Vrydag, Junie 27, 2014

Raka

Raka is die bekendste en belangrikste stuk letterkunde wat ooit in Afrikaans geskryf is. Generasies van professore het dit ontleed, na die hemele geprys en kinders in skoolbanke daardeur gesit.

Dit is 'n lang epiese gedig - op die oog af 'n eenvoudige storie van 'n monster-aap wat 'n swart gemeenskap verwoes, iewers in nondescript Afrika.

Die raaisel natuurlik is wat om daarvan te maak.

Louw was versigtig om nie Raka en die stam as net agressor / slagoffer uit te beeld nie - Raka is dom en sterk, maar dit is nooit duidelik dat hy skoor soek nie - dis eerder sy koms wat vir die stam 'n selfbeeld krises veroorsaak.

Dis die feit van sy bestaan wat vir hulle 'n bedreiging is.

No longer at ease in the old dispensation - soos TS Eliot se gedig oor die reis van die drie wyse manne se terugkeer nadat hulle die baba Jesus gesien het.

Verder is daar die beroemde seks-hoek: die vroue smag na hom; die kinders geniet hom; die mans verag hom.

Min gepraat, want elkeen was ontrus 
Oor die mooi dier en die vreemde lus
Wat sy diep in haar hart maar sterk voel 

Dis geskryf vroeg tydens die 2de wereldoorlog.

Een algemene interpretasie is dat Raka Hitler is - maar ek twyfel hieraan.

NP van Wyk Louw (soos Hitler) was 'n deurdrenkte Nietzschiaan - wilskrag en skepping was die groot roeping - "meester moraliteit" (teenoor die arme massas se navolging van godsdiens se "slawe moraliteit".)

Die Louw broers was in die 30s bewonderaars van Nazisme as 'n voorbeeld van Triumph des Willens. [Jare later sou Dick Cheney sê we're an Empire now, and when we act we create our own reality]

In sekere opsigte is dit meer waarskynlik dat Louw aan Amerika of die Sowjet Unie as Raka gedink het, wat dreig om die groot Europese kultuur (wat vir Louw so belangrik was) onder-te-ploeg.

Raka is die koms van hamburgers, Coke en Televisie.

Maar wat van nader aan die huis: Raka is die witmens, wat letterlik kom om Swart Kultuur in Afrika te vernietig. Dis 'n heel geldige interpretasie, maar nee wat, so liberaal was Louw nie.

Andersom? Ons witmense in Afrika is die eensaam stam wat oordonder word deur Swart Afrika wat opstaan?

Raka moet sterf omdat hy onnosel is

Ken hy die vuurgeheim? Het hy die vaal
Drade van katoen leer spin en weef
En in die kleurpot week? Het hy leer leef
Onder die wette wat ons oudstes sing?
Die snel dier moet dood, of hy
Sal heers oor ons, en groot en lang pyn bring

Louw skep een karakter in Raka, wat duidelik diep uit sy hart kom: Koki.

Koki is 'n jong prins - praat nie veel nie, maar hy sien en besef dat ten spyte van al die gepraat die stam te bang is vir Raka - niemand gaan iets aan hom doen nie.

Hy werk homself in 'n trans in (hoog en eensaam, natuurlik) en onderneem om in stilte, en man-alleen, vir Raka dood te maak.

Die roerendste deel van Raka (vir my) is die 2de dag nadat Koki uit die kraal verdwyn het.

en eers toe die middag wolke weer
Soos sneeuberge half-pad hoog teen die lug
Gestaan het - die uur van die verste vlug
van die mens se vrees vir die bose nag
Het dertig man uitgegaan soos vir die jag.
met skilde en asgaaie en warm kole in 'n kruik
om die vyand te verskrik met die rook en die ruik
van die groot grasbrande en digby mekaar
langs die wal van die bree water af het die skaar
na Koki gesoek. 

Teen die skemering laat
as die vrees vir die nag weer luid slaat
                                                                    't hulle hom gekry
in die verskeurde papkuil en die poel waar hy
half in die modder getrap, op die skag
van sy stukkende spies gelê 't, en die krag
en die woede van die swart dier kon hulle sien
aan die liggaam en die spore en die pap riet
en die skild wat geskeur was en diep ingetrap
in die koue klei... 

Die tragedie van Raka is in hierdie edele dood, 'n mislukte poging van Koki om sy stam te red van hierdie monster.

Raka neem vernietigende wraak op die hele stam, maar dit eindig met 'n half hoopvolle noot, dat Raka sy woede uitgewerk het en voortaan met die stam sal saamleef.

Maar wat is hoopvol hiervan? Miskien was dit presies hierdie "aap-mens" lewe uitkoms wat Koki gevrees het.

Kort voor Raka het van Wyk Louw sy bekende Gedagtes, liedere, en gebede van 'n soldaat geskryf

Miskien ook sal ons sterwe, 
En iewers ruggelings stort....

Daai gedig, wat eindig met die troos

Dat ons nie kon gebuig word
Soos hul geweld dit wou
En dat ons hoog kon lewe
Net aan ons bloed getrou

Ek dink Raka is 'n variasie op dieselfde idee, op baie groter skaal.

Watchmen, beskermers van kultuur en geskiedenis, wat die stryd voortsit, vir geen duidelike rede en voordeel nie.

Dit is Louw se eie klein stukkie Wagner: Raka is die onweerstaanbare Siegfried; Koki is die half-blind Wotan wie se dogter reeds aan Siegfried verlore is; verbete om 'n nuwe era van sterk/dom mense te keer - al sal hy sterf in die proses.

Godeskemering.

1 opmerking :

  1. Dankie! Maar in die lig van jou analise dink ek dat die uitbeelding van Raka in die meegaande illustrasie 'n groot fout is. Dit laat niks aand die verbeelding oor nie en is teenstrydig met die effek wat hy veral op vroue en kinders het.

    AntwoordVee uit