Wys tans plasings met die etiket rf. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket rf. Wys alle plasings

Dinsdag, Desember 01, 2015

Eldar Ryazanov

Eldar Ryazanov is gister oorlede, op ouderdom 88. Ryazanov is heeltemal onbekend in die Weste, maar in Rusland is hy waarskynlik die mees geliefde filmmaker van almal. Soos Garry Marshall in die Weste (Pretty WomanOverboard, Runaway Bride), was Ryazanov se genre romantiese komedie, maar altyd met daai tikkie hartseer wat so deel van die Russiese siel is.

In die 1960s tot 1980s het hy 'n reeks enorme suksesvolle flieks gemaak. Hier is drie van my gunstelinge.

Ironie van Lot

1975 se Ironie van Lot - is Rusland se It's a Wonderful Life. Dit word tot vandag toe elke jaar op oujaarsaand op TV gewys en word gereken dat feitlik elke Rus dit al gesien het.

Ironie van Lot
Die storie gaan oor 'n groep vriende wat 'n op oujaarsdag 'n ram party vir hul vriend op die lughawe hou, voordat hy vlieg om te gaan trou en 'n nuwe lewe begin. Maar hulle almal word so dronk dat die verkeerde man op die vliegtuig klim en na Leningrad vlieg.

Die fliek spot met die feit dat Sowjet-era woonstelle identies was, so ook die straatname en adresse in verskillende stede.

Wanneer die held - Zhenya - uiteindelik opsober is hy op die lughawe op Leningrad en neem hy 'n taxi terug huistoe (onbewus daarvan dat hy in die verkeerde stad is). Daar loop hy in 'n woonstel in wat net soos sy eie lyk, maar aan 'n wildvreemde vrou - Nadya - behoort.

Dit is 'n wonderlike fliek, selfs na al die jare.

Garage

'n Ander een is Garage - letterlik Rusland se Night at the Museum. Die hele fliek speel af deur een nag in 'n groot natuur-historiese museum, waar die werkers na-ure ontmoet om te stem wie die twee mense gaan wees wat hul parkeerplekke moet verloor wanneer 'n nuwe konstruksie langs die museum opgaan.

Garage
Na die stemmery vind hulle dat iemand die hele plek gesluit het en niemand huistoe kan gaan nie.

Die reaksies verander van ongeloof na woede na dreigemente na pleit en uiteindelik, in desperasie, tot 'n her-stemming en dan tot kompromie.

Dis 'n fantastiese karakterstudie, met Ryazanov se gewone groep akteurs.

Treinstasie.

Ironie van Lot speel af as een dag in een woonstel. Garage is een nag in 'n museum. Treinstasie is een nag en een dag op... 'n treinstasie.

'n Treinreisiger weier om 'n kelnerin te betaal vir die ete op die treinstasie ( dis oneetbaar en hy het nie daaraan geraak nie, sê hy ). Die rusie sneeubal vinnig, sy roep die stasie meester en deur 'n reeks ongelukkige verpas hy sy trein en verloor hy sy identifikasie en beursie.

Treinstasie
Die arme man sit moedeloos op die stasie en wag vir die kondukteur wat met sy dokumente vort is. Uiteindelik, spyt oor hoe dinge hande uitgeruk het, besluit die kelnerin om, as 'n vredesgebaar, saam met hom te wag.

Die fliek het 'n interessante begin en einde - waar 'n bandiet in die middel van winter uit 'n tronk in Siberie vrygelaat word vir die naweek om sy vrou te sien, op voorwaarde dat hy weer teen Maandagoggend 8am terug is. Hoe pas dit alles inmekaar?

Ek weet daar is min kans dat mense ooit hierdie goed sal kyk, maar vir my het Ryazanov se flieks baie plesier gegee, so hier is maar 'n laaste dankie - en totsiens.

Vrydag, Augustus 14, 2015

Offer


Tarkovsky. Wat 'n unieke kunstenaar was die wyle filmmaker nie!

Goeie idees is alles. In Solaris het Tarkovsky die storie vertel van ruimtevaarders wat 'n planeet bestudeer - maar hoe meer hulle daarvan leer hoe minder verstaan hulle hulself, totdat die planeet, Solaris, hulle insluk.

Die joernalis Artyom Borovik het later Solaris met Afghanistan vergelyk: van ver af 'n belaglik agterlike land, ryp vir vernuwing en tegnologie - maar elke nuwe besetter (die Britte, Sowjette en die Amerikaners) het keer na keer in dieselfde wanhoop verval in hul onvermoeë (ten spyte van oorweldigende mag) wanneer hulle daar aankom - totdat hulle alles waaraan hulle glo in twyfel trek, en vlug.

In Stalker vertel hy die storie van twee mense wat gelei word deur 'n derde na 'n plek waar hul diepste wense vervul kan word. Een van die grootste films wat ooit gemaak is.

Andrei Rublev gaan oor die middeleeuse kluisenaar-kunstenaar wat sy mojo herondek wanner hy na die moed van 'n seuntjie kyk wat 'n span groot mans lei om die Prins se reusagtige klok te bou. 'n Metafoor van intuisie, geloof en selfgeloof en filmmaak self.

Mirror begin met 'n verpleegster wat 'n seun hipnotiseer en hom dan inlig dat sy hakkel verdwyn het: praat.... (wat 'n metafoor vir kuns!).

Goeie idees is alles - accept no substitute.

Offer, of Sacrifice, was sy laaste fliek.

Die essensie daarvan is 'n afgeleë familie wat wag vir die uitbreuk van die 3de Wereldoorlog. [ Hierdie was in die Koue Oorlog dae ]

Tarkovsky se karakters is altyd aan die gang met vrugtelose intellektuele kibbel. So iets is die doodsteek van enige fliek, maar ek het al ophou daarna luister, want - soos 'n goëlkunstenaar wat jou aandag weglei - laat die filmmaker daarmee saam sy slaapgas vry.

Die pa van die huis, die held van die storie, is Alexander.

In die eerste toneel plant hy saam met sy seun 'n boom, terwyl hy vir die kind die storie vertel van 'n monnik wat sy protege beveel het om elke dag 'n sekere plant water te gee - sonder om enige vrae te vrae. Jare na die meester se dood het die gehoorsame protege eendag by die plant gekom en vir die eerste keer gesien dat dit blomme dra.

Daar is waarde in 'n stelsel - sê Alexander vir die kind.

Maar ten spyte van al die gepraat begin WW3 inderdaad - die radio en televisie dra die aankondigings, jets vlieg oor die huis en bomme begin val - alles is verlore.

Daardie nag word Alexander bewus van die bestaan van 'n heks met towerkrag wat alles kan red. Hy soek haar op, smeek en pleit en sweer om alles op te offer wat hy het, tot sy seun - as sy sal help. Hulle eindig in die bed (swewend bo die bed!) - maar dis alles vir 'n desperate saak.

En na hierdie orgasme word Alexander wakker in sy (gewone) bed.

Dis oggend. Dis stil. WW3? Waarvan praat jy?

Alles is vreedsaam buite.

Vir Alexander is daar twee moontlikhede

1. Hy het homself dit alles verbeel, gedroom.
2. Die heks was hom genadig - en het die wereld verander.

Vir almal in die huis is dit natuurlik  #1. Maar vir Alexander is dit  #2 - en #2 beteken dat hy sy offer moet maak...

Goeie idees is alles.

Maandag, Mei 18, 2015

Come and See

40 jaar het verloop tussen die Tweede Wereldoorlog en Elem Klimov se beroemde fliek - Come and See - oor die inval van die Sowjet Unie deur die gesamentlike magte van Duitsland, Finland, Italië, Hongareie, Romenië en Slowakië.

Nog 30 jaar het verbygegaan sedert Klimov se fliek tot 2015, die 70ste herdenking van die oorlog.

In hierdie jare het Come and See se reputasie gegroei tot waarskynlik die hoogsaangskrewe oorlogsfilm van alle tye.

Dit vertel die storie van die mees brutale oorlogsfront in die geskiedenis sonder om enige oorlog te wys.

Daar is geen armdrukkery in hierdie fliek nie - alhoewel dit van die Sowjet oogpunt gemaak is, word nie 'n enkele Duitse soldaat gedood nie.

Oorlog is nie mag teen mag nie - dis die opvreet van swakkelinge, die leeu wat die bababok verskeur.

Dit volg 'n seuntjie -Flyora (Aleksei Kravchenko) - wat 'n geweer uit die sand grawe en daarmee sy droom kan verwesenlik: om by die Sowjet Partisans aan te sluit tydens die oorlog.

In die chaotiese dae wat volg sluit Flyora aan maar verloor vinnig kontak met die Sowjet magte en dwaal alleen met sy geweer opsoek na vriend of vyand.

Dis 'n banale normaliteit wat hom irriteer - die wereld is besig om te verander maar hy kan geen bydrae maak nie.

Wanneer die vyand uiteindelik verskyn is dit met koue rillings. Hy sien hulle in totale stilte teen skemer met valskerms uit vliegtuie tuimel en stadig sak na die aarde. Een soldaat hak in 'n boomtak vas en hang hulpeloos 'n honderd meter voor Flyora - maar die seun is so geskok hy kan nie beweeg nie. Uiteindelik hardloop hy weg sonder om 'n skoot te skiet.

Die grusaamheid van oorlog (in hierdie fliek) is ossilasie tussen normaliteit en horror. Die een volg die ander so seker soos die dag die nag. Dit is wreder as een lang horrorshow, omdat normaliteit weer hoop bring, hoop wat vernietig kan word.

Wanneer die Duitse magte uiteindelik die dorpie omsingel steek Flyora sy geweer in 'n hooimied weg.

Die hele dorp word uitgewis, maar Flyora oorleef die slagting.

En dan kom normaliteit weer: die Duitsers is weg en Flyora staan alleen met sy geweer (waarmee hy nog nie een skoot geskiet het nie).

In die beroemde finale toneel sien hy 'n portret van Hitler in die modder - en skiet 'n reeks skote van frustrasie daarin.

Tussen elke skoot is 'n montage - in agterstevoor kronologie, van die hede na die verlede - wat die oorlog, die konsentrasiekampe wys, en voor dit die opkoms van Nazi Duitsland, en voor dit Hitler as 'n jong politikus, WW1, Hitler die kunstenaar en uitendelik die baba Hitler op sy ma se skoot.

Flyora skiet na elke beeld, maar kan dit nie oor sy hart kry om na die baba te skiet nie. Hy slinger die geweer oor sy skouer en loop weg.


Maandag, September 15, 2014

In die skadu van vergete voorvaders

Die huwelikstoneel uit 
Skadu van Vergete Voorvaders
Sergei Parajanov was 'n Sowjet filmmaker uit die middel van die vorige eeu - een van die laaste geniale malmense van die medium.

Hy word vandag onthou vir die flieks wat hy in die rand-kultuur tale van die Sowjet Unie gemaak het: Sayat Nova (Armenia), Fort Surami (Georgia), Ashik Kerib (Azeri) en Skadu van Vergete Voorvaders (Ukraine).

Van hierdie flieks is Sayat Nova (Liedkoning), ook bekend as Die Kleur van Granaat, die mees bekende en radikale, in werklikheid een van die mees radikale flieks wat ooit gemaak is.

Sofiko Chiaureli speel die sewe
hoofrolle in Sayat Nova
Dit bevat geen dialoog of storie nie, maar feitlik ook geen beweging nie.

Die hele fliek is 'n reeks gechoreografeerde beelde waarin die akteurs stilstaan of klein bewegings maak.

Dieselfde aktrise - Sofiko Chiaureli - speel die sewe hoofrolle, manlik en vroulik, jonk en oud - van Christus tot die Duiwel - in verskillende kostuums, grimerings en vermommings.

Absurde rituele geinspireer deur Ortodokse Geloof - simbole van Christus, opoffering, geboorte, liefde en dood.

Toe dit verskyn het in 1968 het gehore in beide die Ooste en die Weste gedink, a la Marlon Brando, "it makes as much sense as a rat fucking a grapefruit".

Maar terselfdertyd het dit mense na hul asem laat snak, aangeraak deur iets waar maar onverstaanbaar.

Soos 2001: A Space Odyssey, wat in dieselfde jaar verskyn het, laat Parajanov mens die misterie van lewe voel, die kleinheid en die grootsheid van een lewende oomblik deur donkerte omhul. 

Ons lewe in die skadu van ons vergete voorvaders - hul absurde stryd teen die dood, hul poging om sin te maak, om skoonheid te skep, om hulp op te tower - hul vriendskappe en vyande omring ons lewe.

En soos Frankenstein uit dooie lyke gestik is, so is die verlede ryp materiaal vir 'n wese wat kan opstaan en generasies oral in die wereld inspireer.

Kort na die maak van Sayat Nova is Parajanov tronk toe, waar hy vir vyf jaar klein pop figure sit en maak het.

Na jare van rehabilitasie het die stof gaan lê - en Parajanov het weer begin met sy crazy flieks, asof niks gebeur het nie.

Ten spyte van sy doelbewus kriptiese beelde - en verdwaasde gehore - is hierdie flieks is vandag 'n groot bron van inspirasie vir die kulture van Armenia, Georgia, Ukraine en Azerbijan, so verskillend as wat hulle is.

En hyself - soos al die dromers deur die jare -  is vandag die skadu van ons vergete voorvaders, wat oor oor ons hang.

Vrydag, April 04, 2014

Andrei Rublev

Andrei Rublev was ‘n obskure middeleeuse monnik en ikoon-skilder wat gelewe het iewers tussen 1360 – 1430. Obskuur tot Andrei Tarkovsky se 1966 fliek Andrei Rublev.

Die fliek is verbasend in baie opsigte, maar veral in die unieke hantering van kuns en die kunstenaar. Tarkovsky is verbete om die melk van inspirasie te pers uit die mees onwaarskynlike blik olie – en hy kry dit reg.

Anders as in ‘n gewone fliek oor ‘n kunstenaar, weier Tarkovsky op perverse manier om enige kuns te wys in die loop van die fliek se 3 ure. Die verfilming is telkens uit ‘n frustrerende hoek wat niks wys nie.

Die eerste blik van enige kuns is in die middle van die fliek - wanneer Rublev se klooster deur Moslem-invallers geplunder word - en hulle met fassinasie kyk na die brandende frescoes en ikone.

Daarna onderneem heilige Andrei ‘n gelofte-van-stilte-en-geen-verdere-verwery - hy glo die hele inval was ‘n straf van God vir sy waan (en seks wat hy met ‘n plaaslike meisie gehad het) - en vir die res van die fliek hoor ons nie weer sy stem nie.

En dan kom die fliek se wonderlike laaste "klok" hoofstuk.

Dit vertel ‘n heeltemal ander storie van ‘n Siberiese Prins wat ‘n afvaardiging stuur na ‘n klokmeester – met ‘n kommissie vir die grootste klok in die staat – ‘n klok wat vir kilometers ver van sy paleis gehoor kan word.

Die afvaardiging vind net die klokmeester se seun Boriska (die hele gesin is oorlede in die groot pes), maar die seun oortuig die groep mans dat hy al sy pa se klok-maak geheime ken, en die klok vir die prins kan maak.

Die skeptiese groep mans neem die seun terug na die prins, en hulle skeptisisme vererger met die loop van tyd wanneer die seun nie aan die gang kan kom nie – elke keer met verskonings: hulle het nie die regte klei in die grond nie, hy benodig nog silwer uit die prins se kombuis.

Verskeie kere word Boriska gewaarsku dat hulle sy gatvelle gaan afslag as hy hulle vir die gek hou – maar hy hou vol dat daar “net een manier is” waarop die klok se brons gemaak kan word.

Na maande begin die proses om die klok te giet, met groot onkoste en te midde van ontsettende spanning. Die Prins nooi sy internasionale diplomate vir die oprigting-van en eerste-lui van die klok.

Boriska (Nikolai Burlyayev) voor die eerste slag van die klok
En uiteindelik, wanneer die klok se eerste slag slaan is Boriska nerens te sien nie – die swerwende Andrei Rublev vind hom in trane, waar hy wegkruip agter ‘n muur – en erken dat sy pa hom niks geleer het nie.

Dit is hierdie dapper oomblik – die besef dat kuns nie geleer word nie; dat dit ‘n half-bluf is, vol modder en twyfel tot die laaste oomblik en groot risiko dra, soos om te leun oor ‘n afgrond – wat Rublev se hart raak.

Hy praat vir die eerste keer weer en onderneem om weer te begin skilder, in eer van Boriska se klok.

En dan verander die fliek van swart-en-wit na kleur, en wys vir die eerste keer Rublev se kuns.




Dinsdag, Januarie 21, 2014

Stalker

Ek het verlede week 'n amazing 70s-era Soviet movie gesien - "Stalker".

Die idee daarvan is as volg: iewers op aarde is daar 'n plek wat in die fliek die "Zone" genoem word. Dit word deur troepe bewaak en die publiek mag glad nie daarin gaan nie. Binne die Zone is 'n plek waar jy 'n wens kan maak en dit sal waar word.

Die fliek gaan oor drie mense wat deur-tonnel en binne die zone kom, opsoek na die "Kamer" - die plek waar wense waar word.

Een van hulle (die Stalker, of Sluiper) sê dat hy al vele kere by die kamer was en hy dien as gids vir die ander twee.

Die ander twee karakters word Professor en Skrywer genoem.

Die hele ding is dubbelsinnig, of trippel-sinnig.

Professor en Skrywer maak asof hulle nie werklik in die Kamer glo nie, maar wat maak hulle dan daar?

Miskien is hulle doel om die hele ding te ontmasker, of Kamer (as dit bestaan) vir altyd te vernietig?

Miskien is die Kamer 'n versinsel - iets wat die Sluiper uitgedink het - maar hoekom?

Miskien is dit 'n afgelee plek waarheen hy slagoffers neem om hulle te vermoor en te besteel.

Iewers aan die begin vra hulle die Sluiper hoe die pad terug na buite werk.

"Daar is geen pad terug nie", sê hy.

Die hele ding het 'n "Heart of Darkness" gevoel. 'n Reis na die binne.

Daar is 'n oomblik wanneer Professor praat oor 'n vorige man wat in die kamer was - hulle verwys deurgaans na hom as "Ystervark".

Ystervark het selfmoord gepleeg een week nadat hy in die Kamer was, maar hoekom?

Omdat die Kamer nie enige wens laat waar word nie, net jou diepste wens.

Maar voordat jy hierdie wens kan maak, moet jy weet wat dit is, en om om te weet wat dit is, moet jy eerlik kan wees met jouself en wat jy regtig wil hê.

En dan moet jy besluit: wil jy regtig hê dat jou wens waar moet word?

Dis inderdaad 'n reis in die donker in.

Maar die fliek is 'n wonderlike metafoor van iets heeltemal anders.

Die hele landskap van die Zone is vol misterie en moontlikheid - omdat dit swanger met verwagting is. Dit is die mens se drome en wense wat dit lewendig maak.

Op een stadium vra Skrywer vir die Sluiper of hy al ooit self 'n wens in die Kamer gemaak het.

"Nee, ek is gelukkig soos ek is", antwoord die Sluiper.

Dis 'n baie onwaarskynlike antwoord - die Sluiper is 'n brand-arm sot en die fliek wys hoedat hy sukkel en stry met sy vrou en babatjie.

Maar uiteindelik, wanneer hulle voor die Kamer staan, besef die Professor wat hy bedoel.

Om 'n nietige wurm te wees wat nogtans vir ander mense die pad na hulle vervulling kan wys - is die ultimate rush.

Daar is geen wens groter as dit nie - dit is soos om God self te wees.

Dit is wat kunstenaars doen, wat predikante en mystics en sielkundiges doen

Die laaste, pragtige aspek van hierdie fliek is die stadige finale, waar die drie mense weer terugkeer na die "werklikheid".

Stadig sypel die misterie uit die Zone uit - en al wat oorbly is gras.