Maandag, Junie 20, 2005

Die Adolesent

Tolstoy en Dostoyevsky het die reputasie van die "Russian doorstopper" geskep: die lang, massiewe kroniek van 'n menigde karakters in 'n komplekse wereld - swaar genoeg om jou deur mee oop te hou wanneer die wind opsteek.

Daar's baie parallelle tussen hierdie twee tydgenote en reuse, maar in visie, in toon en styl verskil hulle soos dag en nag.

Tolstoy praat in die stem van God oor 'n wereld waar mense soos miere krioel, daar ver, besig en bang, maar blind vir die groot geheel.

Dostoyevsky praat van daaronder, in die stem van die sondaar, die verlore siel, sonder 'n wereldeenheid, sonder 'n antwoord.

Die "Russian doorstoppers" is [Tolstoy] "War and Peace", "Anna Karenina" en "Resurrection" en [Dostoyevsky] "The House of the Dead", "Crime and Punishment", "The Idiot", "The Possessed", "A Raw Youth" en "The Brothers Karamazov". Daar was baie ander Russiese skrywers, maar hierdie twee was in 'n klas alleen.

Dostoyevsky het "A Raw Youth" of "The Adolescent" geskryf as 'n ryp ou man, tussen twee van die grootste boeke van alle tye: "Die Besetenes" en "Die Broers Karamazov".

Die storie word vertel deur die baster, onerkende jong seun van 'n aristokraat (met 'n reuse chip op sy skouer). Deur n stukkie geluk kry hy sy hande gelê op 'n brief deur een van sy royal familielede - Katarina, die dogter van 'n Prins, waarin sy skryf aan 'n dokter in Moskou oor die moontlikheid om haar vader seniel te verklaar, op te neem en sy estate oor te neem.

Gewapen met hierdie brief (vasgewerk binne sy jas) vertrek hy om sy familie en sy pa (haar lover) te konfronteer en moontlik af te pers.

Die wiele van die verhaal draai stadig, ongestoord, met 'n groot stel karakters. "Raw Youth" is die tipiese Dostoyevsky-sop van ryp en rou bestandele, stories binne stories, maar hier sonder 'n fundamentele dryfkrag - geen smagting na geloof en God, vergifnis, vrede en moraliteit, wat oral in sy boeke voorkom. Daarom te meer voel dit arbitrer.

Die hoogtepunt vir my was die hartverskeurende storie van 'n ryk sakeman wat per abuis van sy voete gestamp word deur 'n arm seuntjie. Hy laat sy henchmen die kind "'n les leer", hulle slaan hom flou, maar skrik hulle boeglam wanneer die kind by die dood omdraai.

Maande later, sonder verwysing na die insident, bied hy aan om die seun te huisves sodat hy 'n behoorlike opvoeding kan kry. In sy hart wag hy (die miljoener) vir die geleendheid om met die kind te praat oor wat gebeur het, om jammer te sê, maar eers wil hy sy respek wen.

Maar die oomblik wil nie kom nie, die kind bly in vrees leef en praat nie met hom nie. Dan, een dag wanneer sy irritasie besonder hoog is, breek die seuntjie 'n kosbare vaas en wanneer hy die woedende stem hoor hardloop hy die huis uit, spring in die rivier langsaan en verdrink.

Die ou man sit dag na dag en maal sy kop. Uiteindelik, vir sy eie terapie, ontbied hy 'n skilder om dit alles vir hom te verf: sy huis, sy landgoed, hyself in woede agter die kind aan, die rivier, die mense, die seun in die water, arms gekruis oor sy bors, gesig na die hemel, en die Engele van God wat hom kom haal.

Dostoyevsky was daardie skilder van hartseer oomblikke, van "the insulted and the injured".

2 opmerkings :

  1. Dostoyevsky is ook een van daardie skrywers wat heeltemal te min erkenning kry as 'n baanbreker denker oor alerlei onderwerpe. Na jy hom gelees het lyk baie van die phenomenologists glad nie meer so nuut en innoverend nie.

    AntwoordVee uit
  2. Die einde van u teks is ietwat onduidelik. Die skilder het die rykman, sy goed en die eksistensiele krisismoment waarin hy hom bevind het geskilder, d.w.s. wat die rykman AAN die "insulted" en "injured" seuntjie gedoen het, oftewel "wat mense aan mekaar doen".

    Dit is nogtans 'n baie mooi gevolgtrekking - Dostoyevsky was inderdaad die skilder en dit dan ook van wat ek sou beskryf as van "wat (moet/sou moes) gebeur (het)" a la Jacques Derrida (met sy deurstopper van 'n oeuvre), d.w.s. van daardie logies onvermybare geskenk van die dood of letterkunde in geheim momente, oftewel momente wat net gelees/geskryf kan word aangesien dit nie gehoor kan word nie - dit is nie net moeilik om daaroor te praat nie, maar dit slaan mens ook stom (as jy dit raaksien). Die deurstopperkwaliteit van Dostoyevsky se werke is moontlik dalk ook te verklare deur die feit dat hy gepoog het om hierdie buitensporige (krisis/kruisweg)momente te bewoord. Hoe beskryf mens die onbeskryflike, hoe reken mens met die onberekenbare? Gepraat van 'n eksistensiele krisis ... "crime and punishment" ... Mens het Nietzsche se "Groot Gesondheid" - sy lag en dans - nodig om dit te kan hanteer, om dit gasvryheid te kan bied ...

    U mag dalk die volgende skrywe deur Emily Esfahani Smith getiteld "A Psychiatrist Who Survived The Holocaust Explains Why Meaningfulness Matters More Than Happiness" (
    "http://www.businessinsider.com/a-lesson-about-happiness-from-a-holocaust-survivor-2014-10") interessant vind.

    AntwoordVee uit