Saterdag, Junie 20, 2015

Die Hart is 'n Eensame Jagter

As Johannes Kerkorrel nie in 2002 gesterf het nie, sou sy volgende album Die Hart is 'n Eensame Jagter wees.

Maar dit was nie bedoel om te wees nie.

Die boek The Heart is a Lonely Hunter is die 1930s geskryf en in 1940 publiseer. Die skrywer, 'n jong vrou genaamd Carson McCullers, was 23 jaar oud.

Dit gaan oor twee volwasse dowe mans wat saamwoon in 'n klein dorpie in die Suide van Amerika.

Een man is hoog funksionerend (maw, so normaal sosiaal funksionerend as wat omstandighede toelaat), die ander is laag funksionerend (hy het konstante hulp en toesig nodig).

Die hoofkarakter is Singer, die goeie een, wie se lewe bestaan daaruit om sy vriend op te pas en uit die moeilikheid te hou.

Maar na 'n paar slegte voorvalle word Antonopaulus, sy vriend, deur sy familie laat opneem in 'n gestig.

Die doofstom Singer verhuis na die dorp waar die gestig is, waar die hoogtepunt van sy lewe die dae is wanneer hy sy ou vriend daar kan gaan besoek.

In die res van die tyd word Singer bevriend deur 'n groep misfits in die dorp, wat hom elkeen in sy kamer kom besoek en oor alles en nog wat in hulle lewe afpak.

Daar is geen romanse in die boek nie.

So wat beteken The Heart is a Lonely Hunter?

Ek het altyd gedink dit beteken dat die hart jag omdat hy eensaam is. Maar nou dink ek anders.

Die verskillende karakters in die boek sak toe op Singer om hom alles uit hulle lewens te vertel, maar elkeen alleen, en nooit saam in 'n groep nie.

Hy hoef net sy kop te knik, hy kan niks sê nie. Dit is al wat hulle nodig het.

Nie een van hulle weet van die ander, of van Singer se vriend Antonopaulus nie.

Die skrywer maak dit duidelik dat die dowe man geen empatie vir hulle het nie.

Maar Singer doen presies dieselfde wanneer hy sy geheime vriend Antonopaulus in die gestig besoek. Hy kry vir eens die kans om oor alles in sy lewe te praat (met gebaretaal), alhoewl sy vriend nie meer kommunikeer nie, en later nie eers vir Singer herken nie - maar dit is onbelangrik.

Antonopaulus, vir hom, (soos hy vir hulle) is die IDEE van iemand wat hoor, wat omgee en nie oordeel nie.

Die hart is 'n eensame jagter omdat passie persoonlik is - dit kan net alleen gedoen word en nooit 'n gedeelde ervaring wees nie.

Twee van die mense wat Singer onafhanklik besoek is kommuniste - woedend oor al die onreg rondom hulle.

Waneer hulle laat in die boek mekaar ontdek en vir die eerste keer oor hulle gedeelde politiek praat stry hulle onmiddelik en daar is niks verder te sê nie.

Waarom kan hulle nie saamwerk aan dieselfde droom nie? Omdat die hart is 'n eensame jagter is.

Waarom is God stil? Soos Ingmar Bergman soveel keer gewonder is.

God is stil sodat hy niemand onderbreek nie, niemand se illusies en drome verwoes deur wat uit sy mond uit kom nie.

Sodat al die stil, eensame harte, in volkome openheid al hulle drome en fantasiee met hom kan deel.

4 opmerkings :

  1. Gert

    Moet net nooit dink dat as hierdie blog nie met kommentaar oorval word nie, dit nie interessant is of waardeer word nie. Dis lekker om te lees want dis anders en praat dikwels na die binnekant toe...... soos die een. Mens kry 'n warmte in die hart en as jy by die venster uitkyk, lyk dinge sommer anders. Stories soos die maak menswees lekker.

    Groetnis - Gustaf.

    AntwoordVee uit
  2. Maar God het gepraat en hy praat nog steeds, nietemin is jy reg, elke keer as hy praat verwoes hy drome en illusies deur wat uit sy mond uit kom sodat selfs die hemel en die aarde vergaan.

    AntwoordVee uit
  3. Gustaf, hierdie blogger skeel hom min aan wat mense dink, hy weet hy het iets beet. Kyk hoe lank skryf hy al, kyk hoe baie het hy al geskryf, en as ek so vinnig daardeur loer, is die reaksie daarop nou nie juis asemrowend nie. Maar ou Gert foeter voort (ek dink hy hou daarvan om tekste, letterlik en figuurlik, te foeter, d.i pakslae te gee), hy skryf met passie, 'n "lonely hunter" so uit die boek uit! Soos Toortsie kan ons maar net nederig "Dankie" seg.

    AntwoordVee uit