Maandag, Maart 07, 2016

Hammie

Ek onthou in een van die Nuwe Stemme bundels (#3 as ek reg onthou) skryf Antjie Krog in die voorwoord dat bykans die helfde van al die nuwe gedigte deur onbekende skrywers wat oorweeg was handel oor óf God óf die digter se ma.

Hammie is 100% Ronelda Kamfer se ma en 0% God. Dit het my onwillekeurig laat wonder of die twee (ma en god) dalk op een of ander manier verbind is, dat daar iets van dieselfde straf en seen in haar ma vir haar was. Soos ek skryf dink en ek nog daaroor. Daar is beslis niks godsdienstig in die gedigte in - geen sweempie van eendag-sien-ons-mekaar-weer-nie.

Maar nogtans voel dit vir my asof haar ma op 'n manier die vergestalting geword het van alles wat mooi en menslik en bo-menslik was uit haar kinderdae.

die vrou wat haar siek
leave gehou het
vir wanneer iemand 
anders in die huis siek raak


my ma is die spook wat langs die strand stap 
my ma is water 
sy was eers brood

Die res van haar herinneringe is goor en grys met 'n bitter smaak.

Herinneringe as gedigte plae my gewoonlik. Hoe eerliker dit is hoe meer koeëlbestand word dit. Die waarheid maak dit onkritiseerbaar, maar ook op 'n manier onaanraakbaar koud. Ek dink Ronelda Kamfer gebruik dit en van die gedigte is in so 'n veilig-jammer trant: vier daarvan begin met die woorde toe ek klein was...

Digters moet dig en fantaseer en mistieke goeters saam in die pot druk. Dis wat ek die meeste geniet.

Een van die bestes is die kinders se besoek aan haar ma se graf

Ethan en Seymour het die twee langste stokke opgetel 
en besluit om van graf tot graf te gaan 
en die demon vampires terug te slaan onder die grond 

toe ons by my ma se graf kom het Ethan vir Seymour 
aan die hand gevat en gesê this is ma she is frozen 
in the tombstone she is not a demon vampire

Die sublime en die ridiculous. Kamfer, die stil een wat wakker lewe, vertel hoe haar ma, 'n huishulp vir wit mense, gekla het oor die toestand van haar kamer

oor my kamer so vuil was 
jy kan ook net vuil maak en nie ’n fok 
skoonmaak nie 

ek dink daai was haar way om vir my te sê 
ek moet iets anders met my lewe doen

En het sy nie. Kamfer, geanker in emosie, is 'n indrukwekkende digter. Die eerste twee reels van die bundel is

ek het bloed op my hande 
van al die vredes wat ek bewaar 

Min woorde wat raakvat - wat 'n gawe!

om te rou is om te vervel 
en ek wil nog ’n rukkie 
in die dooie dop sit 

daar is baie sulke stukkies juwele oral, frases van insig en deurdringing.

om dronk te wees
was my denial en erkenning
om dronk te wees 
was my plastic gun teen die kop

of

die dood is die ding wat wegraak 
die ding wat jy van vergeet het 
en eendag skielik onthou

As ek een gedig sou kies wat my diep geroer het is dit hierdie een

Nag II 

ek droom net van my ma 
wanneer ek happy is 
in my droom kom sy altyd 
terug van iewers af 
terug van dood wees 
ek vertel haar dan van alles 
wat gebeur het terwyl sy dood was 
hoe ek haar kis uitgekies het 
hoe my ouma nou 
kwaad is vir my en hoe haar klere nog 
in haar kas hang 
dan skud sy net haar kop 
en drink haar tee 
en sê 
dis okay 
my kind 
ek is nou by die huis

2 opmerkings :

  1. Dat die oorweegte gedigte óf oor God óf oor die digter se ma gehandel het kan ook die ideologiese oorientiering van die beoordeellaars aandui.

    AntwoordVee uit
  2. Meneer Rautenbach, as u van "dig en fantaseer en mistieke goeters saam in die pot" hou, hoekom sien ek nog nie 'n bespreking van Marlene van Niekerk se Vrou wat haar verkyker vergeet het nie. Dit is een van my gunsteling werke in Afrikaans. Ek lees dit elke paar jaar en lag en verstom my dood aan wat daar alles saam "in die pot" gedruk is. Sal graag u mening daaroor wil hoor, of selfs net oor een van die stories. Lekker lees intussen - sien uit na u volgende blog.

    AntwoordVee uit