Vrydag, Augustus 14, 2015

Offer


Tarkovsky. Wat 'n unieke kunstenaar was die wyle filmmaker nie!

Goeie idees is alles. In Solaris het Tarkovsky die storie vertel van ruimtevaarders wat 'n planeet bestudeer - maar hoe meer hulle daarvan leer hoe minder verstaan hulle hulself, totdat die planeet, Solaris, hulle insluk.

Die joernalis Artyom Borovik het later Solaris met Afghanistan vergelyk: van ver af 'n belaglik agterlike land, ryp vir vernuwing en tegnologie - maar elke nuwe besetter (die Britte, Sowjette en die Amerikaners) het keer na keer in dieselfde wanhoop verval in hul onvermoeë (ten spyte van oorweldigende mag) wanneer hulle daar aankom - totdat hulle alles waaraan hulle glo in twyfel trek, en vlug.

In Stalker vertel hy die storie van twee mense wat gelei word deur 'n derde na 'n plek waar hul diepste wense vervul kan word. Een van die grootste films wat ooit gemaak is.

Andrei Rublev gaan oor die middeleeuse kluisenaar-kunstenaar wat sy mojo herondek wanner hy na die moed van 'n seuntjie kyk wat 'n span groot mans lei om die Prins se reusagtige klok te bou. 'n Metafoor van intuisie, geloof en selfgeloof en filmmaak self.

Mirror begin met 'n verpleegster wat 'n seun hipnotiseer en hom dan inlig dat sy hakkel verdwyn het: praat.... (wat 'n metafoor vir kuns!).

Goeie idees is alles - accept no substitute.

Offer, of Sacrifice, was sy laaste fliek.

Die essensie daarvan is 'n afgeleë familie wat wag vir die uitbreuk van die 3de Wereldoorlog. [ Hierdie was in die Koue Oorlog dae ]

Tarkovsky se karakters is altyd aan die gang met vrugtelose intellektuele kibbel. So iets is die doodsteek van enige fliek, maar ek het al ophou daarna luister, want - soos 'n goëlkunstenaar wat jou aandag weglei - laat die filmmaker daarmee saam sy slaapgas vry.

Die pa van die huis, die held van die storie, is Alexander.

In die eerste toneel plant hy saam met sy seun 'n boom, terwyl hy vir die kind die storie vertel van 'n monnik wat sy protege beveel het om elke dag 'n sekere plant water te gee - sonder om enige vrae te vrae. Jare na die meester se dood het die gehoorsame protege eendag by die plant gekom en vir die eerste keer gesien dat dit blomme dra.

Daar is waarde in 'n stelsel - sê Alexander vir die kind.

Maar ten spyte van al die gepraat begin WW3 inderdaad - die radio en televisie dra die aankondigings, jets vlieg oor die huis en bomme begin val - alles is verlore.

Daardie nag word Alexander bewus van die bestaan van 'n heks met towerkrag wat alles kan red. Hy soek haar op, smeek en pleit en sweer om alles op te offer wat hy het, tot sy seun - as sy sal help. Hulle eindig in die bed (swewend bo die bed!) - maar dis alles vir 'n desperate saak.

En na hierdie orgasme word Alexander wakker in sy (gewone) bed.

Dis oggend. Dis stil. WW3? Waarvan praat jy?

Alles is vreedsaam buite.

Vir Alexander is daar twee moontlikhede

1. Hy het homself dit alles verbeel, gedroom.
2. Die heks was hom genadig - en het die wereld verander.

Vir almal in die huis is dit natuurlik  #1. Maar vir Alexander is dit  #2 - en #2 beteken dat hy sy offer moet maak...

Goeie idees is alles.

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking