Maandag, Desember 09, 2013

bruin reisbrief

Soos meeste Afrikaners hou ek nie daarvan om aan apartheid herinner te word nie. Dis nou alles so ver in die verlede - is dit nog 'n verskoning vir enige iets? Was dit regtig so erg?

Dit was lank terug - maar ek onthou nog goed die dae toe alles "slegs blankes" was. Daar was niks snaaks hieraan nie - die hele wereld, van Amerika tot Australië, was dieselfde.

Ons mede-kolonialiste uit Engeland, België, Portugal en Rhodesia het een na die ander geval en later was ons alleen.

Tom Waits het 'n song waar hy sing

I'm the last leaf on the tree
The autumn took the rest, 
but it won't take me

Dit was ons.

Ons het 'n lang storie oor oorsprong en roeping gehad.

Die groot gesprek tussen Afrikaners was oor "identiteit". Wat beteken Afrikaner identiteit?

"Apartheid" was 'n logiese noodsaaklikheid van jou "identiteit". Seker baie soos Israelis vandag hulle "Joodse identiteit" probeer beskerm.

En toe, op 2 Feb 1990 het alles verander met FW se beroemde toespraak,. Die woord "identiteit" het oornag verdwyn en is nooit weer genoem nie - tot vandag.

Daar was klaagliedere en horror-stories oor wat voorlê, maar niemand het weer gesê "maak seker jy weet wat jou identiteit is nie".

Apartheid? Identiteit? (shrugs) Fuck em if they can't take a joke.

Ek dink kinders vandag sal nie weet waarvan jy praat as jy so 'n vraag aan hulle sou stel nie. Hallelujah.

Almal wil vandag onthou dat hulle teen-apartheid-was-voordat-dit-mode-was. Maar wat baie belangriker is, 'n baie groter prestasie: is die eenvoudige feit dat ons verander het: ons het vasgeklou aan iets aakligs, en dit laat los - met skop en skreeu en groot vrees, maar ons het.

Elkgeval, baie jare terug - in die sestigs - het breyten breytenbach die Italiaanse stad Paestum besoek. Daar is vandag net ruines, maar dit was eens die kern van 'n groot nuwe beskawing - 'n klomp Grieke het weggereis om "Groot Griekeland" hier in die bosse te skep.

Later het die Lucians en nog later die Romeine daarna die barbare dit een na die ander oorwin.

Wat breyten daar gesien het is dat al hierdie beskawings eers "heeltemal tot niet moes gaan
om tog, en nou eers, gesamentlik vrug te word"

Wat uniek is aan 'n beskawing kry eers werklik aanvaarding en waardering wanneer dit nie meer 'n obstruksie is nie en versmelt met die wereld.


die proses is onverbiddelik
omdat die mens gekom het om te leef

In 1968 het hy die wonderlike gedig "bruin reisbrief" geskryf, aan sy mede-Afrikaners, met die waarskuwing


dat jy wat te klein was om op te neem
tog iewers in ons groot land nog opneembaar is


bruin reisbrief


liewe Afrikaner,
Hier is ons nou voorlopig ná 'n vermoeiende
reis al deur die Suide, ons roete byna murmelend afgetel
langs 'n perelsnoer van vreemde dorpe vol vreemdelinge
van St Vito Marina deur Foggia na Barletta
en van daar na Bari
seermaakwit teen die see
regs by Monopoli deur die provinsie Puglia
die skuinstes uit verby die vreemdste byekorfkonstruksies
wat diens moet doen as huise
die land in
oor Locorotondo en Martina Franca na Taranto
met sy 'mare grande' en sy 'mare piccolo'
waar ons oornag het digby die donker klopwater
van daar gee die pad weer skiet tussen bloekomlanings
deur Basilikata tot in Kalabria - 
dis hier waar die Middeterreense drie-eenheid van
druif olyf en graan
die land regeer
aangevul deur vis en mens
maar weereens het ons land-in geswenk oor bergpasse
en deur klowe waar sambreeldenne troon
en die groen kastanjeboom uit sy skaduwee breek
soos 'n blaarryke tong uit die mond-
deur Lagronegro en Rocca d'Aspide
('n muil verdien in dié streke sy sout)
en toe berg-af tot waar Paestum tydloos aan die kus lê
soos 'n soen teen die lippe,
en dis waar ons nou nog is...

Hoe Suider mens reis hoe armer word die boere,
in dorpe kyk kind en kraai jou aan - hierdie mense,
suidermense, bruin, kleurlingbruin-
met die oë soos vet oliegladde olywe,
die tonge rats en rooi van die druif se drif;
en oral sien mens hoe 'n Sentrale Owerheid poog
om ook hierdie wêreld op die been te help:
nuwe wit paaie is kruise teen die berg,
daar kom vulstasies, badplase, jong plantasies...

...En ek het die Karoo in bloei sien kom,
sy koppies gesalf met tiemie en roosmaryn
en dorpies soos peesknobbels aan die senings van paaie,
ek het waterslote gesien,
glinsterende uitgebreide spinnedrade oor Namakwaland
met die nedersettings soos vliee daarin verstrik,
landerye katoen in die laagtes.
hoe selfs die Kalahari weer 'n groen vrugbaarheid kry
'n mooi land oop, oop vir al sy mense...

Amper vanself word in so 'n ou land
deurdrenk met die wete van vroeere beskawings wat hier
wortel wou skiet, onsterflikheid wou put
en heeltemal tot niet moes gaan
om tog, en nou eers, gesamentlik vrug te word-
die Liguur van die Noorde, die Italioot,
die eenkant-boer Etrusker, die Griek en die Romein
saam gesuiwer in die smeltkroes van die eeue
en die baie nagte se liefdepyne,
verbaster en gebruin tot hierdie viriele ras
- en wat bly oor van hulle wat
oorspronklik
'suiwer' was?
Niks en alles.
Sigbaar - bolangs - net die bouvalle van absurde tempelsale
hier opgedra aan Hera:
waar poue to pronkvlerk gesleep het en houtkarre spore
in plaveistrate kon gleuf
dartel nou die akkedis en arbei die mier
tussen rooiblom-lourierbosse en klip, verweer
en geel asof van nikotien...

Ook jy, Afrikaner, is reeds gesyfer deur
die prisma van die saad - Hollander (wat Duitser was?)
Fransman, Maleiermoeder en die kapelgeel Khoi-Khoin - 
die proses is onverbiddelik
omdat die mens gekom het om te leef
nie laat leef nie

en wat gaan daar dan van jou mense bly?
Ryk was jou verlede van agter hoor
maar ryker en swarter nog jou toekoms van voor...

Wat bly van jou konstruksies oor?
Jou onverdraagsame Kerk, of jou kerke met die vlerke
wyd van blinde voels,
jou blindelingse apartheidsleer die Hel in-
wat soos die Grieke hier 'n 'Groot Griekeland'
wou stig en uitgeroei is deur die malariakoors

is dit jou Logika?
Net die hoop dan, barse broer, dat jy wat te klein was
om op te neem
tog iewers in ons groot land nog opneembaar is
en dat van jou beste stigmas, soos hiërogliewe
teen die klippe sal bly pryk
of is dit die bang bobbejaan se blom?)

My broer, my dor, verlate broer:
iets wens dat mens weer in jou groei
dat alles groots, Afrikaans, gaan word
en jy ook in mensbruin mense bloei

Dat al ons nasate so soepel van oog
met die tong rooi en glad van bloed sal kan vertel
dat soos Zeus Jupiter was en Jehova Heitsi-Eibib,
jy ook mens geword het
en dit met trots
want onthou, jou bloed het nie grense nie,
sal soos die bruin tekens van die verwonde dier
iewers moet bly blom,
iewers moet jy tot besinning kom
en sterf
soos water

liefdegroete,


(Paestum 3 september 1968)

3 opmerkings :

  1. Goeie opsomming groot Gert, ek dink die konsep en ware betekenis van identiteit is n groot kommer onder jongmense van vandag. Dus jys agv die gebrek daaraan dat baie van hulle sukkel om hulswlf te wees want hul weet nie eintlik wie hul is.....Ek glo tog ons sal oorwin in die soeke na identitiet, wit, bruin of swart, want ons almal kom van 1 Skepper. Nag ou grote......

    AntwoordVee uit
  2. Dis tog net te jammer dat ons tot op hede nog nie erns gemaak het om met mekaar te gesels en uit te pluis wat dit sou, mag en behoort te beteken om Suid-Afrikaner te wees nie. Sekerlik sou dit die moeite werd wees?

    AntwoordVee uit
  3. Dit is so waar wat jy se! Ek het hierdie inskrywing baie geniet - nes al die ander!

    AntwoordVee uit