Woensdag, Mei 29, 2013

Bartleby


Daar is mense op hierdie aarde (van wie ek een is), wat die 19de eeuse arm klerk Bartleby as 'n persoonlike held sien.

In Herman Melville se storie "Bartleby" neem 'n regsfirma 'n "scrivener" in diens. Dis basies iemand wat dokumente woord vir woord oorskryf - 'n menslike fotostaatmasjien voor elektrisiteit.

Bartleby is 'n uitsonderlike werker - totdat hy eendag deur sy baas gevra word om saam met hom nasien werk te doen - en hy onverwags antwoord

"I would prefer not to".

Nie: ek weier, ek is te besig, en sien nie kans nie, ek sal more, vra iemand anders, vlieg in jou moer. Geen verskonings nie. Net "I would prefer not to".

In die dae wat kom doen Bartleby al hoe minder en minder by die werk. Wanneer hy iets gervra word "verkies hy eerder om dit nie te doen nie".

Soos verwag kan word veroorsaak dit natuurlik baie vinnig 'n krises in die kantoor - alle pogings om uit te vind wat aangaan met Bartleby misluk en uiteindelik word hy afgedank - Vrydagmiddag styl.

Maar, tot almal se ontsteltenis, is Bartleby weer terug by die werk Maandagoggend.

En niks het verander nie. Hy "verkies nogsteeds om eerder niks te doen nie".

En dan een Sondagoggend, wanneer die firma-baas werk toe gaan, ontdek hy dat Bartleby 'n nes gemaak het binne die firma se dak en nooit huistoe gaan nie. Hy woon, leef, was en eet daar.

En Bartleby klou soos 'n neet vas aan sy klein gaatjie.

Uiteindelik besluit die firma - om 'n verdere skandaal te vermy, om self uit die gebou te trek en Bartleby agter te laat.

Die landlord gooi Bartleby eers uit, maar hy bly eenvoudig op die trappe buite die gebou sit.

Uiteindelik word hy deur die polisie verwyder en eindig in die tronk.

Daar word hy een laaste keer deur die verteller, sy vorige indiensnemer besoek. Wanneer hy Bartleby sien is hy sterwend, stil, katatonies en staar, en wanneer die wag sy kos bring

The round face of the grub-man peered upon me now. "His dinner is ready. Won't he dine to-day, either? Or does he live without dining?"

"He lives without dining," said I, and closed his eyes.

Met Bartleby se dood ontdek hulle vir die eerste keer dat hy blind geword het en dit vir almal weggesteek het.

*

Terloops, vir Herman Melville se ander groot verhaal - Billy Budd, kyk [hier]

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking