Saterdag, Januarie 21, 2017

Die Kandidaat

Cobus Rossouw en die pasgestorwe Hendrik Verwoerd
Die verskyning van Die Kandidaat in 1968 was 'n gebeurtenis in Afrikaanse flieks vergelykbaar met die eerste vertoning van Citizen Kane in Hollywood in 1941.

Beide was eerste flieks deur jong kunstenaars (Jans Rautenbach en Orson Welles) met teater agtergrond maar weinig ervaring van wat 'n film behoort te wees. Beide het die konvensionele flieks van die dag in die stof gelaat met nuwe tegnieke en 'n hele industrie ongemaklik laat voel oor die eendersheid-van-aanslag wat dit belig het.

Clark Gable het blykbaar gesê nadat hy Citizen Kane gesien het

After this I have to go back to making those A-list movies again.

Die regisseur Dirk de Villiers het vertel watter indruk die eerste toneel van Die Kandidaat op hom gemaak het: die jong Roelf Jacobs wat stap deur 'n gang vol moderne kuns in 'n raadsaal in waar ou Afrikaanse gesagsfigure vir hom wag - die lewendiges en die dooies.

Is dit dan soos 'n Franse fliek hierdie? het ek gedink. Op daardie oomblik het ek besef hier is 'n kunstenaar; voor dit het ek gedink Jans Rautenbach is maar net nog 'n kriminoloog wat probeer flieks maak  ;)

Jans Rautenbach was 31 jaar oud. Vyf jaar tevore was hy, inderdaad, die hoof van Witbank gevangenis. Hoe het hierdie ongelooflike transformasie gebeur?

Die Kandidaat gaan oor 'n stigting wat Afrikaner belange bevorder. In die fliek word dit die "Stigting Adriaan Delport" genoem, vandag se gelyke is die Dagbreek Trust.

Alles speel af oor twee dae waarin die stigting 'n nuwe direkteur moet aanstel. Daar is net een kandidaat en meer as die helfte van die speeltyd gebeur in net een vertrek: die raadsaal waarin die bestuur die onderhoud voer en beraadslaag oor die aanstelling.

Eers na 30 min verlaat die fliek hierdie vertrek en 'n tweede storie begin: die kandidaat se dagwerk is hoof van 'n verbeteringskool vir seuns, en hier loop dinge vinnig skeef terwyl hy besig is met sy onderhoudvoering.

Dit was die eerste keer dat 'n nuwe groep karakter-akteurs op doek verskyn het: Cobus Rossouw as 'n aggressiewe sestiger skrywer, Hermien Domisse as 'n volksmoeder en die jong Regardt van den Bergh (saam met sy pa Gert in hul enigste fliek saam) as 'n probleemkind in die verbeteringskool.

Die twee milieus - die raadsaal en die verbeteringskool - is die haves en die have-nots van Afrikanerdom circa 1960s; die beginpunt en die eindpunt; die arm verlede en die ryk toekoms. Twee verskillende wêrelde, klanke en visuele teksture.

Roelf Jacobs, die kandidaat, probeer (soos Jans Rautenbach) die sprong van die een wêreld na die ander maak. Die fliek is gemaak in die jaar na die moord van Hendrik Verwoerd, en 'n groot beeldhouwerk van hom (saam met ander Afrikanerleiers) staan in die raadsaal, stille toeskouers tot die gesprek van die lewendes.

Regardt vd Bergh se eerste rol as 'n
probleemkind
Die debat in die raadsaal gaan grootliks oor wat die ideale Afrikanerleier se eienskappe behoort te wees. Politiek, kerk, sedes en taal (ek sidder wat Dr Verwoerd sou gedink het).

Twee jaar tevore het Emil Nofal en Jans Rautenbach 'n nuwe filmmaatskappy begin en saam twee flieks gemaak (met Nofal as regisseur)  - King Hendrik en Wild Season. Beide was, volgens die resep van die dag, Engelse flieks met die minimum 40% Afrikaanse dialoog om vir die groter regeringsubsidie te kwalifiseer.

King Hendrik het 'n toekenning van die nuwe Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang, maar Dr Verwoerd se sluipmoord het 'n sterk Afrikaner-intellektuele teenreaksie veroorsaak en dieselfde Akademie het geweier om Wild Season te bekroon omdat dit "onvoldoende Afrikaanse inhoud" gehad het.

Hierdie verwerping was 'n storm in 'n teekoppie maar het vir Rautenbach 'n idee gegee: 'n 100% Afrikaanse fliek vir die Akademie oor die Akademie, met Afrikaner gewroeg maar 'n onweerstaanbare in-jou-gesig kwaliteit, onmoontlik om te ignoreer. Basta die ou Afrikaanse pastorale klein-dorpie fliek, hierdie sou 'n moderne, toekomsgerigte werk met visie wees.

Dit was die Die Kandidaat.

As die premies vir 'n kommersiële fliek in die hande van 'n eerstekeer regisseur kan ek dit kwalik sien, maar die Gode, die storms en die wilskrag het gewoed en hierdie onwaarskynlike fliek is gemaak.

Dit was 'n enorme sukses: 'n lokettreffer, 'n mediasensasie en het - soos Citizen Kane - dadelik beweeg na die top van Afrikaanse beste-ooit lysies.

En dit het - les bes - 'n erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.

Die 60s het die 70s geword, en die 80s, en met die volheid van tyd het Die Kandidaat in die verte verdwyn. Ek self het dit deur die jare vermy - die debatte oor die ideale Afrikaner, gevoer in die verlig/verkramp paradigma van daardie tyd; wat die res van Suid-Afrika se bevolking as 'n oorweging uitsluit - is 'n doodgebore baba.

Dit is eers nou, met die her-kyk daarvan, dat ek besef dat al die water wat onderdeur die brug gevloei het - die septer wat uit die Afrikaners se hande geworstel is - Die Kandidaat bevry het om weer die Die Kandidaat te wees.

Sonder al daardie onregverdige mag kan ons nou weer eerlik debatteer (sonder 'n groot olifant in die raadsaal): bestaan daar nog so iets soos 'n Afrikaner, soos Afrikaners en wat probeer hulle bereik?

En vir Jans Rautenbach was Die Kandidaat - in triomf en later in stilte - sy geliefste film

want dit was my eerste. Want daarna was daar nie meer 'n eerste nie...




Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking