Donderdag, Oktober 15, 2015

Abraham

To think how eager we are in building our houses,
To think others shall be just as eager, and we quite indifferent.
--Walt Whitman

Na 'n lang afwesigheid is Jans Rautenbach uiteindelik terug in teaters met 'n nuwe fliek: Abraham.

Dit neem die vorm van 'n eerste-persoon herroeping van 'n insident in die vroeë 1980s. ( Hannes Muller speel Jans Rautenbach en Franci Swanepoel sy vrou Almeri.)

Almeri bedryf 'n plaas in die Klein Karoo aan die voet van die Swartberge, saam met hul vier kinders, in die Vlakteplaas gemeenskap. Haar man Jans - bekende filmmaker - is gebaseer in Johannesburg en kom en gaan met lang afwesighede.

Dis 'n plaas maar ook 'n ontvlugting, 'n asemskep, 'n tweede lewe, 'n oase waar Jans 'n kunsversameling opbou, oor baie jare bymekaargemaak uit die uithoeke van Suid-Afrika.

Op hierdie plaas word 'n plaaswerker in diens geneem met die naam Abraham Soetland. Abraham ( vertolk deur DJ Mouton ) word meegevoer deur die kuns wat hy sien en instinktief begin hy self skep met net wat hy het: hande, sement en draad.

Die plaas se naam is Oulap - na aanleiding van 'n oulap se rooi maak mooi - dit kos min geld om mooi te maak. Ongeletterde, armsalige Abraham is die oulap-se-rooi: verbete om die wereld met sy sente mooier agter te laat as wat hy dit gevind het.

Maar die kunskoors het tragiese gevolge - soos in die legende van die meisie wat rooi skoene vind wat haar in 'n ballerina verander, maar dan ontdek dat sy nie kan ophou dans nie.

Abraham dra die verwagting van 'n belydenis, 'n regstelling, maar wat dit bely is onverwags en baie braaf en persoonlik.

Dit speel af in die apartheidsera in een van die ongelykste armste plattelandse gemeenskappe, vrot van die uitbuiting. Abraham wys inderwaarheid hierdie ryk en arm, maar die ontmoetingspunt tussen hulle is vals. Die "Baas" en "Mies" van die apartheidsera word nou "Oubie" en "Mevrou" genoem.

As politieke fliek is dit dieselfde balans-daad van Jans se ou flieks - iets van die goed en sleg van alle kante. Net soos dit staan is dit natuurlike strate verby die Never-Neverland van gewone Afrikaanse flieks, maar Abraham is nogsteeds nie die fliek wat die politieke verlede vierkantig in die oë kyk nie.

Maar dit wys iets anders, diepers en persoonlik. Iets wat deur al die lae van sensuur en selfsensuur sonder enige verandering op die doek is. En dit is: dat skepping selfsugtig is, 'n wrede daad van uitsluiting, ontkenning en verwoesting.

En die draer van hierdie selfsug is nie net Jans nie, maar ook Abraham.

Abraham is 'n slagoffer maar ook 'n toedienner. Hy verwaarloos sy familie sonder enige skroom, jaag die Welsynsbeampte weg uit sy huis en in een van die definieerende oomblikke van die fliek ignoreer hy die terugroep van sy dogtertjie. Selfs die dood dra selfsug.

In alles hiervan herken Jans elemente van homself - en dit is die ware belydenis van die fliek . 'n Mens kan nie alles wees nie.

En die verlossing?

Hier is nog 'n storie.

Op Oudshoorn is daar 'n Kunstefees. Van heinde en verre kom kunstenaars en feesgangers. Op Oudshoorn self woon 'n paar mense wat, soos Abraham, ook 'n plek aan die tafel wou hê. Hulle het hulleself die Kambro Diggers genoem, en keer op keer voor leë sale gespeel. [ Ek het een van hul vertonings gesien en was verstom, soveel rou talent wat in die wind weggewaai het ].

Uiteindelik het Almeri hulle hoor sing in die eetsaal van die Holiday Inn en vir Jans gesê "Eendag moet jy hierdie mense in 'n fliek gebruik".

Die sewe Kambro Diggers het almal rolle in Abraham, almal vir die eerste keer in hul lewe, gelei deur die formidabele Chantel Phillipus ( wat Abraham se vrou Katie speel ). Sy is sekerlik so talentvol 'n aktrise as wat Suid-Afrika nog opgelewer het.

Dit is Chantel wat die klimaks van hierdie fliek dra - die inploffing van drome.

Dit is die Kambro Diggers wat al die musiek op die klankbaan sing - geskryf deur Riku Latti.

In hul sewe geeste leef die spook van Abraham, Katie, die verlore kind en al die stom siele.

2 opmerkings :

  1. Pragtig saamgevat, sinvol gestel - diep gelaat. Dankie Gert. Hoop nie jy gee om nie, ek deel dit op my FB.
    Groete G.

    AntwoordVee uit
  2. Baie mooi aptytwekker - sien nou nog meer uit om hierdie film te sien! Ek volg G se voorbeeld en deel dit ook op my FB (waar ek 'n paar goeie en interessante vriende het).

    AntwoordVee uit