Vrydag, Oktober 29, 2010

Billy Budd, Sailor

Herman Melville se groot tragedie is dertig jaar na sy dood eers ontdek en gedruk.

Billy Budd is die jongste matroos op 'n skip in die 19de eeu - die vrolikste, gewildste jong man aan boord - 'n blonde engel wat deur almal bewonder en be-lus word. Maar hy het een Achilles-hak: 'n hakkel-gebrek wat deurslaan elke keer wanneer hy emosioneel word.

Die boot se dissipline val onder Master-in-arms Claggart - 'n evil, lelike man van binne en buite. Vir een of ander rede (wat nooit verduidelik word nie) haat Claggart vir Billy van die eerste oomblik - almal kan dit sien behalwe die onskuldige Billy.

Al Billy se pogings om vriende te maak met die eensame, wrede Claggart veroorsaak net dat Claggart hom meer en meer haat.

Uiteindelik lê Claggart 'n valse klag van muitery teen Billy by die boot se kaptein - Kaptein Vere. Wanneer die kaptein vir Billy roep en hom vra om homself te verdedig, is Billy so geskok dat hy heeltemal sy spraakvermoë verloor. 

Hulle staan in stilte en wag vir Billy om homself te verdedig - maar die arme man kan nie 'n woord uitkry nie. 

Claggart glimlag met triomf vir die Kaptein: He is silent not because he cannot speak, but because there is nothing to say...

Die verwoede, stomme Billy bespring en verwurg vir Claggart voordat enige iemand hom kan keer.

Moord is moord. 

Billy word dieselfde dag nog verhoor en verdoem homself deur sy kop te knik wanneer hy gevra word of hy vir Claggart vermoor het. Nogsteeds sukkel hy om enige iets sinvols uit te kry. 

Die vonnis is dood en 'n galg word vir die volgende oggend gereël.

En daardie nag lê Billy alleen in sy kamertjie - vêr van vriend en bloedverwant - opgekrul soos 'n kind. 

Hy kalmeer sy hart en oefen sy laaste woorde vir die volgende oggend - die laaste kans wat hy ooit sal hê om te praat.

En die volgende oggend - met die tou om sy nek - kry hy uiteindelik uit: "Long live Captain Vere".

**

Billy Budd is een van die stories in letterkunde wat die beste in almal uitbring. Peter Ustinov het 'n skitterende fliek in die 60s daarvan gemaak en Benjamin Britten 'n opera (die enigste opera in die repertoire sonder 'n vroue stem).

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking