Die fliek is verbasend in baie opsigte, maar veral in die unieke hantering van kuns en die kunstenaar. Tarkovsky is verbete om die melk van inspirasie te pers uit die mees onwaarskynlike blik olie – en hy kry dit reg.
Anders as in ‘n gewone fliek oor ‘n kunstenaar, weier Tarkovsky op perverse manier om enige kuns te wys in die loop van die fliek se 3 ure. Die verfilming is telkens uit ‘n frustrerende hoek wat niks wys nie.
Die eerste blik van enige kuns is in die middle van die fliek - wanneer Rublev se klooster deur Moslem-invallers geplunder word - en hulle met fassinasie kyk na die brandende frescoes en ikone.
Daarna onderneem heilige Andrei ‘n gelofte-van-stilte-en-geen-verdere-verwery - hy glo die hele inval was ‘n straf van God vir sy waan (en seks wat hy met ‘n plaaslike meisie gehad het) - en vir die res van die fliek hoor ons nie weer sy stem nie.
En dan kom die fliek se wonderlike laaste "klok" hoofstuk.
Dit vertel ‘n heeltemal ander storie van ‘n Siberiese Prins wat ‘n afvaardiging stuur na ‘n klokmeester – met ‘n kommissie vir die grootste klok in die staat – ‘n klok wat vir kilometers ver van sy paleis gehoor kan word.
Die afvaardiging vind net die klokmeester se seun Boriska (die hele gesin is oorlede in die groot pes), maar die seun oortuig die groep mans dat hy al sy pa se klok-maak geheime ken, en die klok vir die prins kan maak.
Die skeptiese groep mans neem die seun terug na die prins, en hulle skeptisisme vererger met die loop van tyd wanneer die seun nie aan die gang kan kom nie – elke keer met verskonings: hulle het nie die regte klei in die grond nie, hy benodig nog silwer uit die prins se kombuis.
Verskeie kere word Boriska gewaarsku dat hulle sy gatvelle gaan afslag as hy hulle vir die gek hou – maar hy hou vol dat daar “net een manier is” waarop die klok se brons gemaak kan word.
Na maande begin die proses om die klok te giet, met groot onkoste en te midde van ontsettende spanning. Die Prins nooi sy internasionale diplomate vir die oprigting-van en eerste-lui van die klok.
Boriska (Nikolai Burlyayev) voor die eerste slag van die klok |
Dit is hierdie dapper oomblik – die besef dat kuns nie geleer word nie; dat dit ‘n half-bluf is, vol modder en twyfel tot die laaste oomblik en groot risiko dra, soos om te leun oor ‘n afgrond – wat Rublev se hart raak.
Hy praat vir die eerste keer weer en onderneem om weer te begin skilder, in eer van Boriska se klok.
En dan verander die fliek van swart-en-wit na kleur, en wys vir die eerste keer Rublev se kuns.
Geen opmerkings nie :
Plaas 'n opmerking