Donderdag, Oktober 01, 2015

Die Swerfjare van Poppie Nongena

Daar is 'n oomblik in hierdie boek waar die treinkondukteur nader stap om Poppie en haar vyf kinders te waarsku dat hulle afklimpunt naby is.

Hy weet van hulle soort mense. Hy het al voorheen mense van die Kaap op Arnoldon afgesit, mense wat nie weet waarnatoe hulle oppad is nie.

Soos 'n klip wat jy op die een plek optel en op 'n ander plek gaan neersit, dink hy. Hulle wys niks op hulle gesigte nie.

Hier is ek veertig jaar laat vir die prom. Ek het nooit Die Swerfjare van Poppie Nongena gelees nie en ek sou nooit nie, was dit nie vir 'n onderhoud met Elsa Joubert op RSG wat ek toevallig gehoor het nie.

Twee dinge wat sy gesê het het my bygebly:

Kort nadat Poppie vrygestel is het 'n Afrikaanse prof vir haar geskryf en gesê dat daar vandag twee keer meer mense in sy wêreld is as gister.

Die ander ding was: die feit dat ons Afrikaners forseer word om te dink oor ons verhoudings met ander mense is 'n verrykende ervaring wat baie mense in ander lande nooit het nie.

Die jare word nooit genoem nie, maar ek skat die Poppie in die storie is gebore in die laat 1930s. Haar kinderjare was op Upington en Lambertsbaai aan die Wes-Kaap. Poppie en haar broers Hoedjie, Plank en Mosie is Xhosas maar word Afrikaans groot.

Die Xhosas in Lambertsbaai word uiteindelik na die Kaap forseer, waar 'n nuwe stad vir Bantoes gebou word: Nyanga.

Maar in Kaapstad begin 'n uitmergelende, nimmereindigende stryd om 'n "pas" en 'n pas verlenging te kry. Ure en ure en dae en dae in die toue in Observatory en dan in Nyanga.

Sy sien voor haar die klein leë kantoortjie met die groot tafel en die venster wat oopgeskuif is en die maer wit man wat agter die tafel sit. Sy sluk wat op en af skuif soos hy kyk na die papier wat voor hom neergesit is. Sy wit vingers met die geel haartjies daarop wat, terwyl hy lees, met die potlood sit en kap. Of alreeds terwyl hy lees, voel voel na die stempel wat eenkant lê. Met die datums wat daarop uitgekerf is, wat gedraai kan word deur die beweging van sy vingers sonder dat hy daarna kyk, so goed ken hy dit. Na EXTENSION 1 MAAND, 2 maande, 3 maande, 'n jaar. Of niks.

Dit is 'n stryd wat Poppie uiteindelik verloor, en sy word forseer om na 'n land te trek wat sy nog nooit gesien het nie: Ciskei. Hier leef Poppie en haar kinders van R40 'n maand wat haar petroljoggie-man in Kaapstad vir haar aanstuur.

Na haar man se dood aan 'n toordokter se medisyne (Ek het ge-try om goed te doen, ek het nie geweet ek maak my dood nie, is sy laaste woorde) moet Poppie weer terugkeer na die Kaap, sonder haar kinders, om te probeer geld verdien.

Hier belowe 'n wit vrou om haar pas-probleme uit te sorteer as sy sal onderneem om vir 'n jaar te bly werk en nie swanger te word nie.

Of is jy klaar pregnant? vra die vrou.

In die eerste helfde van die boek sien Poppie hoedat elkeen van haar broers, en sy, een na die ander skool verlaat en uitskiet om hulle potjie te probeer krap.

Toe is ma se droom van 'n geleerde kind weg.

In die tweede helfde van die boek word dit duidelik dat hierdie eintlik die enigste droom is: 'n kind met beter kanse as wat ek gehad het.

Ek moet Elsa Joubert ter ere gee - sy probeer nooit om sake te melk of kuns daarvan te maak nie.

Een van Poppie se grootste oomblikke is wanneer sy moed bymekaarskraap om vir 'n ander huis te vra in Mdantsane - een in 'n geteerde straat - en, teen almal se verwagtings, dit kry!

Wat sê Poppie van hierdie ongelooflike oomblik?

Dit was vir my baie lekker dat hulle my ge-change het.

Die laaste deel van die boek word oorheers deur die onluste van 1976, wat van Soweto na die Kaap en dwars deur die land sprei. Tot Poppie se afgryse moet sy sien hoedat haar droom van geleerde kinders (soos haar ma voor haar) sterf in die brande van hierdie spasma geweld. Sy probeer die onverwagte uitbarsting van onluste verduidelik met 'n Xhosa gesegde

Ek wou gehad het dat jy op my liddoring moet trap. Daai slag as jy op my liddoring trap gaan ek jou slaat.

[ Dit het my weer laat besef hoedat dood 'n katalis vir verandering is: in Ukraine, in Tunisië, en in Suid-Afrika - van die aartappel boikot in die 50s ('n boer wat 'n swart kind in 'n aartappelland begrawe het) tot Sharpeville en Soweto en Marikana. ]

Ek vermoed dat baie blankes heimlik hul troos aan die gedagte dat meeste swartmense vandag, na 20 jaar van ANC regering, nog in soortgelyke omstandighede leef.

Maar Poppie gee nooit 'n naam aan dit wat met haar gebeur nie. Die woord apartheid, kolonialisme, kapitalisme of uitbuiting word nie een keer gebruik nie. Behalwe vir die kerk sien Poppie geen troos, geen held, geen ontsnapping vir haarself nie. Sy voel veilig in haar pandok soos 'n slak in sy skulp.

Al wat sy sê, in die laaste paragraaf, is

God is my getuie, ek het die moeilikheid nie gesoek nie.

**


Poppie se frases

Iemand wat baie swaarkry hier is my vrou; iemand wat gehelp moet word is my vrou. [ 'n Brief vir hulp ]

Ek is gevang. [ 'n Polisieman vra wat sy in die stasie doen ]

Sy sit net een soort sit. [ Kla oor haar skoonsuster ]

Waar is my pa se mense? [ Haar broer vra haar ma - hy wil trou ]

Ons het nie 'n kind hierso nie [ Die familie, wanneer die ongewensde vryer kom ]

Maar toe het ek liewerster gelag. [ wanneer 'n man praat van trou ]

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking