Vrydag, September 04, 2015

Blogging: die boekrak van jou siel

Hierdie stuk is oorspronklik geskryf vir Litnet.


Die wêreld is groot en vreesaanjaend, tjok-en-blok vol slim mense en kenners wat klink asof hulle alles weet. Alles is reeds gesê, oor elke onderwerp is daar iemand wat meer weet. Jy wil blog, maar wat is veilig, waar om te begin wat om te sê?

Wanneer jy 'n boek lees, musiek luister, 'n fliek kyk, loop en dink, of soms in 'n gesprek met iemand, het jy 'n WOW oomblik. As daardie WOW die volgende dag, en die volgende week, nog met jou is, dan het jy iets om oor te skryf.

Aan die einde van die 1990s, met die koms van die eerste slimfone, het ek in die gewoonte gekom om iets van my WOWs op my telefoon te tik - in daardie na-gloei oomblik wanneer jy 'n boek toemaak en in die rak sit, of uit 'n fliek stap - net voordat jy terugkeer na die harde werklikheid.

'n Paar jaar later, vroeg in die 2000s het ek vir die eerste keer van blogs gehoor - en my onmiddelike gedagte was om my WOW-notas van my selfoon oor te plaas as bloginskrywings. Dit was die begin van my bloggery en daardie oorspronklike snippertjies is nogsteeds daar, na al die jare.

Van toe af het ek geblog en algaande in 'n stem begin skryf vir 'n onsigbare gehoor - nie meer net vir myself nie - 'n gehoor met wie ek my WOWs wou deel.

So het ek op my blog [ http://gertrautenbach.blogspot.com ] oor letterkunde, musiek, flieks en kuns begin skryf, meer as 'n dekade gelede. Vandag is daar sowat 180 skrywes gepubliseer en gewoonlik omtrent 20 ongepubliseerdes wat lê en wag.

Ek het van die begin af net in Afrikaans geskryf.

As iemand my raad vra wat wil begin blog

1. Skryf onder jou eie naam

Wanneer ek kyk na die duisende doodgebore blogs op die Internet, mense wat begin en vinnig opgehou het, kan ek sien dat die grootste probleem nie die wêreld is wat nie belangstel nie (alhoewel dit waar is). Die groot doodmaker is dat mense nie hulleself - en hulle eie skrywes - in die oë kan kyk nie.

Meeste bloggers het skuilname - dit is 'n fout. As 'n blog gaan oor die ontwikkeling van jou stem, jou siel en jou reis - hoe op aarde gaan dit gebeur as jy begin deur jouself weg te steek en nie eers jou eie naam hardop kan sê nie?

Sommige mense dink dat blogging 'n uitlaatklep is vir iets wat hulle in die gewone lewe nie 'n plek voor kan vind nie. My ervaring is dat sulke mense net 'n paar keer oor geheime skryf en dan wegvlug vir die sig van hulle eie woorde. Buitendien, die internet het baie beter maniere om alter-egos mee uit te leef.

Om karakter te bou moet jy jou plaas koop, jou buurman se hand skud en boer op een plek.

2. Moenie jou blog bemark nie.

Wat! Wat is die punt daarvan om te skryf as jy nie lesers het nie?

Lesers sal kom. Maar die begin is kosbaar - en jy sal dit eers later besef - want dit is daardie wonderlike vrye tyd van vorming: die vind van jou stem, jou werklike belangstellings, wat werk en nie werk nie. Die tyd wanneer jy besef wat vir jou volhoubaar gaan wees.

Wanneer jy daardie eerste skrywes na heinde en verre stuur vir vriende en familie gaan twee goed gebeur

1. Niks
2. Niks

Die arme ontvangers gaan nie weet hoe om te reageer nie. Hieruit lei skrywers af dat hulle gefaal het - hoekom wil niemand iets sê nie, hoekom voel ander nie wat hulle voel nie?

Ontspan. Wanneer jy begin skryf skryf jy vir jouself en vir niemand anders nie. Konsentreer net om jouself te ontwikkel, kommentaar is 'n bonus. Hou net aan. Lesers sal kom met tyd.

3. Moenie aanhaal en herhaal nie.

Een van die tendense die laaste ruk, veral sedert die opkoms van Tumblr, is die plasing en her-plasing van Cardies-styl kaartjies met inspirerende of godsdienstige wyshede, pittighede, gedigte ens. Dit gee my die heebie jeebies.

Wie is ek om dit af te keur as mense dit wil doen?

Wat my pla daarvan is dat dit een lang eksresie is wat nooit die karakter van die mens wys nie. Dit is nie skryf of verwerking of ontwikkeling nie. Re-tweet dit dan liewer op Twitter maar los jou blog in vrede om die oorspronklike voetspore van jouself wys.

'n Blog moet oorspronklik wees en 'n stem hê. Die kanse dat mense na jou sal kom vir dieselfde inhoud wat regoor die internet versprei lê is zero.

4. Skryf vir die toekoms, nie vir die oomblik nie.

Skryf elke stuk sodat dit nogsteeds lekker sal wees om te lees oor vyf jaar.

Die harde werklikheid is dat die meeste mense toevallig op jou blog gaan afkom wanneer hulle iets google - en dit gaan lank wees nadat jy daardie stuk geskryf het.

As hulle hou waarvan hulle lees op daardie oomblik het jy 'n kans dat hulle verder sal kyk wat anders daar is om te sien op jou blog.

5. Moenie regverdig wees nie.

Hoekom nie? Omdat dit jou gaan lamlê. Om al die kante van 'n saak te probeer stel is 'n perfekte manier om in analysis paralysis te verval, waarna jy óf te bang gaan wees om te publiseer, óf die Wikipedia weergawe gaan publiseer - en wat is lekker daaraan?

Ek is 'n sensualis, nie 'n joernalis nie. Ek skryf oor boeke maar dit is nooit resensies nie - resensies probeer billik wees teenoor die materiaal: wat was goed, wat was sleg, hoeveel sterretjies uit vyf. 

Die blogger is 'n vampier - jy suig die bloed (net wat vir jou lekker is en niks anders nie) uit iets en juig van plesier.

As jy Cleopatra wil gaan kyk net vir die slang - dit is jou reg.

In daardie diep vrede met jou plesier ontdek jy smaak - en smaak is die kosbaarste ding wat 'n blogger kan hê. As jy regverdig wil wees, wees regverdig teenoor jou smaak.

6. Geloof en gevoel

Ek het geen tyd vir skrywers wat huiwer nie: begin deur verskoning te maak omdat hulle wonder oor dit en twyfel in dat nie.

Selfvertroue is alles en selfvertroue vloei van smaak: wanneer jy 'n WOW gevoel het het jy iets onvernietigbaars.

'n WOW dra sy eie sertifikaat-van-waarheid saam met hom: want dit is gevoel. Dit kan nie verkeerd bewys word nie. As jy dit het, moenie probeer bewys dat jy ook weet van blah blah blah nie (wie gee om) - skryf sodat jy uitkom by wat jy gevoel het.

7. Prikkel en passie.

'n Blog moet prikkel. Dit is sy enigste heilige doel.

Soms moet jy die ontknoping van 'n storie vertel, want die prikkeling, die WOW, is daarin.

Soms is die prikkeling in die premiese: 'n Man lei twee ander mense na 'n plek waar hulle diepste wense waar sal word...

Jy hoef nie die antwoorde te hê nie - waar Dawid die wortels begrawe het en wat die sin van die lewe is nie - jy hoef net ( en MOET ) prikkel.

En 'n skrywe wat nie prikkel nie was 'n mors van tyd.

En wat is die lewe sonder passie? Ek hou nie daarvan om te skryf oor iets waaroor ek geen passie voel nie. Daarom skryf ek baie selfde oor boeke of flieks wat ek nie geniet het nie.


8. Los die Brothers Karamazov vir later

The Brothers Karamazov was die belangrikste boek in my lewe - en ek het nog nooit daaroor geskryf nie.

Daardie ding wat brand in jou bors - waaroor jy so graag wil skryf: los dit vir later. Slyp jou tande op die kleiner onbelangriker dinge.

Deur die belangrikste ding te vinnig te probeer skryf gaan jy jouself teleurstel.

9. Respekteer die agterkop

Die agterkop - daardie sous van drome en denke - is die allerheiligste deel van die menslike anatomie.

Ek hou gewoonlik 'n lys ongepubliseerde skrywes in die lou-oond - rou en halfgebak, brousels en mismaaksels, goed wat nooit die lig van dag sal sien nie - maar hou dit daar as drafts, konsepte waarop jy nog nie heeltemal jou vinger kan lê nie.

Dis uit daardie kreatiewe sop wat die goeie goed gebore word. Sommige van my skrywes lê vir twintig jaar in my agterkop voordat ek daaroor skryf.

10. Volg jou eie neus.

Vergeet alles waaroor almal 'n bohaai maak. Die grootste nuus vandag is oor 'n maand vergete. Die wonderlike ding van blogging is dat dit die voetspore van jou reise is - en jou reise is net joune, niemand anders sn nie. Wanneer jy blog nooi jy mense om saam met jou te reis.

Ek het eenkeer 'n foto van een van my helde gesien - Karen Blixen. Saam met haar was Marilyn Monroe en 'n derde vrou: Carson McCullers. Wie is dit? En daar sink ek af in nog 'n hasegat...

So lei een ding na 'n ander en vorm die zig-zag roete wat uitendelik ons lot bepaal.

11. Eie tyd, eie teiken.

Ek dink een verskil tussen die persoonlike blogger en die rubriekskrywer is hierdie aspek: bloggers kan kies wanneer hulle praat en wanneer hulle swyg. Seëstrome kan jou stoot na goed en jou later weer wegtrek daarvan. Moenie daarmee veg nie.

Soms sal maande verbygaan sonder dat die inspirasie vir iets daar is, dit is ook goed.

12. Een ding op 'n slag

'n Goeie skrywe is soos een perfekte duik van die wipplank in die swembad in. Skets die agtergrond en konteks en bou op na die WOW oomblik. Alles net een keer.

Moenie met die deur in die huis val en dadelik die groot idee uit die sak laat nie. Jy sal dit daarna oor en oor herformuleer.

Moenie te veel in een asem sê nie, jy sal oor jou voete val. Moet niks wat nie met die WOW te doen het by die hare insleep nie, veral nie jou vrese oor dom lyk, verkeerd wees, uitgevang word of iets vergeet nie. Que sera sera.

Een idee is genoeg vir een skrywe.

13. Verskeidenheid in tyd

Hoe meer jy skryf hoe meer mense sal by jou uitkom. Dit is omdat die meeste Afrikaanse blogs deur Google soekterme gevind word, en lank nadat dit geskryf is.

Deur oor verskillende onderwerpe te skryf sal die rykheid van jou blog baie meer aantreklik word - maar daar is geen kortpad hiervoor nie. Dit kom met tyd.

14. Die beloning is self-ontdekking.

Sukses is nie in die hoeveelheid besoekers nie - anders sou pornograwe die trofieë gehou het. Sukses is groot impak op 'n paar mense, of net een mens. En as jy eerlik en met passie skryf sal daar lesers wees - want dit wat jou geroer het sal iemand anders roer.

Jammer: daar is geen geld en roem in blogging nie.

Die beloning is in selfontdekking en jou eie groei - maar dit is 'n wonderlike trip nogtans.

En assulks: moenie die verlede uitvee nie. As jy lank genoeg aanhou sal jou menings oor ou goed verander, maar wat geskryf is is geskryf. Om daardie ou menings te sien is 'n groot eer - dis bewys dat jy gereis en gegroei het.

**

Wanneer ek na my ouers se boekrakke kyk wonder ek wat ons vir ons kinders gaan nalaat, behalwe geld. Boeke het eBoeke geword; plate het MP3s geword; skilderye is JPEGs. Koppies en pierings gaan binnekort deur 3D drukkers gemaak word.

Wat gaan hierdie geslag oordra aan die volgende - uit die een hand na die ander?

Ek het vir lank aan my blog gedink as die boekrak van my siel - en eendag wanneer ek weg is sal dit wys waarmee ek verwonderd was.

Nou besef ek ook: dit is my nalatenskap aan myself. Soms lees ek 'n inskrywing van twaalf jaar gelede en probeer onthou wie die man was met hierdie sterk opinies.

O ja, dit was ek.

3 opmerkings :

  1. En antwoord tog partykeer op jou volgelinge sodat hulle kan voel asof hulle waardeer word self als hy net een uit 'n duisend. :)

    AntwoordVee uit
  2. Die beste raad oor blogging wat ek nog raakgelees het!!! Dankie vir die inspirasie, Gert.

    AntwoordVee uit