Maandag, Junie 15, 2015

Die Mantel

Karen Blixen is ongetwyfeld een van die beste storievertellers wat ek ooit gelees het.

Sy is die een werklike heks - 'n moderne Scheherezade wat vir 'n 1001 nagte stories vertel het en eers baie laat in haar lewe (in haar 50s) begin skryf het.

En ek verstom my aan die goed wat sy uit haar duim gesuig het.

Die Mantel is die storie van 'n Italiaanse republikein en beroemde beeldhouer wat vir politieke redes ter dood veroordeel word.

Hy kry op die nippertjie toestemming om vir een laaste nag sy vrou te besoek - op voorwaarde dat hy iemand kry om 'n gyselaar te wees in sy plek vir die nag. Sy gyselaar sal in sy plek gehang word indien hy nie betyds terugkeer nie.

Die groot beeldhouer vra sy gunsteling student Angelo om sy gyselaar te wees - en Angelo stem in.

In die geheim het Angelo 'n affair aan met die meester se vrou maar weet nie hoe om uit die situasie te kom nie, ook nie hoe om haar betyds te waarsku dat die persoon in die mantel wat haar vannag gaan besoek nie hy is nie, maar haar man.

Deur die loop van sy nag in aanhouding bedink Angelo al die disaster scenarios wat gaan uitspeel wanneer sy meester en sy vrou mekaar sien.

Teen sonop besluit hy dat dit eintlik 'n verlossing is - hy sal sterf vir sy meester as boetedoening vir sy sonde.

Maar dan daag die meester betyds op teen sonop - groet almal beleefd, insluitende Angelo, en word gehang.

Angelo word vrygelaat, maar voel soos 'n muishond - te sleg om enige van sy vorige kennisse, of Lucrezia - die meester se vrou - in die oë te kyk.

Angelo word 'n swerwer, 'n insomniak en ontmoet dan op skid-row vir Pino - 'n freaky marionet-meester wat deur die jare ses van sy tien vingers verloor het.

Hulle woon vir 'n rukkie saam totdat Pino verdwyn, en daarna besluit Angelo om terug te gaan en Lucrezia te soek.

Aan die einde van die verhaal daag die ou Pino weer op in Angelo se huis - teen hierdie tyd is Angelo en Lucrezia getroud.

Wanneer hulle alleen is vertel Angelo vir Pino wat hom opvreet: dat hy nooit in sy hele lewe, 'n wenk, of 'n antwoord by sy vrou kon kry oor wat daardie nag tussen haar en haar man gebeur het nie.

Uiteindelik vra Angelo, moedeloos, vir Pino of hy dink hulle twee sal in die hemel kom.

Pino antwoord

Een mens is baie mense

Die jong Angelo wat aan sy meester se voete studeer het sal nie hemel toe gaan nie, want hy is te liggewig.

Die ou Angelo - suksesvol, ryk, getroud en beroemd - sal nie hemel toe gaan nie, want hy wil nie daar wees nie.

Maar Angelo die sondaar, die swerwer, die insomniak, die twyfelaar - hy sal hemel toe gaan.

1 opmerking :