Dinsdag, Maart 29, 2016

Sink

Stadig maar seker dryf Afrikaanse flieks weg van bekende waters. Drifting too far from shore, soos die ou folk song sĂȘ. Hierdie proses van wegdryf is vreesaanjaend, dit gaan altyd 'n mengsel van vryvoel en verlange wees, met donker water onder.

Sink is die nuutste voorbeeld hiervan, dis die mees pynlike Afrikaanse fliek wat ek nog ooit gesien het, maar is dit nie waarvoor ons gewag het nie?

'n Fliek wat ons seermaak; wat afspeel in die stad, vandag, met swartmense en witmense teen mekaar, sonder grappies en musiek.

Dit gaan oor die verdrinking van 'n swart Mosambiekse huishulp se dogtertjie in die swembad van 'n ryk wit paartjie wat veronderstel was om haar op te pas op daardie oomblik, terwyl haar ma haar visa gaan verleng.

Maar hierdie toneel verskyn eers heel aan die einde. Die fliek laat dit aan die verbeelding oor en begin direk daarna, waar die wit paartjie 'n skikking met hul huishulp probeer bereik om haar uit hul lewens te kry.

Maar Rachel - die huishulp - besluit om aan te bly en vir hulle te bly werk, en die twee kry dit nie oor hulle hart om haar in die pad te steek nie.

Waarom doen sy dit?

Deel daarvan is dat sy nie regtig opsies het nie. Maar ook...

Mary Shelley se boek Frankenstein gaan oor 'n mal dokter wat 'n monster skep en dan probeer om van hom ontslae te raak. Nadat die dokter weier om vir hom 'n vroue metgesel te maak begin hy 'n streep moorde van almal rondom (maar nie) sy skepper nie. In die laaste toneel - na die dokter se dood - vra iemand vir die monster waarom hy dit gedoen het.

Omdat hy dit durf waag het om gelukkig te wees, antwoord die monster.

Rachel, die huishulp, is hierdie paartjie se Frankenstein - die lewende herinnering dat jy nie vir geluk mag hoop nie...

Maar Michelle, die wit vrou, is swanger. Hoe oorkom jy hierdie situasie?

Daar is 'n oomblik waarin die fliek lyk asof dit versoening gaan bring, maar versoening kom nooit nie.

Anel Alexander, wat Michelle speel, was die ster van een van Afrikaans se top popcorn flieks van alle tye: Semi-soetSink gee nuwe betekenis aan die woorde Semi-soet. Dis ons eie Do The Right Thing - 'n fliek wat sy naarheid deursien tot die bitter einde.


3 opmerkings :

  1. “Pass us by, and forgive us our happiness” ― Fyodor Dostoyevsky, The Idiot

    AntwoordVee uit
  2. Jy't nog niks oor Treurgrond geskryf nie. Ek sien Treurgrond het 5 nominasies in Amsterdam. Het jy dit nog nie gesien nie?

    AntwoordVee uit
  3. Ja ek het Treurgrond gesien.

    Die eerste toneel is een van die beste in Afrikaanse flieks: die man en vrou wat jaag op die teerpad na hul ouers se plaas en - terwyl hulle op hul selfone probeer deurkom - word hul motor op die pad deur ambulans en polisievoertuie verbygesteek.

    AntwoordVee uit