Wys tans plasings met die etiket Dostoyevsky. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Dostoyevsky. Wys alle plasings

Donderdag, Augustus 25, 2016

Die Huis van Dooies


In sy jong dae het Dostoyevsky met die verkeerde intelligensia deurmekaar geraak en is gearresteer met "verbode leesstof".

Dit klink soos 'n belaglike aanklag, en totdat hy ter dood veroordeel is het Dostoyevsky het ook so gedink.

Ek het nog nooit iets uit sy mond gelees oor hoe hierdie doodsafwagting vir hom was nie, maar dis iets wat hy dikwels sy karakters laat ervaar het.

Sy lewe is uiteindelik gespaar en sy vonnis verminder na vier jaar harde arbeid in 'n tronk buite Omsk in Siberië.

Hy het nat agter die ore die tronk binne gegaan - nog niks van die groot romans was geskryf nie, behalwe die pragtige storie "Arm Mense".

Die tronkjare het sy lewensuitkyk totaal verander - Dostoyevsky was nie 'n slagoffer nie; hy het 'n politieke en spirituele ommekeer beleef en is daar uit as 'n spieëlbeeld (in baie opsigte) van die mense wat hom tronk toe gestuur het.

Hy sou vir die res van sy lewe 'n konserwatiewe Slawofiel wees - veragtend van "Westerse waardes", kapitalisme sowel as sosialisme en Katolieke en Protestante ewe veel.

In sy boek oor die tronkjare - Memoirs from the House of the Dead - skryf hy van so 'n ommeswaai

One day I saw a prisoner who had undergone his punishment take leave of his comrades. He had done twenty years’ hard labour. More than one convict remembered seeing him arrive, quite young, careless, thinking neither of his crime nor of his punishment. He was now an old man with grey hair, his countenance sad and morose. He walked in silence through our six barracks. As he entered each of them he prayed before the icon, made a deep bow to his former companions, and begged them to remember him kindly.

Sy katarsis was op 'n manier 'n Faustiaanse deurbraak, Rosemary's Baby, noem dit wat jy wil: want die publikasie van Dead House het hom 'n literere ster gemaak en die fondasie gelê vir al die werk wat sou kom.

Ek het 'n paar maande terug Marcel Proust se boek In Search of Lost Time gelees. Proust skryf baie oor Dostoyevsky, en een opmerking het my veral bygebly: dat Dostoyevsky nie net die siel beskryf nie, maar die huis waarbinne die siel lewe.

But to return to the new kind of beauty that Dostoievsky brought to the world, just as, in Vermeer, there’s the creation of a certain soul, of a certain colour of fabrics and places, so in Dostoievsky there’s the creation not only of people but of their homes, and the house of the Murder in Crime and Punishment, with its janitor, isn’t it as marvellous as the masterpiece of the house of Murder in The Idiot, that sombre house of Rogozhin’s, so long, and so high, and so vast, in which he kills Nastasia Philipovna. That new and terrible beauty of a house, that new and two-sided beauty of a woman’s face, that is the unique thing that Dostoievsky has given to the world

Ek dink aan huis waarbinne die siel lewe nie as die baksteen en sement nie, maar die verwysingsraamwerk, die beperkinge, die veiligheid en rusplek van die siel.

Die Dooies van die Huis van Dooies is die kettingde gevangenis ( Dostoyevsky se arms en voete was in kettings vir sy hele termyn in die tronk ) maar ook die vermoordes - die slagoffers wat spook in hierdie selle en lewend bly in die stories wat vertel word.

Daar is 'n diep streep sado-masochisme in alles wat Dostoyevsky sou skryf. Sy groot romans van Crime and Punishment tot The Brothers Karamazov is die omstandighede wat opbou na moord.

Dead House is dieselfde ding in miniatuur. As voorbeeld, daar is een storie met die naam "Akoulka's husband".

Akoulka is 'n meisie wat haar familienaam klad deur haarself te hoereer aan 'n nikswerd dronklap met die naam Philka. Wanneer haar ma agterkom dat haar kind geld vir seks neem is sy woedend, slaan haar dogter met die sweep en "verkoop" haar aan Chichkoff - 'n ewe-nikswerd vriend van die gehate Philka - vir 300 roubels - min of meer die geld wat haar kind as prostituut verdien het. Alles as straf.

Met die aanloop na Chichkoff en Akoulka se troue spot Philka sy vriend venynig: ek het reeds jou verloofde gehad en sal seker maak dat ek haar weer het wanneer jy jou rug draai.

Maar, tot sy verstomming, ontdek Chichkoff op sy huweliksnag dat sy vrou 'n maagd is. Hy kan nie verstaan wat om daarvan te maak nie.

Intussen doen Philka iets wat blykbaar gereeld deur desperate arm mense van die dag gedoen is: hy bied aan om 'n rykmanskind se militêre diensplig namens hom te doen. Dit is 'n lewe van oorvloed vir die kort tydperk terwyl hy wag om opgeroep te word - die ryk familie sal feitlik enige iets doen om in hul plaasvervanger se guns te bly met geld en persente.

Maar dit alles eindig op die dag wanneer Philka opgeroep word. Voordat hy vertrek na die weermag daag hy by Akoulka en Chichkoff se huis op en vra met groot nederigheid haar vergifnis vir die manier waarop hy haar goeie naam swartgesmeer het. Dit is omdat hy haar liefhet.

Akoulka se antwoord is: ek weet.

Vir Chichkoff is dit soos 'n kers wat doodgeblaas is: nog 'n onvergeeflike, onaanraakbare maagdelikheid in sy vrou.

Daardie nag wel sy moordlus op. Eers deur te dink daaroor; dan vir Akoulka te vertel dat hy haar gaan vermoor; die lang nag waardeur sy moet slaap terwyl sy wag vir die volgende dag ( soos Desdemona vir Othello ); die wete dat sy kan vlug maar nie vlug nie; dat sy haar man kan doodmaak in sy slaap maar eerder wag totdat hy wakker word en opstaan.

Hy neem haar na 'n afgeleë plek waar hy haar keel afsny.

Ek dan skielik is Akoulka weg - 'n verre herinnering, al wat oorbly is Dostoyevsky en Chichkoff wat sit en praat in 'n sel in die gevangenis.

En die volgende oomblik is Chichkoff weg, 'n herinnering van jare terug vir Dostoyevsky, terwyl hy sy boek skryf.

En met 'n oogknip is Dostoyevsky weg, 'n herinnering vir my van die oomblik toe ek sy boek toegemaak en in die rak gesit het.

Woensdag, Junie 29, 2005

Wit Nagte

"White Nights" is een van Dostoyevsky se bekendste verhale - dis al 'n paar keer verfilm - 'n eenvoudige, intens-roerende situasie.

Twee vreemdelinge - 'n man en 'n vrou, kruis dieselfde straat op dieselfde oomblik, laat in die nag, in die bitter koue, van weerskante.

In die paar tree oor die straat verbeel die man 'n lewe saam met haar, die mooi vreemdeling met al die misterie en belofte van die wereld - wat hy nooit sal ken nie. So naby en tog so ver.

En dan - 'n wonderwerk. Agter sy rug, op die sypaadjie, word sy deur 'n boemelaar lastig geval - en kry hy die kans om terug te draai, haar te red en te ontmoet.

Nadat hy haar vir 'n blok of twee vergesel, spreek hulle af om die volgende aand weer op dieselfde tyd, selfde plek verby te stap.

En so, vir die volgende paar nagte ontmoet die twee mekaar by dieselfde bankie, in die sneeu onder die sterre, en vertel vir mekaar hul lewensverhale - beide ongelukkig en alleen, beide sukkelende huurders by familielede - haar ouma en sy ma.

En om 'n lang storie kort te maak: 'n week later is dit alles verby. Sonder dat die man dit vermoed, sit die meisie op hierdie bankie vir iemand anders en wag (dis 'n bankie oorkant haar ex se woonstelblok).

Haar liefling verskyn uiteindelik - en die man en vrou is onmiddelik weer vreemdelinge vir mekaar.

Hulle sien mekaar nooit weer nie, maar, soos die verteller in die laaste woorde sê:

"My God, a whole moment of happiness! is that too little for the whole of a man's life?"

[29 June 2005]

Sondag, Junie 26, 2005

Arm mense

Twee bejaarde, arm mense in St Petersburg sien mekaar een of twee keer per maand, andersins skryf hulle briewe aan mekaar.

"Arm mense" is hierdie korrespondensie.

Hy (Makar) spandeer elke ekstra sent aan klein, nietige persente wat hy vir haar (Barbara) koop en saam met sy briewe stuur.

Sy stuur die persente terug en smeek hom om eerder geld bymekaar te maak vir nuwe klere, sodat hy 'n beter indruk by sy werk en met sy baas kan maak.

Hulle skryf oor die lewe wat verby is, jonkwees, die sterwe van hul ouers. Nie een van die twee is ooit getroud nie.

Rondom hulle sterf meer en meer kennisse, die wereld word al hoe kleiner.

Makar sak in die skuld maar praat nie daaroor nie; dan vermy hy haar eerder. Uiteindelik stuur Barbara dertig roubles vir sy landlady wanneer sy dreig om hom uit te sit.

Barbara word geteister deur mans wie sy nie in die gesig kan kyk nie. Makar is haar enigste veilige uitlaatklep.

En dan eendag, die verstommende nuus: sy het 'n huweliksaanbod van een van haar suitors gekry, 'n welaf sakeman wat haar uit St Petersburg wil neem.

Sy het besluit om te aanvaar.

Makar is stomgeslaan maar bly ondersteunend. In die laaste briewe verander hulle toon: sy stuur lang stelle instruksies vir haar troue (waarvoor Makar die reelings tref); hy verseker haar dat hy alles noukeurig uitvoer en alles op skedule is.

Hy skryf vir haar dat hy die nuwe huurder van haar ou kamertjie is, nadat sy uitgetrek het na haar verloofde toe.

Dit was 'n fout: in die volgende brief stel sy hom in kennis - met opregte spyt - dat haar man van plan verander en nie meer in St Petersburg wil trou nie, maar eerder by hul nuwe huis in die country.

Uiteindelik, wanneer hy dit hoor, breek Makar se hart - hy smeek haar vir die eerste keer om nie te trou nie,  om saam met hom te bly tot die einde.

Sy antwoord nooit.

[26 Junie 2005]

Maandag, Junie 20, 2005

Die Adolesent

Tolstoy en Dostoyevsky het die reputasie van die "Russian doorstopper" geskep: die lang, massiewe kroniek van 'n menigde karakters in 'n komplekse wereld - swaar genoeg om jou deur mee oop te hou wanneer die wind opsteek.

Daar's baie parallelle tussen hierdie twee tydgenote en reuse, maar in visie, in toon en styl verskil hulle soos dag en nag.

Tolstoy praat in die stem van God oor 'n wereld waar mense soos miere krioel, daar ver, besig en bang, maar blind vir die groot geheel.

Dostoyevsky praat van daaronder, in die stem van die sondaar, die verlore siel, sonder 'n wereldeenheid, sonder 'n antwoord.

Die "Russian doorstoppers" is [Tolstoy] "War and Peace", "Anna Karenina" en "Resurrection" en [Dostoyevsky] "The House of the Dead", "Crime and Punishment", "The Idiot", "The Possessed", "A Raw Youth" en "The Brothers Karamazov". Daar was baie ander Russiese skrywers, maar hierdie twee was in 'n klas alleen.

Dostoyevsky het "A Raw Youth" of "The Adolescent" geskryf as 'n ryp ou man, tussen twee van die grootste boeke van alle tye: "Die Besetenes" en "Die Broers Karamazov".

Die storie word vertel deur die baster, onerkende jong seun van 'n aristokraat (met 'n reuse chip op sy skouer). Deur n stukkie geluk kry hy sy hande gelê op 'n brief deur een van sy royal familielede - Katarina, die dogter van 'n Prins, waarin sy skryf aan 'n dokter in Moskou oor die moontlikheid om haar vader seniel te verklaar, op te neem en sy estate oor te neem.

Gewapen met hierdie brief (vasgewerk binne sy jas) vertrek hy om sy familie en sy pa (haar lover) te konfronteer en moontlik af te pers.

Die wiele van die verhaal draai stadig, ongestoord, met 'n groot stel karakters. "Raw Youth" is die tipiese Dostoyevsky-sop van ryp en rou bestandele, stories binne stories, maar hier sonder 'n fundamentele dryfkrag - geen smagting na geloof en God, vergifnis, vrede en moraliteit, wat oral in sy boeke voorkom. Daarom te meer voel dit arbitrer.

Die hoogtepunt vir my was die hartverskeurende storie van 'n ryk sakeman wat per abuis van sy voete gestamp word deur 'n arm seuntjie. Hy laat sy henchmen die kind "'n les leer", hulle slaan hom flou, maar skrik hulle boeglam wanneer die kind by die dood omdraai.

Maande later, sonder verwysing na die insident, bied hy aan om die seun te huisves sodat hy 'n behoorlike opvoeding kan kry. In sy hart wag hy (die miljoener) vir die geleendheid om met die kind te praat oor wat gebeur het, om jammer te sê, maar eers wil hy sy respek wen.

Maar die oomblik wil nie kom nie, die kind bly in vrees leef en praat nie met hom nie. Dan, een dag wanneer sy irritasie besonder hoog is, breek die seuntjie 'n kosbare vaas en wanneer hy die woedende stem hoor hardloop hy die huis uit, spring in die rivier langsaan en verdrink.

Die ou man sit dag na dag en maal sy kop. Uiteindelik, vir sy eie terapie, ontbied hy 'n skilder om dit alles vir hom te verf: sy huis, sy landgoed, hyself in woede agter die kind aan, die rivier, die mense, die seun in die water, arms gekruis oor sy bors, gesig na die hemel, en die Engele van God wat hom kom haal.

Dostoyevsky was daardie skilder van hartseer oomblikke, van "the insulted and the injured".

Maandag, Mei 30, 2005

Die Dobbelaar

Dostojevski was verslaaf aan dobbel, in werklikheid en in sy skryfwerk - die tema van dobbel, skuldmaak, wen en verloor is op elke bladsy van sy boeke.

"Die Dobbelaar" is 'n eenvoudige novelle, 'n groep Russe by 'n dobbel-resort in Duitsland, die entourage van 'n afgetrede, patetiese Russiese generaal. Almal wag in spanning vir nuus dat sy skatryk ma in Rusland gesterf het (en daardeur die fortuin wat hulle almal sal red). En dan daag die ou vrou op - 'n woedende, rolstoelgebonde inwalied wat uit spiteful-heid voor haar seun se neus met die familiefortuin begin dobbel, voordat sy sterf.

D se normale sado-masogistiese, onsuksesvolle menseverhoudings - sonder die groot katarsis van sy romans, maar baie snaaks en insiggewend.

Die groot metafoor wat my opgeval het was dit:

Die dobbelaar dobbel net vir ryk word heel aan die begin. Daarna, en vir die res van sy lewe, dobbel hy "om sy geld terug te wen". Die pyn wat hom aandryf, die verslawing, is die verslawing aan die verlede, aan dit wat hy gehad en verloor het en nie kan vergeet nie.

In die laaste toneel besoek 'n ryk ou kennis die verteller, teen daai tyd 'n bankrot-gedobbelde hobo wat hy opspoor in 'n dobbelsaal iewers in Europa. Hy bied hom 10,000 roubels aan om saam terug te keer na Rusland en sy lewe van vooraf te begin.

Na 'n oomblik sonder 'n antwoord bedink hy homself, hy haal 'n 10 rouble noot uit sy beursie, oorhandig dit en groet.

10 roubel of 10,000 roubel - wat's die verskil?

Dinsdag, Mei 17, 2005

Notes from the Underground

Dostojevski se "Herinnerings uit 'n donker kelder" word in Engels gedruk as "Notes from the Underground".

Dis 'n klassieke tragiese fragment wat die twintigste eeu een van sy basiese dramatiese situasies gegee het. “Notes” het al in 'n menigde aangepaste vorms verskyn: van die Martin Scorsese/Nick Nolte bydrae tot die portmentau fliek "New York Stories", tot Pieter Fourie/Marius Weyers se eenmanvertoning "Die man daar onder", en ‘n menigde ander.

Dostojevski se naamlose held is 'n man wat in sy eie woorde veertig jaar in "'n kelder" woon - in selfveragting, in swakheid, in vrees vir ander mense, sonder vriendskap of verhoudings.

Die drang om homself op een of ander manier te laat geld word elke dag sterker, maar hy kry geen uitlaat daarvoor nie.

Uiteindelik nooi hy homself na 'n reunie van skoolvriende, 'n gehate groepie uit sy verlede, met die doel om respek af te dwing - hetsy deur vriendskap of deur wraak.

Die aand loop skeef in 'n snaakse, verleende manier – hulle val uit, hy begin ‘n string beledigings wat op dooie ore val, sy skoolvriende ignoreer hom asof hy nie bestaan nie.

Halfpad deur die aand staan hulle op en gaan saam na ‘n hoerhuis toe; hy piekkel agterna – sy score is nognie gesettle nie. By die hoerhuis betaal hy ingang om hulle te soek, maar pass uiteindelik uit in die gang, na ‘n lang dag van drank en emosie.

In die middel van die nag word hy wakker met ‘n hoer in die bed langs hom. Nou half sober, half dronk, half deurmekaar oor waar hy is, begin hy met haar gesels. Haar naam is Lisa.

Hy vertel haar van die horribale gesig wat hy gesien het: ‘n kis wat deur mans uit ‘n kelder gedra is – ‘n ou vrou wat daar in die donker gesterf het; weg van die son en die wereld. Stadig maar seker werk hy hom op en voorspel dat dit HAAR lot sal wees: die jeug wat vinnig sal verbygaan, siekte sal kom, dat niemand meer na haar sal wil kyk nie, dat sy plek sal moet maak vir die gesondes, dat sy onder in die kelder sal eindig en daar sterf and almal goddankbaar bly sal wees.

Iewers in die nag versag sy hart, hy gee vir haar sy adres en nooi haar om te kom kuier.

**

Die volgende dag kom die nabetragting. Die hele vorige dag voel soos ‘n droom – sy skoolvriende is vergete, sy enigste berou is die !@#$% adres wat hy vir die hoer gegee het.

In sy gedagtes sien hy dat sy gaan kom, sy naam en sy laaste bietjie eerbaarheid sal ruineer, bedel vir geld, afpersing ens ens.

In sy kop berei hy ‘n toespraak en ‘n string beledigings vir haar voor – as sy dit ooit sou waag – om seker te maak dat dit nie ‘n tweede keer sal gebeur nie.

En ‘n paar weke later gebeur alles net soos wat hy gedink het – Lisa daag by sy huis op en, angstig om die regte boodskap tuis te bring, skreeu en verjaag hy haar terwyl sy nog op sy voorstoep staan.

Sy verstaan sy vrees. En daarom, onverwags, halfpad deur sy tirade, stap sy in stilte na hom toe, gee hom ‘n druk, hou hom vas vir ‘n oomblik, draai om en loop weg sonder om ‘n woord te sê.

Die oomblik van kontak – die eerste in sy lewe – laat hom stom, maar hy sukkel te lank om tot verhaal te kom, en wanneer hy haar terugroep is sy weg.