Sondag, September 13, 2015

The Pervert's Guide to Ideology

Toe Slowenië in 2004 deel van die EU word het die media, opsoek na wat 'n mens 'n Sloweense celeb kan noem,  die filosoof Slavoj Žižek se kommentaar gevra: watter bydrae sal Slowenië aan die EU maak?

Sy antwoord was: Niks.

Dis tipies van hierdie ekletiese hardekop grootbek. In die afgelope twintig jaar het hy soveel opgang gemaak wereldwyd dat die BBC hom uiteindelik 'n hele fliek gegee het net vir sy teorieë oor land en sand.

Kan jy dit voorstel? 'n Ou beeragtige Marxis wat staar na die kamera en voortstrompel in sy gebroke "Arafat-Engels" vir twee ure lank terwyl hy die sluier lig oor alles op aarde.

Dit klink soos die ergste idee in die geskiedenis van swak idees, maar wat kan ek sê - dis die interessantste ding wat ek in jare gekyk het.

Die sleutel tot sy groot sukses deur die jare is te danke aan sy diep kennis, en omarming, van pop-kultuur en die gebruik van pop-kultuur om idees te illustreer. Al die voorbeelde in hierdie fliek is uittreksels uit ander flieks, en dit werk soos 'n bom. Žižek praat nie eers van letterkunde en boeke nie.

Hy het 'n broertjie dood aan wat hy noem "ideologie" - die aanvaarde opset wat bepaal wat jy moreoggend gaan doen wanneer jy opstaan, wat jou prioriteite is en wat reg en verkeerd is.


Heel aan die begin wys hy stukkies van die 80s horrorfliek They Live - waar 'n arm man 'n stel donkerbrille vind waardeur hy die wêreld heeltemal anders sien: al die advertensies rondom ons het sublieme, onderdrukkende betekenis en die aarde word regeer deur 'n ras aliens met kopbeen gesigte (die ryk mense).

Dit is die perfekte model vir wat hy probeer bereik.

Hy bespreek vir lank die konsep van die "Big Other" met voorbeelde van Lenin en Hitler wat wens dat hulle net rus en vrede kon hê en nie hoef straf en pyn uit te deel nie, maar hulle doen dit as hul plig teenoor die "Big Other" - die Duitse Volk of die Proletariaat.

Maar dan wys hy dele uit David Lean se fliek Brief Encounter waar die twee lovers opbreek om hulle diensvolle lewens aan hul onderskeie gades te hervat - nog 'n voorbeeld van die Big Other.

Die ironie is natuurlik dat ons die Big Other self skep om ons lewens te organiseer en sin te gee - ons het dit nodig, hetsy God of Allah of familie of prestasie of wat ook al.

So gaan hy aan en aan oor 'n massa onderwerpe. Žižek is gesous in psigo-analise en Lacan en meeste daarvan verstaan ek nie mooi nie.

Hy bespreek perversie en histeria en eindig op deur te sê dat Christendom meer ateisties is as ateisme, omdat dit die menslike histeria projekteer op God (die enigste Godsdiens wat dit doen): Wat is jou storie? Waarom is jy stil?

Fantasie: dit gaan nooit oor iets wat jy begeer nie, daar is net een fantasie:  dat jy begeer word.

Die probleem met die kommunistiese rewolusies van die 20ste eeu bespreek hy deur nog 'n horror fliek - Frankenheimer se Seconds. Daarin kry 'n man die kans om sy gesig en sy lewe te verander en die identiteit van 'n persoon aan te neem wat pas gesterf het - alles word gereël deur 'n sketchy, geheime maatskappy.

Maar na 'n ruk verlang hy na sy ou self - en hy wil deur 'n operasie terugverander na sy ou identiteit. Oppad na die operasiesaal vir hierdie prosedure besef hy (te laat) dat hy in werklikheid gaan sterf om pad te maak vir die volgende persoon wat sy identiteit wil verander.

Soos met hierdie man is die probleem met rewolusies: jy kan nie ' n nuwe lewe aanneem as jy nie jou drome agterlaat nie. Ou drome sal uit die dieptes opstyg en alles vernietig, maak nie saak wat die rewolusie (die voorneme) was nie.

Maar hoe verander ons ons drome - en hierdie was vir my die beste oomblik - waarom is dit dat die mensdom elke jaar nuwe flieks uitbring waarin armageddon, ons vernietiging, uitgebeeld word. Daar is duisende sulke zombie, dystopiese stories.

Maar die mensdom is nie instaat om 'n beter wêreld as die een waarin ons leef te verbeeld nie?

Nou ja, sit dit alles in jou pyp en rook dit.

Žižek is lief daarvoor om die storie te vertel van die Rabbi wat 'n storie vir 'n kind vertel, waarna die seuntjie vra: ja, maar het dit regtig gebeur? Is dit waar?

Waarop die ou Rabbi antwoord: dit het nie regtig gebeur nie, maar dit is waar.


2 opmerkings :

  1. Gawe opsomming van die film en Žižek se "ideologie", d.i. sy Hegeliaanse/Lacaniaanse/dialektiese psigoanalise. Žižek het al baie gelees en geskryf – ‘n ware vir-almal filosoof - maar lyk my hy het dalk nog nie Jensen se Gradiva in Freud se Delusion & Dream gelees nie. Gradiva, d.w.s. sy wat, soos Mars Gradivus (god van oorlog), “pragtig (die oorlog binne) stap” – Gradiva (die vrou in die kleireliëf) waarop die jong argeoloog, Dr Norbert Hanold sy hart verloor het (terwyl hy dink hy soek kennis), is eintlik Zoë (lewe), en Zoë sien nie net dat Dr Norbert Hanold die kluts kwyt geraak het nie, maar omdat hy so cute is en sy hom nog altyd baie lief gehad het – in kleintyd was hulle beste maatjies, het hulle mekaar se hare getrek – tempteer sy hom stappie vir stappie terug tot sy sinne deur slim op sy sinne in te speel, met (ander) woorde …
    Een punt waar ek dus van u verskil, Mnr Rautenbach, is waar u stel dat dit "nooit [gaan] oor iets wat jy begeer nie". Ek dink mens begeer iets, ek dink mens begeer begeerte.
    Want, hoekom wil mens begeer word? Sodat jy kan weet jy is begeerlik? Sodat jy beter oor jouself kan voel? Dis maar net ‘n deel van die storie.
    Want, wanneer jy begeer word, word die drang van begeerte (LUS) in jouself wakker gemaak, d.w.s. jy stap ‘n staat van begeerte binne en jy begin terug begeer (baie keer iets/’n persoon in jou kop [Gradiva] eerder as die persoon in die werklikheid [Zoë] - maar dis 'n ander storie vir 'n ander keer).
    Hierdie staat van begeerte voel baie lekker – al die vaal dinge skitter weer - en dit is gesond vir die liggaam. Die verhaaltjies/ver-haaltjies in die verstand laat die goeie chemiese goetertjies in jou liggaam teen hoger revolusies werk/afskei en dit sit weer lekkerder/mooier/ positiewer verhaaltjies in jou verstand aan die gang, ensovoorts.
    En dus (gepraat van ‘n oorlog – wat is die liefde anders as ‘n soort oorlog/geweld … van kragte wat magte meet, van verruklike verwarring, van ‘n ossilasie tussen hartstog en “haat” [die een is die ander, net verskillend-uitgestel - vergelyk Derrida se nosie van difference]), dialektiek se dinges. Daar is geen finale punt/sintese nie, geen Absolute Kennis nie, die sintese tuimel altyd oor in in nuwe tesis.
    En dus, so lank as wat mens lewe begeer mens begeerte …
    In Derrideaanse terme (in “The Double Session”, in Dissemination), mens wil die himen breek, maar as die himen gebreek is, dan is die bron van begeerte verwoes … waar plaas dit mens? … Jy wil maar jy wil nie … Oe, gepraat van LUS, of nog beter, van ‘n “onlusknoper” as ek ‘n woord van Breyten Breytenbach* mag gebruik.
    * Vergelyk Waldemar Gouws se “Putin en Zuma en nog ander kaalkoppe eet saam” op Versindaba. (Om my kommentaar op ‘n sekere spektakulêre anti-klimaktiese/koue water op ‘n warmte noot af te sluit met hierdie voetnoot. Derrida wou nog ‘n karno-fallogosentriese iets geskryf het, want soos hy sê, mens MOET GOED eet, want eet eet mense mekaar ...)

    AntwoordVee uit
  2. Hier onder is 'n skakel na wat ek meen 'n goeie bondige en lesersvriendelike opsomming van Žižek se benadering bied - ek het veral gehou van die skrywer se volgende beskrywing en wat volgens my neerkom op wat enige skrywer was sy sout werd is doen te wete die daarstelling van 'n paradoksale beweging wat die verstand uitdaag (en wat natuurlik is wat ideologieë probeer reduseer tot eenvoud en stabiliteit):

    "This strategy of overidentification — which can be summarized in the vertiginous formula, “Yes, of course I agree completely, but aren’t you actually completely wrong?!” — may be difficult to follow, but it produces jolting shifts that could not easily be produced any other way."

    Skakel: https://lareviewofbooks.org/essay/how-to-read-zizek

    AntwoordVee uit