Woensdag, Mei 29, 2013

Bartleby


Daar is mense op hierdie aarde (van wie ek een is), wat die 19de eeuse arm klerk Bartleby as 'n persoonlike held sien.

In Herman Melville se storie "Bartleby" neem 'n regsfirma 'n "scrivener" in diens. Dis basies iemand wat dokumente woord vir woord oorskryf - 'n menslike fotostaatmasjien voor elektrisiteit.

Bartleby is 'n uitsonderlike werker - totdat hy eendag deur sy baas gevra word om saam met hom nasien werk te doen - en hy onverwags antwoord

"I would prefer not to".

Nie: ek weier, ek is te besig, en sien nie kans nie, ek sal more, vra iemand anders, vlieg in jou moer. Geen verskonings nie. Net "I would prefer not to".

In die dae wat kom doen Bartleby al hoe minder en minder by die werk. Wanneer hy iets gervra word "verkies hy eerder om dit nie te doen nie".

Soos verwag kan word veroorsaak dit natuurlik baie vinnig 'n krises in die kantoor - alle pogings om uit te vind wat aangaan met Bartleby misluk en uiteindelik word hy afgedank - Vrydagmiddag styl.

Maar, tot almal se ontsteltenis, is Bartleby weer terug by die werk Maandagoggend.

En niks het verander nie. Hy "verkies nogsteeds om eerder niks te doen nie".

En dan een Sondagoggend, wanneer die firma-baas werk toe gaan, ontdek hy dat Bartleby 'n nes gemaak het binne die firma se dak en nooit huistoe gaan nie. Hy woon, leef, was en eet daar.

En Bartleby klou soos 'n neet vas aan sy klein gaatjie.

Uiteindelik besluit die firma - om 'n verdere skandaal te vermy, om self uit die gebou te trek en Bartleby agter te laat.

Die landlord gooi Bartleby eers uit, maar hy bly eenvoudig op die trappe buite die gebou sit.

Uiteindelik word hy deur die polisie verwyder en eindig in die tronk.

Daar word hy een laaste keer deur die verteller, sy vorige indiensnemer besoek. Wanneer hy Bartleby sien is hy sterwend, stil, katatonies en staar, en wanneer die wag sy kos bring

The round face of the grub-man peered upon me now. "His dinner is ready. Won't he dine to-day, either? Or does he live without dining?"

"He lives without dining," said I, and closed his eyes.

Met Bartleby se dood ontdek hulle vir die eerste keer dat hy blind geword het en dit vir almal weggesteek het.

*

Terloops, vir Herman Melville se ander groot verhaal - Billy Budd, kyk [hier]

Donderdag, Mei 23, 2013

Der Fliegende Holländer

Dis 200 jaar sedert Wagner se geboorte hierdie week. Dit was a long time ago in a galaxy far far away - die naaste konneksie aan Wagner in ons tyd en plek is Der Fliegende Hollander.

Dit was Wagner se 4de opera, maar hy het in later jare die 3 operas voor hierdie een onteien, en sy slaafse volgelinge het sy voorbeeld gevolg. So vir alle praktiese doeleindes is dit sy eerste in die moderne repertoire.

Die legende van die Vlieende Hollander is welbekend - dit kom van die "Kaap van Storms" af, ons eie Kaapstad - waar die bedonderde Hollander God gevloek en daarna nooit kon ophou vaar om die wereld nie.

Later is 'n legende bygelas van 'n meisie se liefde wat die Hollander van sy pyn kan red deur haar lot saam met hom in te gooi.

Om so iets moontlik te maak moet die Hollander - van der Decken - een maal 'n jaar die kans kry om vir een nag aan land te gaan en iemand te vind wat vrywillig, gewillig is om saam met hom op die skip te klim.

Maar wat is die kanse?

Meer nog - wat is die kanse dat in die klein Noorweegse dorpie waar hy hierdie jaar land, daar 'n meisie woon wat van kindsbeen al droom & nagmerries het oor 'n donker skip en 'n wrede man daarop - destiny or what!

Daar is een toneel in Der Fliegende Hollander waar 'n dronk groep matrose begin dans op die kaai en dan skielik, deur die mis, die reuse spookskip sien en die spoke hoor terugsing van hulle skip af. Die verskrikte matrose begin in ritme saam in 'n sirkel spring om hierdie spookgeluid uit te dreun met hul eie lied en voete.

Steuermann! Laß die Wacht!, noem hulle hierdie dans-macabre.

Ek het Hollander as kind gesien (in die dae toe koshuiskinders 'n gratis kaartjie en 'n aand uit kon kry).

Dit was nie my eerste opera nie, maar dit was hierdie oomblik waar ek vir die eerste keer opera verstaan het - die droom van die gesamskunstwerk: Hoe alles kan saamwerk om iets groter te skep: die drama, die musiek, die beligting, die mis, die dans, die woorde, die donkerte, die onderdrukking en uitbarsting  - en waarom so 'n kunsvorm bestaan in eie reg.

Happy Birthday Mr Wagner, in watter plek jou siel ook al ge-eindig het.

Saterdag, Mei 11, 2013

Die Pluimsaad Waai Ver

Wat is 'n Volk?

NP van wyk Louw - met al sy foute, onsekerhede, pretensies en wroegings - kon skryf in Afrikaans soos niemend anders nie.

Hy het 'n magiese gevoel vir die musiek van sinne gehad. Soos Shakespeare in Afrikaans, kon hy woorde aanmekaarsit in 'n manier wat onmiddelike gewig en visie daaraan gegee het.

Die Pluimsaad Waai Ver

Vier pragtige woorde met suggestie en misterie - wat beteken dit? 

Die volgende twee woorde is 'n alternatiewe titel vir hierdie Boere oorlog drama.

Bitter Begin

How great is that!

Pluimsaad gaan oor die Vrystaatse Boere President MT Steyn. Die ou man wat dit reggekry het om, saam met Generaal Christiaan de Wet, die grootste mensejagting in die geskiedenis te oorleef.

Brittanje het 200,000 Empire troepe op jag gehad vir Steyn en de Wet en geglo (teregterlik) dat die oorlog dadelik beeindig kan word deur Steyn te vang. President Kruger was reeds 'n banneling in Europa.

Des nieteenstaande is Steyn en de Wet nooit gevang nie: hulle was bittereinders. Hulle is uiteindelik deur hul eie volksgenote oortuig om gewilliglik oor te gee.

Pluimsaad gaan oor hierdie binnestryd tussen aanhou en ophou.

Dit begin met 'n Ou Vrou wat praat met die gehoor

Wat is 'n volk?
Uit stof en stof-in-tyd is ons gemaak:
Boere en knegte, trein masjiniste,
passers, labratorium-assistente,
motoriste, meisies in swemklere,
bestuurders, direkteure en rekenmeesters
meisies op voorblaaie en agter
op motorfietse; anoniem: 'n massa,
maar elkeen met sy naam en eie aard,
elkeen met sy kiesheid, wat 'n kuisheid kan word.

Die laaste toneel is Steyn wat terugdink aan wat hy gedoen en begin het

Voor Magersfontein het twee jong burgers na my toe gekom en gevra: "President, ons is bly ons gaan veg. Maar as ons doogeskiet word, hoe weet ons julle gaan nie bo-oor ons grafte oorgee nie - en ons Vrystaat sy vryheid verloor?"

En ek het belowe: Hierdie hand van my sal nooit 'n vrede onderteken wat die onafhanklikheid van die Vrystaat weggee nie.

En hulle het gesê: "Dankie President."

(pouse)

Hulle het albei kort daarna gesneuwel.

Ek is met 'n duur eed gebind. Ek is gebind aan al ons dooies onder die aarde.

'n Duur eed. Die pluimsaad waai ver: die gevolge van ons dade kring wyd uit en word gevoel vir jare en jare en jare.

Dis 'n oomblik van rekening wat wag vir almal wat oorlog begin, en dit oorleef.

Mary Chestnut, aan die verloor kant van die Amerikaanse Burgeroorlog, het geskryf

Woe to those that began this war, if they were not in bitter earnest.