Friday, April 26, 2013

Die Nibelungen


Margarete Schön as Kriemhild
Op 22 Mei is dit die tweehonderdste verjaarsdag van die komponis Richard Wagner. Daar sal waarskynlik allerhande huldeblyke en klaagliedere oor hierdie monster-genie - vernietiger en herskepper van die kunste - wees.

Dat een mens die kunsvorm van sy dag (Italiaanse opera) so fataal kon knak; digkuns, musiek, gemeenskap, geskiedenis en mite alles verenig, 'n nuwe taal vir kuns vestig; 'n koning as sy persoonlike slaaf hou wat 'n dorp in sy eer laat bou waarheen die royalty van Europa moes reis om hulde te bring - dit alles was ongekend.

Wagner het geen moraliteit bepleit nie, geen jammerkry - alles was drang en vervulling.

For mine own good all causes shall give way, sê Macbeth.
Nog nooit tevore of daarna het 'n kunstenaar soveel mag en invloed gedra nie. 

Was dit 'n goeie of slegte ding?

Die ironie was dat, ten spyte van die Mahlers en die Richard Strausse wat gevolg het, daar nooit 'n tweede Wagner in opera was nie.

Wagner was 'n idee te groot vir opera - dit was 'n visie: dat kuns nog beter kan wees, nog meer kan vermag as tevore. Dat die verlede klein is in vergelyking met die toekoms en die grense nog verder verskuif kan word.

Die idee van Wagner het begin in “musiekdrama”, maar oorgespoel deur kuns en filosofie, veral na die nuwe film-medium - waar 'n hele nuwe dimensie bygekom het.

Wagner het vir 20 jaar gewerk aan ‘n toonsetting van Die Nibelungenlied, ‘n 13de eeuse epiese gedig. Ek het al tevore geskryf oor sy eindproduk - Der Ring Des Nibelungen.


Maar hierdie blog inskrywing gaan nie oor Wagner nie.

Wat min mense weet is dat man & vrou filmspan Fritz Lang en Thea von Harbou dieselfde materiaal in een van die grootste flieks ooit gemaak het.

In die pynlike jare direk na die Eerste Wereldoorlog het Lang en Harbou iets gesoek wat die verpletterde Duitsers ‘n gevoel van oorsprong kon gee.

Hul massiewe 5 uur silent movie het in die 1920s in twee dele verskyn. Die eerste deel – Siegfried – hanteer min of meer dieselfde storie as Wagner se Siegfried en Götterdämmerung. Dit het ‘n ongekende, visueel epiese skaal van begin tot einde.

Die onverskrokke Siegfried reis na die land van die Nibelungen vir Kriemhilde, maar voor hy haar kan kry moet hy haar broer - Koning Gunther - help om die meisie van sy drome te wen: Brunnhilde. Hulle kry dit wettiglik reg deur Hercules-tipe uitdagings te slaag, maar Brunnhilde weier in elkgeval om Gunther in haar bed toe te laat.

In desperasie vir Kriemhilde word Siegfried ‘n gat in die kop gepraat om “die saak nie half-klaar te los nie” – ‘n eufimisme om Brunnhilde namens die hulpelose Gunther te verkrag.

Dis ‘n fatale fout wat vinnig buite beheer raak – almal draai teen Siegfried wanner Brunnhilde op ‘n hongerstaking gaan totdat iemand haar eer wreek en Siegfried vir haar vermoor.

Maar bloed sal bloed – die tweede deel is Kriemhilde se Wraak.

In hierdie deel kom Siegfried se weduwee, Kriemhilde (Wagner noem haar Guthrune) uit die skaduwee – trou met Attila die Hun (as ‘n taktiese skuif) en beplan van daar wraak op die hele Nibelungen ras – insluitende haar broer, Koning Gunther.

Siegfried is vermoor in lente tussen die blomme. In die winter gaan Kriemhilde terug na presies dieselfde plek en grawe deur die sneeu na die grond onder. Sy sweer om hierdie grond – met Siegfried se bloed – in ‘n lap te bewaar totdat sy dit kan dek in die bloed van haar vyande.

And she’s not kidding.Die hele laaste uur van hierdie saga is ‘n siege waar die Nibelungen hulleself met groot dapperheid teen vlaag na vlaag aanvalle van die Huns verdedig. Met haar broers vasgekeer in Attila se paleis brand sy uiteindelik die hele plek af. 

Wanneer ‘n bystaander na haar stap en pleit

“Is jy nie ‘n mens nie, Kriemhilde?”

Antwoord sy: 

“Nee, ek het gesterf toe Siegfried gesterf het.”.
Die doodstransformasie van Siegfried en die vorming van Kriemhilde se woede en wraak. Dit vorm die oorgang van deel 1 na deel 2

No comments:

Post a Comment