Maandag, Mei 30, 2005

Die Dobbelaar

Dostojevski was verslaaf aan dobbel, in werklikheid en in sy skryfwerk - die tema van dobbel, skuldmaak, wen en verloor is op elke bladsy van sy boeke.

"Die Dobbelaar" is 'n eenvoudige novelle, 'n groep Russe by 'n dobbel-resort in Duitsland, die entourage van 'n afgetrede, patetiese Russiese generaal. Almal wag in spanning vir nuus dat sy skatryk ma in Rusland gesterf het (en daardeur die fortuin wat hulle almal sal red). En dan daag die ou vrou op - 'n woedende, rolstoelgebonde inwalied wat uit spiteful-heid voor haar seun se neus met die familiefortuin begin dobbel, voordat sy sterf.

D se normale sado-masogistiese, onsuksesvolle menseverhoudings - sonder die groot katarsis van sy romans, maar baie snaaks en insiggewend.

Die groot metafoor wat my opgeval het was dit:

Die dobbelaar dobbel net vir ryk word heel aan die begin. Daarna, en vir die res van sy lewe, dobbel hy "om sy geld terug te wen". Die pyn wat hom aandryf, die verslawing, is die verslawing aan die verlede, aan dit wat hy gehad en verloor het en nie kan vergeet nie.

In die laaste toneel besoek 'n ryk ou kennis die verteller, teen daai tyd 'n bankrot-gedobbelde hobo wat hy opspoor in 'n dobbelsaal iewers in Europa. Hy bied hom 10,000 roubels aan om saam terug te keer na Rusland en sy lewe van vooraf te begin.

Na 'n oomblik sonder 'n antwoord bedink hy homself, hy haal 'n 10 rouble noot uit sy beursie, oorhandig dit en groet.

10 roubel of 10,000 roubel - wat's die verskil?

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking