Woensdag, Desember 05, 2012

Die Geveerde Monster


Lank lank gelede, in ‘n land ver van hier af, was daar ‘n Koning wat dodelik siek geword het. Sy enigste hoop was in die towerkrag van die vere van die gevreesde Geveerde Monster.

Die Koning het ‘n vrywilliger nodig gehad met die moed om ‘n veer van die monster se lyf te steel en uiteindelik het een held - Koos van der Merwe - na vore getree.

Die Koning se raadgewers het vir Koos verduidelik in watter berg die Monster woon en hom sterkte toegewens.

Koos het in die pad geval en kort voor lank het hy by ‘n rivier gekom.

‘n Ferryman het hom oor die water geneem en toe hulle in die middel van die rivier is, sê die Ferryman skielik

“Is jy nie Koos - die ou wat ‘n veer vir die koning gaan steel nie?”

“Ja”, sê Koos.

“Ek hoor sy vere het besondere towerkrag – wanneer jy steel, kan jy nie sommer twee steel en vir my een bring nie?”

“Goed,” sê Koos. ”Ek sal so maak.”

“En ook: ek hoor dat die Monster alle geheime ken. Vra hom waarom ek nie van die ferry kan afkom nie? Vir jare al sit ek gevange op hierdie boot”

Koos het belowe om die ekstra veer te bring en vir die monster te vra waarom die Ferryman vassit.

Nie lank daarna kom Koos by 'n put waar twee moeë moedelose manne sit.

“Wat’s fout?” Het hy gevra.

“Ons put het onverklaarbaar eendag opgedroog”, het die manne gesê.

Een van die manne het Koos erken: “Is jy nie die ou wat ‘n veer van die Monster se lyf vir die Koning gaan steel nie?”

“Ja”, sê Koos.

“Hier's 'n idee - terwyl jy steel, steel twee en bring een saam vir ons”

“Goed,” sê Koos. ”Ek sal so maak.”

“En vra sommer vir die monster waarom ons put nie meer water het nie?”

Koos het belowe om die ekstra veer te steel en vir die monster te vra wat met die put gebeur het.

Daardie nag het Koos by 'n Herberg gekom, om te oornag. Die herbergier het na ete by hom kom sit en gesels.

“Jy is die ou wat ‘n veer vir die koning gaan steel.”

“Ja”, sê Koos. "Dis ek".

"Vir jare al brand ek vir hierdie kans", sê die herbergier. "Baie jare gelede het my dogter verdwyn. Elke dag dink ek aan haar en wonder waar sy is. Hulle sê dat die monster alle geheime ken. Sal jy hom vra wat van haar geword het?".

Koos het ingestem.

Die volgende dag stap Koos hoog in die berg in en sien 'n klooster. Hy besluit om die monikke te vra of hulle vir hom die pad na die Monster sal wys. Die Abbe erken vir Koos - en (verrassing) begeer ook 'n veer en die die antwoord op 'n vraag: Waarom baklei die monikke in die laaste maand konstant met mekaar.

Goeie ou Koos stem weer in om 'n veer te kry en daarna beduie die Abbe in detail vir hom waar die Monster woon.

"Alles van die beste, Koos. Jou enigste probleeem gaan wees wanneer die Monster sy deur oopmaak - hy gaan jou verskeur voordat jy enige iets kan sê. Hy is uiteraard 'n Monster."

Koos het die Abbe bedank en die paadjie gestap soos aan hom verduidelik en voor 'n swaar hout deur diep in die berg ge-eindig.

Hy het geklop, en die deur het oopgegaan.

In die deur het 'n mooi meisie gestaan.

"Ek is die Monster se vrou", het sy gesê. "Gelukkig vir jou is my man nie hier nie".

Koos het vir die meisie sy hele storie verduidelik, en toe hy skaars klaar was het hy 'n oordonderende gebrul gehoor.

"Dis die Monster!" het sy vrou gesê. "Jy moet wegkruip."

Die Monster was suspisieus - "ek ruik iets vreemds in ons huis".

Maar sy vrou het hom kalmeer en uiteindelik is die Monster bed toe, saam met sy vrou.

In die middel van die nag skiet die Monster skielik op en skreeu

"Iemand het een van my vere gesteel!"

"Dis net ek, man", sê sy vroutjie. "Ek het 'n verskriklike nagmerrie gehad en per-ongeluk aan jou pels getrek. Ek het gedroom van 'n Ferryman wat vassit op 'n boot en nooit kan afkom nie. Verskriklik".

"Mmmm, jy sal nie glo nie, daar is so net so 'n Ferryman. Hy kan maklik afklim, al wat hy moet doen is om af te spring voor sy passasiers. Die laaste een op sy boot sal altyd vassit. Moenie dat dit jou pla nie, kom ons slaap"

Nie lank nie en die Monster brul weer van die pyn.

"Ag jammer man.", sê sy vrou "alweer 'n nagmerrie: 'n klooster vol monikke wat moet saamwerk en bid, maar al wat gebeur is dat hulle baklei al dag"

"Hond se kierie", roep die Monster "Al weer die waarheid. Nie ver van hieraf het die Duiwel by 'n klooster ingetrek en stook soveel kwaad omdat niemand hom erken nie. Hy's die een met die bokbaard en swart oe. Slaap nou asseblief en moenie my weer pla nie!"

Maar skaars was hulle aan die slaap of die vrou trek weer 'n veer.

"Wat is dit hierdie keer?! Wil jy my kaal uittrek!"

"Ek kan nie help die goed wat ek vannag droom nie - twee manne wat wag om 'n droee put. Weet jy van so iets?"

"Inderdaad - 'n Massiewe slang is in hul put opgekrul - hulle moet 'n spies afgooi en die water sal uiteindelik weer opborrel wanneer die slang na die bodem sink. Moet my om hemelsnaam nie weer pluk nie!"

Maar kort voor lank pluk die vrou weer

"Wat is dit hierdie keer!!"

"'n Arme herbergier op soek na sy dogter"

"Ek ken hom goed - en ek ken sy dogter goed - dis JY : ek het jou gesteel toe jy 'n klein dogter was! Klim nou uit my bed en gaan slaap in die kamer langsaan en los my in vrede!"

En toe, in die nag, het Koos en die vroutjie uit die huis gesluip met die vere en al.

Die meisie en haar pa - die herbergier - is weer verenig.

Koos het vir die Abbe vertel van die Duiwel, en vrede het teruggekeer nadat hulle hom uitgeskop het.

Die twee manne se water het teruggekeer.

En die Monster? Hy het wakker geword en besef dat sy vrou weg is. So vinnig soos die wind het hy Koos en sy vrou agtervolg tot by die rivier waar die Ferryman hom moes vervoer. Maar in sy onsteltenis het hy heeltemal vergeet van die vloek van die boot.

Die Ferryman het afgespring en die Monster is gestrand op daardie boot, tot vandag toe. Niemand het ooit weer op sy boot geklim nie.

Koos het sy vere uitgedeel en die laaste veer vir die Koning gegee. Die Koning het herstel en lewe vandag nog.

Koos en die Monster se vroutjie is getroud en het gelukkig gelewe, tot in lengte van dae.

En fluit fluit, my storie is uit.



1 opmerking :