie jare moes nog vloei onder deur die brug. Ons sien net een raampie in die film van wysheid - die een waarin ons lewe.

Sondag, September 13, 2015

The Pervert's Guide to Ideology

Toe Slowenië in 2004 deel van die EU word het die media, opsoek na wat 'n mens 'n Sloweense celeb kan noem,  die filosoof Slavoj Žižek se kommentaar gevra: watter bydrae sal Slowenië aan die EU maak?

Sy antwoord was: Niks.

Dis tipies van hierdie ekletiese hardekop grootbek. In die afgelope twintig jaar het hy soveel opgang gemaak wereldwyd dat die BBC hom uiteindelik 'n hele fliek gegee het net vir sy teorieë oor land en sand.

Kan jy dit voorstel? 'n Ou beeragtige Marxis wat staar na die kamera en voortstrompel in sy gebroke "Arafat-Engels" vir twee ure lank terwyl hy die sluier lig oor alles op aarde.

Dit klink soos die ergste idee in die geskiedenis van swak idees, maar wat kan ek sê - dis die interessantste ding wat ek in jare gekyk het.

Die sleutel tot sy groot sukses deur die jare is te danke aan sy diep kennis, en omarming, van pop-kultuur en die gebruik van pop-kultuur om idees te illustreer. Al die voorbeelde in hierdie fliek is uittreksels uit ander flieks, en dit werk soos 'n bom. Žižek praat nie eers van letterkunde en boeke nie.

Hy het 'n broertjie dood aan wat hy noem "ideologie" - die aanvaarde opset wat bepaal wat jy moreoggend gaan doen wanneer jy opstaan, wat jou prioriteite is en wat reg en verkeerd is.


Heel aan die begin wys hy stukkies van die 80s horrorfliek They Live - waar 'n arm man 'n stel donkerbrille vind waardeur hy die wêreld heeltemal anders sien: al die advertensies rondom ons het sublieme, onderdrukkende betekenis en die aarde word regeer deur 'n ras aliens met kopbeen gesigte (die ryk mense).

Dit is die perfekte model vir wat hy probeer bereik.

Hy bespreek vir lank die konsep van die "Big Other" met voorbeelde van Lenin en Hitler wat wens dat hulle net rus en vrede kon hê en nie hoef straf en pyn uit te deel nie, maar hulle doen dit as hul plig teenoor die "Big Other" - die Duitse Volk of die Proletariaat.

Maar dan wys hy dele uit David Lean se fliek Brief Encounter waar die twee lovers opbreek om hulle diensvolle lewens aan hul onderskeie gades te hervat - nog 'n voorbeeld van die Big Other.

Die ironie is natuurlik dat ons die Big Other self skep om ons lewens te organiseer en sin te gee - ons het dit nodig, hetsy God of Allah of familie of prestasie of wat ook al.

So gaan hy aan en aan oor 'n massa onderwerpe. Žižek is gesous in psigo-analise en Lacan en meeste daarvan verstaan ek nie mooi nie.

Hy bespreek perversie en histeria en eindig op deur te sê dat Christendom meer ateisties is as ateisme, omdat dit die menslike histeria projekteer op God (die enigste Godsdiens wat dit doen): Wat is jou storie? Waarom is jy stil?

Fantasie: dit gaan nooit oor iets wat jy begeer nie, daar is net een fantasie:  dat jy begeer word.

Die probleem met die kommunistiese rewolusies van die 20ste eeu bespreek hy deur nog 'n horror fliek - Frankenheimer se Seconds. Daarin kry 'n man die kans om sy gesig en sy lewe te verander en die identiteit van 'n persoon aan te neem wat pas gesterf het - alles word gereël deur 'n sketchy, geheime maatskappy.

Maar na 'n ruk verlang hy na sy ou self - en hy wil deur 'n operasie terugverander na sy ou identiteit. Oppad na die operasiesaal vir hierdie prosedure besef hy (te laat) dat hy in werklikheid gaan sterf om pad te maak vir die volgende persoon wat sy identiteit wil verander.

Soos met hierdie man is die probleem met rewolusies: jy kan nie ' n nuwe lewe aanneem as jy nie jou drome agterlaat nie. Ou drome sal uit die dieptes opstyg en alles vernietig, maak nie saak wat die rewolusie (die voorneme) was nie.

Maar hoe verander ons ons drome - en hierdie was vir my die beste oomblik - waarom is dit dat die mensdom elke jaar nuwe flieks uitbring waarin armageddon, ons vernietiging, uitgebeeld word. Daar is duisende sulke zombie, dystopiese stories.

Maar die mensdom is nie instaat om 'n beter wêreld as die een waarin ons leef te verbeeld nie?

Nou ja, sit dit alles in jou pyp en rook dit.

Žižek is lief daarvoor om die storie te vertel van die Rabbi wat 'n storie vir 'n kind vertel, waarna die seuntjie vra: ja, maar het dit regtig gebeur? Is dit waar?

Waarop die ou Rabbi antwoord: dit het nie regtig gebeur nie, maar dit is waar.


Dinsdag, Junie 30, 2015

Die Krimpvark en die Jakkals

Die ou Griekse digter Archilochus het 'n gesegde gehad: die jakkals het baie dinge gesien, maar die krimpvarkie weet een groot ding.

Baie eeue later het die Isaiah Berlin 'n opstel geskryf met die naam The Hedgehog and the Fox.

Dit was oor baie dinge, maar uiteindelik 'n studie van die groot skrywer (is daar 'n groter een?) - Leo Tolstoy.

Ek self het al vele kere op my blog oor Tolstoy geskryf (War & Peace, Hadji Murat, Wat is Kuns? ens). Beroemd, briljant, aanbid, suksesvol verby enige iemand se drome - maar wat het dit hom gebaat?

Hy het 'n self-hater geword - eers alles oor homself verwerp, insluitende sy boeke - en daarna feitlik die hele Westerse Canon van letterkunde, Shakespeare inkluis.

Berlin het hierdie kontradiksie probeer verklaar.

Om die kloutjie by die oor te kry het hy begin deur te sê dat daar is twee soort skrywers, denkers, en mense in die algemeen is

1. Mense wat op 'n stadium van hulle lewe een groot gedagte inneem, daaraan vasklou, en alles deur daardie lens bekyk. [Die krimpvarkie]. Vir hierdie mense is hulle een groot insig 'n bron van antwoorde, vervulling en 'n beskerming teen die kompleksiteit van alles daar buite.

2. Mense wat rondsnuffel aan elke nuwe ding, plesier in alles put maar aanhou glo dat daar iewers iets met meer vervulling is - on to the next one. [Die jakkals]. Vir hierdie mense is verskeidenheid en vryheid die sous van die lewe.

Vir Berlin was Dante, Dostoyevsky en Proust voorbeelde van die Krimpvarkie - en Shakespeare, Goethe en James Joyce voorbeelde van die Jakkals.

Ek sou sê Mozart was 'n Jakkals en Beethoven 'n Krimpvarkie.

Nietzsche ('n krimpvarkie) het altyd met groot venyn gepraat van "mense wat kielierig is". Die geringste nuwe gier veroorsaak twyfel en 'n fladder in hul hoenderhok.

Neem, daarenteen, 'n Krimpvark soos Woody Allen - die wereld het rondom hom verander, maar sy flieks begin nogsteeds met dieselfde musiek uit sy pa en ma se dae.

So wat was Tolstoy - waaroor die hele ding gaan?

Berlin sê dat Tolstoy 'n Jakkals was wat gewens het dat hy 'n Krimpvarkie kon wees.

Tolstoy's talents are those of a fox, his beliefs are that one ought to be a hedgehog,

Hierdie innerlike spanning was vir Tolstoy net so erg soos vir Bradley Manning of Bruce Jenner vandag - vrouens geestelik in die liggame van mans.

Tolstoy was 'n aristokraat, onderdrukker, 'n soldaat, 'n rondslaper, drinker, jagter, skrywer en sondaar - al hierdie dinge het sy groot stories gevoed. Maar in sy hart het hy het gewens hy kon net 'n monnik wees.

'n Mens is wat jy is - jy kan jouself kwalik van een dier na 'n ander verander.

Vrydag, Augustus 16, 2013

Die 10 Bulle van Zen

900 jaar gelede het 'n Chinese Zen meester - Kuòān Shīyuǎn - tien tekeninge gemaak om die pad na Nirvana te illustreer as die stryd om 'n bul te soek, sien, vang, tem en dan te vergeet.

Daar bestaan vandag duisende weergawes van die 10 Bulle, deur elke soort kunstenaar uit elke eeu en plek, maar die idee is presies dieselfde: briljant eenvoudig sonder dat enige verduideliking nodig is.

1. Soek 




2. Spore




3. Sien



4. Vang



5. Tem




6. Vrede



7. Bul vergete



8. Self vergete



9. Eenwording met die aarde



10. Terug in die wereld


Maandag, April 16, 2012

The Open Society and Its Enemies


Albert Einstein het in 1915 met die algemene relatiwiteitsteorie te voorskyn gekom: dat die 4 dimensies van tydruimte "buig" in die teenwoordigheid van swaartekrag.

Die hele ding het 'n obskure teorie gebly tot die sonsverduistering van 29 Mei 1919. 

Sir Arthur Eddington het gereis na die eiland Principe, van waar die hele son vir 6 kosbare minute agter die maan sou verdwyn en die hemel verdonker.

In hierdie paar minute kon Eddison die posisie van die sterre agter die son fotografeer en Einstein se voorspelling bevestig dat lig-bane buig wanneer dit verby die son se swaartekrag beweeg.

Die nuus was 'n sensasie en het Einstein oornag 'n superster gemaak.

Daar was ook 'n heel ander oomblik-van-insig uit die hele Eddison ekspidisie: die jong Karl Popper, wat die nuus met oorgang gevolg het, het skielik besef dat verkeerdbewysbaarheid (falsifiability) aan die hart van wetenskap lê.

In sy boek "The Logic of Scientific Discovery" het Popper geskryf dat wetenskaplikes nie behoort te soek vir getuienis wat hul teoriee staaf nie, maar juis vir getuienis wat hul teoriee verkeerd kan bewys.

Dit is hierdie bereidheid om 'n teorie aan 'n publieke toets te onderwerp wat dit wetenskap maak.

In die vroeë 20ste eeu was omtrent alles "wetenskap" - nuwe dinge soos Freud se psigoanalise, volkekunde, staatsleer en ekonomie. Maar hoe sou mens die wetenskap van die pseudo-wetenskap onderskei?

Popper het die voorbeeld van psigoanalise geneem as 'n vakgebied wat hulle in geen vorm aan 'n toets wou onderwerp nie. Freud se teorie oor drome was dat dit die onderbewuste se wensvervulling was.

Wat dan van nagmerries? 

In die "Interpretation of Dreams" erken Freud vroeg al dat dit 'n klaarblyklike kontradiksie van sy teorie is (wie wil wens vir 'n nagmerrie?), maar stel die bespreking daarvan telkens uit, tot aan die einde van die boek. Dan sê hy skielik dat "anxiety dreams" 'n anxiety probleem is, nie 'n droom-interpretasie probleem nie.

?

Daar is geen voorbeeld van menslike handeling wat vir Freud onverklaarbaar is nie. Alles kan op een of ander manier aan iets arbitrer en ontoetsbaar toegeskryf word. 

Of, wanneer dit jou pas: sometimes a cigar is just a cigar.

Maar Freud was small potatoes teen die groot pseudo-wetenskappe wat oppad was om die wereld te verswelg - Nazisme en Kommunisme.

Popper het "The Open Society and Its Enemies" tydens die 2de Wereldoorlog, in wanhoop geskryf. 

Daarin probeer hy ontrafel hoe die mensdom so verstrik geraak het in sulke verkeerde en vernietigende ideologiee.

Die boek is 'n woedende aanval op drie van die groot Westerste filosowe: die eerste deel van die boek hanteer Plato en die tweede deel Hegel en Marx.

Ek het hierdie boek 25 jaar gelede, heel toevallig, uit 'n boekrak in die Universiteitsbiblioteek getrek, begin lees, en ek moet erken: dit was een van die belangrikste en blywende boeke wat ek ooit gelees het.

Popper stel die vraag - wat beteken die geskiedenis? Wat kan ons leer uit die geskiedenis?

Sy argument is - Plato het vir die wereld die oorspronklike mite geskep dat 'n groep mense (bv die Afrikaners, Black Consciousness, wat ook al) 'n oorsprong, 'n roeping en 'n gesamentlike lot deel. Hierdie oorsprong en lot word gesoek en gevind deur die studie van die werking van geskiedenis.

Daarmee saam het Plato, in sy Republiek, die eerste Utopia daargestel: hoe behoort die perfekte republiek ge-organiseer te word, en wie moet regeer?

Plato sê "die filosoof koning" (hint - ek). Marx sê "die proletariaat".

Popper sê "Wie moet regeer?" is die verkeerde vraag. Die regte vraag is "Hoe kan ons misregering beheer en tot 'n minimum hou?".

Die probleem is dat, wanneer die Utopiese projek eers gevorm is (bv Nazisme, Kommunisme), geskiedenis, net soos Freud se psigo-analise, misbruik word om die program te pas, en niks (geen historiese of eietydse feit) die voor-opgestelde teorie kan contradict nie.

Die vraag is nie "Hoe moet die wereld lyk nie?", maar "Dis soos die wereld vandag lyk - hoe kan ons dit 'n bietjie beter maak?".

Popper noem dit "piecemeal social engineering" eerder as "utopian social engineering".

Net soos wat wetenskap vorder deur "trial and error" - probeer en leer - so stel Popper voor moet ons die samelewing verbeter - deur te probeer en te leer.

Aanvaar dat ons NIE weet hoe die wereld ten volle werk nie, en aanvaar dat geskiedenis geen ingeboude rigting neem nie. Probeer klein eksperimente in die geleidelike verbetering van die wereld se lot. As dit werk - wonderlik. Maar miskien werk dit nie, miskien is daar gevolge waaraan niemand kon dink nie. Dan probeer ons weer, met iets anders.

Popper het geglo dat niks te klein is om te probeer nie. Kommuniste het veel gemaak van die feit dat feitlik alle Amerikaanse kongreslede miljoeners is - demokrasie in Amerika is 'n rykmans sport. Popper sê - "Ja, maar doen iets klein en konkreet daaraan - stel 'n beperking op die hoeveelheid geld wat in kampanjes gebruik kan word". Dit werk nie, probeer die volgende ding.

Maar moet nooit ophou nie. En moet nooit sê - net die rewolusie sal eendag alles regstel nie. Want dit sal nie.

Dit is die pleidooi vir die "Oop Samelewing" - nie 'n kapitalistiese of sosialistiese samelewing nie, maar 'n samelewing wat tolerant is omdat dit begin met die vertrekpunt dat ons NIE die antwoorde het nie. Dat wat vandag werk miskien nie more sal werk nie.

En - dat geskiedenis GEEN BETEKENIS het nie. Geskiedenis is nie onafwendbaar nie; nie besig om ons "in 'n rigting te forseer nie", maak nie saak hoe veel dit so voel nie. Daar is geen lot wat vir ons wag nie. Geskiedenis is net die som totaal van miljoene indiwiduele dade.

Tolstoy, in "War and Peace", noem die voorbeeld van die peasant wat deur die Franse generaal geklap is toe hy te stadig was om te antwoord oor die pad wat die Franse weermag moes volg. In stille woede het hy die lang pad vir die Franse verduidelik, en daarmee net so 'n belangrike deel aan die geskiedenis van Europa gehad as Napoleon of die Tzar.

Daar was in Popper se tyd 'n wye gevoel dat demokrasie 'n onmoontlik idiaal is omdat dit tolerant moet wees teenoor intolerante dinge, wat dit van binne sal vernietig. Popper het hierdie vrees erken, maar geglo (en hy sê dit in die boek) dat die drang na vryheid en oopheid ook, soos 'n kanker binne tyranniee bly bestaan, en altyd sal bly uitbars.

Ek het Open Society in 1985 gelees - die jaar van Suid Afrika se eerste noodtoestand - en gewonder...

En tien jaar later was die wereld onderstebo: Nelson Mandela die President van Suid Afrika, en Kommunisme verby.

Dinsdag, Mei 24, 2005

Civil Disobedience

In 1845-6, terwyl Henri Thoreau nog by Walden was, het Pres. James Polk van die VSA - uit frustrasie met 'n Mexikaanse regering wat aanhou weier het om grond aan hom te "verkoop" - die gebied van Texas geannekseer en met soldate beset tot by die Rio Grande rivier.

Dit het die sg Mexikaans-Amerikaanse oorlog veroorsaak. Die Mexikane het oorlog verklaar, die VSA het Mexiko ingeval, verslaan en 'n enorme stuk daarvan vir hulself gevat: alles wat vandag New Mexico, Utah, Nevada, Arizona, California, Texas, en Colorado is.

Hierdie skokkende vergryp deur sy "demokratiese" land het Thoreau gewalg, meer so omdat die Amerikaanse publiek nie geprotesteer het nie, maar eerder met gusto die proses van besetting en slawerny na die nuwe state begin het.

In protes het Thoreau homself "buite die staat" verklaar en geweier om verdere belasting daaraan te betaal. Die verblufte staatsamptenare het hom laat arresteer totdat 'n groep van sy vriende sy belasting namens hom betaal het.

Die hele episode het Thoreau tot 'n dieper insig gebring: dat regering deur "gewone mense" nie vertrou kan word om reg te laat geskied nie, net so min as regering deur konings; dat demokrasie per se nie genoeg is nie.

Hieruit het hy die opstel "Civil Disobedience" geskryf, 'n konsep wat in sy lewe op dowe ore geval het, maar soos almal vandag weet, deur Gandhi, Martin Luther King en baie ander tot vrug gebring is.

Hy pleit dat sy mede Amerikaners onmiddelik begin om die wette te breek wat teen hul gewete is, en nie wag tot die dag wanneer hul 'n meerderheid van een is nie.

"Cast your whole vote, not a strip of paper merely, but your whole influence. A minority is powerless while it conforms to the majority; it is not even a minority then; but it is irresistible when it clogs by its whole weight. If the alternative is to keep all just men in prison, or give up war and slavery, the State will not hesitate which to choose."

"...if it is of such a nature that it requires you to be the agent of injustice to another, then, I say, break the law. Let your life be a counter friction to stop the machine. What I have to do is to see, at any rate, that I do not lend myself to the wrong which I condemn."

"I was not born to be forced. I will breathe after my own fashion. Let us see who is the strongest. What force has a multitude? They only can force me who obey a higher law than I."

Sondag, Mei 22, 2005

Walden

"When I wrote the following pages, or rather the bulk of them, I lived alone, in the woods, a mile from any neighbor, in a house which I had built myself, on the shore of Walden Pond, in Concord, Massachusetts, and earned my living by the labor of my hands only. I lived there two years and two months. At present I am a sojourner in civilized life again."

So begin Henri-David Thoreau se 1854 boek "Walden". Dit beskryf sy groot eksperiment van 'n dekade vroeër: om alleen, sonder inkomste selfstandig te lewe, die natuur en die stilte te waardeer en tyd te maak vir diep refleksie.

"Walden" het een jaar voor Walt Whitman se "Leaves of Grass" verskyn. Beide boeke is vandag bakens van die Amerikaanse lettere, geesgenote in toon en inhoud, maar destyds twee klein blips in die oseaan.

Thoreau verduidelik die doel van sy verblyf aan die hand van 'n insident wat hy waargeneem het - 'n Indiaan wat geleer is om mandjies te vleg en dit daarna deur tot deur aan witmense te smous, sonder sukses.

Vir die Indiaan was die skep van die mandjies maklik en sinvol, maar wat onverstaanbaar gebly het is waarom hy dit aan ander mense moes verkoop: waarom hy ander mense moes oortuig dat hulle die mandjies benodig.

"I too had woven a kind of basket of a delicate texture, but I had not made it worth any one’s while to buy them. Yet not the less, in my case, did I think it worth my while to weave them, and instead of studying how to make it worth men’s while to buy my baskets, I studied rather how to avoid the necessity of selling them."

En so het hy begin in Maart 1844, deur 'n byl by 'n plaaslike boer te leen en die bome een vir een te fel waaruit hy uiteindelik sy beskeie houthut gebou het. Op 4 Julie - Independence Day - het hy ingetrek.

"Walden" is 'n wonderlike mengsel van Thoreau se lewensrefleksies (die man wat later "Civil Disobedience" geskryf het, die manifesto wat Tolstoy, Gandhi en Martin Luther King Jr beïnvloed het) en 'n eenvoudige beskrywing van sy lewe in hierdie tyd.

Die groentetuin waarvan hy gelewe het: bone, rog en aartappels; die bessies van die woud; die meer waaruit hy gedrink het (water was sy enigste vloeistof), dieselfde meer waarin hy gebad, klere gewas en geswem het.

Die kuns van broodbak uit rog; die geluide van die woud, die voëls en die diere, die bars van ys op die meer, die veraf fluit van 'n trein oppad na die naaste dorp (die wereld bestaan nog); sy lang daaglikse staproetes en gedagtes.

"This is a delicious evening, when the whole body is one sense, and imbibes delight through every pore. I go and come with a strange liberty in Nature, a part of herself. As I walk along the stony shore of the pond in my shirt-sleeves, though it is cool as well as cloudy and windy, and I see nothing special to attract me, all the elements are unusually congenial to me. The bullfrogs trump to usher in the night, and the note of the whip-poor-will is borne on the rippling wind from over the water."

Thoreau het aanvanklik gejag en visgevang, maar die Walden tydperk het hom van vleis laat afsien vir praktiese redes: die groot moeite, wreedheid, stank en gemors waarmee dit gepaard gegaan het:

"Having been my own butcher and scullion and cook, as well as the gentleman for whom the dishes were served up, I can speak from an unusually complete experience. The practical objection to animal food in my case was its uncleanness; and besides, when I had caught and cleaned and cooked and eaten my fish, they seemed not to have fed me essentially. It was insignificant and unnecessary, and cost more than it came to. A little bread or a few potatoes would have done as well, with less trouble and filth."

Met die aankomende winter begin Thoreau met groot moeite 'n binneshuise kaggel van klip bou, daarna dae van hout bymekaarmaak, die eerste sneeu, die stadige vries van die meer [aanvanklik deurskynend, sodat hy dae lank op sy maag na die bodem van die meer lê en kyk], die loeiende winterwinde buite, hyself, sy boeke en sy vuur binne.

Die boek bereik sy mees liriese toon met die stadige uitbreek van lente deur die loop van April/Mei. Die klein voelertjies van lewe wat oral spruit.

"You see some innocent fair shoots preparing to burst from his gnarled rind and try another year’s life, tender and fresh as the youngest plant. Even he has entered into the joy of his Lord. Why the jailer does not leave open his prison doors — why the judge does not dismis his case — why the preacher does not dismiss his congregation! It is because they do not obey the hint which God gives them, nor accept the pardon which he freely offers to all."

Aan die einde praat hy oor wat die tydperk vir hom beteken het:

"I learned this, at least, by my experiment: that if one advances confidently in the direction of his dreams, and endeavors to live the life which he has imagined, he will meet with a success unexpected in common hours. He will put some things behind, will pass an invisible boundary; new, universal, and more liberal laws will begin to establish themselves around and within him; or the old laws be expanded, and interpreted in his favor in a more liberal sense, and he will live with the license of a higher order of beings. In proportion as he simplifies his life, the laws of the universe will appear less complex, and solitude will not be solitude, nor poverty poverty, nor weakness weakness. If you have built castles in the air, your work need not be lost; that is where they should be. Now put the foundations under them."

[Oorspronkik geplaas 22 Mei 2005]

Sondag, Mei 08, 2005

Friedrich Nietzsche, 1844-1900

Die ou Duitse filosoof Immanual Kant het ‘n ding geformuleer wat hy die “kategoriese imperatief” genoem het. Hoge woorde, maar dit was gewoon net ‘n toets wat almal kon gebruik om te besluit of wat-jy-op-daardie-oomblik-doen reg of verkeerd is. Die toets is: As almal op aarde toegelaat word om dieselfde ding te doen, of op dieselfde manier te handel, sou die resultaat wenslik wees? Kant het geglo dat alle moraliteit uit die kategoriese imperatief afgelei kon word, en meeste mense stem instinktief saam.

Nietzsche se kop het heeltemal anders gewerk. Behalwe dat ons almal soos mekaar lyk, is die mensdom nie ‘n eenheid in enige opsig nie, het hy gesê – ons deel geen gemeenskaplike doel nie, ons het geen gemeenskaplike ma en pa nie, waarom sou ons almal op dieselfde manier geoordeel word?

As Kant se reel gevolg sou word sou ons elke keer geëindig het met wat hy noem “slawemoraliteit” - altruisme. Voor jy aan jouself dink, dink aan ander mense, dink aan die gemeenskap, dink aan die aardbol.

Dis oraait vir meeste mense meeste van die tyd, maar hy wou vir ‘n deel van die mensdom die teenoorgestelde voorstel: “meestermoraliteit” – ‘n lewe met wilskrag en kreatiwiteit as die hoogste waardes. Vir Nietzsche gaan die lewe oor skepping. En skepping kom net uit jouself en uit wilskrag. Dit is onmoontlik vir die altruis om te skep vir ander – “jy kan net swanger wees met jou EIE baba”. Slawemoraliteit het vir Nietzsche die einde van hoop beteken: die einde van kuns en wetenskap, geen verdere ontdekking, maak vrede met die hede en sterf.

Voor jy aan ander mense dink, DINK EERS AAN JOUSELF. Word ‘n mens: hy wat nie glo in homself, lieg! Liefde en opoffering kom uit die “oorstroming” van jouself.

Nietzsche het geglo dat die era van GOD uiteindelik verby was en het op elke moontlike manier vir mense probeer sê: GOD IS DOOD, HOERA!, julle is vry, alles op aarde is moontlik!

Maar eers moes die mens van tweeduisend jaar se slawemoraliteit ontslae raak.

Die lewe is ‘n wilskrag vir ‘n lewensdoel BINNE JOUSELF. Godsdiens was ‘n paradigma waar JY geen wil het nie – “laat U WIL geskiet”. Geloof, sê Nietzsche, is die eeueoue substitiet vir wilskrag.

In sy latere werk gebruik Nietzsche die woord “dekadent” vir alles wat volgens hom “willoos” is. Christendom is die ergste vorm van dekadensie; hy het ‘n lewenslange tirade daarteen gevoer, eindigende in sy briljante boek “Die Anti-Chris”. Nietzsche skryf dat daar in die hele geskiedenis net een Christen was - en hy het gesterf aan die kruis. Sy opvolgers en die kerk het sy lewe onmiddelik ongedaan gemaak.

1) Christus het gekom om ons van sonde te verlos – maar moenie dink die Kerk het hom daarmee laat wegkom nie, inteendeel – ewe skielik is daar ‘n duiwel en ‘n hel as jy nie maak presies soos hulle sê nie!

2) Christus se hoop was, soos ‘n tweede Buddha, om die pad na innerlike vrede vir mense te wys: altruisme, non-resistance of evil, etc. Paules (die objek v Nietzsche se haat) vernietig dit alles met ‘n snertstorie van Jesus se “opstanding” en “wederkoms”, net sodat hy HOMSELF en sy kerk in die posisie van regters en mag kan skuif.

Nietzsche vergelyk die twee “dekadente” gelowe: Christendom en Boedhisme en sê uiteindelik: Boedhisme belowe niks (geen hemel, geen God wat jou bystaan) maar deliver als; Christendom belowe als en deliver niks.

In die “Genealogy of Morals” skryf hy oor die moontlike oorsprong van moraliteit en spekuleer dat daar iets kon gebeur het soos volg.

Uitruiling van goedere lei tot -> debiteure en krediteure, lei tot -> verpligtings aan jou medemens, lei tot -> verpligtings van kinders aan ouers, lei tot -> verpligtings van hierdie geslag aan die vorige geslag, lei tot -> verpligtings aan die verlede wat uiteindelik ‘n onaanraakbare “God” word.

Die pad vorentoe?

Nietzsche praat van ‘n groot oomblik wat kom, ‘n “tipping point” – ‘n oomblik van vorentoe kyk en terugkyk waar die mensdom sal besef dat God vir altyd verby is en net die “Supermens” voorlê – die mens wat volle verantwoordelikheid vir sy lewe neem.

In “Also Spracht Zarathustra” beskryf Zarathustra dit as drie fases van groei van mens na Supermens – die kameel, die leeu, die kind.

Die moraliteit van die kameel is die moraliteit van “swaardrae”. Van sin vind in suffering, die uitvoering en balansering van duisende jare se oorge-erfde verpligtings en kondisionering.

Die transformasie na die leeu gebeur wanneer die kameel uiteindelik besef dat DIT NIE SO HOEF TE WEES NIE en iets daaraan doen. Die leeu is die fase waarin laste, die moraliteit en die verlede verskeur en verwilder word.

En dan, siel-alleen, word ons herbore as kinders, met onskuld, waar ons die aarde om ons, die paaie en die moontlikhede vir die eerste keer sien.

Die leeu is die "heilige NEE!" en die kind is die "heilige JA!".

As ek alles in ‘n neutedop moes sit, is dit die hierdie quote uit die “Gay Science”.

What makes one heroic?
-Going out to meet at the same time one's highest suffering and one's highest hope.

In what do you believe?
-In this, that the weights of all things must be determined anew.

What does your conscience say?
-"You shall become the person you are."

Where are your greatest dangers?
-In pity.

What do you love in others?
-My hopes.

Whom do you call bad?
-Those who always want to put to shame.

What do you consider most humane?
-To spare someone shame.

What is the seal of liberation?
-No longer being ashamed in front of oneself.


[Mei 8, 2005]

Dinsdag, April 12, 2005

Ecce Homo

'n Menigde skrywers het al "dagboeke van 'n malman" geskep. In hierdie boeke is die verval in gekheid baie keer die skrywer se manier om sy diep vebode fantasieë 'n vliegkans te gee, sonder om die gevolge te dra.

Die naaste wat ons aan die WARE DING het is Nietzsche se laaste boek: "Ecce Homo" - sy autobiografie, van soorte.

Dis 'n verwysing na die insident in die Bybel waar Christus met 'n doringkroon op sy kop en 'n lap om sy lyf na buite, voor 'n skare gelei word met die woorde Kyk na hierdie man!.

"Ecce homo" is Latyn vir "Kyk na die man".

Nietzsche was aan die einde van 'n dekade van afsondering en swerf opsoek na iewers om sy gesondheid te herstel. In hierdie tyd het hy sy beroemde gesegde geskep

"As dit jou nie doodmaak nie, maak dit jou sterker".

Die vergelyking van homself met Christus is soos altyd daar vir die uitlok van reaksie.

Nietzsche skryf dat hy 'n "oorlogsnatuur" het. Hy kon nog nooit stilbly na 'n belediging nie because swallowing down is bad for your stomach.

'n Paar jaar tevore het Nietzsche die antieke Iranese profeet Zoroaster gehijack vir sy beroemdste boek: Also Spracht Zarathustra. "So sê Zarathustra". Zarathustra was sy belangrikste, inspirerende boek. 'n Over-the-top, kripties-profetiese uitbarsting van al sy belangrike gedagtes: die magswil, die supermens, die ewige terugkoms, die groot gety.

Baie anders geskryf as enige van sy ander boeke (wat so glad soos seep lees). 'n Moeilike boek.

In "Ecce Homo" wys Nietzsche vir die eerste keer sy volle hand en sy volle hart: alles wat hy voorheen in Zarathustra se mond gesit het, kom nou uit sy eie stem.

En daarmee die verval in malheid.

Die eerste drie hoofstukke is "Why I am so wise", "Why I am so clever", en "Why I write such good books". Grappie? Glad nie. Nietsche is heeltemal ernstig.

Daarna 'n beskrywing van sy lewe en werke (en sy geloof dat Zarathustra die grootste boek van alle tye is).

Die laaste hoofstuk is "Why I am a destiny". Daarin voorspel hy dat die wereld hom binnekort sal ontdek, dat hy "na sy dood eers gebore gaan word".

'n Paar weke na die voltooing van "Ecce Homo" het Nietzsche oor die plein van Turin gaan stap en ineengestort. Toe hy weer bykom was hy kranksinnig.

Sy ma (wat hy verag het) het hom kom haal en terug geneem huistoe, en hom weer soos haar klein seuntjie versorg. Na haar dood is Nietzsche na 'n malhuis geneem, waar hy in 1900, na 10 jaar van kranksinnigheid, gesterf het.

Hy het nooit weer geskryf nie.

[ 12 April 2005 ]

Sondag, April 10, 2005

Beyond Good And Evil

Ek het 'n fassinasie met groot kunstenaars wat hulself gedruk het tot by die uiterstes van innerlike intensiteit en ervaring. Tolstoy was een van hulle, soekende tot die einde. Sy tydgenoot en nemesis - Nietzsche - was 'n ander een.

Nietzsche was die Duitse filosoof wat gesê het "God is dood"

en

"Die menselewe balanseer op 'n tou gespan oor 'n afgrond. Dis gevaarlik vorentoe, dis gevaarlik om om te draai, dis gevaarlik om stil te staan en te wonder waarheen".

En baie ander sulkes.

Sy boek "Beyond Good and Evil" bevat een van die beroemdstes:

"Wanneer jy lank na die afgrond staar, sal die afgrond terugstaar na jou"

Nietzsche was verbete om daardie afgrond te wees wat terugstaar na die wereld. Selfs nou, meer as eenhonderd jaar na sy dood, is Nietzsche een van die skokkenste & neteligste skrywers om te lees.

Hy het natuurlik besef dat die wereld nie gereed was vir hom nie - en die pap verskriklik dik aangemaak.

"It seems that in order to inscribe themselves upon the heart of humanity with everlasting claims, all great things have first to wander about the earth as enormous and awe-inspiring caricatures"

Soos die titel sê, het hy alle moraliteit verwerp.

Die arme massas wat lei onder die juk van verdrukking? Laat hulle suffer, sê hy. Nietzsche verwerp heeltemal die idee dat die vermindering van lyding 'n doel van die mensdom hoef te wees.

Godsdiens - veral Christendom en Buddisme en enige draai-die-ander-wang geloof - het hy verafsku en ge-lampoon op elke moontlike manier as idioties en "slawe-moraliteit" (seun van 'n dominee).

Nietzsche skryf dat die mensdom in sy "pre-morele" fase letterlik sy medemens vir die gode ge-offer het. In sy "morele" fase het die mens sy mensheid - alles wat hom great maak - vir die gode geoffer.

"In man CREATURE and CREATOR are united: in man there is not only matter, shred, excess, clay, mire, folly, chaos; but there is also the creator, the sculptor, the hardness of the hammer, the divinity of the spectator, and the seventh day"

Instede van moraliteit pleit Nietzsche vir "adelheid" (nobility). Wat is adelheid? Die adel siel is die siel wat respek vir sy eie heiligheid het, wat homself nooit sal laat verneder nie, nooit sal neerbuig voor snert nie, wat nooit iets sal voorhou wat hyself nie glo nie.

Moed, insig, empatie, refleksie - die groot waardes van die adel siel.

NP van Wyk Louw was bv 'n groot Nietzsche man, sonder hom kan jy kwalik die groot digter verstaan.

Nietzsche was ongelukkig van mening dat hierdie adelheid nie aan mense geleer kan word nie - dis daar of dis nie daar nie - over finish klaar en verby.

Woensdag, Maart 23, 2005

The Birth of Tragedy

Om Friedrich Nietzsche te lees is soos om die kaarte van 'n Tarot pak om te draai: die "probleem" kaart, die "verlede" kaart, die "hede" kaart en die "toekoms" kaart. Wat sien jy met die omdraai: net die oersimbole - die Duiwel, die Koning, die Gehangde Man, Liefde, Krag, die Son, die Maan, die Priester, die Toring, die Wereld ens.

En wat beteken dit?

Dit beteken niks rasioneel nie, en tog kan die mensehart nie help om te klop in verwagting nie, soos vir die oomblik van openbaring. Die rede hoekom die hart klop is ons smagting vir bemagtiging en aanmoediging - vir iets (die "kaarte") wat 'n pad vooruit kristalliseer uit ons eie, deurmekaar, besluitelose gedagtes.

Dis soos Nietzsche is: geen argumente, geen poging om te oortuig, net 'man wat die wereld ruk en skud en onderstebo draai en klap - en in die proses (al was dit sonder intensie), derduisende mense laat lag en die aanmoediging gee om besluite te neem en dinge te doen.

"Die Geboorte van Tragedie" was sy heel eerste boek. Dit skets 'n wereld wat bestaan as 'n see van wilskragte wat trek en skeur in alle rigtings, sonder rede, sonder rigting, sonder samewerking. Die menslike toestand, die "unbearable lightness of being" kan net besweer word deur kuns - kuns is die enigste bestaansreg vir die wereld - en die diepste, universele kuns is tragedie: hartseer. Ons kan hartseer verstaan en ervaar sonder taal, in kinders, in oumense, in New York en die Kalahari, in dom en slim mense, mooies en lelikes, rykes en armes. Dis tragedie wat ons na mekaar laat kyk.

Nietzsche spekuleer heavily oor hoe tragedie ontstaan het - na sy mening eers in die skepping v die Griekse Gode Apollo en Dionysus, en daarna uit die drama van Aeschylus (sien "Agamemnon & Die Kransdraers") - en hoe dit uiteindelik weer "gesterf" het met die koms van Sokrates en wetenskap, wat hy sien as 'n crazy kultus wat die wereld oorgeneem het.

Die laaste deel van sy boek is 'n entoesiastiese plug vir Wagner se "Tristan en Isolde", waarin hy die hergeboorte van tragedie sien. Nietzsche en Wagner het uiteindelik bitterlik gestry oor W. se laaste opera "Parsifal", met sy Christelike tema van die Holy Grail - waarin Nietzsche die ergste moontlike cop-out gesien het.

Die boek bevat 'n "Attempt at Self-Criticism" wat twee dekades later geskryf en by die teks gevoeg is waarin Nietzsche sy eie boek uitmekaar skeur as jong romantiese snert. Wat hom duidelik pla is hierdie embarassing raving oor Wagner. "I introduced hope where all was hopeless".

Nou ja, go figure.

Maandag, Februarie 14, 2005

Tao te Ching


Wanneer die Tao verlore is, is daar goedheid. 
Wanneer goedheid verlore is, is daar welwillendheid. 
Wanneer welwillendheid verlore is, is daar geregtigheid. 
Wanneer geregtigheid verlore is, is daar 'n ritueel. 
Ritueel is die dop van geloof en lojaliteit, die begin van verwarring.


Vir die wat soek na ernstige pitkos van die geestelike soort, maar nie kans sien v die Bybel of die Koran of die Vedas nie - probeer die "Klassiek van Tao". 'n Kort en maklike boek deur 'n Chinese figuur Lao-Tzu, vader van Taoisme, die oorsprong v Zen.

The way that can be described is not the unchanging Way. The name that can be named is not the unchanging Name.

Nameless, it is the origin of Heaven and Earth.
When Named, it gives birth to all things.

If you keep feeling a point that has been sharpened, it will soon be blunt.

Who can make the muddy water clear? Let it be still, and it gradually becomes clear. Who can secure the condition of rest? Let movement go on, and the condition of rest will gradually arise.

There was something undefined and complete, existing before Heaven and Earth. How still it was, and formless, standing alone, and undergoing no change, reaching everywhere without exhaustion.

The Great Square has no corners;
The Great Vessel is the slowest to make;
The Great Sound is silent;
The Great Image has no shape.

The Tao produced One;
One produced Two;
Two produced Three;
Three produced all things.

A journey of a thousand miles begins with a single step.

The wise man keeps his side of the bargain, but does not insist on the speedy fulfilment of it by the other.