Saterdag, Julie 14, 2018

'n paw-paw vir my darling

Persona: twee kante van dieselfde siel,
suave Marcel van Heerden en zef Deon Lotz.
Groot flieks - maak nie saak of dit Duck Soup of Ten Days That Shook The World is nie - seil selde ontbloot oor die water vir bewondering.

Vir die grootste deel is dit amper-iets: die donker buitelyn van moontlikhede onderwater wat krag bymekaarmaak en dan - uit die bloute - een of twee keer, soos 'n walvis opskiet, jou asem wegslaan, en weer verdwyn.

Koos Roets het 'n fliek gemaak van Jeanne Goosen se storie - 'n paw-paw vir my darling. Ek het nog nie die boek gelees nie, net die fliek gesien.

Dit gaan oor die doen en late van twee arm-blanke gesinne langs mekaar in Danville, Pretoria - die Beeslaers en die Bonthuise. Dit skets die pyn van hul bestaan - pyn deur die oog van onvervulbare drome.

Hierdie drome is soms mikroskopies klein, maar net-net buite bereik. In een van die beste tonele huil Deidre Wolhuter by haar man Deon Lotz "oor die sifdeur wat nooit weer heel sal wees nie". 'n Klein seer oog - maar 'n metafoor van ongedeelde en eensaam pyn - wat vir my belangrik is is vir jou onbelangrik.

Soms is die drome mikroskopies klein, maar soms teleskopies groot - soos die dogter wat briewe skryf vir Charlize Theron en haar ma dreig dat sy gaan weg loop na Hollywood.

In hierdie gesukkel kom Marcel van Heerden, 'n dappere con-man wat ou vrouens vry, 'n man met twee plase in die Bosveld, geheime agent vir die regering, vriend van Pik Botha en George Bush, wat almal se probleme gaan oplos maar nie vir sy eie drank kan betaal nie.

Die vonke uit hierdie fliek kom deur die massering, om die beurt, van suave en zef, hoop en wanhoop, vandag se werklikheid en more se moontlikhede - en moet sê ek was beindruk.

Die titel verwys na 'n toneel waarin Deon Lotz vir sy vervreemde vrou 'n paw-paw aan bied - "die beste medisyne vir hardlywigheid".

Salf vir die wond wat nie kan genees nie, maar 'n gebaar van menslikheid en liefde wat die lewe draaglik maak. Hunky dory.

Saterdag, Junie 09, 2018

Malevich 2

Ek verstaan nie aldag wat my so intens aantrek na hierdie dude nie.

Malevich was die man wat kuns transformeer het met "Swart op Wit" - 'n swart vierkant in 'n wit raam. Jy hoef dit nie eers te Google nie, sit 'n selfoon op 'n servet neer en daar is dit.

Hoe oortref jy so iets? Met "Wit op Wit" - 'n ( yebo ) wit vierkant in 'n ander wit vierkant.

Elkgeval - die goeters tref my (soos hierdie een) in die hart - ek dink wat vir my uitstaan, en soveel deernis daarin gee, is die onvermoë om te skilder - dis net lyne trek en inkleur en probeer om die verf ooral oor die doek min of meer dieselfde te laat lyk.

'n Oulap se rooi maak mooi.

Die jare is maar swaar daarmee - dit dop en verblyk - maar as dit waar is dat essensie van kultuur in ons afval vasgevang is, dan is hierdie vergete 100 jaar oue stukke waardige bakens.


Saterdag, Junie 02, 2018

Beauty and the Beast

Daar is 'n paar interessante idees in Jean Cocteau se 1946 weergawe van Beauty and the Beast.

Die gegewe is min of meer dieselfde - 'n sukkelende ou man pluk 'n roos vir sy dogter uit die tuin van 'n monster en hy word ter dood veroordeel. Maar die Monster neem sy dogter in haar pa se plek gevange - 'n lewenslange vonnis.

Daar lewe die twee saam, stoksielalleen - soos in die Disney weergawes uit die 1990s en 2016 - in 'n betowerde kasteel in iewers-iewersland.

Die monster sit sy beste voetjie voor - soveel as wat 'n tronkbewaarder in sy posisie kan - en koester haar met mooi rokke en parfuum en lang sugte van liefde.

Op een stadium merk Belle op: alles in hierdie kasteel is so mooi - asof jy hoop dat dit my verby jou afskuwelikheid sal laat sien.

Wat die film werklik groot maak is die uiteindelike oomblik van transformasie, wanneer die Monster ( wat vir Belle oorgewen het ) transformeer in die Prins in.

Soos 'n dier wat makgemaak word.
Belle laat die Monster toe om water uit haar hande te drink
In die 1946 fliek is daar geen CGI nie - die Monster se karkas val soos 'n jas van die Prins af en lê op die grond, vir beide Belle (in skok) en die Prins om te aanskou.

Wanneer Belle haar sterwende pa vroeër in die fliek sien sê sy "ek sal gelukkig wees as ek hom net van sy askuwelikheid kan laat vergeet".

En hier is dit nou - al die afskuwelikheid afgeskud en lê op die grond.

Maar dit voel inderdaad asof meer verloor is as wat gewen is.

Belle se eerste reaksie, wanneer sy na die Prins se gesig kyk - is dat hy haar aan 'n vorige minnaar herinner.

Die Prins vra - is jy teleurgesteld? en sy antwoord beide "ja" en "nee".

Hierin lê die krag van Beauty and the Beast - die afskuwelike Monster is van 'n ander plek en tyd. Die Prins, met sy groot glimlag, is herkenbaar van hierdie wêreld: een van baie, nie een alleen nie.

Die Monster sal gemis word, maar eers wanneer hy sterf.

Die fliek fokus vir oulaas op die stomende karkas van die Monster (soos die placenta van 'n baba), wanneer Belle en haar Prins verdwyn.

Wat verby is is verby.

Woensdag, Mei 16, 2018

Die Klein Meermin

The Little Mermaid is verreweg my gunsteling animasie fliek. Toe dit verskyn het in 1989 was dit 'n besondere geloofsdaad - een laaste animasie deur die moedelose Disney na 'n lang string rampe oor twee dekades. Maar soos 'n towerstaf het die Little Mermaid alles verander en 'n nuwe epog in animasie begin wat tot vandag toe duur.

Ek het my vir jare getroos aan die gedagte van die sterwende Howard Ashman, wat die lirieke geskryf het. Hy sou kort na Little Mermaid sterf aan 'n onverstaanbare nuwe siekte - AIDS - maar nie voordat hy geboorte gegee het aan hierdie ongelooflike vreugdevolle, epogmakende kunswerk nie.

Vir die min mense wat dit nie ken nie, dit gaan oor 'n meermin wat na 'n heks toe gaan en haar stem vir 'n paar mensbene verruil - sodat sy 'n wêreld bo water kan binnetree waar haar prins woon - 'n wêreld wat nooit vir haar familie en vriende beskore sal wees nie.

Sy neem die besluit om haar bande met haar familie te sny doelbewus, en sy neem dit met die verstandhouding dat haar prins haar binne drie dae moet soen, anders word sy vir ewig en altyd seewier op die bodem van die seë.

Dit maak die hele affêre, sonder haar stem, hoë risiko om die minste te sê, maar Ursula, die heks, verseker haar

You'll have your looks, your pretty face.
And don't underestimate the importance of body language, ha!
The men up there don't like a lot of blabber
They think a girl who gossips is a bore!
Yes on land it's much preferred for ladies not to say a word
And after all dear, what is idle prattle for?

Die patos van die Little Mermaid is dat sy hierdie kans vat, gebore uit 'n onweerstaanbare drang. In sommige weergawes van die storie - soos Dvorak se opera Rusalka - faal sy en word sy inderdaad 'n seewier, maar 'n seewier wat die soeke na liefde geken het.

So wat laat my vannag aan die Little Mermaid dink? Saterdag se troue tussen Megan Markle en Prins Harry.

In alle opsigte is Me Markle die klein meermin: sy het haar liefde, haar Prins, haar swaar keuse oor haar familie, die wereld waarvan sy deel wil wees en al die risikos vir mislukking van Ariel, die meermin.

Maar daar is een verskil.

In die Little Mermaid is dit die Prins se soen wat die heks se spell breek - sy kry haar stem terug en hulle lewe gelukkig saam vir altyd en altyd.

In hierdie lewe is dit die prins se soen, Saterdag, wat haar stem wegneem vir die res van hulle lewe saam.

Maar nou ja - life's full of tough choices, isn't it?

Sondag, April 22, 2018

Ivan the Terrible

Dit is een van die ewige gegewes van reportage dat kunstenaars in verre lande "vervolg" word. In repressiewe plekke soos Rusland, China, Iran en die ou Suid-Afrika veg hulle om waarheid-aan-mag te spreek. Hul werke word onderdruk en verban en eers jare later, indien ooit, sien dit die lig. Feitlike alle verslaggewing oor kunstenaars uit diesulke lande, vandag nog, word deur hierdie lens gedoen.

Hierdie praatjies laat my altyd met 'n wrang glimlag. Min mense weet bv dat die belangrikste versameling moderne Westerse kuns buite Noord-Amerika en Europa in die Tehran Museum vir Eietyds Kuns is.

Neem die geval van die mees beroemde filmmaker uit die Sowjet Unie - Sergei Eisenstein.

In die jaar van die groot Russiese Rewolusie - 1917 - was DW Griffith se fliek Intolerance besig om stadig maar seker deur die wereld te reis. Griffith was ontsteld dat mense aanstoot kon neem teen sy vorige fliek - Birth of a Nation - waarin die helde (die Ku Klux Klan) die Amerikaanse Suide red van Swart stemgeregtiges.
Hy wou wys waar sy hart regtig lê en het 'n manjifieke storie konsipieer wat onverdraagsaamheid uit vier eras verweef in een fliek, rondom die beeld van Lillian Gish wat haar baba wieg ...out of the cradle endlessly rocking....

By die loket was Intolerance so groot flop soos wat Birth of a Nation 'n sukses was. Maar vir kommuniste oral was dit soos die poorte van die hemel wat geopen het. Lenin het vir Griffith geskryf en aangebied dat hy die Sowjet Unie se filmindustrie kon oorneem.

Griffith het ge-nee-dankie, en binnekort sou die Sowjet Unie hul eie ster, nog groter as Griffith, hê: Eisenstein.

Eisenstein se flieks Strike!, Oktober en die Battleship Potemkin was alles hee-ha! kommunistiese propaganda - maar die filmtaal van Intolerance is vinnig opgetel en dramaties verdiep, die beelde het oorspoel met 'n golf van emosie en energie. Dit was 'n internasionale sensasie, skielik was kommunistiese Rusland op die voorpunt van filmkuns.

Dit was die dae van die "silent movies".

En toe, uit Amerika, kom twee goed: "talkies", en 'n plek in Los Angeles met die naam Hollywood.

Eisenstein gaan Hollywood toe. Amptelik is dit om "klank" na te vors, maar eintlik omdat die glans en die nuuskierigheid hom opeet.

Hy was vyf jaar in die Weste. Sy reputasie het hom voorafgegaan. Hy het 'n reuse kontrak van Paramount Pictures gekry, toegang tot al die sterre van Hollywood, die borgskap van die grootste ster van die tyd - Charlie Chaplin. Die linksgesinde gemeenskap in Amerika het sy elke doen en late gevolg en vir hom duimvasgehou.

En wat het dit opgelewer? Zero.

'n Warboel stukkies van wie-weet-wat, maar nie 'n enkele fliek nie.

Eisenstein is terug na die Sowjet Unie met leë hande, waar die industrie reeds oorgeslaan het na klank sonder sy hulp.

En daar het Stalin gewag - die mees gevreesde tiran in die wêreld. Vir wat sou Eisenstein ooit weer teruggaan na Moskou? Wat het verkeerdgegaan in Amerika? Te veel vryheid?

Eisenstein, in hierdie laaste fase, sou nog twee flieks maak, altwee direk op Stalin se bevel. Alexander Nevsky was 'n stuk diknek propaganda op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog, dit wys hoedat Stalin se voorsate Hitler se voorsate verjaag.

En die laaste een - Ivan the Terrible. Stalin het homself blykbaar met die 16de eeuse diktator vereenselwig.

Ivan is gemaak in die laaste jare van die 2de Wêreldoorlog en het uitgesprei in drie dele, elkeen omtrent 90 minute. Die eerste deel van Ivan is uitgereik nog voor die oorlog verby was, en was, soos Alexander Nevsky, 'n groot sukses. 

Die tweede deel is verban en nie uitgereik tot na Stalin (en Eisenstein) se dood nie.

Die derde deel was nog in wording en Eisenstein moes dit blitsig kortknip om nie verder Stalin se haat op die hals te haal nie. Net enkele fragmente daarvan bestaan.

Deel 1 vertel jong Ivan, sy oorloë en die verraad van sy aristokrasie. Dis redelik voorspelbare stof, maar gemaak met 'n fantastiese oog vir drama en tema, met godsdienstige ikone wat oor alles sweef en oë wat dophou. Regverdigheid teen die mure.

Deel 2 maak baie meer van Ivan se eensaamheid, sy kompromieë met die kerk en die aristokrasie word so semi homo-eroties uitgebeeld.

Een toneel in die fliek is in kleur geskiet - die dans macabre van Ivan se makkers. Eisenstein het ten doel gehad dat dit die groot sintese van al die kunste moes wees, waarna Wagner so gestreef het.

Die grootste oomblik van die film ( en dit is die hoendervleis werd ) is wanneer Ivan sy vyand Staritska trick om die Tsar se kroon op sy kop te sit en die godsdienstige prosessie die kerk in te lei, waar 'n sluipmoordenaar wag.

Wanneer Staritska se ma na die tyd haar kind op die kerkvloer vashou, en haar seun se lyk uit haar skoot gesleep word, bly sy met net die kroon in haar hande - die kroon waarvoor sy vir jare geheul het, en wat vir net 'n paar minute op haar seun se kop was. 

Was Eisenstein, die groot kunstenaar, 'n slagoffer?

Na sy lang afwesigheid en mislukkings, om weer terug op die perd te kom, het Eisenstein vir Stalin 'n gat in die kop gepraat dat die werklike skuld vir sy dekade-lange depressie by die hoof van Sowjet film gelê het. 

Stalin het die man - Boris Shumyatsky - summier laat doodskiet. En daarna was dit terug na besigheid. Films moet gemaak word. Shuyatsky was ten tye van sy dood besig met die konstruksie van "Kinograd" - Filmstad - Die Sowjet weergawe van Hollywood.

Eisenstein, wat in die hart van Hollywood USA was, kon geen betekenisvolle manier kry om van al hierdie glans deel te wees nie.

Aan die einde van die dag is kunstenaars, soos ons almal, deels goed en deels sleg, deels slagoffers en deels toedieners, deels radikaal eerlik en deels leuenaars en bedrieërs.

Dit is die kuns wat alles heilig.

Sondag, April 15, 2018

Die Dieper Reg

Sal ons Afrikaners ooit in die hemel kom, na al die sondes van apartheid? As jy ooit hieroor wroeg is jy in goeie geselskap - Afrikaners het 'n lang tradisie daarvan.

Niemand minder as NP van Wyk Louw het 'n hele drama, oratorio, koorspel, heilige gebed affêre, soos net hý kon, hieroor geskryf.

Hy het dit Die Dieper Reg genoem - sy "spel van die oordeel oor 'n volk". Dit word vandag onthou vir die frase: O wye en droewe land...

Louw het dit in die 30s geskryf vir die eeufees vieringe van die Groot Trek, so geen groot spanning om te raai wie wen nie. Die Louw van die 30s was... ehem... 'n ander mens as Mnr Liberale Nasionalisme van die 60s.

Nogtans, dis 'n tydsvak en 'n proses om by die antwoord uit te kom, 'n nominale drama waarin die "Voortrekkers" in een groep in die hemel opdaag en daar deur die Here verhoor word - in "die Saal van Ewige Geregtigheid". 

'n Hofsaak sal nie 'n hofsaak wees sonder 'n aanklaer nie, en so gedaan - die Voortrekkers word aangekla deur "'n magtige en hooghartige Gees wat koninklik in sy eie reg staan", 'n karakter wat eenvoudig die Aanklaer genoem word.

Wat is die aanklag? Grondhonger ( mooi woord )

in opstand het hul uitgegaan
die bande en die wet verbreek
en dwaas hul in verderf gestort
om grond te roof en ryk te word

In hul verdediging maak die Voortrekkers baie van hul leiding en smarte en dapperheid, waarop die Aanklaer opmerk

Die dapperheid is niks as drif
wat selfs die diere het.
Die liggaamspyn ken ook die dier
en kinders baar en sterf...

Ons hoor 'n lang en dor verhaal
van nietige en needrige dinge,
'n swak en skaars nog mensetaal ( praat nog kombuis Nederlands U hoogheid )  
wat nooit deur die sewe heilige kringe 
van God se heerlikheid kan dring;
die Reg is ver bo pyn en drif

Die basiese argument van die Aanklaer is dat leiding en smart nie rede genoeg is om hul daad te heilig nie, daar moet 'n dieper geregtigheid wees.

Louw se toneel aanwysings vir die sprekers is om van die heebie jeebies te kry - dit wys hy neem alles ernstig op: tree vorentoe... heftig en vinnig... smekend... juigend... fors en somber... stil, religieus... diepe ontsag... ekstaties 

Voordat hulle hel toe gaan kry die Voortrekkers darem een van sy grootste gedigte in

KOOR (Klaagsang) (Begin langsaam en versnel totdat die laaste stansas kragtig opklink)

O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal nooit 'n hoë blydskap kom
deur jou stil droefenis?
Jy ken die pyn en eensaam lye
van onbewuste enkelinge,
die verre sterwe op die veld,

die klein begrafnis
eenvoudige mense wat getrou
en enkeld bitter dinge doen,
en enkeld val soos korrels saad;
stil daad, klein trou, klein trouloosheid
van dié wat om 'n ander diens
soos knegte jou verlaat.

(Ligverandering: helderder)

Sal nooit 'n magtige skoonheid kom
oor jou soos die haelwit somerwolk
wat uitbloei oor jou donker berge,
en nooit in jou 'n daad geskied
wat opklink oor die aarde en
die jare in hul onmag terge;
'n grootsheid van so suiwer glans,
dat mense in 'n verre land
wat van jou naam die melding hoor
met wilde en helder oog sal staar
soos vroeë vaarders in die nag
verslae gesien het kim bo kim
die nuwe, blom-groot sterre styg
op uit jou see se wit gevaar?


Die Here vererg hom op 'n stadium vir die Aanklaer se koggeling

Waar is jul mag?
Want net die magtige volke kan
geweldig oor die aarde gaan
soos die wind in sy prag
en sy gestaltes vorm soos klei.

met 'n vat so

Voor God is alle volke klein,
en net die wil se waarde bly

en daarna lyk dinge beter vir die Voortrekkers

Hul sal nie sterf, hul lewe het
in daardie land so ingetrek
en ingeweek dat hul sal bly
so lank sy kranse bo die see
se lang skuimkringe uit sal staan,
afsonderlik en trots en vry

Maar nou ja, dit was die 1930s

Saterdag, April 07, 2018

The Black Monk

Die 19de eeuse opset vir 'n boek romanse was: "hy" is 'n uitgebrande professor wat vlug uit die stad na die dorp; "sy" is die onskuldige, verveelde dogter in die huis waar hy loseer. Jy kry hierdie formule in Franse, Engelse en Russiese letterkunde.

Chekhov het nie veel te vroetel daaraan nie - hy gebruik dit presies so om die bal aan die rol te kry.

Hy is Kovrin, sy is Tanya, die plek waar hy vars lug gaan skep is op haar pa se vrugteboord.

Hierdie plaas - die jare van arbeid en vrugte; van eensoortheid en skoonheid- is 'n simbool van iets wat Kovrin probeer vasvat.

Hy vertel vir Tanya en haar pa die legende van 'n swart monnik wat deur die wêreld reis, altyd 'n skim op die horison, wat sy roete herhaal na 'n duisend jaar, en enige oomblik kan verskyn.

Dit is een van 'n honderd mallighede wat hy kwyt word, hulle slaan geen ag daarop nie.

Wat hy hulle nooit vertel nie is dat hierdie swart monnik hom besoek wanneer hy alleen is.

Van die monnik leer hy dat menslike leiding sal eindig wanneer die mensdom die raaisels van hul bestaan verstaan. Verkore mense sal hierdie raaisels ontknoop, Kovrin is een van hulle.

Kovrin en Tanya trou, maar die swart monnik bly by hulle. Dit is sy uniekheid, sy hoop, sy geheime binnekant.

Wanneer jy wil vlug 
uit die stad wat brand
dan vlug ek saam
soos 'n vrou aan jou hand

Wat pragtig van hierdie storie is is die dubbele geheimhouding. Kovrin wat die bestaan van sy monnik wegsteek. Tanya wat vroeg reeds besef sy is met 'n malwordende getroud maar dit vir die wêreld moet wegsteek.

Wanneer die katarsis kom is die genesing erger as die siekte.

Soos met Don Quixote, wanneer die monnik sterf, sterf die lewenskrag.

Sondag, Maart 18, 2018

Machiavelli se brief aan Francesco Vettori - 10 Des 1513





x
I rise in the morning with the sun, and I go off to a wood of mine which I am having cut down, where I stop for two hours to see what was done the day before and to talk to the oodcutters who always have some trouble at hand, either among themselves or with their neighbours.

Leaving the wood I go to a spring and thence to some bird-traps of mine. I have a book with me, Dante or Petrarch or one of the minor poets, Tibullus, Ovid or the like. I read about their amorous passions and their loves, I remember my own, and dwell enjoyably on these thoughts for a while. Then I go on to the road and into the tavern. I talk to the passers-by, I ask what news of their villages, I hear all sorts of things, and observe the various tastes and ideas of men. In the meanwhile it is time for dinner, and with my folk I eat what food this poor farm and miserable patrimony of mine provides. 

When I have eaten I go back to the tavern. Here I find the host and usually a butcher, a miller and a couple of kiln men. With them I degrade myself playing all day at cricca and tric-trac, and this gives rise to a thousand arguments and endless vexations with insulting words, and most times there is a fight over a penny, and we can be heard shouting from as far away as San Casciano. 

And so, surrounded by these lice, I blow the cobwebs out of my brain and relieve the unkindness of my fate, content that she trample on me in this way to see if she is not ashamed to treat me thus.

When evening comes I return home and go into my study, and at the door I take off my daytime dress covered in mud and dirt, and put on royal and curial robes and then decently attired I enter the courts of the ancients, where affectionately greeted by them, I partake of that food which is mine alone and for which I was born; where I am not ashamed to talk with them and inquire the reasons of their actions; and they out of their human kindness answer me, and for four hours at a stretch I feel no worry of any kind; I forget all my troubles, I am not afraid of poverty or of death. 

I give myself up entirely to them. And because Dante says that understanding does not constitute knowledge unless it is retained in the memory, I have written down what I have learned from their conversation and composed a short work de Principatibus ...

And his biographer, Ridolfi, adds: "In such a mixture of happiness and unhappiness of dream and reality, of base things and greatness, wholly resembling the man himself, The Discourses and The Prince had their origin.

Maandag, Maart 05, 2018

begrawe hom, maar laat geen spore, maak geen hoop



Na al die jare kry ek nogsteeds rillings oor hierdie laaste toneel van Periandros van Korinthe: waarin Periandros moordenaars reel om die moordernaars van die moordenaars wat hy gehuur het om homself daardie nag te vermoor - te vermoor.

Die grootste selfvernietiging in Afrikaans.



Drie grysgeklede sluipmoordenaars binne.

Daar is hier in Korinthe iemand wat my pla
'n mens so laag dat ek hom nouliks kan verdra,
my grootste vyand wat ek op die ganse aarde het,
van ongeregtigheid en baie sondes so besmet
hy moet verdwyn, vernietig word dat niemand hom ooit kry,
dat niemand hom van klip of grond kan onderskei.

Vanaand as dit sterk donker is en seemis landwaarts dryf,
gaan wag agter die strandwal duskant die Olyf
vir die ou man met mantel aan, 'n fakkel in die hand.

Slaat hom dood, maak hom genadeloos van kant
sodat sy dun bloed vinnig in die golwe loop.
Begrawe hom, maar laat geen spore, maak geen hoop
begrawe hom sodat die branders sonder rus
breek oor sy bene in Korinthe met sy klipperige kus.

Speel maar vinnig klaar! Dan moet julle drie verdwyn
langs die voetpaadjie waar Arioon ry op die dolfyn.
Dé, vat die vuilgoed vir die vuilste van vuilwerk!

Hy gooi geld op die vloer hulle pik dit op, soos aasvoëls hulle buit. Af.

Ja. Arioon. die mens is oor die algemeen beperk.
Jy moes my dus maar weer verlaat, suiwer gaan swerf
en vir jou suiwerheid 'n bietjie buitelandse roem verwerf
so baie bieg hoe jy jou stryd teen God besleg,
teken eerder elke ding van God volkome in sy eie reg.

Ses swartgeklede sluipmoordenaars binne.

My ses swart kraaie waarvan byna niemand weet,
wanneer die aasvoëls klaar is, kan die kraaie vreet,
maar julle wag hier in die kelder tot die afspraak
vanaand wanneer die kwartmaan die Akrokorinthos sal raak,
dan fladder julle tot waar Arioon se spuitfontein
ry waters oopsproei uit die bronsrug van die dolfyn

Net daar sal julle drie sien loop. Hul het gemoor!
Slaat dood! Begrawe hulle, laat geen enkel spoor.
Stap dan met die bergpad by die knoetsie om
tot julle van die anderkant die hawe binnekom.

Dé vat die vuilgoed vir die vuilste van vuilwerk!

Hy gooi geld op die vloer. Hulle pik dit op. Af.

Moreoggend wanneer die eerstes in die hof dit vroeg opmerk
sal die vreugde uit 'n duisend kele oor Korinthe daal.
die strate vol klink met tamboere en simbaal.

Hy slaan op simbaal. Leier van leer en paar soldate binne.

Hierdie pand van God en vader, hierdie kis, die dodekis.
neem dit as smeekoffer dat dit ewig in Olumpos rus,
waar die priesters teen vernietiging dit moet beveilig
in die tempeltjie van Hera. Die huwelik is heilig.

Soldate dra kis uit. Periandros roep die leier terug.

Net 'n oomblik. Vannag wanneer die visklok lui,
moet jy 'n vyftien blitssoldate dadelik bedui
om met die bergpad aan te jaag tot hul miskien
die ses sluipmoordenaars by die bergknoetsie sien.

Slaat dood die kraaie wat hul geld ontvang vir moor,
begrawe hulle langs die pad en laat geen spoor!
Laat alles netjies wees soos 'n soldaat se werk.

Leier af


So kom die nag dan stil en byna ongemerk.
Waar sou my mantel wees? So 'n nag is groot en koud
veral as jy moet buite loop en jy word oud.

Trek mantel aan.

Waar is my fakkeltjie?

Steek fakkel aan die brand.

Toe nou liggie, jy moet brand,
'n ou man nog 'n entjie oor die groot en donker land
lei na die see die see wat ewig sonder rus
sal breek en breek, en reinig aan die klipperige kus.

Stap stadig uit met mantel en fakkel


More vroeg, nog vóór die duisende atlete na die park
toe loop, my seun, sal daar geoffer wees: die wildevark.


--DJ Opperman

Donderdag, Januarie 11, 2018

geen verbeeldingryke ommekeer van seisoene en menings nie



Die land het teveel
aan ryk boere met Ford
en Fordson te veel halfgeleerde sportiewe studente
studeer aan te veel universiteite met te veel sosiale personeel
te veel is die somerdae en te kort
is die winters dun is die herfs vals die lente.

Die land het te veel binneland te veel olifant en leeu
en te min watervoëls te min mere en koue poel
met swane niks steur
die voetbalson nie as hulle vleis braai sneeu
dit nooit geen mis spoel
soos melk teen die ruite nie geen sprokies gebeur

in woude nie. Daar is te veel koerante
en koerantsterre soos hoere en moordenaars
te veel onmonargale koninginne en trompoppies
te veel annalante joollieste te veel sonnante
mercedese te veel minnaars
en ministers met hulle adjunkte en ander snoppies.

Daar is te min skilderye en boeke
en te min koue en kaggelvuur maande aanmekaar
skyn die son daar is geen verbeeldingryke ommekeer
van seisoene en menings nie geen donker hoeke
teen storms nie te min storms te ver uitmekaar
lê hemel en aarde met tussenin te veel mooi weer.


--TT Cloete

Woensdag, Januarie 10, 2018

tot die skemer my opslurp



Begelei my, my metgesel,
tot by die ysterspoor
waar die nagtrein
met nuwemaan
weldra verby sal gaan.

Vertoef ’n rukkie daar
tot die skemer my opslurp
en die mure soos skimme
verdof en verdwyn het
by die oorval van die nag.


-Hendrik Januarie



Maandag, Januarie 08, 2018

vir die drif en die drang en soms droewige klank

Dirk Opperman en Breyten Breytenbach is uit twee verskillende geslagte en wêreldaanskouings. Breyten het die winter voel kom van die begin af, hy was aan die sterf vandat hy twintig was, ongemaklik met alle vorms van mag deel - die bekyker met sy kuns en sy eerlikheid.  "So eensaam soos 'n penis".

Opperman was gemaklik met gemak en oop vir alles wat hom gekielie het. 'n Binnestaander, "rymer van die Republiek". Hy was van Wyk Louw se groot gelyke, maar ook bly oor die koms van die Sestigers en nuwe vars lug.

Die twee het hul onderskeie lewenstraumas op dieselfde oomblik-in-tyd gehad. Breyten sy verhoor en tronkstraf in 1975/6 en Opperman sy beswyming in dieselfde tyd, feitlik die hele jaar gehospitaliseer deur drank en depressie.

Breyten het 'n nege jaar vonnis gekry en Opperman 'n tweede lewenskans. Sy ongelooflike familie het hom versorg terug na gesondheid om nog een keer - soos Simson in die Bybel - 'n ongelooflike kragtoer uit te voer, na 'n dekade se stilte.

Dit was die digbundel Komas uit 'n Bamboesstok, wat hy aan Breyten in die tronk gepos het. Daarmee het die twee mekaar gevind. Breyten het hierdie pragtige gedig geskryf

... kennis geneem van die nood
die nood om dood om oog om land om
om die dood hierdie wyn en brood
des levens in die skoot van die blss. te lê...

Langs mekaar gestaan was Breyten, in sy sel, die vry een: Opperman het kort na Komas breinskade opgedoen en vir die res van sy lewe in 'n koma gelê. Hy het gesterf drie jaar na Breyten se vrylating. Breyten, ten spyte van sy doodsangs en sy rebellie, het homself mooi opgepas - en is nogsteeds met ons.




VIR DIRK OPPERMAN, DIE 28STE OKTOBER 1979 - Breyten Breytenbach

enkel dae gelede jou boek in ontvangs geneem
(dank sy die owerhede)
en sommer intraps oorspoel deur die lewenskrag
uit die pragdom van catavina en konsertina,
die jukskeie se klap en soetigheid uit skede,
Herr von der Vogelweide, hoe jy die sin progeen
laat knetter en knot soos 'n ketter opgeskort,
jy die pole merk, ewenaars verwerk,
strome plotselings versterk, óór vul-k-ane swerk
waar kole rif -

dit op staande oog besnuffel, bevoel die gewig
gewrig en geweeg vanaf die om-slag van jou drifdigte gesig
al tussen-in tjoekie-tjoek van gedog tot gedig
beweeg tot in die vok-aal se innigste gestig
en verstom (!) plek-plek oor hoe uit die kabaal
van rommel en ramme
pluimprikkelend 'n gewisse heiliging straal-

(soms, ene muis, slegs oor geproe, geslyp
geintegreer, en was dan selfs in dié krokodillehuis
weer tuis, momenteel
     dronk van die vreugdedis
soos 'n maan in die tronk
hom aan water vergryp)

wat voor een rym en ritme
(wat rede en ruimte en roede is)!

si, certo, l'amore fa passare il tempo
il tempo fa passare l'amore

of iets dergeliks, maar jou is dit beskore
om die vore van die tyd te bevrug
met moersaad al hoe weser en syn-deurdronke:
ja, begeester deur jou prolegomena van knaat en peester
ai, sou ek ook vonk wil vang by die Oude Meester
en 'n eie Megumi-no-Sono ontdek

maar ook kennis geneem van die nood
die nood om dood om oog om land om
om die dood hierdie wyn en brood
des levens in die skoot van die blss. te lê...

daarom, beda doodverblinder,
vir al die wondere geskut in jou mou
('n taschenspieler se sekrete pywurms ontvou!)
vir die drif en die drang en soms droewige klank
met alle ontsag heel veel seer bedank,

en sterk staan, ou buffel, damstáán die dem pyn
karnuffel met jou kierietjies stééds die kluitwo(o)rd fyn!


Sondag, Januarie 07, 2018

‘n brokkie van die ewigheid dryf los



as twee mekaar naak omhels
verander als:
liefde word vleis en bloed.
drome, eetbare vrugte, soet,
gedagtes werklike wyn en brood
op ‘n gedekte tafel, fyn
proebaar op die tong, slukbaar:
die rasendste honger verstil.

spoke word mense,
die hemel sprei ‘n sagte skadukombers oor hulle
en die sterre buig af en fluister ‘n deuntjie.
‘n brokkie van die ewigheid dryf los:
die absolute in die kontigente.
die gebroke kring,
twee helftes van ‘n sinkende boot,
verenig en raak weer vlot
met die blydskap van lied en word
aan boord,
van die verlostes uit nood.

die harde ysterstad
met sy betonhoed,
robotoë en asfaltbroek,
begin ekstaties dans
en al die sterwendes op weg na die graf,
gooi hul kiste van hul skouers af
en lag verbly
en selfs die geharde misdadigers, dood
en sy handlanger tyd,
staan voor dié heilige geheim
eenkant
swyend opsy,
hoed in die hand



-SJ Pretorius

Maandag, Desember 18, 2017

Sans Soleil

Ek het 'n eienaardige ding gesien. 'n Fliek uit die 80s met die naam "Sonder Son". Dis so verwarrend, ek weet nie eers waar om te begin nie.

Dit neem die vorm van 'n vrouestem wat vertel van die briewe wat sy ontvang het van 'n wêreldreiser genaamd "Sandor Krasna". Saam met hierdie stem verskyn beelde uit die strate van verskeie wêrelddele - meestal Japan, maar ook Ysland, Guineau-Bissau, Kaap Verde en San Francisco (waar hy in die spore van die fliek Vertigo reis).

Dis al.

Sans Soleil is interessant as 'n dokument van wat een mens kan vermag, sonder geld, sonder 'n agenda en sonder 'n tema. Dit is gemaak lank voor die Internet en sosiale media deur net een man met 'n film kamera, sonder enige klank.

Vroeg vroeg vertel hy van Sei Shōnagon - 'n Japanse vrou wat rondom die jaar 1000 - waarskynlik uit verveeldheid - lyste begin neerskryf het:

'n lys van elegante dinge 
'n lys van ontstellende dinge
dinge wat nie die moeite werd is om te doen nie
dinge wat die hart vinniger laat klop

Die lyste Sei Shōnagon (164 in totaal) was nie kuns nie, of wetenskap, filosofie of politiek nie - maar desnieteenstaande was dit iets uniek en waar - persoonlik, intiem en 'n dokument van haar tyd.

Haar lyste is jare later as The Pillow Book gepubliseer. Dit is 'n testament van die mag van magteloosheid - die munt wat geslaan kan word uit jou een oomblik in tyd en plek en persoonlike beperkings.

Is Sans Soleil - 'n duisend jaar na die Pillow Book - 'n moderne weergawe van dieselfde ding?

Ja dit is - maar wag eers.

In 1929 - lank voor Sans Soleil - het 'n filmmaker in die Sowjet Unie, Dziga Vertov, die idee gekry om een dag in die lewe van die nuwe kommunistiese samelewing te dokumenteer.

Vertov en sy samewerkers het deur die Sowjet Unie beeldmateriaal in verskillende stede geskiet van gewone mense wat opstaan, werk, reis, skoolgaan, rus, eet en slaap. Al hierdie materiaal het hy aanmekaargesit in 'n fliek met die naam The Man with the Movie Camera - 'n landmerk in filmkuns wat vandag as die grootste dokumenter van alle tye beskou word.

Vertov se idee was dat hierdie fliek 'n produk van baie mense sal wees - voor en agter die kameras - en daarom meer waardevol is as enige kunswerk wat deur een auteur beplan kon word.

In die laat 60s-70s het 'n groep Franse filmmakers die "Dziga Vertov Group" gestig met die idee om hierdie soort film te laat herleef, met wisselende sukses.

Teen die 1980s was die gevoel dat gewone mense "nie wil saamwerk nie", die soort waardigheid van Vertov se dae het nie meer bestaan nie, of het die filmmakers ontwyk.

In Sans Soleil sê die verteller

After circling the globe only banality still interest me.

Chris Marker se idee was dat waarheid in banaliteit "gevang kan word", en later: dat banaliteit spruit uit die verlies aan geheue.

Die helfte van Sans Soleil is in Japan geskiet, waar Marker homself laat gaan: how-I-learned-to-stop worrying-and-love-the seks, bygelowe, Pac-Man, game shows en horror van die nuuskierige-apie Japannese.

the more one watches Japanese TV, the more it appears to be instead watching you

Marker vryf sout in die wonde van super-ryk Japan, wat hul harakiri-vir-die-Keiser verruil het vir hierdie banale gemors lewe.

Die ander helfte is nog meer bitter:

Hy reis na Guinea-Bissau - 'n klein landjie in Wes-Afrika wat een van die kontinent se groot helde opgelewer het - Amilcar Cabral. Maar wat maak dit saak in die 1980s? Cabral is vermoor nog voor hy onafhanklikheid kon sien en wie gee om dat hulle die Portugese verslaan het?

History throws its empty bottles out the window

Marker fokus op die armoede van hierdie mense - fisies, maar meer nog die armoede van vergeet, van lewe sonder 'n geheue.

Die res van Sans Soleil is redelik kripties en onverstaanbaar vir my (insluitende die drie kinders op die pad in Ysland, waarna hy deurgaans verwys), maar dit pla my skaars.

Die lewe wag nie om met betekenis gevul te word nie, dit gaan net aan en aan.

Die motto aan die begin van die fliek is uit TS Eliot

Because I know that time is always time
And place is always and only place...
(And what is actual is actual only for one time
And only for one place.)


Sondag, Oktober 15, 2017

Mishima

Runaway Horses
Stel jou voor NP van Wyk Louw, of Breyten Breytenbach, voer 'n staatsgreep uit om die land oor te neem in die naam van skoonheid, kuns en tradisie.

So iets is werklik in Japan probeer, in 1970, deur hul grootste skrywer Yukio Mishima.

Mishima was reeds drie keer benoem vir die Nobelprys vir Letterkunde toe hy die bevelvoerder van 'n weermag kamp gevange neem en sy soldate probeer inspireer om die land vir die Japanese Keiser terug te neem.

Toe Keiser Hirohito - 25 jaar tevore - op 15 Augustus 1945 Japan se oorgawe oor die radio aankondig was dit die eerste keer dat gewone Japannese sy stem hoor.

In die dekade tevore het Japan 'n reusagtige ryk in Asië verower, so groot soos die hele Europa. Gewone Japannese het dit gedoen vir hul Keiser, wat letterlik God was - 'n skim wat bestaan het maar nooit gesien of gehoor is nie. 'n Eindelose stroom jong mans het tougestaan om hul lewe vir die Keiser op te offer.

In die laaste jaar van die oorlog was die skrif reeds aan die muur. Die Japanese regering het aangedui dat hul gereed is om oor te gee met net een voorwaarde - dat hul Keiser gespaar word.

Hierdie voorwaarde is verwerp deur die geallieerdes, wat beteken dat die voortsetting van die oorlog - insluitend die vernietiging van Tokyo, Hiroshima en Nagasaki - in werklikheid net ter wille van die Keiser was.

The Temple of the Golden Pavillion
Daar is 'n pragtige Russiese fliek - Die Son - wat gaan oor die ontmoeting tussen Hirohito en Generaal Douglas MacArthur van die Amerikaanse besettingsmag. MacArthur moes besluit wat om te doen met die verstrooide-professor Hirohito en het die mannetjie baie inskiklik gevind.

Die Japanese is toegelaat - na al die bloed wat gevloei het - om uiteindelik tog hul Keiser te hou. Hirohito is nooit gevra om te abdikeer nie en is nooit van enige oorlogsmisdade aangekla nie. Anders as sy trawante Hitler en Mussolini het hy in vrede tot die ryp ouderdom van 88 regeer, en sou op vele platforms saam met Koningin Elizabeth, Ronald Reagan en kie verskyn.

Net een klein dingetjie: hy moes sy Goddelikheid afsweer.

Daar is 'n mooi verbeelding in Die Son van hierdie oomblik: alleen in sy kamer sit Hirohito in 'n stoel, strek sy arms en bene uit en sê met 'n glimlag - "Dit is weg".

Vir Japanese soos Mishima was hierdie afswering 'n diepe verraad wat al die bloed van al die gestorwe soldate nietig gemaak het. Dit was die Keiser se verantwoordelikheid om die las van God-wees te dra. Dit het sin aan alles in Japan gegee. Hierdie "God is dood" oomblik het die sinvolheid van alles vernietig.

Kyoko's House
Mishima self was 'n enigma - diep tradisioneel maar wyd belese en bereis in die Weste. Hy was (in sy eie oë) 'n muis op skool wat deur ander kinders afgeknou is. As 'n grootmens het hy 'n obsessie met fisiese krag ontwikkel - hy was 'n gewigopteller totdat sy liggaam mooi en sterk genoeg na sy sin was.

Hy was heimlik gay en het 'n boek daaroor geskryf (Forbidden Colour), maar ook 'n familieman en fanaties konserwatief oor Japannese kultuur.

Hy het tydens die Tweede Wêreldoorlog begin skryf en Japan se voorste skrywer geword - a kamikazi for art - in sy woorde.

Maar hy het in twee wêrelde beweeg - woorde en dade - die pen en die swaard - vroulik en manlik. Sy droom was om hierdie wêrelde te verbind en te transendeer op een of ander manier - en hy het tot die slotsom gekom dat al die kontradiksies sal verdwyn in die oomblik van dood.

Na die mislukking van die "Mishima insident" in 1970 het hy rituele selfmoord gepleeg

Vyftien jaar na sy dood het Paul Schrader die film "Mishima" gemaak, wat sy lewe vergestalt saam met uittreksels uit drie van sy boeke. Dit is 'n uiters eksperimentele, maar lekker fliek.

In die segment oor die boek Runaway Horses, word 'n jong radikale student deur die polisie ondervra. Die student antwoord die pleidooie van "tone it down" met

-If purity is toned down it is no longer purity

-Total purity is not possible in this world

-Yes it is - if you turn your life into a line of poetry written with a splash of blood

-Calm down. Dying isn't everything, you know.

Ongeag Mishima se selfmoord het Keiser Hirohito die goeie lewe in God-se-stilte voortgesit, fanatici sien sterf in sy naam, sonder kommentaar. Anders as Mishima - die boom wat nie buig nie - was die Keiser uiters buigbaar na omstandighede.

Sy begrafnis in 1989 is bygewoon deur 200,000 mense, elke monarg wat jy aan kan dink, George HW Bush, Francois Mitterand en baie ander. Almal het gedink hy was wonderlik.

Onaangeraak, soos 'n God - 'n lewe sonder inhoud.

Donderdag, Oktober 05, 2017

Die blindheid van Sokrates

Die standaard storie is soos volg:

Chaerophon het vir die orakel van Delphi gevra of daar iemand op aarde met meer wysheid as Sokrates is - die orakel sê nee - Sokrates hoor die nuus en is verstom (want hy weet hoe min hy weet) - maar hy besef in tyd dat die orakel reg was - keer na keer, wanneer hy krap aan die oortuigings van ander mense, val hul stories uitmekaar.

Hierdie gekrappery is gedagte-eksperimente, die "Sokratiese metode".

Sokrates vra: wat is "kennis" of "liefde" of "regverdigheid" of wat ook al. Wanneer jy antwoord zoom hy in op voorbeelde wat jou definisie weerspreek en vra verdere vrae wat jou forseer om die definisie te verander, of te kwalifiseer, totdat jy moed op gee.

Die Sokratiese metode was die "soeke na waarheid". Die idee was om mense deur hierdie irritasies bewus te maak van hul eie onopgeloste geloofstrukture.

Hierdie dialoeë van Sokrates is na sy dood deur Plato neergeskryf, dit is die hoeksteen van westerse filosofie. Vandag se dekonstruksie is Sokrates-na-die-maal - dieselfde gekrappery aan stom en stilstaande teikens - idees, ideologieë, kunswerke, letterkunde - om die interne kontradiksies daarvan uit te lig.

In Plato se boeke kom Sokrates as ongelooflik intuïtief voor - meer vir wat hy vermy as vir wat hy doen. Natuurwetenskap het nie bestaan nie, maar Sokrates besef duidelik (2500 jaar gelede) dat hy nie hierdie metode kan gebruik vir bv "wat is die son" nie, en hy val nooit in daardie slaggaat nie. Hy bly by vrae rondom etiek en metafisika.

Hy besef ook dat sy metode net werk wanneer jy jou slagoffer kan beskaam - maw hom kan kry om sy definisie terug te trek omdat hy nie met 'n onverwagte implikasie daarvan geassosieer wil wees nie. Jy kan hom nie oortuig nie - hy moet homself oortuig.

Tot vandag toe word die venster van politieke debatte deur hierdie Sokratiese tegniek bepaal - politici bly by standpunte waarvan al die implikasies duidelik en veilig vir hulself is.

Sokrates het geleef in, en was 'n celebrity in die stad van Athene. In 399BC het die mense van Athene hom ter dood veroordeel vir godslastering en korrupsie van die jeug.

Danksy Plato is sy gesprekke vasgevang vir altyd. Niemand kan sê waar Sokrates eindig en Plato begin nie, maar tussen die twee van hulle het hulle die boek geskryf.

Dis die standaard storie.

Die lewe en dood van Sokrates en sy "soeke na waarheid" bevat vir my een van die diepste ironieë oor kennis and all that jazz.

Hy is gebore in die wêreld se eerste funksionerende demokrasie (Athene) maar volgens alle aanduidings het hy dit verag.

Plato se langste boek - die Republiek - begin met "wat is regverdigheid" en brei dan uit na die staat en wie moet regeer - wat is die "natuurlike staat" van mense. Lang storie kort, dis basies fascisme, met 'n heersersklas wat Plato "Guardians" noem, 'n staat waarin geen families en geen kuns toegelaat word nie. Wie regeer? Nie die massas of diktators nie, maar die filosoof-koning.

Dis moeilik om te glo dat al hierdie dinkwerk hierby eindig (maar waar).

Die boek speel af tydens die Sparta-Athene oorlog, en Sokrates & sy groep ryk jong bewonderaars is beslis aan die Spartane se kant.

Sparta het Athene vir 'n paar maande verslaan, maar nadat demokrasie herstel is is Sokrates aangekla en verhoor. Nugter alleen weet hoe ernstig die burgers van Athene oor hierdie hofsaak was. Uit 'n groep van 500 toeskouers is hy met 'n klein meerderheid skuldig bevind en die kans gegun om sy eie straf te kies.

Met absolute verwaandheid het hy voorgestel dat die "stad se straf" sal wees om hom vir die res van sy lewe van maaltye te voorsien, vir dienste gedoen. Dit was hierdie minagting wat tot sy doodstraf gelei het.

En dan, ten spyte van dit alles is Sokrates geleentheid gegun om te ontsnap, maar hy het hardkoppig geweier en in 'n traak-my-nie-agtige fuck-em-if-they-can't-take-a-joke houding sy laaste dag spandeer, en sy beker gif gedrink.

Wat ek bedoel met die blindheid van Sokrates is dit: terwyl hy gedink en gedebatteer het, was die groot antwoord, die groot waarheid, reg voor sy oë al die tyd. Dit was reeds gevind, is deur niemand gedink nie, dit het anoniem ontstaan deur 'n massa mense, waarvan nie een slim of wys was nie - en deur baie jare.

Demokrasie.

Die verdraagsaamheid wat sy mede-burgers teenoor hom getoon het, lewenslank en tot met sy verhoor. Ten spyte van sy lae opinie van hulle.

Reg voor sy oë, maar onmoontlik om te erken - want baie jare moes nog vloei onder deur die brug. Ons sien net een raampie in die film van wysheid - die een waarin ons lewe.

Sondag, Augustus 27, 2017

Dit of dood

Die ex-libris stempel wat Eugene Marais vir sy boeke versameling ontwerp het. Met die woorde "dit of dood" in die hoek. Wat op aarde wou hy sê?


Saterdag, Januarie 21, 2017

Die Kandidaat

Cobus Rossouw en die pasgestorwe Hendrik Verwoerd
Die verskyning van Die Kandidaat in 1968 was 'n gebeurtenis in Afrikaanse flieks vergelykbaar met die eerste vertoning van Citizen Kane in Hollywood in 1941.

Beide was eerste flieks deur jong kunstenaars (Jans Rautenbach en Orson Welles) met teater agtergrond maar weinig ervaring van wat 'n film behoort te wees. Beide het die konvensionele flieks van die dag in die stof gelaat met nuwe tegnieke en 'n hele industrie ongemaklik laat voel oor die eendersheid-van-aanslag wat dit belig het.

Clark Gable het blykbaar gesê nadat hy Citizen Kane gesien het

After this I have to go back to making those A-list movies again.

Die regisseur Dirk de Villiers het vertel watter indruk die eerste toneel van Die Kandidaat op hom gemaak het: die jong Roelf Jacobs wat stap deur 'n gang vol moderne kuns in 'n raadsaal in waar ou Afrikaanse gesagsfigure vir hom wag - die lewendiges en die dooies.

Is dit dan soos 'n Franse fliek hierdie? het ek gedink. Op daardie oomblik het ek besef hier is 'n kunstenaar; voor dit het ek gedink Jans Rautenbach is maar net nog 'n kriminoloog wat probeer flieks maak  ;)

Jans Rautenbach was 31 jaar oud. Vyf jaar tevore was hy, inderdaad, die hoof van Witbank gevangenis. Hoe het hierdie ongelooflike transformasie gebeur?

Die Kandidaat gaan oor 'n stigting wat Afrikaner belange bevorder. In die fliek word dit die "Stigting Adriaan Delport" genoem, vandag se gelyke is die Dagbreek Trust.

Alles speel af oor twee dae waarin die stigting 'n nuwe direkteur moet aanstel. Daar is net een kandidaat en meer as die helfte van die speeltyd gebeur in net een vertrek: die raadsaal waarin die bestuur die onderhoud voer en beraadslaag oor die aanstelling.

Eers na 30 min verlaat die fliek hierdie vertrek en 'n tweede storie begin: die kandidaat se dagwerk is hoof van 'n verbeteringskool vir seuns, en hier loop dinge vinnig skeef terwyl hy besig is met sy onderhoudvoering.

Dit was die eerste keer dat 'n nuwe groep karakter-akteurs op doek verskyn het: Cobus Rossouw as 'n aggressiewe sestiger skrywer, Hermien Domisse as 'n volksmoeder en die jong Regardt van den Bergh (saam met sy pa Gert in hul enigste fliek saam) as 'n probleemkind in die verbeteringskool.

Die twee milieus - die raadsaal en die verbeteringskool - is die haves en die have-nots van Afrikanerdom circa 1960s; die beginpunt en die eindpunt; die arm verlede en die ryk toekoms. Twee verskillende wêrelde, klanke en visuele teksture.

Roelf Jacobs, die kandidaat, probeer (soos Jans Rautenbach) die sprong van die een wêreld na die ander maak. Die fliek is gemaak in die jaar na die moord van Hendrik Verwoerd, en 'n groot beeldhouwerk van hom (saam met ander Afrikanerleiers) staan in die raadsaal, stille toeskouers tot die gesprek van die lewendes.

Regardt vd Bergh se eerste rol as 'n
probleemkind
Die debat in die raadsaal gaan grootliks oor wat die ideale Afrikanerleier se eienskappe behoort te wees. Politiek, kerk, sedes en taal (ek sidder wat Dr Verwoerd sou gedink het).

Twee jaar tevore het Emil Nofal en Jans Rautenbach 'n nuwe filmmaatskappy begin en saam twee flieks gemaak (met Nofal as regisseur)  - King Hendrik en Wild Season. Beide was, volgens die resep van die dag, Engelse flieks met die minimum 40% Afrikaanse dialoog om vir die groter regeringsubsidie te kwalifiseer.

King Hendrik het 'n toekenning van die nuwe Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang, maar Dr Verwoerd se sluipmoord het 'n sterk Afrikaner-intellektuele teenreaksie veroorsaak en dieselfde Akademie het geweier om Wild Season te bekroon omdat dit "onvoldoende Afrikaanse inhoud" gehad het.

Hierdie verwerping was 'n storm in 'n teekoppie maar het vir Rautenbach 'n idee gegee: 'n 100% Afrikaanse fliek vir die Akademie oor die Akademie, met Afrikaner gewroeg maar 'n onweerstaanbare in-jou-gesig kwaliteit, onmoontlik om te ignoreer. Basta die ou Afrikaanse pastorale klein-dorpie fliek, hierdie sou 'n moderne, toekomsgerigte werk met visie wees.

Dit was die Die Kandidaat.

As die premies vir 'n kommersiële fliek in die hande van 'n eerstekeer regisseur kan ek dit kwalik sien, maar die Gode, die storms en die wilskrag het gewoed en hierdie onwaarskynlike fliek is gemaak.

Dit was 'n enorme sukses: 'n lokettreffer, 'n mediasensasie en het - soos Citizen Kane - dadelik beweeg na die top van Afrikaanse beste-ooit lysies.

En dit het - les bes - 'n erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.

Die 60s het die 70s geword, en die 80s, en met die volheid van tyd het Die Kandidaat in die verte verdwyn. Ek self het dit deur die jare vermy - die debatte oor die ideale Afrikaner, gevoer in die verlig/verkramp paradigma van daardie tyd; wat die res van Suid-Afrika se bevolking as 'n oorweging uitsluit - is 'n doodgebore baba.

Dit is eers nou, met die her-kyk daarvan, dat ek besef dat al die water wat onderdeur die brug gevloei het - die septer wat uit die Afrikaners se hande geworstel is - Die Kandidaat bevry het om weer die Die Kandidaat te wees.

Sonder al daardie onregverdige mag kan ons nou weer eerlik debatteer (sonder 'n groot olifant in die raadsaal): bestaan daar nog so iets soos 'n Afrikaner, soos Afrikaners en wat probeer hulle bereik?

En vir Jans Rautenbach was Die Kandidaat - in triomf en later in stilte - sy geliefste film

want dit was my eerste. Want daarna was daar nie meer 'n eerste nie...




Dinsdag, Desember 13, 2016

Hoe sal die ouvrou ouer as oud

Hoe sal die ouvrou ouer as oud
hoe sal die stoof swarter as koud
hoe sal die hande sonder die hout
sonder die suiker sonder die sout
sonder die meel as die meel het drade
sonder die eiers as die eiers is vrot
sonder die skottel as die skottel het gate
hoe die koek bak geler as goud
wie die skuld hê waar die fout?

Sedert my kinderdae het hierdie woorde 'n magiese uitwerking op my gehad. Ek het nie geweet of omgegee waaroor dit gaan nie. Dit was die mag van poësie wanneer die wind opsteek en die seile bol: bestemming onbekend. Is daar enige woorde meer fantasties musikaal in Afrikaans?

Roep die pou die pou se vure
roep die iris en die helder ure
roep die gans wat raaisels praat
orakel hy dan het ons raad
en is die koekoek 'n hen-koekoek
bak Hera weer besweringskoek.

In 1974 is Sheila Cussons horribaal vermink in 'n gasontploffing in haar kombuis. Sy was twee jaar lank in die hospitaal, het ses vingers en 'n been verloor en moes veloorplantings oor haar gesig en lyf kry.

In die jare tevore was sy die geheime minnaar van NP van Wyk Louw, wat haar "kind" genoem het. Sy het die woorde my voete loop na Wellington maar ek gaan Worcester toe geskryf; en Louw het bygesit ...lê, lê in die wingerd kind

Toe roep my ma om my te stuur
net voor sy wegwring in 'n baksteen
soek jy die grot klim jy die seemuur
en kyk daar raak totdat jy raaksien
- en sit voor hulle neer die skottel en die beker -:
die ouvrou en die eenoog-kind, die gans en die koekoek:
die wysheid en die insig, die raaisel en die wekker -
dan as daar vuur is wys hulle jou hoe bak die gode koek

( wegwring in 'n baksteen - wat 'n beeld! Doodgaan ) Voor hierdie oomblik was Cussons op 'n Ingrid Jonker trajek - 'n muse wat die manne inspireer. Sy was beeldskoon, maar 'n oomblik het alles weggevat. Desnieteenstaande het sy opgestaan - soek jy die grot klim jy die seemuur - en van vooraf die bestanddele vir haar mojo gesoek, om te offer aan die gode.

Toe met sewe oë
kyk hulle my snaaks aan
waar ek meteens beteuterd
in die seekombuisgrot staan:
ek lees die waarheid in hulle blik
en voel my aardig koud:
wat anders is die suiker en meel
die eiers en die melk - vergeet nie die sout! -
as net jouself en jou menslikheid:
en is jy met vuur vertroud?

In later jare het Cussons gepraat van haar verminking as die begin van haar eie innerlike bevryding as kunstenaar. Uiteindelik kon sy die dinge verwoord wat tot daardie oomblik ontken was; die bestanddele aan haar binnekant vind, nie daar buite in die wereld nie.

Sy was reeds 50 jaar oud maar die grootste deel van haar oeuvre as digter sou nog voorlê.

Maar goedig is die gode, my dom bestanddele
was in die toorkombuis teen die omtoorvuur bestand
en met die bykom vind ek hulle het in my ingevlug:
ouvrou, kind, gans, koekoek, net effens aangebrand....

O neutvars kind met die voorskootklere
met die warm wang en die sywurmhare:
ek is nou met die sikloopkind wonderlik behep
en weet dis eintlik sy wat sin maak van die resep

Cussons 2, met die warm wang en die sywurmhare, het hierdie katarsis gehad, 'n "sikloopkind" geword - 'n klein eenoog monster. En uiteindelik, binne daardie sikloopkind, herenig met die siel van haar jeug.


***

Kombuis van Hera

I
Hoe sal die ouvrou ouer as oud
hoe sal die stoof swarter as koud
hoe sal die hande sonder die hout
sonder die suiker sonder die sout
sonder die meel as die meel het drade
sonder die eiers as die eiers is vrot
sonder die skottel as die skottel het gate
hoe die koek bak geler as goud
wie die skuld hê waar die fout?

Roep die pou die pou se vure
roep die iris en die helder ure
roep die gans wat raaisels praat
orakel hy dan het ons raad
en is die koekoek 'n hen-koekoek
bak Hera weer besweringskoek.

II
Toe roep my ma om my te stuur
net voor sy wegwring in 'n baksteen
soek jy die grot klim jy die seemuur
en kyk daar raak totdat jy raaksien
- en sit voor hulle neer die skottel en die beker -:
die ouvrou en die eenoog-kind, die gans en die koekoek:
die wysheid en die insig, die raaisel en die wekker -
dan as daar vuur is wys hulle jou hoe bak die gode koek

Toe met sewe oë
kyk hulle my snaaks aan
waar ek meteens beteuterd
in die seekombuisgrot staan:
ek lees die waarheid in hulle blik
en voel my aardig koud:
wat anders is die suiker en meel
die eiers en die melk - vergeet nie die sout! -
as net jouself en jou menslikheid:
en is jy met vuur vertroud?


Maar goedig is die gode, my dom bestanddele
was in die toorkombuis teen die omtoorvuur bestand
en met die bykom vind ek hulle het in my ingevlug:
ouvrou, kind, gans, koekoek, net effens aangebrand....

O neutvars kind met die voorskootklere
met die warm wang en die sywurmhare:
ek is nou met die sikloopkind wonderlik behep
en weet dis eintlik sy wat sin maak van die resep