Saterdag, Augustus 02, 2014

18-44

Teen die mid 1960s het Etienne Leroux sy groot deurbraak vir Afrikaans - die Silberstein boeke  - sover geneem as wat hy kon.

Hy het nuwe inspirasie nodig gehad - en dit het gekom in die vorm van entoesiastiese brief van 'n tiener-meisie.

Rondom hierdie brief het hy die boek 18-44 gebou - die korrespondensie tussen 'n meisie van 18 en 'n "knolskrywer" van 44.

Dit is een van Leroux se eenvoudigste, roerende en mees geloofbare romans. Die storie, insoverre daar een is, is een gestolde oomblik in 'n park in Oranjezicht.

Die skrywer "Mnr X", vlug weg uit sy "huisie by die see" en sy bitter vrou en ontmoet sy geheime skelmpie  - wat hy deurgaans "sy Rus" noem (sy is uit Rusland) - in die park.

Daar vertel hy haar van sy korrespondensie met "Juf X" - die tienermeisie.

Die eerste brief ontvou op hierdie manier - hy vertel die Rus van die ontdekking en oopmaak van die brief in sy huis terwyl sy vrou aan die tafel gesit het.

Dit word 'n skitterende viervlakkige passasie, waar ons in een slag die brief en al drie karakters (hyself, sy vrou en sy mistress) se reaksie daarop ervaar.

Mnr. Y, mag ek vir u skryf en sal u vir my terugskryf? 

Ek is 18 jaar oud, ek is 'n kunsstudent, ek is nog 'n redelike maagd en verveeld, toe dink ek dit sal interessant wees om vir 'n skrywer te skryf, hy behoort interessante briewe terug te skryf.

Ek het 'n behoefte om by 'n onpersoonlike redelik gedistingeerde persoon te bieg.

My vriendin C sê ek lyk of ek baie vrugbaar gaan wees. Ek herinner haar aan 'n ryk stuk grond met poele water. Ek wys vir haar 'n tekening van blink glansende lukwarte, grotes en kleintjies, en C sê dis nés jy dis nés jy dis baie vrugbaar.

Werp dit enige lig op u, pennemaatjie?

Is u baie besig, mnr. Y? Skryf u nou? Hoe lyk u vrou?

Moenie vir my iets naars skryf nie soos: kry vir jou liewer 'n ander vriend om mee te korrespondeer. 

'n Brief van u sal my verruk. Dit sal my vervelige dae draaglik maak. En ek stik in die stof van my dae.

{Hartjie} om my 'n bietjie nader aan u te bring.

X

PS: Ek het gisteraand my eie oupa veraai. Ek het vir 'n meisie gesê dis my grootjie.

Nou ja - hierdie brief is onweerstaanbaar en 'n hele reeks volg waarin die skrywer die agtergrond tot die drie vrouens in sy lewe gee.

Op hierdie oomblik, iets oor hoe Etienne Leroux skryf.

Die ou Griekse Homeriese liedere, die Iliad en die Odyssey het 'n tegniek gebruik om hoofkarakers te noem by naam+ikoniese-einskap, alles in een.

So bv praat Homerus deurgaans van "the swift-footed Achilles" of "Hector, the tamer of horses" - nie Hector of Achilles nie. En dit gaan so aan tot heel aan die einde van die storie.

Daar is baie navorsing gedoen oor hoekom hulle dit gedoen het - proffies spekuleer dat dit die vinnigste manier is vir 'n gehoor wat luister na die voordrag van 'n epos (hulle het dit nie gelees nie en gekom en gegaan), om die drade van 'n storie op te tel en sin te maak van die horde karakters - elkeen het sy "backstory" sommer in sy naam.

Terselfdertyd het dit die voordraer mikro-sekondes gegee om die volgende lyne in sy kop gereed te kry.

Etienne Leroux het dieselfde gedoen in sy boeke, maar vir 'n ander rede.

Hy praat deurgaans van   

My vriend die homoseksuele argitek
My teringmaer tante
My dowe manies-depressiewe vrou

Ek dink hy het gehou daarvan dat sy boeke ge-pre-interpreteer is. Hy wou nie veel tyd spandeer om die karakters te "skep" of te ontwikkel in hulle rolle nie. Die naam sê alles en benadruk die rolverdeling.

Leroux werk hard om sy situasie in die Oranjezicht parkie op te stel - hy en sy Rus besig om te gesels oor Juf X se briewe, en dan skielik daag haar man op en betrap hulle.

{Freeze frame.}

Hierdie oomblik hang in die lig, soos 'n foto, vir die res van die boek.

Nou begin hy die basiese gegewe te melk vir alles wat hy kan deur literere vergelykings en paralelle tussen die vier vrouens te soek. (Die vier is Sy teringmaer tante, Sy dowe manies-depressiewe vrou, Sy Rus en Juf X) op allerande maniere - vier vrese, vier verkragtings, vier planete, ens.

Dis 'n bietjie arbitrer en vervelig en dis gewoonlik hier waar Leroux begin om te contrive in sy boeke. 

Een hoofstuk se naam  is "Vrees in soveel vorme", waarin hy hierdie aspek uitkarring - wat elke karaker se inherente vrees is - en natuurlik dat almal dieselfde vrese deel.

[Ek moet sê daar is soms pragtige stukkies Afrikaans ook:  Daar was vrees in die handvol grond wat op die kis van my teringmaer tante geklap het.]

Leroux het 'n drang om alles in argetipes en antieke literere vergelykings te stel: so-en-so is net soos sus-en-so, sowel as Wagner se operas - veral die Ring en Parsifal.

Maar dan, wanneer die storie "ontvries" en die Rus se man en sy trawante hom opdonner, vloei die boek na 'n pragtige, tragiese einde.

Iewers in die storie verduidelik Mnr Y sy Russiese minnaares (44 jaar oud, soos hy), vir die 18 jarige Mej Y: 

Julle altwee stel eise: sy omdat elke jaar vir haar betekenis moet hê; jy omdat jy as nimf met 'n drang van vuur ongeduldig wag op die inisiasie

Ek besef nou hoe reg hy was: ek het hierdie boek gelees toe ek 18 was, en nou weer op 44.

En Etienne Leroux is in sy graf.

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking