Dinsdag, Oktober 13, 2015

'n Ander Land

Die held van 'n Ander Land is Versluis, 'n Nederlander wat na Bloemfontein reis in die 19de eeu vir sy gesondheid. Daar maak hy vriende met 'n groep Nederlanders en Duitsers wie se doen en late die gros van die boek uitmaak.

'n Groot deel van alles is Versluis se bepeinsing van hierdie barre, onvriendelike, afgeleë wêreld: wat maak hy daar en wat is die sin daarvan?

In ander lande is daar gode en geeste in die woude en skeure in strome. Maar hier is daar niemand nie. Geen geeste het nog ooit van hierdie land besit geneem nie, geen gode is hier gebore nie. Niks het ooit hier gebeur nie. Daar is maar net hierdie lee ruimte, hierdie stilte. Dit wag maar eintlik is daar niks wat dit verwag nie.

Die mense op Bloemfontein - soos Versluis hulle ervaar - is 'n verlenging van die natuur. Hulle bly ontoeganklik - vriendelik, maar sonder enige intimiteit. Deel van die wild van die veld van hierdie land, hulle behoort aan iets waaraan hy nie behoort nie.

Niks gaan gebeur in die Vrystaat omdat Versluis opgedaag het nie. Geen intriges, grappies, seks of skandale waarvan hy gaan deel wees nie. Niks om oor huistoe te skryf nie. Net die lewe wat voortrammel soos die koets waarmee hy deur die Karoo gereis het. Dieselfde landskap vir myle.

Vir baie lank is dit net Karel Schoeman wat popspeel met sy museumstukke: aandetes en wandelings en partytjies, oggendbesoeke, 'n voorlesing van Duitse gedigte.

Pragtige stukkies prosa

Lig brand in die winkelvensters en die nat strate glans onder die straatlanterns. Die wiele van die rytuig ploeg deur die vuil mengsel van modder en smeltende sneeu. Die kerkklok slaan met sy fyn huiwerige klokkespel oorkant die dakke. Die gordyne is toegetrek.

Maar stadig maar seker word die lae van die ui geskil.

Versluis kom hoesend en proesend daar aan en dit is kwalik 'n geheim waarheen alles lei. In die hotelkamer langs syne moet hy luister na 'n onsigbare Skotse vrou wat op sterwe lê

die wanhoping gehoes wat aanhou en aanhou, asof dit die lewe self is wat daar uitgehoes word in die donker en die eensaamheid.

Dit is 'n donker voorbode van wat vir Versluis voorlê. Teen die middel van die boek is daar die beskrywing van 'n groot troue, wat eindig op Joyceaanse noot

In die Winterpark staan die bome kaal en die musiekkoepel is verlate. Die grasvelde en paadjies waar die mense in die somer na die musiek geluister het is leeg. Die vlag is gestryk en in die wind kletter die tou woedend teen die vlagstok. Die huweliksfees is verby.

Versluis verbeter en versleg. Hy vra sy dokter of hy gaan sterf.

Hy buig. Hy gaan. Byna geluidloos trek hy die deur agter hom toe. So eenvoudig, so vanselfsprekend is dit, dink Versluis by homself, om iemand te laat weet dat hy op sterwe lê. En so eenvoudig is dit om die meededeling aan te hoor.

Daarna kyk hy anders na die landskap

Sy sterfte staan vas, 'n feit soos die wortels van die boom, die miere en die stof wat hy waarneem. Vir hom is daar geen vooruitsig om die ontkiemende saad tot boom te sien groei nie.

Nog 'n jong, ongelukkige en sieklike Nederlander - Gelner - daag op en weer 'n keer sien Versluis sy toekoms flits. Die klimaks van die boek is die nag wat hy saam met Gelner deurbring - the sickness unto death.

In hierdie nag langs Gelner se bed besef hy dat die storie van "die gesonde lug van Afrika" snert is. In werklikheid is dit net 'n manier is om die sterwendes te verwyder voor die oë van die gesondes - deur hulle weg te stuur soos olifante en na die olifant begrafplaas.

Daar is reise wat hy nooit sal voltooi nie, dink hy. Paaie waarvan hy die einde nooit sal bereik, gebiede wat hy nooit sal ontdek nie. Togte langs die liggame van ander mense. Ontdekkingsreise in die hart en die gemoed van andere. 

Lang ekspedisies waarvoor 'n lewe nie genoeg is nie. 

Karel Schoeman is Karel Schoeman: Vermeer van die Vrystaat.

Geen opmerkings nie :

Plaas 'n opmerking